Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

Bybelse Vroomheid

Regverdig en Heilig🔗

Ons hoor gereeld die woorde ‘regverdig’ en ‘heilig’. Dit is ʼn woord-paar wat onafskeidelik is.

Dit is so onafskeidelik, dat as 'n mens op die klank afgaan, dit omtrent dieselfde kan beteken. Beide woorde wys op die “lewe saam met God”.

Tog is dit te oppervlakkig om te so te sien. En in ons soeke na vroomheid kan dit ons op 'n dwaalspoor bring, veral wanneer die volgorde van die twee woorde uit die oog verloor of selfs omgekeer word.

Die regverdiging kom naamlik eerste. Dit is ʼn daad van God, vanweë Christus se werk, waardeur Hy ons lewe met Hom in die regte verhouding bring. As gevolg van ons sondes is die band met die Here verbreek, tog wil Hy dit herstel. Niemand sou uit homself daarvoor gevra het nie, tog wil die Here dit ongevraag doen. So maak Hy die begin. Hy kom na ons toe met die blye boodskap van die vergewing van alle skuld. ʼn Vergewing waartoe ons niks bygedra het nie en ook nooit sal kan bydra nie.

Onafskeidelik hiervan word ook aan ons geskenk dat ons heilig is in Christus. Heilig is ʼn aktiewe begrip, dit wys op die volkome toewyding van mense en selfs ook van voorwerpe. Die heiligdom is ʼn plek waar God sonder ophou gedien word. So is ʼn heilige 'n persoon wat in alle opsigte met God verbind wil wees en ook daaraan wil inhoud gee. Ook dit is nie iets wat uit onsself opkom nie, maar dit kom wel in ons deur die Gees van Christus. Christus se volkome toewyding word ons toegereken en dit gee ons ʼn nuwe gesindheid.

Onmiskenbaar gaan regverdiging en heiliging hand aan hand. Hulle kan en wil en mag nie sonder mekaar funksioneer nie. Tog is die volgorde belangrik: die regverdiging is en bly geheel uit God. Regverdige dade sal daaruit voortvloei, maar dit sal nooit die fondament word waarop ons staan nie.

Andersom sal ons gelowige dade, as gevolg van allerhande faktore, altyd gebrekkig bly, maar daardeur word die fondament wat God gelê het, nie afgebreek nie.

Op daardie basis bou ons die huis van ons lewe, ʼn heiligdom vir God. Dit is waar die liedere opklink, waar die offers gebring word, so goed en so gebrekkig soos wat dit is. So 'n heilige lewe is ʼn wesenlike lewensvervulling, maar dit word nooit die grond van ons verlossing nie.

Daarom is dit onjuis en verwarrend om die vaste (ontwyfelbare) inhoud van die geloof en daarmee saam die geloofsbelewing, te soek in die resultate soos ons dit sien, by onsself en by mekaar. Tog kry ek die indruk dat juis dit besig is om in toenemende mate te gebeur. Daar word gesoek na belewing, spontaniteit, spiritualiteit, en sekerlik mag daarna in die kerk van Jesus Christus ook gevra word.

Dan sal ons baie mooi dinge sien gebeur, maar ook baie dinge wat ons sal teleurstel, sonder dat dit ons onseker hoef te maak. Want ons sekerheid is nie in onsself nie en ook nie in die ‘image’ van die kerk nie, maar in Jesus Christus die hoeksteen.

Die Les van Kohlbrugge🔗

ʼn Markante uitspraak van Kohlbrugge (1803-1875) was:

 Werp weg u heiligings-krukke, verre van u weg! U sal nie daarmee die berg Sion opkom nie…

Self vertel hy, dat hy hom na sy bekering ernstig toegelê het op sy lewe volgens die wet. In heiligheid het hy bo baie mense uitgestyg. Maar in hierdie vorm van heilig-wees het hy hom totaal vasgeloop. Want daarmee wou hy teen die berg Sion opklim. Dit was die krukke waarmee hy homself leer loop het, om so voor God te verskyn.

By sy tweede bekering het sy oë daarvoor oopgegaan. Hy het die krukke weggegooi om dit nooit meer te gebruik nie. Helaas het hy daarin bietjie eensydig geword, maar dit kan hier buite beskouing bly. Dit gaan vir my nou net oor daardie krukke. Na my mening is dit eie aan ons tyd om daardie krukke weer op te soek en dit asnog te probeer gebruik. Want die eie gevoel is belangrik, die eie spontaniteit, die eie belewing en so meer. So word die kerk gemeet en so meet die mense hulself, tot hul eie verdriet. Want sekerlik mag hierdie uitings daar wees, maar as iemand eers daardeur werklik met God sou wandel, dan is dit ellendige heiligings-krukke waarmee niemand ooit sal regkom nie. Want ons lewensheiliging is nie ons toegang tot God nie, op geen manier nie. Daar is net èèn weg die Sionsberg op, en dit is die nuwe, lewende weg deur die bloed van Jesus Christus. Langs daardie weg gaan mense wat skaars kan loop, maar hul wankelende voete word steeds weer vasgemaak.

So kry ons die Bybelse vroomheid in beeld. Die Christelike geloof bring ʼn skat aan ervarings met hom saam. Maar dan wel so, dat hulle die geloof vergesel en volg, en nie aan die geloof vooraf gaan nie. Sodra die volgorde omgedraai word, maak mense hulself en mekaar onseker en ongelukkig.

Ek was onlangs by 'n begrafnis. Toe ek by die huis aankom, het daar ʼn brief gelê. ʼn Jong volwasse gemeentelid het my vrae gestel oor die kerk: Sien ek ook so min geloofsbelewing in die kerk?

Ek het by myself gedink: ek wens dat jy ook die begrafnis bygewoon het! Dan sou jy nie die brief gestuur het nie.

Dit is so misleidend, wanneer die meetlat aan die buitekant gelê word. Iemand se optrede kan so weinig beteken (dit is wat Paulus trouens ook gepla het), maar wat sê dit oor geloof en geloofsbelewing? Is alle belewing noodwendig aan die buitekant? Moet dit op die hoeke van die strate en op die pleine gewys word, sodat almal dit kan sien? Dit is tog juis so dat die Here Jesus ons in die eerste plek binnekamer toe stuur, om daar saam met God te wees en vir Hom uit te spreek wat ons dink en wat ons voel. Andersyds kan allerhande entoesiasme ook oppervlakkig wees, al sal dit dalk meer indruk maak. Daarom is dit belangrik dat ons mekaar eers ʼn slag beter moet leer ken. Dan word ons vanself versigtiger met algemene karakteristieke ten aansien van die geestelike lewe.