Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Calvyn en die Ekonomie

Om CALVYN se groot bydrae tot die ekonomie te verstaan, is dit nodig om eers oog te kry vir die tradisionele opvattings wat in sy tyd geheers het. Dit gaan eerstens om die kwessie van privaatbesit, tweedens oor rente en woeker. Derdens moet gelet word op Calvyn se eie tyd en hoe hy daar inpas.

Die reg van besit🔗

Om besittings te verkry en te hou, is aanvanklik in die 16de eeu baie negatief beskou. So ’n opvat­ting lyk vir ons vreemd, want ons gaan met ons besittings om as iets alledaags en natuurliks. Tog was dit nie altyd so nie. Inteendeel, vanaf die dae van die vroeë kerk en dwarsdeur die Middeleeue is besit met argwaan bejeën. Hierdie negatiewe houding kom uit die Griekse beskawing, wat Pales­tina en die vroeë kerkvaders beïnvloed het.

Hierdie negatiewe beskouing van besittings se spoor lei terug tot omstreeks 400 voor Christus. ln Athéne leef ’n gevatte digter en dramaturg met die naam van Aristophanes (444-388 vC). ln een van sy komedies is die hooffiguur ’n agitator vir vroueregte (toé al!), wat hom inspan om die ellendes van sy tyd te herstel deur dit in lyn te bring met die vroegste verlede toe alle mense gelyk was en alle dinge gelyklik gedeel het.

Gedurende die 400 jaar tot by die koms van ons Here het die Griekse denke in die algemeen die beskaafde wêreld deursuur in só ’n mate dat selfs uitgelese kerkvaders dikwels besitreg ontken of met die sondeval verbind het. Basilius, biskop van Caesarea (329-379), sê byvoorbeeld in ’n preek: “Sê my, wat is joune? Waar het jy dit gekry en dit in die wêreld ingebring?” Verder betoog hy dat, as almal maar net die nodige gebruik van sonlig, water en wat die aarde voortbring, elkeen genoeg sal kry; daar sal dan geen rykes of armes wees nie en gevolglik ook geen twis en stryd nie. ln dieselfde trant maak die bekende biskop van Milaan, Ambrosius (339-397), die volgende “moderne” stelling: “Die natuur het dus ’n algemene reg vir almal voortgebring, maar gulsigheid het dit die reg van enkeles gemaak.”

Hierdie soort “sosialistiese” beskouing het in die Middeleeue bly voortleef. Wanneer die Reformasie in die 16de eeu die Woord eintlik herontdek, is die afkeer van besit reeds 2 000 jaar oud. Geen wonder nie dat die eerste Hervormer, Zwingli, nog nie raad met die eiendomskwessie geweet het nie, en dat Luther tydens die boere se opstand (1525) die gestry oor eiendom na die regters verwys het.

Eers Calvyn sou met die saak afreken en dit weer in ’n Bybelse lig stel. Die probleem van besitreg en besittings word egter as integrale deel van sy Bybelse leer behandel.

Opvallend is dit dat Calvyn soms dieselfde woorde as die Grieke en die kerkvaders gebruik. Hy praat ook van ’n “natuurorde” en van ’n “skeppingswet”. Omdat hy egter steeds God en sy eer in die oog het en nié die mens nie, is besitreg vir hom ’n eenvoudige Bybelse gegewe en nie ’n probleem nie. Die barmhartige hemelse Vader deel nie net geestelike gawes onderskeidend uit nie, maar ook stoflike gawes. En dan ontvang ons, nie om te besit en altyd méér te besit nie, maar om te gee en mekaar te dien. Wanneer God egter uit die oog verloor is en net die mens gesien word, word die vraag “Wie het wat?” ’n groot probleem wat naywer en bedrog kan skep, soos ons dit elke dag om ons sien gebeur.

lemand het tekenend gesê dat die eiendomsprobleem ten diepste ’n mensprobleem is - die mens se onmenslikheid teenoor sy medemens. Of, om dit in Calvyn se woorde te sê: Die harmoniese skeppingsorde wat geheers het tussen God en mens, tussen mens en mens, en tussen mens en natuur, is deur die mens se sonde verbrokkel. Dus, hoewel Calvyn soms dieselfde terme as die kerkvaders gebruik, bedoel hy daarmee iets totaal anders.

Calvyn verklaar ook die agtste gebod omvattender as gewoonlik. Wanneer ek my naaste van die eer en die goeie naam wat hom toekom, beroof, pleeg ek diefstal. Ons kan die agtste gebod alleen gehoorsaam wanneer ons waak oor die geld, goed en eer van ander mense. Dis die positiewe van die gebod, soos die Heidelbergse Kategismus dit ook verklaar.

Rente en woeker🔗

Calvyn was die eerste teoloog wat duidelik onderskei het tussen rente vir lewensmiddele en rente vir produksie. As ’n arm mens by jou geld leen om kos en klere te koop, dan sou jy onmenslik wees om te eis dat hy jou geld met rente moet terugbetaal.

Aan die ander kant: as iemand by jou geld leen om daarmee te “werk” (bv. om ’n kudde aan te koop wat kan aanteel), sou dit onbillik wees as die lener al die wins vir homself inpalm, terwyl jy as die uit­lener geen aandeel in daardie vrug sou kry nie. In hierdie geval is die neem van rente nie onmenslik of verfoeilik nie, maar juis billik. Matthéüs 7:12 leer dat ons alles aan die mense moet doen wat ons aan onsself gedoen wil hê. Hierdie teks, wat billikheid eis, is vir Calvyn die riglyn in die daaglikse lewe van koop en verkoop.

Calvyn se opvatting is deur geskiedkundiges gesien as ’n beslissende stap in die ontwikkeling van die Westerse ekonomie, en dit ten regte. Sommige het verder gegaan en hom geteken as die vader van die moderne Westerse kapitalisme - dit ten onregte. Calvyn se beskouing was nie ’n goedkoop kompromis met die humanisme van die Renaissance van sy tyd nie. Dit was ewe min ’n knieval voor die opkomende geldekonomie van sy tyd. As regsgeleerde het hy gesoek na billikheid en dit in die opdrag van Matthéüs 7:12 gevind. Daarby was hy ’n eerlike Skrifuitlegger wat in die mees alledaagse omgang tussen mense na die eer van God en die heil van die naaste gesoek het.

Die ingrypende van Calvyn se opvatting word eers duidelik teen die agtergrond van die opvattings van voorafgaande eeue. Vir die ideaal van die Grieke en sommige kerkvaders van ’n besitlose samelewing was rente en woeker duidelik 'n taboe. Boonop het die Griekse filosoof Aristoteles (382-322 vC) die volgende natuurwet geformuleer: “Geld kan nie geld voortbring nie.” Wanneer ek R100 in ’n trommel toesluit,: is dit volgende jaar nog steeds R100!

By hierdie Griekse tradisie kom egter nog ’n ander stroom om dit te versterk: die Ou Testament se verbod om rente van die arm broer te neem (Eks 22:25 Lev 25:33-38; Deut 23:19-20). Wanneer Psalm 15:5 boonop die man salig verklaar wat nie sy geld op woeker uitgee nie, lyk dit na ’n algemene stelling en nie net van toepassing op die arm broer nie. Die latere Jodedom het die neem van rente aan Jode dan ook as algemene verbod gesien, soos blyk uit die Talmoed.

Die eerste Christene het waarskynlik die Joodse lewenswyse wat rente betref, gevolg. Eers toe die vervolgings ophou en die kerk staatskerk word, duik die probleem van rente weer op. Die Sinode van Elvira (306) bepaal dat almal wat rente gee en neem (rente is as woeker beskou), uit die Koninkryk uitgesluit is en uit die kerk geban word. Die Konsilie van Nicea (325) verswak die bepaling deur dit net op die klerus van toepassing te maak.

Die renteverbod is eers finaal deur die Rooms-Katolieke Kerk in 1933 opgehef. (Dat Middeleeuse pouse groot bedrae geld teen uitspattige rentekoerse van Italiaanse banke geleen het, moet in hakies geplaas en net saggies gefluister word.)

Teen hierdie lang tradisie het Calvyn ingebeur en die Bybelse lig op die saak laat val. Hy was baie bewus van die moeilikhede om met geld om te gaan; dat alle gevalle van leen en terugbetaal nie wetlik gereguleer kan word nie. Die gelowige moes hom deur billikheid en naasteliefde (Matt 7:12) laat lei.

Genève in die 16de eeu🔗

Die stad het ongeveer 10 000 inwoners gehad, meestal handwerkers en met primitiewe produksiemiddele. Die Raad van die stad was in die skuld by Basel, waar hulle moes leen omdat geld deur ekstra belasting nie meer uit die verarmde inwoners gepers kon word nie. Asof dit nie genoeg is nie, is die stad oorval deur duisende Franse vlugtelinge. ln hierdie kritieke toestand moes Calvyn die Raad van advies bedien. Hier volg ’n aantal van sy aanbevelings:

Vry mediese sorg vir die armes; pryskontrole op die basiese lewensmiddele van brood, wyn en vleis; regulering van die lengte van arbeidstyd; ’n sterk pleidooi vir salarisverhogings, veral van onderwysers; verpligte laer onderwys; stimulering van publieke werke en heropleiding van werkloses; hulp aan vlugtelinge wat deur die stad reis; instelling van diakens om die armes te help, en ’n verbod op bedelary omdat daar geen rede meer daarvoor was nie.

Op sterkte van hierdie aanbevelings op sigself geneem, kan ’n sterk saak uitgemaak word vir Calvyn as vader van die sosialisme. Dit sou ook onsinnig wees. Calvyn leer ons om weg te kom van die valse keuse tussen kapitalisme en sosialisme (kommunisme). By albei dié stelsels is die verhouding tussen mens en geld dieselfde - al wat verskil, is die sisteem van uitdeling.

In die Bybelse lig wat Calvyn weer oor die ekonomie laat val het, is die mens nie inhalige besitter nie, maar sorgende rentmeester. Dan word deur die vernuwende werk van die Gees die buitelyne van die oorspronklike harmoniese skeppingsorde weer vaagweg sigbaar.