Christus en die Huwelik
Christus en die Huwelik
Die onderwys van die Here Jesus Christus oor die huwelik sluit by die Ou Testament aan. In die laaste boek daarvan – Maleagi – sê die HERE, die God van Israel:
Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. Want Ek haat egskeiding.Maleagi 2:15-16
Johannes die Doper, die heel laaste profeet van die Ou Verbond, het hierdie eer van God se huwelikswet selfs belangriker geag as sy eie lewe. Hy sê openlik aan Herodes: “Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou lief te hê nie!” (Markus 6:18).
Die optrede van Jesus sluit hierby aan. Aan die begin van sy openbare optrede is Hy ʼn gas op ʼn bruilof te Kana en ag dit die moeite werd om die fees te red toe die wyn te vroeg opraak: die huwelik is ʼn goeie feesdrank waardig (Johannes 2:1-11). Nie lank daarna nie laat Hy onomwonde aan ʼn Samaritaanse vrou blyk hoe Hy oordeel oor haar ontroue lewensgedrag. Sy woon saam met iemand en sê dat sy nie getroud is nie, waarop Jesus antwoord: “Jy het reg gesê: Ek het nie ʼn man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” (Johannes 4:17-18). Die Samaritaanse vrou sien dat Jesus sy hand aan die huwelikswette van die God van Israel hou.
Die Skeibrief⤒🔗
In die bergrede verklaar Jesus met soveel woorde dat hy nie gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Inteendeel, Hy het gekom om dit te vervul (Matteus 5:17). Dit geld ook vir alles wat die wet en die profete oor die huwelik sê. By Sinai is aan die vaders gesê: ‘Jy mag nie egbreek nie’. Jesus verbind dit aan die eerste stap op die pad na owerspel – die oë-spel, die verleidelike blik – wat vir God in die hemel net so erg is as volledige egbreuk. Jesus se volgelinge word dan ook opgeroep om by hulleself streng te waak op hand én oog. Wie hiermee slordig is, slaan die weg in na die hel (Matteus 5:27-30). Jesus laat in die bergrede God se huwelikswet tot sy volle reg kom.
In die oë van sy tydgenote gaan Hy selfs ʼn stap te ver, wanneer Hy leer dat egskeiding nie geoorloof is nie. Jesus het hier nie dié gevalle waarin die huwelik feitelik deur owerspel verbreek is, in die oog nie. Hy het dit oor al die gevalle waarin ʼn man destyds in Israel sy vrou weggestuur het omdat hy iets teen haar gehad het. Die mense het hulle vir dié praktyk op die Wet van Moses beroep.
Ons lees in Deuteronomium 24 oor die skeibrief wat by egskeiding gegee is om dit in ʼn wetlike raamwerk te plaas. Hoe sou Moses dan van ʼn skeibrief kon praat as die HERE nie die egskeiding sou toestaan nie? Die mense het gedink dat hulle hul ten regte op Moses kon beroep en vind dit dadelik vreemd wanneer Jesus anders leer. In die bergrede sê Hy:
Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei (meer letterlik: ‘wegstuur’), behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.Matteus 5:31, 32
Later sou die mense probeer om Jesus op hierdie uitspraak van Hom vas te trek. In Judea het Fariseërs gekom en Hom versoek met die vraag: “Is dit ʼn man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei?” (Matteus 19:3). Hulle het geweet dat Hy dit ongeoorloof sal wil noem, maar meen dat hulle hom dan sou betrap dat Hy afwyk van die Wet van Moses in Deuteronomium 24. In sy antwoord op die toetsvraag maak Jesus dit duidelik dat Deuteronomium 24 ʼn toelatingswet bevat: Israel was in die woestyntyd nog so gewoond aan die egskeidingspraktyke van die ander volke, dat die Here nie ineens die skeibrief afskaf nie. Hy stel dit egter ook nie in nie. Israel het die skeidingskontrak reeds lank geken. Die volk moes weer die heiligheid van die huwelik leer, en die eerste stap in dié rigting was die wet van Deuteronomium 24.
Hierdie wet het bepaal dat ʼn vrou na ʼn tweede huwelik nie na haar eerste man mag terugkeer nie. Sy is verontreinig. Vir die wêreld van dié tyd was dit ʼn vreemde reël. As alles wetlik gereël is met ʼn egskeidingskontrak, staan dit haar tog vry om met ʼn ander te trou, en wanneer dié man sterf, is sy tog vry om weer met haar eerste man te trou? Daar het tog niks onwettigs gebeur nie? Op dié punt kom Deuteronomium en sê dat daar wél iets verkeerds gebeur het. Die hele handeling van die skeibrief, hoeseer dit ook verdra word, val onder die onreg van die onreinheid. Dit gebeur, maar dit is nie reg nie. Wie van die toelatingswet ʼn positiewe reg wil maak, het nie die afkeurende element daarvan begryp nie.
Israel moes deur Deuteronomium 24 beweeg gewees het om stadig maar seker die praktyk van egskeiding uit te roei, maar hulle het die omgekeerde gedoen: wat die wet verdra het, het die goeie reg van elke Israelitiese man geword. Dit is waarop Jesus wys wanneer Hy sê:
Moses (het julle) weens die hardheid van jul harte ... toegelaat ... om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.Matteus 19:8
Ons sien hier hoedat Jesus by die Ou Testament aansluit: Hy gaan terug na die begin van God se werke. Hy sê ook:
Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.
Die enigste goeie gebruiksaanwysing vir ons mens-wees vind ons by Hom wat ons gemaak het. Die res het later bygekom en is onder die mense bederf.
ʼn Groot Wonder←⤒🔗
Jesus ken die realiteit van ʼn reeks gebroke verhoudings en van vuilheid en egoïsme. Dit alles kom nie van God nie, en pas nie by Hom nie. Dit kom in die hede op uit die skuilhoeke van ʼn bose sondaarhart. Só sê Jesus:
Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.Markus 7:21-23
Dit is ’n groot wonder dat Jesus in die midde van ʼn mensheid wat van sy Skepper afgedwaal het, wou lewe. Dit bewys dat Hy die wet van God nie omhoog hou om ons te vermorsel nie, maar om ons tot inkeer, berou en genade te bring. Juis vanweë sy streng oordeel oor alle egbreuk en owerspel kom die Heiland ook na sondaars en hoere. Toe iemand, wat in die stad bekend was as ʼn sondares, op ʼn keer al wenend kom om die Here se voete te salf, kyk die Fariseërs geskok toe. Jesus moes tog weet wie en wat die vrou is? Jesus hét geweet, en Hy sê: “Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad” (Lukas 7:36-50). Jesus het ook gekom om sondes teen die huweliksgebod te vergewe. Maar hoe kan ons leer om vergiffenis te vra as ons nie éérs erken dat God se huwelikswet heilig en goed is, en dat óns as oortreders skuldig staan nie? Jesus bring ons nie terug tot die genadige Vader terwyl ons egskeiding en owerspel vergoeilik en mense onderling dinge afmaak op so ʼn manier dat die Skepper daarbuite bly nie. Jesus het gesterf vir sondaars, nie vir mense wat hulle eie afwykende gedrag regverdig nie.
Hierdie vergewing van sondes spoor ons ook aan om nou van God se gebooie ons erns te maak. Jesus het vir die owerspelige vrou wat na Hom gebring is, gesê: “Gaan heen en sondig nie meer nie!” (Johannes 8:1-11).
Jesus leer ons nie die heiligheid van die huwelik sonder om die kruis op te neem en ook vir ons huweliksondes te sterf nie. Hy toon die liefdestrou wat God van óns vra. Jesus kom namens God die Vader. Hy verbreek nie die band met die mens nie, ook al het die mens God vaarwel gesê. So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore seun daarvoor gegee het. Huwelikstrou moet hierdie liefde weerspieël. Jesus se streng gebooie oor die huwelik staan nie voor ons soos die onpersoonlike opdragte van ʼn kil sedeprediker nie, maar as die simbole van sy eie liefde en trou vir óns, dwarsdeur alle sonde en verdriet heen. Hy wat sy lewe vir die wêreld gegee het, mag vra dat manne en vroue ook húlle lewens daaraan sal wy om mekaar lief te hê en getrou te bly. Dít pas by hierdie God.
Weerkaatsing←⤒🔗
Ons hoor dit alles ook weerklink in die verkondiging van Christus se apostels. Nou dat Jesus Christus gekom het, sien Paulus eers goed hoe ʼn suiwer en selfverloënende huwelik niks minder is nie as ʼn weerkaatsing van die hemelse liefde van God se Seun vir sy volk. Paulus skryf:
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig.Sien Efesiërs 5:25 e.v.
Die apostels van Christus stry ook teen alles wat die mens as alternatief bedink en teen egoïstiese gedrag. In 1 Timoteus 1:10 word sowel hoereerders as homoseksuele as oortreders van die Evangelie genoem.
Wanneer Paulus in Romeine 1 homoseksuele praktyk uitvoeriger noem, is dit nie omdat hy dit anders, of meer, veroordeel as die praktyke wat met laster, diktatuur, harteloosheid of owerspel saamgaan nie (vl. Romeine 1:29-32). Van alle sonde waaraan die mens oorgegee word, geld dit dat God ons in sy toorn oorgee aan wat ons ten kwade bedink. Paulus noem dit in verband met homoseksuele en lesbiese praktyke as ʼn illustrasie van wat oor die hele linie van sondes gebeur: die mens word aan homself oorgegee. Hy sien alleen homself, tot in sy seksualiteit. God wat Eva as hulp en troos aan Adam gegee het, gee die man aan sy seksgenote oor wanneer hy die vrou misbruik en ontrou word. Dieselfde gebeur met die vrou. In ʼn samelewing waar die huwelik begin ontbind, ontstaan vele soorte bederf.
Beteken dit nou dat Christus die huwelik tussen twee mense beskou as die toppunt van God se skepping? Ons sê liewer dat die huwelik ʼn weerkaatsing is van ʼn hoër toppunt. Daar is in God se wêreld nie ʼn plig om te trou nie, maar wel om trou te wees. Christus self was op aarde nie getroud nie, terwyl sy lewe enkel trou aan God se liefde vir sondaars was. Die apostel Paulus was waarskynlik ongetroud. Sy ernstige woorde waarin hy Jesus se onderrig oor huwelikstrou naspreek (1 Korintiërs 7:10-16), staan in ʼn hoofstuk waarin hy ook positief praat oor die waarde daarvan om ongetroud te wees. In daardie hoofstuk lyk dit selfs asof die huwelik ʼn tweede keuse is. Dit is dit in ʼn sekere opsig ook. Daar is in die skepping iets wat bo die huwelik uitgaan, waar God na toe werk. Christus praat daaroor teen die Sadduseërs, wanneer Hy sê: “...in die opstanding trou hulle nie en word ook nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele van God in die hemel” (Matteus 22:30).
Huwelike wat suiwer ingestel is, is voorbodes van die huwelik wat kom. Die bruilof te Kana en die goeie wyn wat Jesus daarvoor gemaak het, verloor hulle glans wanneer die Lig wat die glans daaraan verleen, verskyn: by die bruilof van Christus self. Eers by sy koms word dit goed duidelik waarom dit so belangrik was om die lampe van huwelike brandende te hou. Dit pas by die God van die begin. En dit loop uit op die eindstasie: die bruilof van die Lam. Daarvan sê die boek Openbaring: “...salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Openbaring 19:9).