Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Calvyn en die Verklaring van die Bybel

Calvyn was ’n eksegeet by uitnemendheid. Hiervan is die indrukwekkende lys van kommentare wat uit sy pen voortgekom het, ’n duidelike bewys. Behalwe die tweede en derde brief van Johannes en die boek Openbaring, het hy kommentare oor al die boeke van die Bybel geskryf. Vir hom was die verklaring van die Bybel een van die belangrikste bydraes wat die Reformasie tot die herstel van die kerk gelewer het. Hy skryf in sy Acta Synodi Tridenti: “Ons het vir die verstaan van die Skrif meer gedoen as alle doctores wat sedert die ontstaan van die pousdom in die Roomse Kerk opgestaan het.”

Inderdaad het Calvyn se werk as hervormer tot ’n groot mate berus op die verstaan en verklaar van die Bybel. Dit word dikwels gesê dat Calvyn juis in sy Institusie hom as eksegeet bewys. Die feit dat hy alles wat hy gedoen het op die verklaring van die Bybel gegrond het, dien as voorbeeld vir die kerke wat later uit die Reformasie tot stand gekom het.

Maar hoe het Calvyn te werk gegaan om die Bybel te verklaar? Hy het geen uitgewerkte hermeneutiek nagelaat nie. Tog kan ons in sy geskrifte sien watter reëls vir Skrifverklaring hy gevolg het.

Grondslag en gesigspunte vir sy eksegese🔗

Seker die belangrikste aspek van Calvyn se eksegese is dat hy die Bybel gelees en uitgelê het vanuit die oortuiging dat dit God se Woord is. Vir hom is die basis van alle Bybelverklaring die besef dat God self die Een is wat deur en vanuit die Skrif tot ons spreek (Inst. I 7.1). Daarom is die doel van alle eksegese om in die Skrif na God te luister.

Hoe het dit gebeur dat die Bybel God se Woord is? Calvyn het nie ’n inspirasieleer uitgewerk nie, maar uit sy geskrifte is dit duidelik dat hy elke woord in die Bybel beskou het as komende van God, byna asof die Heilige Gees dit vir die Bybelskrywers gedikteer het. Tog hou Calvyn in sy kom­mentare rekening met die eie styl en woordgebruik van die onderskeie Bybelskrywers. Vir hom is die hoofsaak dat die Bybelskrywers alles, hoewel in eie styl en woordgebruik, in gehoorsaamheid aan die Heilige Gees geskryf het.

Die Heilige Gees het nie net die Bybelskrywers geïnspireer nie, Hy verlig ook die Bybelverklaarders se harte om reg te verstaan. Sonder die verligting van die Gees kan die Bybel nie reg verstaan word nie. Die Gees is immers die groot Getuie wat in Gods Woord en terselfdertyd in die mensehart van God getuig (Inst. I 7.4).

Openbaringshistoriese eksegese🔗

’n Belangrike gevolg van Calvyn se Skrifbeskouing is dat hy in sy eksegese van die eenheid van die Bybel uitgaan. Omdat die hele Bybel God se Woord is, moet elke Skrifdeel as deel van die geheel verstaan word. Dit is wat vandag bekendstaan as openbaringshistoriese eksegese. In sy kommentare wys Calvyn by herhaling op bepaalde openbaringsmotiewe wat regdeur die Bybel loop. Hierdie openbaringsmotiewe kom op die volgende neer:

  • Die geregtigheid van God wat in die wet saamtrek en in Christus deurbreek.
  • Die verbond wat soos ’n goue draad deur die Ou en Nuwe Testament loop.
  • Die kerk as die uitverkore volk van God - in die Ou en die Nuwe Testament.
  • Die lyn van Adam na Christus, waarin Christus kom om te herstel wat deur die sondeval verpletter is.

Eintlik is die omvattendste raamwerk waarbinne Calvyn die Skrif verstaan dié van die Koninkryk van God. Hoewel Calvyn die Koninkryksgedagte nie eksplisiet na vore bring nie, tree dit sterk na vore in die manier waarop hy God se verbond verstaan. Die belofte aan Abraham loop uiteindelik uit dat alles en almal God se heerskappy in die ganse skepping erken en daarvoor buig. God se heerskappy is op die ou einde ook die grond vir gehoorsaamheid aan sy wet, vir die vergadering van sy kerk en vir die herstel van sy skepping in Christus.

Beginsels van eksegetiese arbeid🔗

Hoewel Calvyn nie formeel reëls vir Bybelverklaring opgestel het nie, blyk dit uit sy kommentare dat hy in sy eksegese min of meer die volgende beginsels gevolg het:

  1. Helderheid en bondigheid was vir Calvyn ’n onmisbare eienskap van eksegese. Eksegese moet dit wat daar staan, verduidelik en nie verduister nie.
  2. Die eerste taak van die eksegeet is om te soek na die bedoeling van die skrywer.
  3. Daarvoor moet die eksegeet in die eerste plek die werklike betekenis (oorspronklike, ware, eenvoudige, grammatiese betekenis) van die teks uiteensit.
  4. Die eksegeet moet ag slaan op die konteks van wat daar geskrywe staan. Die historiese, geografiese en kulturele omstandighede van die teks moet in ag geneem word.
  5. Die eksegeet moet vasstel in hoeverre die eksegese verder mag gaan as die direkte, letterlike woorde van die teks.
  6. Hiermee saam moet hy rekening hou met metafore, beeldspraak en stylfigure, sodat hy ’n Skrifdeel wat figuurlik bedoel is, nie letterlik opneem nie.
  7. Die eksegeet moet in die laaste plek die Skrif lees en verklaar met die doel om Christus daarin te vind. Hierby moet nie net met Christus se verlossingswerk rekening gehou word nie, maar met die geheel van wese en werk.

ln geheel moet die eksegeet egter onthou, skryf Calvyn, dat die krag van die Woord nie bloot in die woorde opgesluit is nie, want dit kom deur die verborge ingewing van die Heilige Gees (Kommentaar Eség 2:1, 2). Om die Skrif te kan verklaar, is en bly ’n gawe wat God deur sy Gees aan die verklaarder gee. Die ongelowige Bybelleser sal dus die Bybel noukeurig kan bestudeer, maar hy sal nie God se stem daarin hoor nie.

ln al sy eksegese was Calvyn diep oortuig dat die Heilige Gees werk deur middel van wat in die Bybel geskrywe staan - deur die woord, die taal, die teks. Daarom was eksegese vir hom deel van die werk van die Gees, en het hy sy eksegese biddend aangepak.

Nederige gesindheid van die eksegeet🔗

Juis as man van die gebed was Calvyn toonbeeld van ’n nederige eksegeet. Diep bewus van sy eie beperkte insigte, was hy in geheel van die Gees afhanklik. ln sy nederigheid was hy ook deeglik bewus daarvan dat die Gees ook ander eksegete lei. Daarom moet die Bybelverklaarder altyd bereid wees om sy werk aan ander eksegete se insigte te toets.

Ander verklaarders - ook dié uit die verlede, soos die kerkvaders van ouds - se mening was vir Calvyn baie belangrik. Net wanneer dit absoluut nodig was, het hy afgewyk van die konsensus van die verklaring deur die eeue.

Die verklaring deur die eeue het neerslag gevind in die belydenis en die dogma. Daarom het Calvyn die belydenis en dogma as toetssteen vir die eksegese beskou (Inst. IV 9.8). Tussen dogma en eksegese is daar by Calvyn ’n gesonde wisselwerking. Die eksegese is die grondslag van die dogma, en die dogma is die toetssteen van die eksegese.

Die dogma is egter nie ’n koue, dooie toetssteen nie, want die dogma is die neerslag van die kerk se Skrifverstaan deur die verligtende werk van die Heilige Gees.

Alles in ag genome, berus Calvyn se verklaring van die Bybel van begin tot einde op die Heilige Gees. In diepe afhanklikheid van die Gees verklaar hy die Skrif en dit as ’n genadegawe van die Gees.

Die doel van die eksegese was vir Calvyn om te hoor wat die Gees in die Skrif sê en om dit in die krag van die Gees ook na te sê. Geen wonder nie dat Calvyn dikwels die teoloog van die Heilige Gees ge­noem word.