Bron: Kerk en Woord. 2 bladsye.

Christene se Vernaamste Verbondsplig

gebed🔗

Sondag 45 HK, lees: Daniël 6 en Johannes 16:16-27🔗

Sy hele lewe lank op aarde het Christus baie tyd aan gebed afgestaan. So dikwels was Hy in gesprek met sy Vader.

Veral as Hy baie besig was, het Hy ekstra tyd daaraan bestee om te bid (Mark 1:35 byvoorbeeld na ’n besige werkdag). Die tweede Adam, volmaakte mens, kon nie sonder die gebed nie. Des te minder kan die sondige en onvolmaaktes wat Christus volg. Daarom dat gelowiges in die Bybel, soos Abel, Noag, Abraham, Moses, Dawid en Daniël almal bidders was. Die Psalms is amper almal gebede. En netso was dit by die profete.

God eis dit van ons Christene🔗

Dankbare Christene lewe uit geloof, in ooreenstemming met die gebod en daarom met volgehoue gebed (12 Artikels, 10 Gebooie, Ons Vader). Die gebed laaste, want die gebod noop ons tot gebed. Aan ons liefde vir God en ons liefde God en ons naaste ontbreek soveel. Die Gees ontbloot dit deur die Woord en skep so by ons die verlange na genade en na sy heiligende werk. Die kind van God gaan biddend erken: Here, ek kan u wet nie hou nie. U alleen kan dit my laat doen. En so word die gebed die vernaamste deel van sy dankbaarheid.

Wie regtig bid, toon dat hy verstaan wat die verbond is. Gebed is die gesprek met ons Vader. Adam het die gesprek met God afgebreek. Maar God het dit hervat, die verhouding met sy drosterkind weer nuwe lewe ingeblaas. Hy wou nie verder sonder die gesprek met sy kinders nie. Dit soek Hy. Daarvoor het Hy selfs sy eie Seun sy lewe laat aflê. Hy het die gebroke band herstel sodat Hy weer ons stem mag hoor … dat ons met Hom wandel, dat dit weer mag wees soos met Adam in die tuin.

Wie sien dat die Vader in Christus ’n nuwe verbond met ons gemaak het en dat hy graag sy verloste kinders se stem hoor, vra nie meer waarom ons moet bid nie. Die Christen deel graag sy lewe met sy Vader in die hemel. Hy vou graag sy hande en hy soek sy Vader se aangesig. En sulke hande word sterk hande, hande wat graag doen wat God beveel het. Alles wat ons nodig het, vergewing van sonde en die nuwe lewe wat die Heilige Gees werk , ewige skatte, het Christus vir ons verdien aan die kruis. Nou sê Hy: “Bid, en vir julle sal gegee word; klop, en vir julle sal oopgemaak word; soek en julle sal vind”. Daar sal nie gegee word sonder ons gebed nie en daar sal nie oopgemaak word sonder dat ons klop nie. God wil sy genade en sy Heilige Gees alleen aan hulle gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Laat ons mildelik skep uit hierdie fontein van heil!

Dan is ons gebed ’n erkenning van God, ’n lofsegging op sy genade en sy goedheid.

Die gebedsfondament🔗

Tweede noem die Kategismus Die gebedsfondament. Aangebore sonde en sonde wat ons doen, versper die pad na die Vader en dit verhinder verhoring. Nietemin verseker die Here ons van God se verhoring. Al voorwaarde is dat ons in die naam van Jesus sal bid. (Joh 14-16)

deur

Jesus neem afskeid. Hy gaan opvaar. Dan sê Hy (Joh 16:23): “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.”

Iemand se naam sê wie hy is en wat hy doen. Toe Jesus afskeid geneem het, was die geheim van sy Persoon, wie Hy is en wat Hy kom doen het, nog nie ontsluier nie. Op Gólgota, op Paasmôre, met hemelvaart en Pinkster wel. Daar het sy Naam, wie Hy is en wat Hy doen, helder geblyk.

Hy het toe laat sien dat Hy die Middelaar is. Sedertdien is dit nie meer nodig, soos Jesus sê, dat Hy die Vader aangaande sy volgelinge hoef te vra nie. Waar gebid word in die Naam van Jesus, weerklink sy stem, dan is dit so goed of die Here Jesus self noem dit vir ons op. Vir die Vader is dit net so goed soos: Die Here Jesus het my na U gestuur. Dan gaan die deur vir ons oop. Want in die hemel is Christus se Naam, sy werk, bekend. Christus se Naam is die gebedsfondament waarop ons voor God mag staan, die enigste fondament. Dit verseker ons van verhoring.

Alles wat na godsdiens lyk, word vandag met die Christelike geloof oor een boeg gegooi. Spiritualiteit word dit genoem: Die Moslem wat Allah aanroep, die Jood wat sy hande na die hemel uitstrek, selfs die Hindu en die Boeddhis wat ure gaan mediteer, doen eintlik maar dieselfde as die Christen wat bid. Almal motiveer hulle so vir die lewe. Hulle sê: Gebed is tog nie iets wat net Christene doen nie.

Al daardie gebid kan egter nie die naam “bid” dra nie. Miljoene mense is hopeloos verdwaal. En ons is geroep om hulle met die Christus en ware God bekend te maak. Want slegs die mens wat in die Naam van Christus na die Vader kom, leef in die genadeband wat hom geregtig maak op wat God beloof het. Wat ’n voorreg dat ons op hierdie grondslag met die Vader kan leef!

Wat ons Christene vir ons Vader vra🔗

Wat het ’n Christen nodig, of wat het ons as profeet en priester en koning nodig? Christene is gesalf met die Gees om in ’n amp te staan, die amp van alle gelowiges. Daardie taak bepaal wat ons nodig het in hierdie lewe.

Daarom vra Christene allereers vir God se genade en vir sy Heilige Gees, dié gawes wat ons in staat stel om onder alle omstandighede ons Christenamp te bedien, selfs in siekte, selfs in geldelike krisisse soos werkloosheid of honger. Want ‘genade’ beteken dat jou sonde vergewe is. Sonder daardie vryspraak durf ons as Christene niks en sonder die vernuwende krag van die Gees is die stryd verlore. Alleen met dié Gawes kan ons die wedloop voleindig.