Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Calvyn en die Inrigting van die Kerklike Lewe

skildery

Selfs voordat Calvyn hom vir die eerste keer in Genève gaan vestig het, het die stad ʼn besluit geneem om ʼn stad te word wat ’n karakter gaan wys wat  so Christelik as moontlik is. Die redes daarvoor was nie volledig vanuit die geloof geneem nie. Ook politieke, sosiale en maatskaplike faktore, het ʼn rol gespeel. Met die oog op politieke strategie en veiligheid, moes die stad vir sovêr moontlik ʼn eenheid vorm. Met Calvyn se koms in Genève, word hierdie program nog meer konsekwent ingevul en dan veral vanuit Calvyn se motief om die kerk en samelewing (dikwels nog nie van mekaar onderskei nie), te hervorm om die karakter van die koninkryk van Christus te wys.

ʼn Christelike Lewenstyl  🔗

Een van die grootste aspekte van kerklike reformasie wat die heel eerste reformatore van die sestiende eeu moes aanspreek, was kerklike tug en dissipline. Die leer van die regverdiging deur geloof alleen was in die middelpunt van die begin van die reformasie van die kerk. Dit het egter ook tot probleme gelei. Die versoeking om wetteloosheid te bevorder was van die begin af aanwesig waar hierdie leer van verlossing uit genade alleen nie reg verstaan is nie of doelbewus verdraai is. Baie meelopers met die reformasie het gedink dat die regverdiging deur die geloof alleen, enige goeie christelike lewenstyl en gehoorsaamheid aan die Here, oorbodig maak.  Selfs talle van Luther se “volgelinge”, wat bekend gestaan het as die Libertyne, het hierdie denke gepropageer.

Op ʼn heel praktiese vlak, naas die teologiese, het die Lutherane allerlei instellings probeer ontwikkel waardeur behoorlike standaarde vir die christelike lewenswandel, afgedwing kon word. Luther het dit meestal aan sy volgelinge oorgelaat om dit in plek te kry. Een van hulle, ʼn Reformator in eie reg, Martin Bucer, het die owerheid van Strassbourg probeer oorreed om sulke instellings te skep waardeur tug toegepas kon word. Daarvoor het hy allerlei kerkordes opgestel vir onder andere die stad Ulm, om gedissiplineerde lewens te probeer bevorder. 

In die praktyk het meeste tot amper al hierdie pogings onder die Lutherane klaaglik misluk. Die gevolg was dat in meeste Lutherse lande kerklike tug glad nie tot sy reg gekom het nie en uiteindelik oorgelaat is aan die sekulêre owerheid. Hierdie owerheid moes die uitsluitlike verantwoordelikheid vir die aanspreek van mense se lewenstyl aanvaar.

Die “Kerkraad” van Genève 🔗

Die eerste noemenswaardig suksesvolle kerklike tug het in die volgende geslag reformatore tot sy reg gekom. Dit gebeur in daardie tak van die reformasie wat baie sterk gevorm is deur Johannes Calvyn se geloofsoortuigings. Om te verstaan wat dit in die praktyk behels het, moet ons kennis neem van ʼn belangrike en unieke liggaam wat Calvyn uiteindelik in Genève gevorm en laat funksioneer het. Calvyn het as een van sy voorwaardes om terug te keer na Genève (nadat hy eers uit die stad geban is), begin met die funksionering van ʼn uitgebreide “kerkraad”. Hierdie instelling is later ook grootliks nagevolg in stede en kerke wat deur Calvyn beïnvloed is. Dit was Calvyn se manier om op ʼn behoorlike manier aandag te gee aan dit wat vir hom wesenlik gepas het by ʼn kerk van Christus, nl. die behoorlike uitoefening van kerklike tug.

Kort na Calvyn se terugkeer na Genève in 1541, trouens slegs weke daarna, word die eerste vergadering gehou van hierdie vergadering. Hulle het as taak gehad om tug toe te pas en behoorlike Christelike dissipline oor die bevolking van die stad uit te oefen. Die funksionering hiervan word voorgeskryf in een van die eerste kerkordelike dokumente wat Calvyn opgestel het.

Hierdie uitgebreide kerkraad (in Engels “Consistory”) was eintlik ʼn komitee van die stadsowerheid van Genève. Die voorsitter hiervan was een van die stadsbeamptes, en die res van die vergadering het bestaan uit die ouderlinge en die predikante van die stad (en selfs van die omringende plattelandse dorpies wat aan Genève verbind was). Dit is veral deur die funksionering van hierdie “kerkraad” dat Calvyn ʼn groot invloed van hom oor die stad laat uitgaan het. 

dronkenskap

Deur die tug en dissipline van hierdie vergadering het die lewenstyl van die stad dramaties verander. Van ʼn stad wat bekend was vir sy prostitusie, dronkenskap, buite-egtelike kinders en algemene wettelose lewenshouding, het dit verander na ʼn navolgenswaardige voorbeeld vir ander stede en kerke. Nadat die bekende Skotse hervormer Knox Genève besoek het, rapporteer hy in sy land in gevleuelde woorde oor Genève se karakter. Hy beskryf dit as die mees volmaakte leerskool van Christus wat daar ooit op die aarde was sedert die apostoliese tydperk. Knox erken dat hy ook op ander plekke die evangelie van Christus verkondig gehoor het, maar ʼn samelewing wat so behoorlik ʼn Christelike karakter gehad het, het hy nêrens anders kon vind nie.

Notules van die Vergadering🔗

Notules van die weeklikse vergaderings, beginnende met die tiende vergadering vroeg in 1542, bestaan byna volledig. Hierdie notules bevat uitgebreide verslae van die weeklikse vergaderings. Hierdie verslae bevat ook die name van persone wat voor die raad gedaag is vanweë ʼn misstap en die gevolglike klag wat teen hulle aanhangig gemaak is.  In makliker gevalle is op dieselfde dag nog ʼn uitspraak gemaak, maar dikwels het die besinning oor wat wys, goed en regverdig is, weke en selfs tot maande geduur. 

Dit is uit hierdie verslae wat ons so ontsettend baie kan leer oor hoe Calvyn gedink het oor sake wat veral kerklike tug aangaan.  Die pastorale wysheid en erns waarmee die wydste moontlike spektrum van die lewe aan die orde gestel en hanteer is, kan in menige opsigte dien as model vir kerkrade tot vandag. Die vergadering het nie net regspraak hanteer nie, maar ook gedien as ʼn vorm van beradingsdiens. Twiste tussen familielede of bure, konflikte tussen besigheidsvennote, huweliksprobleme, verlowings wat verbreek is, openbare opruiende optrede, ongehoorsame kinders, was maar net ʼn paar van die sake wat aan die orde gestel is. Die noodsaak (ook vir vandag waarin ons so maklik praat van “mondige” lidmate) van ʼn raad wat kan dien met lewenswysheid, voorbeelde en wyse uitsprake spreek duidelik uit die voorbeelde wat ek u graag wil gee in die res van die ruimte tot my beskikking.

…Hoekom sou ons Trou?🔗

Calvyn het in groot detail die vraag aangespreek waarom ʼn paartjie sou oorweeg om te trou. Hy is hierin glad nie eng besig om die huwelik te beskou as maar net ʼn manier om die menslike geslag uit te bou nie. Hy noem onder andere gemeenskaplike liefde, vertroosting, ondersteuning en gemeenskaplike beskerming teen seksuele sondes en versoekings as goeie redes om ʼn huwelik te begeer. Hierdie is alles goeie redes vir volwassenes om te trou, tensy hulle oortuig is dat hulle geroep is om alleen deur die lewe te gaan en dit ook werklik kan doen, sonder om te sondig.

Vir lank was dit die gebruik dat mense die hulp van kerklike ampsdraers gesoek het in hul pogings om ʼn huweliksmaat vir hulself of hul kinders te vind. Calvyn, die “matchmaker”, het in sy advies aan ander gesoek wat hy vir homself as uitgangspunt gebruik het toe hy self ʼn bruid gesoek het.  Vroomheid en beskeidenheid het voorop gestaan. Sosiale, ekonomiese en opvoedkundige verenigbaarheid was verseker deel van sy oorwegings. Skoonheid en verliefdheid het egter weer lae punte by hom behaal. Groot verskille in ouderdom en geloofsoortuigings sou, as dit van Calvyn afgehang het, nie ʼn huwelik met belofte wees nie. Calvyn het verder die instemming van beide die ouerpare as baie belangrik geag, en net so belangrik ook die instemming van beide huweliksmaats. Calvyn kon behoorlik kwaad word wanneer ouers hom probeer beïnvloed het om vír ʼn huwelik te adviseer waarvan hy nie oortuig was dat dit ʼn goeie en wyse oorweging behels nie.

ʼn Baie goeie vriend van Calvyn, Pierre Viret, was baie deur Calvyn se adviese gehelp in die vind van ʼn geskikte huweliksmaat. Aan Viret skryf Calvyn by geleentheid:

Dit sal die saak bevorder as ek haar mag vra met jou toestemming. Ek het haar al twee maal gesien. Sy is baie beskeie, met ʼn uitsonderlike mooi voorkoms en persoonlikheid. Van haar gewoontes praat almal met lof, Jean Parvi het selfs vertel dat hy heeltemal deur haar betower is.

Calvyn en Idelette🔗

Ongelyke Juk in die Huwelik🔗

Vir Calvyn was dit ʼn uitgemaakte saak dat Protestante nie moet trou met Rooms Katolieke, Ortodokses, Jode, Moslems of ongelowiges nie. Sulke huwelike moes ten sterkste ontmoedig word, al kan hulle natuurlik nie gekeer word om tog te trou nie. Persone wat tot Protestantse oortuigings kom en reeds met sulke persone getroud is, moes nie probeer om ʼn egskeiding te soek nie. 

ʼn Voorbeeld hiervan is die raad se hantering van Jean Mercier. Mercier was ʼn relatief nuwe immigrant in Genève. Kort nadat hy belydende lidmaat van die kerk geword het, het hy na Avignon gereis. In die Franse stad Avignon, het hy met ʼn Roomse vrou getrou in ʼn Roomse huwelikseremonie en daarna teruggekeer na Genève. Die raad het hom hieroor ernstig vermaan en uitgesluit van die Nagmaal. Nadat hy egter berou getoon het, is hy binne enkele maande weer tot die volle gemeenskap van die Nagmaal toegelaat en was daar nie sprake van ʼn soeke van ʼn opheffing van die huwelik nie.

Al hierdie geleenthede is deur die raad aangegryp, nie om so streng moontlike tug toe te pas nie, maar om geleenthede te soek vir die onderrig in die gesondmakende evangelie. Hoe baie is hier nie te leer vir die kerk van Christus wat in ʼn situasie in ons land beland het waar  die goeie sig op die huwelik en die christelike lewenstyl in die algemeen grootliks vervaag het! Watter mooi geleenthede om met die evangelie mense te bereik om met God te leef!