2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Christen Ballinge

man stap

In die diepste sin van die woord, is hierdie wêreld nie ons tuiste nie. Wanneer ons uit ons liggame verhuis, “woon ons by die Here” (2 Kor. 5:8). Ons is nie “aan hierdie wêreld gelykvormig” nie (Rom. 12:2). Ons lewens is “saam met Christus verborge in God” (Kol. 3:3). Ons is “uit die mag van die duisternis ... verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun” (Kol. 1:13). Ons het “uit die dood oorgegaan ... na die lewe” (1 Joh. 3:14). Ons is ballinge en vreemdelinge hier.

Die feit dat ons ballinge in die wêreld is (1 Pet. 2:11), beteken nie dat ons nie omgee wat van die kultuur word nie. Maar dit beteken dat ons as baie gelukkige, gebroke buitestanders ons invloed laat geld. Ons is ballinge. “Ons burgerskap is egter in die hemel, vanwaar ons as Verlosser verwag: die Here Jesus Christus” (Fil. 3:20). Ons “het hier geen blywende stad nie, maar ons is op soek na die toekomstige stad” (Heb. 13:14).

Tog is ons baie gelukkige vreemdelinge, want ons is deur ons bloedbevlekte Oorwinnaar beveel om ons in die swaarkry van ballingskap te verbly: ”Geseënd is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg” (Matt. 5:11-12). Ons is gelukkig omdat die apostel Paulus aan ons getoon het dat “die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie” (Rom. 8:18). Ons is gelukkig omdat daar oral in hierdie in sonde gevalle wêreld genadevolle voorsmake is van dié heerlikheid, en omdat God hom daarin verheug dat ons dit reeds geniet (1 Tim. 4:3; 6:17). Christus het vir sondaars gesterf sodat “alles” eendag aan sy volk sal behoort (Rom. 8:32).

Nogtans is ons blydskap die blydskap van gebroke harte omdat Christus soveel meer gehoorsaamheid waardig is as wat ons aan Hom betoon. Ons blydskap is dié van gebroke harte omdat soveel mense oor die hele wêreld nie die goeie nuus gehoor het dat “Christus Jesus na die wêreld gekom het om sondaars te verlos” (1 Tim. 1:15) nie. Ons blydskap is dié van gebroke harte omdat alle menslike kulture – in elke samelewing – Christus oneer aandoen, hul beroem in hul skande en ywerig besig is om hulself te vernietig.

Dit sluit Amerika in. Die Amerikaanse kultuur behoort nie aan Christene nie, nie in die realiteit van die lewe nie, en ewemin in die Bybelse godgeleerdheid. Dit het nooit nie. Die huidige vryval na Sodom toe is nie ʼn val van Christelike eienaarskap af nie. “Die hele wêreld (is) in die mag van die Bose...” (1 Johannes 5:19). Dit was so sedert die sondeval, en dit sal so wees totdat Christus ten aanskoue van alle mense triomferend terugkeer. God se wettige eienaarskap sal op die regte tyd tot volle openbaring kom. Christus se heerskappy oor die hele skepping word in stadiums geopenbaar: eers die tyd van sugte, dan die tyd van heerlikheid. Ons “wat die Gees se eerste vrug ontvang het, ook ons sug self in ons binneste, terwyl ons daarna uitsien dat God ons kindskap en die bevryding van ons liggame openlik bekend sal maak” (Rom. 8:23). Die ballinge sug saam met die hele skepping. Ons leef in afwagting.

sout

Tog is Christelike ballinge nie passief nie. Ons spot nie selfvoldaan oor die ellende of oor gefuif van ʼn immorele kultuur nie. Ons huil. Of ons behoort te huil. Dit is my hoofpunt: om ballinge te wees beteken nie om sinies te wees nie. Dit beteken nie om onverskillig of onbetrokke te wees nie. Die sout van die aarde bespot nie verrottende vleis nie. Waar moontlik werk dit verrotting teen, dit bewaar en gee smaak. Waar dit nie kan nie, huil dit. En die lig van die wêreld trek nie terug, dankie-bly om van die godlose duisternis ontslae te wees nie. Dit swoeg om lig te verskaf. Maar dit domineer nie.

Om Christen ballinge in Amerika te wees, beëindig nie ons invloed nie; dit haal die grootpraat daar uit. Ons raak nie geïrriteerd omdat ons land van ons af weggeneem word nie. Ons kerm nie oor die oorwinnings van die bose nie. Ons raak nie verhard deur woede nie. Ons verstaan. Hierdie situasie is nie nuut nie. Dit presies hoe dit aan die begin was – Antiochië, Korinte, Atene, Rome. Die Ryksgebied was nie net ontaard nie, dit was doods. Vir drie plofbare eeue het Christene vir die blydskap waarmee hulle Christus verheerlik het, met bloed betaal. Vele doen dit steeds. Meer sal dit nog doen.

Die gedagte het nooit by daardie vroeë Christene opgekom dat hulle moes uitvaar teen die alomteenwoordigheid van sekulêre humanisme nie. Die Vorstelike woorde het nog steeds in hul ore nageklink: “Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, dié sal verlos word” (Markus 13:13). Dit was die tyd vir onbedwingbare vreugde en standvastige genadebedieninge.

Ja, dit was ʼn tyd vir invloed – soos dit nou ook is, maar nie met ʼn geraas en geblaas asof ons verlore wette weer wil instel nie. Eerder met trane, oorreding, en volharding, wetende dat die dwaasheid van rassisme, die uitbuiting van armes, die verwydering van Godsdiens uit die onderwys, die gruwel van aborsie en die ineenstorting van die huwelik as instelling tussen een man en een vrou, die tragiese stuiptrekkings is van sterwende vreugde, en nie die oorwinning van die linkses of die regses nie.

Die grootheid van Christen ballinge is nie sukses nie, maar diens. Ons getuig oor die weg van waarheid, skoonheid en blydskap, of ons nou wen of verloor. Ons besit nie kultuur nie, en ons regeer ook nie oor kultuur nie. Ons dien dit met die vreugde van gebroke harte en met geduldige ontferming, tot beswil van die mens en tot verheerliking van Jesus Christus.