3 bladsye.

Bejaard

Slytasie🔗

Die wagkamer was gelukkig nie al te vol nie. ‘n Bietjie uitasem het hy tuis weer in sy stoel neergesak.

Hy besoek die fisioterapeut reeds die afgelope paar weke. Hy kan agterkom dat hy ouer word. Hy loop nie meer so gemaklik nie. En nou het daar nog rugklagtes bygekom. Aanhoudende pyn. Slytasie, het die dokter gesê. Ook geen wonder op sy ouderdom nie.

Maar dit verg baie moeite van hom om nie knorrig te word nie. Hy het nog altyd 'n hekel gehad aan mense wat die heeltyd loop kla. Nou loop hy self die gevaar om oor sy skete en kwale te wil praat.

Hartseer🔗

Maar tog: dis nie maklik om oud te word nie. 'n Paar jaar gelede is Gerda oorlede. Hy het nooit geweet dat so iets so ingrypend op jou lewe kan wees nie. Hy voel die skrynende pyn nog elke dag en hierdie verdriet kan mens eintlik met niemand deel nie. Elke keer as hy instap by die huis … die stilte. Die gemis om nog net gou saam oor die preek en oor die Here te praat. Dit is alles verby.

Hulle het dit goed gehad saam. Daar was natuurlik wel sou nou en dan haakplekke. Ook in hulle huwelik het die mooi en lelike dinge mekaar afgewissel. Hulle het goeie sowel as moeilike periodes beleef. Maar wanneer jy terugkyk, het die huweliksformulier tog op 'n pragtige manier werklikheid geword. Hulle was mekaar tot steun gewees in hierdie lewe. Maar sekerlik ook as dit oor die toekomstige lewe gegaan het. Hulle het mekaar daarin telkens weer ervaar as 'n geskenk van God!

Grondtoon🔗

Vir albei van hulle was dit die grondtoon in hul huwelik. Elke dag was die Here deel van hul lewe. Juis toe dit moeilik gegaan het, het hulle dit so duidelik ervaar. God het hulle nie in die steek gelaat nie.

Dit kom hy nou nóg agter. In daardie vertroue het hulle ook van mekaar afskeid geneem. Dit was gelukkig moontlik gewees. Hulle kon vir mekaar sê: Gód was steeds saam met ons gewees.

Nie dat hulle dit altyd so ervaar het nie. Vroeër het hulle dit heeltemal te min vir mekaar gesê. Soms het hulle selfs nie eers oog daarvoor gehad nie. Dan was hulle heeltemal oorweldig deur die drukte van die gesin en die kerk, dat hulle net rondgehardloop het. Agteraf gesien was hulle partykeer maar agterlosig in hul omgang met die HERE.

Hulle het tye van wanhoop geken. Veral toe sy jongste broer skielik gesterf het. Hy het 'n gesin met klein kinders agtergelaat. Toe het hy ook nie meer geweet watter kant toe nie. As jong ouderling het hy in soortgelyke omstandighede altyd die rigting aangedui. Maar later het hy daarmee ook versigtiger omgegaan. Hy was self ook behoorlik opstandig gewees. Kwaad. En vol verwyte. Hy het die hemel bestorm met sy vrae.

Band🔗

Maar wanneer hy nou terugkyk, kan hy duidelik sien dat die HERE hom vasgehou het. Sonder dat hy dit in die eerste plek agtergekom het. Dit het ook sy band met Christus verdiep. Ook sy verlange na Sy terugkeer. Hy het 'n slag Calvyn gelees: namate ons meer met lyding te doen kry raak ons meer geheg aan Christus. En aan sy kerk. Dit wou hy destyds glad nie erken nie, maar dit was tog waar.

Sondae het al hoe meer die hoogtepunt in sy lewe geword. Dit was asof hy al hoe meer behoefte daaraan gekry het soos hy ouer geword het. Die boodskap van vergewing van sy sondes, daarvan kon hy nie genoeg kry nie. Natuurlik dink hy soms aan die ontmoeting met Christus. Dit sal vir hom ook nie meer te lank duur nie. Dat hy, met al sy sondes, vrygespreek is! Dat Christus in sy plek perfek geleef het. Dit alles word net al hoe wonderliker vir hom.

En dan die preke en psalms oor die trou van die HERE! Juis noudat hy oud geword het, gee dit so 'n rus.

Sterf🔗

Partykeer hou dit hom nogal besig. Om te sterf. Hoe sou dit wees? Deurgaan na die ewige lewe, ja seker. Maar tog sien hy op daarteen. Veral teen die oomblik self. Dit is 'n aanvegting, hy weet. Maar jy moet tog daardeur. Hy verlang regtig na die lewe hierna. Dat dit 'n werklikheid is, daarvan is hy ook seker. En tog. Somtyds probeer hy om 'n voorstelling daarvan te maak. Dit is moeilik. Dit sal nie 'n teleurstelling wees nie, inteendeel. So baie vertroue het hy in Sy Heiland.

Elke dag was die HERE saam met hom gewees. Dit sal ongetwyfeld op daardie oomblik ook die geval wees. Saam met sy engele.

Brandpyn🔗

Skielik voel hy weer die steek deur sy hart. Hul grootste hartseer was toe Anton afskeid geneem het van God. Hulle het hulself dikwels vol twyfel afgevra of dit hulle skuld was. Wat het hulle verkeerd gedoen? Ongetwyfeld het hulle foute gemaak. Dit het hulle ook gereëld vir hom gesê. Nee, dit was nie deur hulle toedoen nie, het hy hulle verseker. Maar tog.

Daaroor het hulle altyd meer verdriet gehad as die afsterwe van hul tweede kind. Die kloof was amper tasbaar aanwesig.

En eendag sal die HERE kom.

Vir hom. Maar ook vir Anton.

Hy het dit elke dag in sy gebed aan die HERE opgedra. Maar hy moes nogsteeds leer om dit verder aan die HERE oor te laat. Elke keer het die verdriet weer soos 'n mes deur sy siel gesny.

Feite🔗

Gelukkig het dit nooit die grondtoon van vertroue aangetas nie. Dit het hy ook telkens weer so probeer oordra. In die kerk voel hy soms ‘n bietjie oorbodig. Ouer mense word nouliks gereken. Maar wanneer hy die geleentheid kry, vertel hy dit. Psalm 92 beskryf dit so mooi. Bejaardes kan getuig dat die HERE waaragtig is. Hulle kan vir die féite instaan. Hy het dit self ook so ervaar.

As daar iets is wat die jongmense vandag nodig het, dan is dit hierdie waarheid. Hy kan dit aan sy kleinkinders agterkom: alles lyk onseker en sonder fondasie. Niks is seker nie. Die Bybel was vir hulle bloot èèn van die maniere om te glo. Meer as ooit moet hulle weet dat jy jou hoop op God kan stel. Dat jy op sy woorde kan staatmaak. En dat dit vir jou houvas gee. As 't ware veranker aan die hemel. Hoe ingrypend het die wêreld tydens sy lewe verander. Ook wreder geword. En die ongeloof is so agressief. Hy hou sy hart vas.

Maar die Here is waaragtig! Dit is wat jongmense moet hoor! Meer dan ooit!

Hyself. Sy kinders. Ook Anton. Sy kleinkinders.

Glans🔗

Hy kan met blydskap uitsien na die toekoms. Agteraf gesien het sy lewe vinnig verby gegaan. 'Die lyding van die teenwoordige tyd sal nie opweeg teen die heerlikheid wat eendag aan ons geopenbaar sal word nie'. Dit versag tog die pyn van nou. Sy rugpyn sal nie meer weggaan nie. Maar hy beskou dit maar as die pynlike gevolge van hierdie lewe. En die voorbereiding op later.

Kom, dis tyd vir sy toebroodjie. Netnou sal hy weer bid: gee my elke dag wat ek vir my liggaam nodig het. Sy hele lewe lank het die HERE daarop geantwoord.

Noudat hy terugkyk, was dit die gloed wat oor sy hele lewe geskyn het. Hy was bly met sy God. Nou al. Hoe sal dit dan nie eendag wees nie!

Dit is jammer dat daar in die kerk so min tussen ou- en jongmense régtig gepraat word. Hy het so baie om vir hulle te vertel.

Veral oor God. Dit kan nou nog!

God.

Wat elke dag aan hom in sy kamer 'n besondere glans gegee het.