Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Beleefdheid teenoor God

hand hemel🔗

Wat is Heilig?🔗

Die woord ’heilig’ kom gereeld in ons daaglikse taalgebruik voor. Dit word so dikwels gebruik dat jy dit amper nie meer hoor nie. Hierdie woord is eie aan die kerk. Ons glo aan ʼn heilige kerk. Ons is deel van die gemeenskap van heiliges. Ons glo in die Heilige Gees. Die kinders is geheilig in Christus. Ons bid tot ʼn heilige God. Ons lees die Heilige Woord van God.

Ja, heilig word sommer al gou baie alledaags. Die Bybeltjie lê iewers verfrommeld. En as ons oor God praat, dan is Hy al gou op dieselfde vlak as wat ons is. Dit is asof daar nie meer afstand is nie. As ons nie verstaan wat Hy bedoel nie, dan is dit Hy wat vreemde dinge sê. En as sy dade onverstaanbaar en vir ons onverklaarbaar is, is Hy dan nog wel betroubaar? Daar word baie minder oor God gepraat, en hulle wat nog oor Hom praat, doen dit dikwels heeltemal anders.

Ons hoor hoe daar deesdae so baie oor sekularisasie (verwêreldliking) gepraat word. Dit is ʼn aaklige woord, soos ʼn krapmerk op ʼn langspeelplaat. Ook ʼn moeilike woord, waarmee veranderings en prosesse benoem word, wat ons  eerder buite ons eie kring wil plaas. Maar het dit wat met die moeilike woord ‘sekularisasie’ bedoel word, nie dalk ook al by onsself posgevat nie? Hoe gaan ons om met die Heilige dinge? Hoe gaan ons om met die woord 'heilig’? Is ‘heilig wees’ nog ʼn kenmerk van jou?

Heilig in die Bybel🔗

Dit wat heilig is, daarmee gaan ’n mens nie sommer roekeloos om nie. Dit vereis voorsorgmaatreëls. Dit is ‘anders’. Maar so het ons nog steeds nie alles gesê nie. “Anders” kan  sinoniem wees vir ‘vreemd’, in die sin van gevaarlik vir. Dikwels word daar sogenaamd na die oorspronklike betekenis van die woord “heilig” gekyk om dit te verduidelik:  dit beteken om eenkant geplaas te wees, iets wat nie van hierdie wêreld is nie. Eintlik kan jy as leek nie daaraan raak nie, dit is “gelaai”.

In baie godsdienste word die woord ‘heilig’ beskou as iets wat taboe is. Jy sit eintlik iets eenkant waaraan jy nie mag raak nie.

Maar teorieë oor die oorspronklike betekenis van woorde beteken nie so veel nie. Dit is baie beter om te kyk hoe die woord in die Bybel gebruik word. En daar sien ons: Heilig is ʼn woord wat by God hoort. Sterker nog, dit is ’n woord wat God tipeer as ‘God’. Wie ‘heilig’ sê, sê baie. Ons hoop om dit duidelik te maak deur ’n paar voorbeelde.

Eksodus 3🔗

Die eerste keer dat ons die woord ‘heilig’ in die Bybel lees, is in die geskiedenis van Moses. Hy het nuuskierig geword toe hy die wonderlike verskynsel sien van die doringbos wat aanhou brand, maar nie uitbrand nie. Toe hy nader kom, hoor hy ʼn stem wat sê: ”Trek jou skoene uit, want die grond waarop jy staan is heilige grond”. Wat die grond self betref was daar niks besonders sigbaar nie. Die grond was slegs heilig omdat God daar teenwoordig was. Iets is heilig omdat dit direk en regtens met God te make het. En dit beteken nie dat jy op ʼn afstand moet bly nie.  Moses moes juis nader kom, God het hom geroep sodat hy ʼn opdrag kon ontvang. Maar Moses kan nie sommer uit homself besluit om nader te kom nie. Hy kan nie as ‘t ware met sy hande in die sy sakke aangestrompel kom nie. God is daar aanwesig, en daarom is die plek ‘heilig’. En dit vereis spesiale omgangsreëls, toegangsreëls. Vir Moses beteken dit: ‘Trek jou skoene uit…’. Dit was vroeër altyd ʼn teken van nederigheid, van aanbidding en onderwerping. Moses mag na God kom, maar daar word ’n spesifieke beleefdheid en respek van hom geëis.

Eksodus 19-20🔗

Die tweede voorbeeld: Die verskyning van die Here op die berg Sinaï, die hoogtepunt in die Ou Testament. God besoek nie net sy volk nie, Hy kom by hulle woon en verbind Homself amptelik  aan die bevryde volk. Hierdie ontmoeting kan nie sommer net uit die bloute plaasvind nie, daar is voorbereidings om te tref en voorskrifte wat nagekom moet word.

ramshoring

Toe alles uiteindelik gedoen en gereël is, toe kondig die geklank van die ramshoring sy koms aan. Die hele berg bewe. Vuur en geluid en geweld wat losbars. Die lugruim word verlig deur weerligstrale. Al hierdie dinge saam maak duidelik wat God se heiligheid is. Telkens weer word daar in die Ou Testament na hierdie gebeurtenis verwys. Die volk mag dit nie vergeet nie: Om tot God te nader word van nou af altyd verbonde aan eerbied, respek en verering, omdat die volk nou God se heiligheid ken.

Die herhaalde oproep “Wees heilig, want Ek is heilig”, vind in hierdie heiligheid sy oorsprong.

Jesaja 6🔗

Nog ʼn voorbeeld. Jesaja het God sien sit op ʼn hoë en verhewe troon. En dan staan daar in Jesaja 6 geskrywe: “terwyl die some van sy kleed die tempel gevul het”. Indrukwekkend! Dit is ’n visioen wat vol vuur en rook en geluid is, veral ook deur die teenwoordigheid van die serafs. Sommige vertalings noem hierdie serafs ‘vuurgedaantes’. Dit is hierdie gedaantes vol vuur wat die onsuiwerheid verbrand. Hulle onderstreep die heiligheid van God. Hulle is troonwagters wat deur hulle aanwesigheid verhoed dat nooit enige iets God kan bereik wat eintlik nie by Sy heiligheid hoort nie. Jy kan nooit by hulle verby kom nie. Hulle is konstant in beweging. Hulle klap hul vlerke en dit maak ’n groot geluid. Afskrik-wekkend. Hulle vlieg heen en weer, hulle is voortdurend in beweging. En hulle vul die hele visioen met hul geroep: “Heilig, heilig, heilig, is die Here , van die leërskare”. Jesaja is heeltemal oorweldig deur hierdie gesig en geluid. Hy kan nie eers bly staan nie. “Wee my, ek is verlore” hoor ons hom sê. Dit is die indruk wat die heiligheid van God maak. So is God. Hy roep Jesaja. Maar Hy laat hom eers aanraak deur die vuur op die altaar. Slegs so is Jesaja geskik vir sy taak.

Esegiël 1-3🔗

Ons kyk nou na ʼn laaste voorbeeld uit die Ou Testament, naamlik die visioen van Esegiël. Hy sien onbeskryflike groot dinge. Dit is alles te groot en te wonderbaar vir hom om presies weer te gee. Wonderlike gedaantes en ʼn gestalte waarvan ons nie veel meer kan sê as dat dit lyk soos ’n mens, nie. Alles word weer beskyf vanuit vuur en lig, geluid en beweging, bliksem en storm. Bo alles uit klink God se stem. En alles word omsluit in die geweldige gedruis van die vleuels van die wesens rondom hierdie troon.

Dit alles is so geweldig indrukwekkend, dat Esegiël vir sewe dae van stryk is. Totaal verbyster. Na sewe dae kan hy eers weer opstaan. Dit is die heiligheid van God!

Die Heilige Onder Sy Volk🔗

Hierdie  heilige God kom woon by mense, en wil nie maar net een keer met hulle praat nie. Op die berg Sinaï begin iets heel besonders: Hy wil woon onder sy volk in ’n tipe huis, midde tussen die volk. Sy heiligheid beteken nie dat Hy ver weg is, vreemd is, of gevaarlik nie. Hy kom tot baie naby aan ons. So wil Hy dit self graag hê. Hy wil omgang met mense hê, ’n egte verhouding. Hy soek hulle op en roep hulle. En tegelyk bly Hy die Heilige. Dit maak Hy self moontlik deurdat Hy alles self wegneem wat nie by Hom hoort nie. Hy bedek dit self, versoen dit.

Ja, dit noem ons nou maar net kortliks, maar hierby noem ons wel een van die mees indrukwekkende dinge in die hele Skrif. Hierdie heilige God woon by mense wat eintlik deur sy heiligheid verteer moes word. Totaal moes wegsmelt, verdamp. En daarom stel Hy ook baie duidelike reëls: reëls van respek, eerbied, onderwerping en aanbidding. En wie hulle nie hierby hou nie, word uitgewis. Aäron het twee van sy seuns voor sy eie oë sien sterf deur die vuur van die HERE (Levitikus 10). Vuur gaan van God uit (Psalm 97). En tog: vanaf hierdie woonplek wil God sy vriendelike aangesig oor sy volk verhef (Numeri 6). Hy beloof bedekking van onheiligheid, versoening van sonde, lewe en seën. Ja, dit is tog die mees indrukwekkende wat ons in die Skrif lees, dat hierdie God so naby aan mense kom, dat Hy Homself as ‘t ware kwesbaar opstel. ’n Mens kan byvoorbeeld Sy huis sien. Maar tegelyk kan sy huis nou ook gebruik word vir ander gode. Lees maar die boeke Jesaja en Esegiël. Hy is kenbaar, maar nou kan daar ook slegte dinge oor Hom gesê word. Mense kan maak asof Hy nie bestaan nie. Mens kan hierdie grote heiligheid van Hom vergeet en verag. Dit kan, en dit het ook deur die hele geskiedenis elke keer weer gebeur. Duisende kere.  En tog bly Hy die Heilige!

Jesus Christus🔗

En tog wil God nog nader aan mense kom as wat in die Ou Testament die geval was. Wonderlik, die Heilige nog nader! En dit het gebeur, toe Jesus Christus, sy Seun, mens geword het. Nader as dit is eenvoudig nie moontlik nie! God die Seun het as mens onder die mense gewoon. Hy het Een van ons geword. Hy het grootgeword  in ʼn gesin, met ʼn vader en ʼn moeder, broers en susters. Hy het vriende gehad, Hy het mense se hand geskud. Hy het agter in ʼn boot gelê en slaap, omdat Hy moeg was en Hy moes gereeld eet en drink, anders  kon Hy dit nie volhou nie. En Hy is ook die een van wie gesê word dat die heerlikheid van die Vader in Hom sigbaar geword het. Voor sy geboorte is al van Hom gepraat as die Heilige, en kort voor sy sterwe het Hy presies gesê wie Hy was. Jesus verskyn in al sy heiligheid aan Johannes op Patmos:  Sy stem klink soos die van God in die visioene van die Ou Testament. Dit is ʼn stem wat klink soos die gedruis van ʼn groot watermassa, soos die geruis van ʼn waterval (Openbaring 1:15).

waterval

As die Lam deel Hy in die heiligheid van God – ’n heiligheid wat Johannes sien deur die oop deur in die hemel: Hy sien ʼn troon, en Iemand wat daarop sit. En weer word God net beskryf vanuit ’n vergelyking, so onbeskryflik is Hy. En Johannes sien wesens met vlerke, ontelbare aantal stemme, vuur en lig. En in die middel hiervan: die gestalte van die geslagte Lam (Openbaring 4 en 5). Hy wat so kwesbaar mens was, staan daar in sy heiligheid.

Kwesbaar mens. Hulle kon Hom spoeg en spot. So iets was ʼn duidelik en verregaande afwys van sy heiligheid. Maar ’n mens kan dit ook minder ekstreem doen, deur Hom doodeenvoudig te ignoreer. Langs Hom verby loop, sonder om op Hom te let. Wegkyk. Dit is almal opvallende maniere om Hom te vergeet, verag. Mettertyd eenvoudig vergeet van sy heiligheid, vergeet van die nodige respek, eerbied en aanbidding.

Dit is wat gebeur as ons nie meer die woord “heilig” verstaan nie. As ons nie meer besef nie dat God Hom as die Heilige openbaar, en Jesus Christus as die Heilige na die aarde laat kom het. Dan begin mense anders praat oor God. Ja, ook al praat hulle dan miskien nog oor Hom, dit is so totaal anders. Woorde en begrippe raak leeg, goeie gewoontes van eerbied val weg. Dit is nou presies wat sekularisasie (verwêreldliking) is!

ʼn Paar Vrae🔗

Hoe bid ons? Waarmee begin jy jou gebed? Wat is jou liggaamshouding? Hoe lyk party van ons Bybels? Hoe praat die mense oor God? Wat is jou houding teenoor God? Wat is die eerste gedagte wanneer  daar dalk iets in die Bybel staan wat ons nie verstaan oor die Bybel of oor God nie? Wat dink die mense van God, is daar nog respek, eerbied en onderwerping?

Omgang met die heilige God vereis beleefdheid. En miskien sê hierdie woord te min, maar eerbied, respek en onderwerping begin met beleefdheid. En die voordeel van die woord “beleefdheid” is dat almal dit kan verstaan. Dit kan nie eenkant weggeskuif word deur die samelewing omdat dit tot die “kerktaal” behoort nie. Die verweer teen die sekularisasie by ons en in die samelewing begin met hierdie beleefdheid teenoor God:  Opstaan vir Hom, Hom voorop laat gaan, Hom begroet soos dit behoort en op die korrekte manier omgaan met die dinge aangaande Hom.

Belééfde beleefdheid.