Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Bewaar en Vermeerder U Kerk

Die Wonder van die Kerk🔗

Toe iemand op 'n dag gevra is waaroor verbaas jy jou die meeste, was die antwoord: dat daar op aarde 'n kerk is.

Ons kan inderdaad spreek van die wonder van die kerk. Die kerk is nie 'n uitvinding van mense nie. Dit is 'n skepping van God. Trouens wanneer ons die Bybel lees dan sien ons dat die kerk van die Here so uitsonderlik is, so 'n wonder van God is dat die kerk met verskillende beelde beskryf word. Heelwat beelde is nodig om die wonder van die kerk by ons tuis te bring. Die Bybel spreek van die kerk as 'n tempel, 'n gebou en 'n pilaar.

Merkwaardig is dan dat hierdie beelde van die Bybel as't ware tot lewe kom, want ons lees van 'n gebou wat groei, wat goed saamgevoeg tot 'n tempel verrys (Efesiërs 2:21). Die apostel Petrus praat van lewende stene en 'n geestelike huis (1 Petrus 2:4).

Dan is daar in die Nuwe Testament ook nog 'n ander reeks van beelde wat die wonder van die kerk wil omskryf. Die kerk word ook aangedui as 'n liggaam, of as ‘n bruid asook met 'n plant vergelyk. Ook word die kerk vergelyk met 'n volk. Die kerk is die volk van God.

Daar Moet Groei Wees🔗

Die kerk as die volk van God en die liggaam van Christus het hier op aarde nog nie sy einddoel bereik en tot volkomenheid gekom nie. Daarom is die kerk in die Nuwe Testament die blywende voorwerp van Goddelike sorg.

Soos 'n babatjie moet groei, soos 'n klein plantjie moet ontwikkel, so moet ook die kerk van die Here groei.

Die liggaam moet groei, die tempel moet opgebou word. Daarom word daar in die Nuwe Testament dikwels oor die opbou van die gemeente gepraat. Die begrip opbou het sy wortels in die Ou Testament waar dit gebruik word vir God se genadige handeling met sy uitverkore volk. Die woord opbou is by uitstek die woord vir die voortgaande en voleindigende heilswerk van God aan sy gemeente.

Tweevoudige Opbou🔗

In die Nuwe Testament word gewag gemaak van 'n tweevoudige opbou van die kerk: enersyds word op die innerlike konsolidasie van die gemeente gewys en aan die ander kant op die uitbreiding van die gemeente.

Ons noem dit met 'n paar vreemde woorde: die intensiewe en die ekstensiewe opbou van die kerk. Die innerlike konsolidasie, die intensiewe opbou het betrekking op die geestelike groei van die gemeente (vgl. Efesiërs 4:12,13). Geestelike volwassenheid is in die Nuwe Testament 'n duidelike pastorale doelstelling.

God wil dat die gelowiges tot 'n dieper insig in die kennis van God en die heilswerk van Christus kom. Daar moet by die gelowige lidmate 'n innerlike versterking bewerk word (Efesiërs 3:16) en die vrug van die Gees soos Paulus dit noem in Galasiërs 5:22: liefde, blydskap, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing moet groei in die lewens van God se kinders.

Die intensiewe opbou behels die geestelike groei van die onvolwasse kind in Christus tot 'n volwasse man in Christus.

Die ekstensiewe opbou het betrekking op die uitbreiding van die kerk onder die volkere.

Dit bring ons by die werk van sending en evangelisasie.

Hierdie tweërlei opbouwerk is deur ons Kategismus so treffend geformuleer met die woorde: bewaar en vermeerder u kerk (Sondag 48).

Hoe Moet die Opbouwerk Verrig word?🔗

Met die oog op die groeiproses van die liggaam, in verband met die intensiewe en die ekstensiewe opbou van die kerk, in verband met die praktiese diens in die gemeente en die praktiese werk.

Wel moet ons goed raaksien dat in die Nuwe Testament die opbouwerk van die gemeente waarby elke lid, ook die susters, ingeskakel behoort te wees, sowel intensief as ekstensief onder leiding van die ampte staan.

Praktiese Implikasies🔗

Wanneer ons nou kom by die praktyk dan moet die vraag gevra word: hoe moet hierdie opbouwerk van die gemeente in die praktyk gerealiseer word?

  • In die eerste plek moet ons altyd in gedagte hou dat ons nie self die opbouwerk kan verrig nie. Paulus skrywe in verband hiermee: Ons kan plant, ons kan natmaak, maar dit is God wat laat groei (1 Korinthiërs 3:6). Daar moet dus die diepe besef wees dat ons volledig van die Here afhanklik is. Ons kan net saai, ons kan alleen maar plant en natmaak. Die Here moet dit laat groei. Gebedsafhanklikheid is dus 'n eerste voorvereiste by alle opbouwerk in die gemeente.

  • In die tweede plek wil die Here sy kerk sowel intensief as ekstensief opbou deur sy Woord. By alle opbou-aktiwiteit moet dus die Woord sentraal staan. Daarom is ook in verband met die geestelike groei van die gemeente prediking, kategese en pastoraat so belangrik en onopgeefbaar.

  • In die derde plek moet by georganiseerde opbou-onderrig, by alle toerustingsarbeid altyd gesoek word na Bybelse riglyne en moet die materiaal uit die Bybel aangebied word.

  • In die vierde plek is dit belangrik om by alle toerustingsarbeid en opbou-aktiwiteit steeds die gemeente as 'n geheel in die oog te hou. Telkens moet gevra word: Hoe kan die enkeling, die individu diensbaar gemaak word aan die hele gemeente?

  • In die vyfde plek lê juis hier vir die susters van die gemeente 'n besonder belangrike taak. Met hulle gawes om te dien, om hulp te verleen, om barmhartigheid te bewys aan bejaardes, eensames en treurendes kan grootliks bygedra word tot opbou van die gemeente om werklik een liggaam te wees.