Bron: Kerk en Woord, 1999. 2 bladsye.

Belhar Belydenis – Waarom Onskriftuurlik?

Verlede jaar het die algemene sinode van die NG Kerk besluit dat hulle nie kans sien om die Belhar Belydenis vir sy rekening te neem nie. Hierdie belydenis wat 'n klompie jare gelede geformuleer is deur die NG Kleurlingkerke, gaan hoofsaaklik teen apartheid.

Onlangs het ds. Attie Bogaards op internet (die Calvinistiese web-ruimte) 'n ont­leding van hierdie belydenis gedoen.

Dit lui as volg:

Die belydenis van Belhar is in die lug. Dit hoef niemand julle seker te vertel nie. Nou is dit baie beslis nie my gedagte om in 'n politiekery betrokke te raak nie (al is Belhar gewortel in en gebore uit die politiek). Ek voel net dat daar van Calvinistiese kant na gekyk en aan ons mense leiding gegee sal moet word. Oor die radio hoor ons immers dat kerkleiers verklaar dat daar inhoudelik met Belhar geen probleem is nie. Dit is volgens hulle net alles rondom die ontstaan van Belhar wat mense kriewelrig maak, dinge soos dat apartheid in die ontstaanstyd van Belhar afgodery, ens. genoem is.

Maar is dit werklik waar dat daar inhou­delik geen probleme met hierdie belyde­nis is nie? Staan dit werklik op die fonda­ment van die Woord? Volgens my nie. Kom ek noem 'n paar punte wat my pla:

  1. Op 'n punt bely Belhar (en ek haal aan):

    Hier word verklaar dat God "op 'n be­sondere wyse die God van die noodly­dende, die arme en die veronregte is." Daarop hierdie opmerking:

    Dit is sekerlik nie verbondstaal hierdie nie. In die Bybel sê die HERE spesifiek aan daardie met wie Hy 'n verbond sluit dat Hy 'n God sal wees vir hulle (vergelyk byvoorbeeld Genesis 17:7, 8). Dit is een van die beloftes van sy verbond (LW) aan diegene met wie Hy sy verbond oprig. Dit word nie ongekwalifiseerd aan alle mense (dus ook alle armes, verontregtes, ens.) gesê nie.

    In die belydenis van Belhar het ons dus nie die taal van die Bybel nie. Ons hoor eerder die stem van die teologie van die rewolusie wat leer dat God die God van die arme en verdrukte is.

    "Deuteronomium 32:4, Lukas 2:14, Job 14:27, Efesiërs 2:14, Jesaja 1:16-17, Jakobus 1:27, Jakobus 5:1-6, Lukas 1:46-55, Lukas 6:20-26, Lukas 7:22, Lukas 16:19-31: Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in 'n wêreld vol onreg en vyandskap op 'n beson­dere wyse die God van die noodlyden­de, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die honge­riges gee; dat Hy die gevangenes wat bedruk is ondersteun, die vreemdelin­ge beskerm en weeskinders en wedu­wees help en die pad vir die goddelose versper; en dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek".

  2. Belhar begin met die woorde (en ek haal weer aan): "ONS glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die ein­de toe. Ons glo aan een heilige alge­mene Christelike kerk, die gemeen­skap van die heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag".

    Met die eerste lees van hierdie woorde klink dit asof daar geen enkele fout daar­mee is nie. Ons hoor immers vraag en antwoord 54 (Heidelbergse Kategismus) daarin deurklink:

    Wat my egter ontsettend hinder, is nie wat Belhar die Heidelberger nasê nie, maar juis wat hulle (om watter rede?) in die mooi antwoord van die Kategismus verswyg. Daarby dink ek aan die "uitver­kies", "deur Gees en Woord" en "in die eenheid van die ware geloof ".

    Waarom verswyg hulle die uitverkiesing of pas dit nie in die raamwerk van hulle teologie dat God (ongekwalifiseerd – soos hulle dit stel) die God van die armes en verdruktes is nie.

    "Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike kerk? Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly."

  3. Die manne verklaar ook dat die bely­denis van Belhar nodig was, omdat in die ander belydenisskrifte die drie sake van kerkeenheid, geregtigheid en ver­soening nie voldoende na vore kom nie. Daarby net hierdie een opmer­king:

    Die dankbaarheidsgedeelte van die Ka­tegismus (Sondag 34-44) behandel ge­regtigheid uiters volledig, ook gereg­tigheid ten opsigte van ons medemens (gebooie 5-10). Alreeds in hierdie opsig gaan die redes wat Belhar aanvoer vir die ontstaan van hulle bely­denis nie op nie. Verder behandel die Kategismus geregtigheid meer gebalan­seerd as Belhar, want nie alleen kom geregtigheid teenoor die medemens (gebooie 5-10) na vore nie, maar oor ook die ander sy van geregtigheid, ons verhouding met God (gebooie 1-4) word behandel.