Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Christus Regeer oor Elke Mens Individueel

Die betekenis van ons opskrif word duidelik as ’n mens na die Nuwe Testament sowel as die Ou Testament kyk. Christus het gekom om die Ou-Testamentiese verkondiging te vervul, dit wil sê om dit sy volle betekenis te laat kry.

Daarmee word die manier waarop God regeer, drasties geraak. Die koninkryksregering vind dan nie meer plaas deur middel van Israel en Israel se koninkryk nie, ook nie deur uitwendige middele waarin mag gesentreer is nie. Die koninkryk word nou persoonlik middel, naamlik deur Christus, veral deur sy diensbaarheid. Die gelowiges staan nou in ’n innige, persoonlike verbondenheid met God, veral deur ’n lewe van diens uit liefde vir God en die naaste.

Christus se koms is ingrypend van aard🔗

Alleen wanneer ’n mens met die Ou Testament rekening hou, kan jy verstaan wie en wat Christus is en wat Hy doen. Dan besef jy dat dit wat God aan ons in die Bybel openbaar, ’n geskiedenis deurloop het. Die Nuwe-Testamentiese bedeling is in die Ou Testament gewortel. Christus het die Ou-Testamen­tiese verkondiging kom vervul.

Die vervulling was egter nie bloot die natuurlike ontplooiing van ’n proses van redding, soos ’n blom­knop wat oopgaan en die volle blom laat voortkom nie. Christus moes ’n deurbraak bewerk en die onmoontlike doen. Dit sou nie kon gebeur as Hy nie gekom het nie. Hy laat nuwe lig deurbreek oor wat en hoe die koninkryk van God is. Die rol van die volk Israel en van ’n aardse koninkryk is nou uitgespeel. Die ou bedeling is verby, die nuwe bedeling breek aan. Die fokus verskuif van heerskappy na dien.

ln die Ou-Testamentiese tyd het die regering van God in uitwendige middele tot gestalte gekom. Voorbeelde hiervan is die koningskap, offerandes en ander seremonies, spesiale tye soos sabbatte en die tempel en tempelowerstes soos hoëpriesters, priesters en ander met ’n rangorde van mag en gesag. Na die koms van Christus val die klem veel sterker as vroeër op ’n mens se persoonlike verhouding met God en op dien in plaas van op heerskappy. Daar is in die kerk nie meer plek vir ampte, wat dui op heerskappy nie, maar wel vir dienste, waarin diens voorop staan.

Individueel, maar nie individualisties nie🔗

Christus regeer nie net oor sy kerk nie, maar ook oor die pad van alle mense. Hy gee aan elkeen persoonlik aandag en Hy vereis dat ons dit ook moet doen. Die enkeling verdwyn vir Hom nie maar in die groot groep nie, Hy stel belang in elkeen se belange. By die gelowiges doen Hy dit egter anders. Hy verander hulle harte. Hy regeer óór hulle en veral ook in hulle. Wanneer die koninkryk in sy volkomenheid kom, sal God nie net óór mense regeer nie, maar Hy sal “alles wees in almal” (HK vr. 125).

Christus regeer oor elke mens individueel. Dit beteken nie dat elkeen maar net vir homself moet leef en net vir homself moet bid nie. Inteendeel, Christus het ons geleer om te bid: “Ons Vader”, nie net “my Vader” nie. Volgens die Bybel moet ons ’n individuele verhouding met God hê, maar nie indivi­dualisties wees nie.

Ons samelewing wys waarop individualisme uitloop. Dan jaag elkeen net sy eie belange na. Dit wek selfsug, inhaligheid, vyandskap, misdaad. ’n Mens dink jou dan nie in ’n ander se posisie in nie. Kinders maak dit dan vir onderwysers onhoudbaar, of onderwysers vir kinders. Hierdie houding druk sy stempel ook af op verhoudings in hospitale en ander dienste, in winkels, oral.

Dit maak verder dat ’n mens net fout vind met ander en nie begrip het vir ander nie - laat staan nog om die minste te wil wees en positiewe inisiatief te neem om saam probleme aan te pak.

Verantwoordelikheid wat wyd strek🔗

Christus bring vir ons individuele en persoonlike vryheid sodat ons nie verslaaf word deur groepsbe­lange nie. Selfs die kerk kan gelowiges nie voorsê wat om te doen of allerhande verpligtinge op hulle laai nie, maar moet hulle voorlig oor hoe om uit die Woord te leef. Tog is ons deel van ’n geloofsgroep, ledemate van die een liggaam, naamlik Christus, en ons vorm ’n eenheid.

As gelowiges het ons ’n verantwoordelikheid teenoor die kerk. Die verbond wat God met gelowiges sluit, soos dit in die Ou Testament sterk klemtoon word, word nie deur Christus tot niet gemaak nie. Hierdie verbondenheid aan Christus sowel as die kerk word duidelik gewys deurdat gelowiges in die kerk gedoop moet word en ook nagmaal moet gebruik.

Die Ons Vadergebed laat sien dat Christus ’n mens verder wil laat uitreik as jouself en ook as die gelowiges. Christus wil hê dat ons ook oor ander mense se belange moet bid. Dit moet eerstens ter wille van God gedoen word. Hy moet erken en geëer word as regeerder oor alles en almal. Hy is nie bloot ’n groepsgod of volksgod wat net in ’n groep mense belangstel nie. Hy is die Skepper van alles en almal en wil sy hele skeppingswerk betrek.

Ons gebede en ons lewe moet tweedens ook ter wille van die ander mense self na hulle uitreik. Ook hulle moet die lig van God wat regeer, kan sien.

Dit gaan om die Koninkryk🔗

Daarvoor is nodig dat ’n mens moet weet wat die “koninkryk van God” eintlik beteken en wat dit van ’n mens vra, soos geloof en bekering. Net mense wat hulle eie-ek afsterf en uit liefde vir God en hulle naaste leef, kan in die koninkryk van God ingaan. As Christus in ’n individuele verhouding met 'n mens regeer, kan dit ook nie anders nie as dat jy besef hoe ver jy tekortskiet in hoe jy moet leef.

Die uitdrukking “koninkryk van God” is omvattend en dui in elk geval nie ’n blote plek aan waarin mens ingaan nie. Die “koninkryk” het veral betrekking op God wat regeer en op die verhouding waarin ’n mens tot Hom staan. Die Koninkryk draai nie om die hemel en om hemel toe te gaan nie. God moet as die Skepper en Verlosser erken word. Christus is die bewys dat geen mens homself kan red nie, maar alleen God: Hy voorsien self in wat vereis word. Hy bewerk geregtigheid en versoening. Dit is ook Hy wat die mens daartoe bring om Hom daarvoor te erken en om God en die naaste met woord en daad lief te hê.

Reeds in die Ou Testament is geleer dat die mens ’n individuele verhouding met God het en daarmee saam ’n individuele verantwoordelikheid. Dink maar aan die skepping van die mens as ’n individu in Génesis. Dink verder aan die individuele aanspreekvorm “Jy mag nie ...” in die Tien Gebooie. Of dink aan die eerste Psalm in die Psalmbundel. Daarin word ’n oproep op die individu gemaak om die regte verhouding met God en sy Woord te beoefen.

Die Psalms is dan ook vol van direkte en persoonlike omgang met God en is ’n bron vir ons per­soonlike gebede, ons omgang met die Woord en ons daaglikse optrede.

Deur Christus kom dit skerper as in die Ou-Testamentiese verkondiging aan die lig dat God in elke mens individueel regeer. Toe het ’n volk, Israel, ’n buitengewone betekenis gehad. Daardie volk het veral teenoor ander volke as die ongelowiges gestaan. Toe Christus gekom het, het die volk Israel hierdie unieke plek verloor, so ook die koningskap en priesterskap. Die middelmuur van skeiding het saam met die tempel verval. Die taak as bemiddelaars tussen die gelowige en God is uitgedien. Hierdie taak is deur Christus tot vervulling gebring. Sy heerskappy is nou baie meer direk, persoonlik.

Dit hou in dat geen gelowige geweer mag word om lidmaat van ’n gemeente te wees nie, al is daar om praktiese redes, soos taal, verskillende kerke/ gemeentes.

Christus regeer deur die Woord en die Gees🔗

Christus regeer direk deur die Woord. Hierdie direkte werking vind plaas deur die Heilige Gees. Dit is die vrug van Christus se dood en opstanding. Hy is die Oorwinnaar en Regeerder. Hy gee ons sy Heilige Gees om ons in die waarheid van sy Woord te lei (Joh 14:26; 17:17). Daarom is die Woord steeds baie belangrik, veral in die eredienste. Daarin gaan dit om Woordverkondiging. eerder as om seremonies en die uiting van menslike gevoelens, ervarings of menings van die gemeente of van die predikant. Die Woord moet in die erediens die allesbeheersende wees.

Die erediens is ’n ontmoeting tussen God en sy gemeente wat deur sy Woord geroep is en geroep word. Net die Woord, en die gemeente se antwoord daarop, het in hierdie ontmoeting plek. Die prediker moet hierdie Woord bedien deur Skrifgedeeltes te verklaar en toe te pas. Sy persoon moet bedien in die agtergrond bly en nie die allesbeheersende plek van die Woord aantas deur grappies en spitsvondighede nie. ’n Ontmoeting met God vra ’n gewyde stemming, ’n getuienis van Wie aanbid word en Wie al die inisiatief daarin neem.

Die Bybelse godsdiens het natuurlik ook plek vir humor, persoonlike menings, grappies en diens meer, maar in die gepaste geleentheid. Ons hele lewe moet in elk geval in diens van God wees: ontspanning, sport, werk, daaglikse verhoudinge, alles. So wys ’n mens dat Christus in jou en oor alles regeer.

Wanneer Hy weer kom, sal Hy ’n mens oordeel volgens jou persoonlike geloof in God en hoe dit prakties gestalte gekry het in jou verhouding met Hom en jou medemens.