Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Bind, Ontbind van die Waarheid

Dit bly aangrypend om die woorde te hoor. Op elke sinode sê ons dit - dat ons almal wat dieselfde dierbare geloof deel, hartlik uitnooi om een met ons te wees. Dit is seker maklik om op te staan, maar dit kos heelwat geloofsgehoorsaamheid om dit te doen. Ons is en moet ernstig wees oor kerkeenheid. Jesus Christus vergader vir Homself ‘n kerk. Ons is deel daarvan. Sy Heilige Gees het ons geloof gegee. Ons mag ons geloof nie gebruik om te ver-deel nie. Geloof wat ge-deel word verenig juis die kerk. Dié eenheid wat ons in die Heilige Gees het, moet ons bewaar. Ons mag dit nooit misties opvat met die verskoning dat die liggaam van Christus onsigbaar is nie. Met ‘n klassisvergadering sien ons byvoorbeeld hoe ander kerke opstaan wat dieselfde geloof as ons het. Die kerk se eenheid is sigbaar.

Deel of Verdeel🔗

Wanneer word geloof gebruik om die kerk te verdeel? Wanneer verklaring na interpretasie beweeg. Wanneer geloof nie meer as gawe van God gesien word nie, maar gesien word as ‘n saampraat met God. Dan word geloof en belydenis van geloof nie meer bindend geag nie, want geloofsinterpretasie is onderhewig aan die verandering van die tyd.

Gedeelde geloof moet bindend wees. Een van twee is waar:

  • óf Christus vergader sy kerk - dit bely ons; ons is kerk van die Here

  • óf Christus gee nie om dat ek ‘n klompie mense met dieselfde interpretasie bymekaar maak om ‘n kerk vir die Here te wees nie.

In die eerste geval is die geloofsbelydenis bindend - daardeur kom die kerkeenheid na vore. By die tweede is die geloofsbelydenis slegs tydelike interpretasie en werk ontbinding van die kerk in die hand.

Ekumeniese Strewe🔗

Wie ook al dieselfde dierbare geloof met ons deel, moet deel van ons wees - ook al is hulle huidig in ander historiese kerkverbande. Anders is Christus verdeel. Anders werk sy eie Gees skeiding in die hand. Anders werk ons teen Jesus Christus se hoëpriesterlike gebed.

So ‘n waarlike soeke na eenheid neem ons ernstig op. So iets gebeur nie “per konvent” nie, maar op grond van ons eie uitnodiging aan ander gereformeerdes, en op grond van toenadering van hulle kant. En so iets het groot implikasies en moet ernstig opgeneem word, want daar is on-gereformeerdes binne gereformeerde kerke en gereformeerdes buite gereformeerde kerke.

Laat daar geen misverstand wees nie. Hierdie is geen maklike pad nie. Die wrakke lê die geskiedenis vol. Mensgemaakte eenheid is nagemaakte eenheid. Dit is oneg en gaan nie hou nie. Christus vergader sy kerk. Hy bewerk die eenheid. ‘Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof’ (Efesiërs 4:4-5).

Is dit ons begeerte om werklik een te wees met almal wat dieselfde dierbare geloof deel? Die kerk is tans nie een nie, maar in brokstukke verdeel. Dit is nie van God nie. Dit is menslike sonde. Wie die verdeelde geloof betreur weet dit gaan ook trane kos om gedeelde geloof te beleef. ‘Die wat met trane saai, sal met gejubel maai' (Psalm 126:5).