1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Christus se Swakke Menslike Natuur

Ons kyk nou na die vierde groot waarheid oor die menslike natuur van Christus: dat Hy, wat nou ʼn verheerlikte menslike natuur het, ʼn swakke menslike natuur gehad het terwyl Hy op aarde was. Sy menslike natuur wat werklik, volkome en sondeloos was, was ook ʼn swakke menslike natuur.

Omdat Christus ʼn swak menslike natuur gehad het, was Hy tydens sy aardse lewe onderhewig aan al die bose gevolge van die sonde, maar nie aan die sonde self nie. Hy het net soos ons siekte, honger, verdriet, pyn, swakheid en selfs die dood ervaar. Hy kon medelye met ons swakheid hê (Heb. 4:15).

Hierdie waarheid word ook in Romeine 8:3 geleer, waar daar staan dat Christus “in die gelykheid van die sondige vlees” gekom het. Aangesien dit nie kan beteken dat Hy self sondig was nie, kan dit net maar verwys na die feit dat Hy aan al die boosheid wat die sonde oor ons gebring het, onderhewig was, naamlik die swakhede van ons sondige vlees.

Christus het dus nie in die gelykheid van sondelose vlees gekom nie. Hy was nie soos Adam wat, toe hy eerste geskape is, in die heerlikheid van die weidsheid van sy eerste staat geleef het nie. Hy het geword soos ons wat daardie eerste staat verloor het, en nie net verdorwenheid en skuld oor onsself gebring het nie, maar ook die vloek van God.

Hierdie is ʼn belangrike waarheid. Siekte, swaarkry, droefheid en dood is die gevolge van ons sonde en God se vloek oor die sonde. Dat Christus ons swakhede gedra het, is deel daarvan dat Hy vir ons ʼn vloek geword het. Hy het al ons swakhede op Hom geneem deur ons vloek op te neem en dit van ons weg te dra. Wat ʼn troos is sy swakhede daarom vir ons!

Jesaja het al hierdie dinge gesê toe hy van Christus geprofeteer het en Hom “ ʼn man van smarte ... bekend met krankheid” genoem het (Jes. 53:3). Sy smart, het Jesaja gesê, moet só verklaar word: “Hy [het] óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra ... Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel”. Deur sy wonde, pyn en smart was “die straf wat vir ons die vrede aanbring, ... op Hom” (vs. 4,5).

Dit was nie net die dood van Christus wat die krag van versoening het nie, maar ook die lydinge wat Hy tydens sy hele lewe op aarde gely het. Dit getuig Hy wanneer Hy sê, “Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit” (Ps. 31:11).

Daar is vir ons nog meer troos in die smart en lyding van Christus; dit beteken ook dat Hy ons beproewings en lyding uit eerstehandse ervaring ken. Hy het daar deurgegaan. Ons kan nie sê dat niemand werklik ons beproewing verstaan nie. Christus verstaan.

Só is ook ons Verlosser se swakheid, pyn, droefheid en lyding deel van ons verlossing. Mag ons dan nie net aanskou en sien dat daar geen smart is soos die smart wat Hom aangedoen is nie (Klaagl. 1:12), maar ook glo.