Bron: Wegwijs. 6 bladsye.

Beterskap Deur Genade

Hierdie keer wil ons iets vertel oor twee vroue. Hulle is denkbeeldig, maar ons is seker daar bestaan sulke mense. Ons wil volgens twee voorbeelde probeer verduidelik wat beteken: “Leef uit genade.”

Ons verduideliking sal nie volledig wees nie - daarvoor is God se genade te allesomvattend en God se kinders te verskillend. Ons vertel die storie aan die hand van die volgende vier afdelings:

  • Ons skets ʼn agtergrond van die twee vroue

  • Ons vertel iets oor twee Bybelse persone

  • Ons gaan dieper in op wat genade is en wat genade vir jou lewenstyl beteken

  • Ons vertel wat gebeur met die twee vroue wanneer hulle uit genade begin lewe

Mevrou Allesdoen🔗

Ek wil vir julle vertel van mevrou Allesdoen. Mevrou Allesdoen is ʼn vrou van so om en by die veertig jaar en ma van vier kinders. Sy is ʼn meelewende lid van die Kerk, verskriklik meelewend. 

Soggens doen mevrou Allesdoen sommer vinnig haar huishouding. In die middag is sy aktief in die gemeente - ʼn besoek aflê hier en bietjie help daar - totdat die kinders na skool huis toe kom. En saans sien ʼn mens haar (indien sy nie by die vroue Bybelstudiegroep is nie), saam met een van die kinders deur die buurt stap om te kollekteer vir Bybelverspreiding, of sy samel geld in ten bate van die boufonds vir die nuwe kerkgebou.

Amper almal het respek vir mevrou Allesdoen. Almal bewonder haar vir haar ywer. Sy is ook nooit ‘n las vir enige iemand anders nie. 

Laasjaar was mevrou Allesdoen baie siek. Sy was vir ʼn paar weke bedlêend. Sy wou egter niemand se hulp aanvaar nie. Haar man sou af en toe ʼn middag verlof neem by die werk om inkopies te doen en sy sou die kinders sommer so vanuit haar siekbed instruksies gee wat hulle moes doen. So kon sy heeltemal self regkom en sy het nie nodig gehad om enige iemand tot las te wees nie.

Mevrou Allesdoen doen alles wat sy moet doen, na die beste van haar vermoë. Sy mis nooit ʼn Bybelstudie nie en is ook altyd goed voorberei vir die vergadering. Haar kinders lyk, ondanks ma se besige program, altyd goed versorg. Op daardie punt sal jy haar nooit uitvang nie. 

Eintlik dink sy self dat sy te min doen. Sy reken sy beteken te min vir haar bure. Sy voel skuldig daaroor dat sy nie kans gesien het vir die Liturgiese kommissie nie en nee moes sê. En eintlik voel sy dat dít wat sy doen, nie goed genoeg is nie. Vir die Here doen ʼn mens mos nooit genoeg nie? Nee, niemand kan dit ontken nie. Hierin kan ’n mens tog seker net met haar saamstem.

Mevrou Allesdoen lyk soms ʼn bietjie opgejaag en afwesig. As ʼn mens vir haar vra of sy iets makeer, ontken sy dit ten sterkste. Dan raak sy eintlik ʼn bietjie opgewerk, want sy weet dat sy ʼn blymoedige Christen moet wees. En as daar iemand is wat dít probeer wees, dan is dit definitief sy! Trouens, sy vererg haar vir ander vrouens wat min doen en ʼn onverskillige houding inneem.  Sy sien – eerlik gesê - eintlik ʼn bietjie neer op hulle. 

ʼn Rukkie gelede het die wyksouderling vir haar ʼn snaakse vraag gevra, reken mev. Allesdoen. Hy het vir haar gevra: “As u aan die Here dink, dink u dan aan iemand met ʼn streng gesig, of dink u aan iemand met ʼn vriendelike gesig? Kyk Hy afkeurend of liefdevol na u?” Sy het gedink dat dit ʼn vreemde vraag is, eintlik snaaks. Toe sy bietjie daaroor nagedink het, het sy geantwoord: “Natuurlik kyk die Here vriendelik na ʼn mens, as jy ten minste doen wat Hy van jou verlang. Jy moet net jou beste lewer. Solank as wat jy dit wat jy vandag verkeerd gedoen het, môre beter probeer doen.”

Weet u wat het die ouderling haar toe, tot haar stomme verbasing, geantwoord? Hy het haar aangeraai om bietjie na te dink wat “leef uit genade” beteken. Dit het haar onseker laat voel. Wat het hy nou eintlik van haar gedink?

Mevrou Nutteloos🔗

Die tweede vrou in ons storie is mevrou Nutteloos, ma van twee kinders. “Maar net twee”, soos sy dit self sê. Sy is ʼn oulike persoon met ʼn sagte karakter. Sy is oortuig daarvan dat sy baie dinge eintlik nie kan doen nie. Sy sou graag meer aktief wou wees, ook in die gemeente, maar ai, daar is mos altyd mense wat dit beter kan doen as syself. Haar bydrae is volgens haar nie baie werd nie. Ander mense weet baie meer as sy, praat beter as sy en kan baie meer werk gedoen kry as sy. Kortliks: ander mense presteer beter as sy en weet ook baie beter as sy hoe om hulself te ‘bemark’.

Mevrou Nutteloos kyk in die geheim met bewondering na ander vrouens soos mevrou Allesdoen. Haar bewondering is egter ook vermeng met jaloesie en bitterheid. Juis omdat mevrou Allesdoen alles so goed doen, voel mevrou Nutteloos dat sy heeltemal in mevrou Allesdoen se skaduwee staan. Niemand sien haar raak nie. Dit maak haar moedeloos en ook ʼn bietjie onverskillig. Sy onttrek haar al hoe meer uit die gemeentelewe. Sy is gereeld afwesig by die vroue-Bybelstudie. En toe die susters haar die vorige keer gevra het om te help, het sy nogal kortaf gereageer en gesê: “Nee, vra maar vir iemand anders. Daar is baie mense wat dit beter as ek kan doen.”

Maar dit was nie heeltemal eerlik nie. Diep in haar hart het sy besef dat sy eintlik graag sou wou help en dat sy definitief ook kán help. Eerlik gesê: Eintlik was daar ʼn boosaardigheid daarin dat sy “nee” geantwoord het. So iets soos: “Ek kan dit tog nie so goed soos julle doen nie. Nou ja, dan is ek glad nie lus om julle te help nie.”

Sy ervaar dit meer gereeld: ʼn diepgewortelde gevoel van ontevredenheid met haarself. Baie keer probeer sy om haar onvergenoegdheid te verdring deur winkel toe te gaan en haarself te bederf met iets wat sy nie eintlik nodig het nie. As sy dan eers weer by die huis gekom het, was sy dadelik spyt daaroor dat sy dit gedoen het ... en die gevoel van onvergenoegdheid het gebly.

Dit het meer gereeld begin gebeur. Dit het ontwikkel tot ʼn patroon. Op die ou einde het haar onvergenoegdheid gegroei en oorgegaan in onverskilligheid en oppervlakkigheid. Haar gebedslewe het gekwyn. Sy het ook nie meer moeite daarvoor gedoen nie. Eintlik was sy bang! Bang om voor die oë van die Here te verskyn. Want sy het God se afkeuring aangevoel, omdat sy so ʼn waardelose lewe lei. Sy het wel van God se genade en sy liefde gehoor, maar - het sy gedink - dis seker bedoel vir ernstige Christene, wat daarvolgens lewe. Mense soos mevrou Allesdoen.  Ekself is te onverskillig, ek kan tog niks regkry nie. 

Genade🔗

Wat beteken genade dan nou eintlik?  Kom ons gee eers ʼn definisie: 

Genade dui aan die groot, onverdiende welwillendheid van ʼn hoër gestelde persoon  teenoor ʼn laer gestelde persoon. 

Aan die hand van hierdie definisie wil ek graag kortliks die aandag vra vir twee belangrike punte :

1. Genade is Allereers die Welwillendheid wat van Iemand Kom wat Bo jou Staan. 🔗

Neem nou ʼn voorbeeld uit die Bybel:  Wanneer Ester ongenooid na die koning toe gaan, weet sy dat dit haar lewe kan kos. Maar dan staan daar in Ester 5:2: “En net toe die koning koningin Ester in die voorhof sien staan, het sy genade in sy oë gevind....”. ʼn Mens kan sien hoe die groot en magtige koning Ahasvéros sy oë sag en vriendelik op Ester laat rus. En hier gaan dit maar net oor verhoudings tussen mense. Die genade waarvan ons praat is die toegeneentheid van die hoë heilige God.  

Ek dink dit is ʼn baie belangrike ding om te besef: Jy staan voor die majesteit van God. Hy is nie soos ʼn vriend op gelyke vlak nie. Hy is nie ʼn vennoot, vir wie jy ʼn kloppie op die skouer kan gee nie. Hy is God! Hy troon bo alles uit, in grootheid, in heerlikheid, in majesteit en in heiligheid.

Jy is altyd klein teenoor die Here. Almal is klein teenoor die Here. Ook mense wat baie presteer. Dit bring my by die volgende kenmerk van genade.

2. Genade is Altyd Onverdiend. 🔗

In al die ander godsdienste is daar die grondpatroon van prestasie en teenprestasie: ek bring my offers aan u en ek kom my godsdienstige pligte na, sodat u van u kant af my prestasies kan beantwoord met u liefde. 

Ons het ook hierdie ingeroeste neiging. Ons wil – al is dit op ʼn vroom manier – nog steeds met iets by God opdaag om onsself aanvaarbaar vir Hom te maak. Hoe baie hoor ons nie: die Here het ons lief, as ons maar net opreg tot Hom bid, as ons maar net opreg glo, as ons maar net eerlik ons skuld bely. Met hierdie opregte gebed, met ons ernstige geloof, met ons eerlike skuldbelydenis moet ons onsself aanvaarbaar máák. Dit is verskriklik moeilik om met leë hande by die Here op te daag.

Niemand waag dit eintlik om met niks op te daag nie. Maar genade staan in skrille kontras met elke vorm van verdienste. Sodra ʼn mens iets kan verdien, is genade tog nie meer genade nie? 

3. Ons kan dit Nou ook Positief Stel. 🔗

Genade beteken: ons kan regtig met niks by die Here opdaag om Hom aan ons kant te probeer kry nie, om Hom gunstig vir ons te stem nie. Dat Hy liefdevol en vriendelik na ons sal kyk, hang nie af van wat ons aan Hom kan bied nie. Jy hoef jouself nie éérs aanvaarbaar te maak in sy oë nie. Jy is alreeds vir Hom die moeite werd, sonder dat jy iets doen.

Selfs met al jou gebreke en foute, kan jy sonder angs na Hom toe gaan. Want as jy God se genade nie kan verkry met prestasies nie, kan jy sy genade ook nie verspeel met jou tekortkomings nie. Jou tekortkomings is nie vir Hom ʼn rede om jou af te wys nie.

Inteendeel: God se genade gee rus. Hy kyk vriendelik en sag na jou en sê: “Moenie so onrustig en senuweeagtig wees nie. Ek het jou al lankal aanvaar. Kom nou vir ʼn slag tot rus.”

Genade en Lewenstyl🔗

Maar hoe is dit moontlik? Hoe kan ek met al my tekortkomings, my onverskilligheid, my boosaardigheid sommer net so aanvaar word? Mag ek sommer net rustig wees? Maar daar is tog die norm, die eis van die verbond? Daar is tog ʼn roeping tot lewensheiliging? Hoe kan ʼn mens rustig wees onder so ʼn roeping? Is dit nie ʼn valse gerustheid nie?

Dit is benouende vrae. Die antwoord is egter baie beslis: wees rustig. Hoekom? Danksy Christus!  Want Hy het reeds alle geregtigheid en heiligheid wat deur die wet vereis word, vervul. Daarin sien jy nou God se genade. Jesus sê in Matteus 5:  “Ek het gekom om die wet te vervul.”

Wat beteken dit “om die wet te vervul”? Ek sal dit met ʼn voorbeeld verduidelik. Gestel daar is ʼn leë glas – absoluut niks daarin nie. Dis ʼn afbeelding van die wet, voordat Christus aarde toe gekom het. Vir eeue lank het die glas leeg gebly, niemand kon die wet vervul nie. Maar dan kom Christus, en Hy skink die glas tot bo toe vol. So volmaak het Hy die wet vervul. Hy het alles gedoen wat die wet vereis het, selfs meer as wat streng gesproke vereis was. Hy het die wet gevul tot by die rand met liefde vir God en die naaste.

Hy het die wet van God heeltemal vervul, vol gemaak soos die glas. Geen enkele druppel pas nog daarby nie. Geen punt of komma kan nog bygevoeg word nie. Tot en met die laaste druppel het Hy die wet vervul. Geen jota of tittel van die wet het onvervuld gebly nie.

En dit in ons plek!  Dit is nou God se genade as uitgangspunt vir ons lewe. Christus het die wet vervul. Dit gee enorme rus. Want op grond van die vervulde wet, kyk God vriendelik na ons, en nie op grond van wat ons sou kon presteer nie.

En ons? Hoe lyk dit met die norm, die wet, die lewensheiliging? Geld God se gebooie nog? Natuurlik! Hoekom sou God se volmaakte wet, nadat Christus dit vervul het, skielik nie meer geld nie? Christus het in ons plek vir God en die naaste liefgehad, dit staan vas. Hoef ons dan nie meer vir God en ons naaste lief te hê nie? Almal kan aanvoel dat dit onsin is. Die feit dat Christus die wet vervul het, beteken nie dat ons vrygestel word van die wet nie. 

Die hoofpunt is: ons mag die gebooie leer gehoorsaam vanuit ʼn heeltemal ander perspektief, vanuit ʼn heel ander standpunt as vroeër. Die motief is nie meer ʼn angstige, krampagtige verpligting nie, asof ons die wet nog moet vervul nie. Asof óns nog God se toegeneentheid sou moet verdien nie. Die wet is deur Christus tot oorlopens toe vervul. Hy het alles tot volheid volbring.

Juis hierdie groot genade vir ons, dít vorm in die vervolg die motief om God se wil te doen. Met hierdie groot genade steek die Here die vlam van wederliefde en dankbaarheid in ons aan. Dan ontstaan die wil om van nou af te doen wat Hy graag wil sien. 

En hierin moet jy dan nie maak of jy onkapabel is of maak of jy net die minimum kan gee nie. Jy moet nie kyk met hoe min jy kan wegkom nie. Jy neem nie genoeë met wat die wet letterlik voorskryf nie, maar jy soek ook na die dieper betekenis van die wet, na die gees van die wet. Paulus sê dat die liefde die vervulling van die wet is. ʼn Mens kan nie dit minimalisties benader nie, deur te vra wat die minste is wat jy moet doen nie. Jy gaan eerder die teenoorgestelde doen – maksimaliseer - deur te vra: Hoe kan ek my lewe met die Here, wat so goed en genadig is vir my, so mooi as moontlik maak?

Nie minimaliseer nie, maar maksimaliseer. Dit is nou juis wat Jesus in Matteus 5 bedoel. Eers sê Hy: “Ek het gekom om die wet te vervul.” Daarna voeg Hy die volgende by: “As julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.” Jesus verwag dus van ons oorvloedige geregtigheid. Nie die minimum of net ʼn klein bietjie nie.  Maar die maksimum: oorvloed.

Oorvloed. Hoeveel is dit? ʼn Klein bietjie kan al oorvloed wees. Kyk maar net: as jy ʼn paar druppeltjies in die vol glas gooi, loop dit oor. Kyk, dit is al oorvloed. Geregtigheid wat al oorvloei, oorloop. ʼn Paar druppeltjies is al genoeg vir oorvloed. Éen druppel laat die vol glas oorloop. Éen goeie daad, ʼn klein begin van nuwe gehoorsaamheid is dus al die oorvloedige geregtigheid waarna Jesus verlang. Dan word dit al hoe mooier. Want daarin sien die Here jou liefde en dankbaarheid. 

Is hierdie – klein - oorvloed dan nou genoeg? Dit ís al klaar oorvloedig. Maar waarom sou jy ophou? Hoekom sou jy ʼn eindpunt aan jou liefde en dankbaarheid stel? Solank as wat God sy liefde aan ons bly skenk, kan ons dit bly uitgiet. Net soos wat ek nou ʼn waterkraffie leeg skink in die vol glas.

Kyk, dit is nog meer oorvloed. Oorvloedige, oorvloeiende geregtigheid. Hierdie waterkraffie mag dalk nou leeg wees. Maar die stroom van God se liefde raak nooit uitgeput en droog nooit uit nie. Juis omdat ons bly put uit die onuitputlike bron, kan ons lewe bly oorstroom van liefde vir God en ons naaste, en kan ons ons verpligting teenoor Hom en teenoor mekaar nakom. 

Om te leef uit genade, is om te weet dat die wet vervul is en dat elke daad van liefde en gehoorsaamheid vir God en die naaste ʼn stukkie oorvloedigheid is. Oorvloedig, maar definitief nie oorbodig nie. Want die lewe saam met die Here word as gevolg hiervan, juis mooier. Hoe meer oorvloed, hoe mooier word dit.

Gevolge🔗

Mevrou Allesdoen en mevrou Nutteloos leef nou albei uit genade. Het dit ook gevolge vir hulle? Ja, verseker. Ons noem enkeles.

Ons voeg dadelik by: in elkeen se lewe lyk die gevolge anders. God se genade werk in elkeen van ons se lewens verskillend uit. Ons noem dit graag duidelik aan die begin van hierdie paragraaf. Want ʼn mens kry die indruk dat jy vandag eers ʼn Christen kan wees as jy sekere kenmerke toon. ʼn Regte Christen ervaar dit of dat, voel dit of dat, en op so ʼn manier word ʼn nuwe soort beeld van ʼn Christen aan ons opgedring wat eers sekere eienskappe moet toon, voordat hy mag glo dat God se genade ook vir hom bedoel is.

Standaard-Christene bestaan nie. Ons noem twee voorbeelde. Maar dit kan ook heeltemal anders wees, hoewel ons dink dat daar in die vervolg algemene en waardevolle elemente genoem word.

Om van genade te leef, beteken vir beide mevrou Allesdoen en mevrou Nutteloos dat hulle albei:

  1. meer vry sal voel

  2. nederig sal wees

  3. en sal groei in liefde

1. Om te Leef Uit Genade is om in Vryheid te Leef. 🔗

Mevrou Allesdoen het altyd probeer om haarself te bewys voor die Here. Baie van wat sy gedoen het, het voortgespruit uit haar angs dat sy dalk afgekeur sou word deur God en deur mense. Daarom het sy ook dadelik skuldig gevoel, wanneer sy ‘nee’ moes sê vir ʼn bepaalde aktiwiteit.

Sy kan nou baie meer ontspanne hiermee omgaan. God se genade laat haar insien dat sy nie meer haar houvas hoef te soek in haar eie prestasies nie. Die beklemmende gevoel van ‘ek moet meer doen’, bestaan nie meer nie. 

Soms maak dit haar ook bang, want sy moet baie dinge loslaat waarin sy haar sekerheid gesoek het: dingetjies waardeur sy gedink het dat sy ʼn houvas het om deur God aangeneem te word. Maar mevrou Allesdoen leer tog om al hoe meer haar rus in Christus te soek.

Lewe uit genade is lewe in vryheid.

Mevrou Nutteloos mag nou weet dat sy as sondares deur die Here aanvaar is. Dit is ʼn bevrydende besef. Sy hoef nie eers haarself te bewys deur baie ernstig te word en meer te begin doen nie, omtrent net soveel soos mevrou Allesdoen nie. Sy hoef haarself ook nie met ander te vergelyk of op te kyk na ander, sterker vrouens nie. Genade is dat mevrou Nutteloos deur God aanvaar word net soos sy is. Genade verdryf haar gevoelens van minderwaardigheid. Selfs al is sy anders as mevrou Allesdoen, voel sy tog nie dat sy ʼn mindere is nie. 

2. God se Genade Maak Nederig. 🔗

Toe mevrou Allesdoen eers werklik die grootheid van God se genade besef het, het sy eers besef hoe klein sy self eintlik is. Alhoewel sy dit nooit besef het nie, het sy vroeër tog heeltemal te veel van haarself verwag. Sy het tog onwillekeurig gedink dat sy haarself voor God aanvaarbaar kon maak. Anders sou sy agteraf ook nie neergesien het op mevrou Nutteloos en vies geword het vir mense soos sy wat so min doen nie.

Dit het nou ook verander. Sy ag haarself nie meer belangriker as mevrou Nutteloos nie, omdat sy haar eie beperkings nou regtig leer ken het.

Sy kan nou selfs makliker kritiek van ander verduur. Vroeër sou sy dadelik op haar perdjie gespring het as iemand haar op ʼn fout sou wys. Nou kan sy die kritiek rustig oorweeg. Sy weet immers nou baie goed dat sy ook foute maak. Maar sy word nie meer dadelik daardeur verwar nie.

Weet u waarom nie? Omdat die Here, ondanks haar skuld, haar nie wegwys nie. Hierdie wete help haar om met haar tekortkomings saam te leef. 

Leef uit genade is om te lewe in beskeidenheid en nederigheid.

Mevrou Nutteloos sal vanself nederig word, omdat sy weet dat sy ondanks haar onverskilligheid en haar ontevredenheid, tog deur God se onverdiende genade aanvaar is. Dit gee haar innerlike rustigheid. Sy kan nou tevrede wees met haar status, selfs al is dit ʼn beskeie plek. 

Nederigheid beteken vir mevrou Nutteloos ook dat sy eerlik haar eie swak punte en beperkings sal raaksien, sonder om paniekerig daaroor te raak. Genade help haar om haar beperkings rustig te kan aanvaar.

Tegelykertyd gee God se genade aan mevrou Nutteloos die rus en die ruimte om enige tyd vrywillig geringe dienswerk te doen. Dalk in haar gesin, of gemeente of êrens anders. Sommer net ʼn beskeie takie, in die besef dat sy nie soveel hoef te doen soos mevrou Allesdoen nie. Danksy die voldoening van Christus, behoort al haar goeie werke, al is dit gering, by die oorvloedige geregtigheid.

Miskien het sy nie vyf talente ontvang nie, maar dalk twee of één. Dit maak egter nie saak nie. Mevrou Nutteloos besef dat as sy getrou en dankbaar iets met haar talente doen, sal sy verseker hoor: “Mooi so, goeie en getroue slavin, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer!”

3. God se Genade Leer om God en die Naaste Lief te hê. 🔗

Voorheen het mevrou Allesdoen baie vir die Here en haar naaste gedoen. Maar haar eintlike dryfveer was angs. In alles wat sy gedoen het, was haar verborge dryfveer die angs dat sy andersins afgekeur sou word. Alles wat sy gedoen het, het sy gedoen om aanvaar te word en dat mense van haar moes hou. Eintlik het dit dus oor haar gegaan, ongeag hoe hard sy besig was vir God en mense.

Nou kan sy haarself soms ʼn bietjie vergeet. Sy hoef haar nie meer so te bekommer of sy wel aanvaar word nie. Sy is nie meer die middelpunt van alles nie.

Sy weet sy is ʼn begenadigde mens. God se Vader-oë koester haar. Daarom kan sy haar oë op Hom rig en op haar naaste. Van nou af vra sy al hoe meer na die wil van die Here. So is sy opreg betrokke en kan sy haar werklik verdiep in die wel en wee van haar naaste, byvoorbeeld mevrou Nutteloos s’n. Sy het begrip gekry vir die mens agter die masker van onverskilligheid.

Albei vroue - mevrou Nutteloos en mevrou Allesdoen - het tot die slotsom gekom dat ʼn lewe uit genade vir hulle al twee eintlik die spilpunt is waarom alles moet draai. Waarom alles mag draai. 

Leef uit genade is leef in liefde.

Die genadige liefde van die Here laat die onverskilligheid van mevrou Nutteloos wegsmelt. Terwyl sy vroeër magteloos en ingeperk gevoel het, en haar woede, bitterheid en bangheid agter ʼn masker van onverskilligheid weggesteek het, word God se genade nou ʼn bron van blydskap en liefde. Elke keer wanneer die blydskap in haar opwel, soek mevrou Nutteloos graag na nuwe moontlikhede om iets mooi te maak van haar lewe met God en haar naaste.

Vroeër het sy daarvan weggeskram, bang dat sy dit nie reg sou doen nie. Nou help haar blydskap haar deur die angs heen en het sy die vrymoedigheid om af en toe iets goed te doen. Daardeur het sy ʼn hartliker en ʼn meer spontane mens geword, vol blydskap.

O ja, en ten slotte nog dit. Intussen het die dames hulle name laat verander.
Mevrou Allesdoen se naam is nou Mevrou Rustig.
Mevrou Nutteloos is nou Mevrou Waardevol.