Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

BENODIG: Persoonlike Gebede

Oor die waarde van Christelike gebede sal ons nooit uitgepraat kan raak nie. Sonder gebed kan die Christen nie lewe nie. Ons gebede, so leer die Bybel ons ook, het groot krag (vgl. Jak. 5:16). Daarom kan Christene in krisistye, soos die misdaadkrisis van ons tyd, 'n unieke bydrae lewer deur te bid. Maar hoe moet ons bid?

Gesamentlike Gebed in die Erediens🔗

Die gebed van gelowiges is op sy sigbaarste daar waar hulle in die erediens saamkom.  By sulke geleenthede doen die gelowiges saam voorbidding by monde van hulle voorganger, gewoonlik die dominee. Dat ons op hierdie manier voorbidding doen, is nie maar net gewoonte nie. Dit is 'n Bybelse opdrag. In 1 Timoteus 2: 1-8 word ons geleer dat daar so in die gemeentelike samekoms voorbidding gedoen moet word.

In tye van groot rampe en krisisse gebeur dit selfs dat meer kerke besluit om saam oor die een saak te bid. Van tyd tot tyd, hoewel by hoë uitsondering, word so 'n reëling tussen die Gereformeerde Kerke getref, gewoonlik as 'n dag van verootmoediging. Maar dit is nie die gewone manier van doen nie.  Die voorbidding in die erediens is gewoonlik 'n saak wat elke kerk plaaslik reël en uitleef.

Die gesamentlike gebede in die erediens is natuurlik openbare gebede. Daarom is dit meer formeel van aard. Dit dra ook 'n amptelike karakter. Dit is immers die ampsdraers wat in die erediens die gemeente voorgaan in die gebede.

Dit spreek vanself dat ons gebede nie tot die amptelike gebede in die erediens beperk kan word nie.   Die Bybel leer ons dat ons gedurig moet bid (1 Tess. 5:17). Die grootste deel van die gelowige se gebedslewe is daarom buite die erediens. Die meeste gebede wat ons bid, is eie gebede. Weer die vraag: hoe bid ons buite die erediens?

Gebedsgroepe, Gebedsdae en Gebedskettings?🔗

Daar is Christene wat graag hulle gebedslewe buite die erediens in gebedsgroepe organiseer. Soms word die gebede so ingerig dat volgens 'n vooraf opgestelde rooster (soms saam met ander Christene wêreldwyd) op bepaalde dae oor bepaalde sake gebid word.  By sommige is daar weer die praktyk om mekaar (telefonies) te skakel en te vra om oor een of ander saak te bid.  Die versoek word na 'n volgende aangestuur en weer na 'n volgende om uiteindelik 'n gebedsketting te vorm.

Natuurlik is dit nie verkeerd om ook buite die erediens vir gebed saam te kom nie, Trouens, in die Bybel is daar heelwat voorbeelde van gelowiges wat saam gebid het (bv. Hand. 1:14;: 12:12).  Die praktyk van gebedsdae en gebedskettings vra egter van ons groter versigtigheid.   Waarom die aandrang om (wêreldwyd) op dieselfde tyd oor dieselfde saak bid? Waarom die begeerte om in gebedskettings een na die ander oor dieselfde saak te bid?  Berus dit nie in die idee van 'n gebede-drukgroep nie?  Hoe meer van ons bid, hoe minder kan die Here die gebed weier.  En dit terwyl ons weet dat die Here nie tel nie, maar weeg!  Hy vra nie hoeveel mense gebid het nie maar met hoeveel geloof gebid is (Jak. 1:6). Hy verhoor nie op grond van die aantal gebede wat opgegaan het nie, maar enkel en alleen op grond van die Middelaar deur wie ons bid: Jesus Christus (Joh 16:23).

Natuurlik is dit nie verkeerd as gelowiges oor dieselfde saak bid nie. Ook nie as hulle dit op dieselfde tyd of in opeenvolging doen nie. Die Here het 'n behae in elke opregte gebed. Maar juis daarom moet ons waak teen verkeerde motiewe wat ons gebedspraktyke kan binnesluip.

Die Binnekamergebed in Gedrang🔗

Georganiseerde gebedsgroepe en -dae en -kettings wat verkeerd ingespan word, hou die verdere gevaar in dat dit die eie persoonlike gebedslewe van die gelowige kan verdring. Dit gebeur maklik in ons gejaagde samelewing waarin persoonlike gebedstyd dikwels moet opsystaan vir spoedeisende sake wat "nie tot later kan wag nie".  Dan bied die gebedsgroep darem 'n geleentheid waarby ek "verplig" word om gereeld te bid.

Iets van hierdie vrywillige skuldverpligting sien 'n mens by fiksheidsbewustes in die groter dorpe en stede.  Omdat dit al moeiliker word om tyd vir liggaamlike oefening in jou vol dagprogram in te pas, gaan sluit jy by 'n gimnasium aan. Sodoende "verplig" jy jouself om ten minste op vaste tye jou nodige oefening te kry en hoef jy nie meer op jou eie tuis oefening te doen nie.

'n Gebedsgroep kan maklik vir die bedrywige Christen 'n soort geestelike gimnasium word. Omdat jy nie meer in jou vol dagprogram tyd vir persoonlike gebede vind nie, sluit jy by 'n gebedsgroep aan sodat jy darem "verplig" word om te bid. As dit die geval is, het die gebedsgroep die persoonlike gebed verdring.

Die Persoonlike Gebed Onontbeerlik🔗

Een ding is seker: sonder persoonlike gebede kan die gelowige nie lewe nie. Ons is immers in Christus wedergebore tot 'n nuwe persoonlike verhouding met God. Hoe kan ons persoonlike verhouding met die Here dan bestaan en groei as ons nie elkeen gereeld persoonlik met Hom in gesprek is nie?

Benewens die gemeenskap van die geloof wat ons na buite met medegelowiges beleef, is daar dus ook die baie persoonlike sy van ons geloofslewe. En hierdie persoonlike kant beleef ons ten diepste daar waar ons elkeen in ons binnekamer op die knieë gaan en bid. Daar stort ek my intiem persoonlike hartsbehoeftes voor die Here uit - tussen my en Hom alleen!  Dink maar aan die talle kere toe die Here Jesus alleen eenkant op sy eie gaan bid het (Matt. 14:23; Mark. 1:35). Ja, selfs in sy diepste gebedsworsteling daar in Getsemane het Hy Hom van sy dissipels afgesonder om te bid: "Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem!" (Luk. 22:41).

As die Here Jesus dan so gebid het, hoeveel te meer het ons nodig om onsself in die persoonlike gebed van die binnekamer te oefen. Vanuit die binnekamer vloei die gebed dan na buite: na die gemeenskap van die gelowiges, sodat ons saam kan bid binne en buite die erediens. Maar ook na die breër gemeen­skap, want daar in ons binnekamer bid ons vir almal. Ook in die krisisse van ons tyd!