Bron: Kompas, 2004. 4 bladsye.

Christusprediking vir Afrika

Dit het teenswoordig by Afrikateoloë die mode geword om Christus te probeer afrikaniseer om Hom so vir die mense van Afrika aanvaarbaar te maak. Hulle doen dit deur Hom in die tradisionele Afrikagodsdiens te probeer invoeg. Hy sou dan die groot Voorvadergees wees, wat tussen die ander geeste op sy eie plek vereer moet word. Ongelukkig word in dié proses die Bybelse beeld van Christus vervals en verheidens. Daar bly van die Christus van die Bybel min of niks oor nie.

Vir mense wat nie hulle geloof op die Heilige Skrif baseer nie, is dit natuurlik geen probleem nie. Vir Bybelgelowige Christene, egter, is so ʼn benadering nie aanvaarbaar nie. Christus kan nie geafrikaniseer, geasiatiseer, geëuropianiseer of selfs vir die Afrikaner verafrikaans word nie. Hy is vir elke kultuur ʼn vreemdeling. Hy is ʼn struikelblok vir die Jode, ʼn dwaasheid vir die Grieke, te emosioneel vir die Britte, te prakties vir die Indiërs, te onprakties vir die Amerikaners, te onbuigsaam vir die mense van Afrika. Nie net elke mens nie, maar ook elke kultuur is van nature vyandig teen Christus. Nie Hy moet by die kultuur aangepas word nie, maar die kultuur moet bekeer word en na sy beeld hervorm word.

Die natuurlike, onwedergebore mens is God se vyand. Daardie vyandskap word in sy kultuur weerspieël totdat dit gekersten word. My eie voorouers het by Dokkum een van die eerste sendelinge wat na hulle toe gekom het, vermoor. Christus kan nie as ʼn element van die ou godsdiens verkondig word nie, Hy kom na elke volk en kultuur toe met die oproep tot bekering.

Konfronterende Prediking🔗

Wat beteken dit nou vir die prediking van Christus in Afrika? Dit beteken eerstens dat so ʼn verkondiging altyd konfronterend sal wees. “Bekeer julle!” sê Johannes die Doper aan die Joodse volk, nogal die verbondsvolk. Waarvan? Wat is verkeerd? Alles! Wie moet hulle bekeer? Almal! Dit geld vir elke volk, met name ʼn volk wat uit ʼn heidense wêreldbeeld tot die evangelie geroep word.

Indien die evangelie nie konfronterend verkondig word nie, kom die hoorders dikwels nie eers agter dat wat hulle hier hoor, hulle eie wêreldbeeld weerspreek nie. Om daar sin van te kan maak, verwring hulle dan die boodskap in hulle gedagte en pas dit so in verwronge vorm in hulle eie wêreldbeeld in. Dít is waar al die baie halfheidense sektes vandaan kom. Die Heilige Gees word dan as ʼn soort voorvadergees verstaan, die doop en nagmaal as ʼn vorm van magie, die diens van predikant as ʼn vorm van kapteinskap, om maar ʼn paar voorbeelde te noem.

Ek wil graag die ruimte tot my beskikking gebruik om aan te dui hoe die evangelie antwoord op sommige hoofelemente in die tradisionele wêreldbeeld van Afrika. Dis onmoontlik om in een kort artikel ʼn volledige beeld te skets of volledig die antwoord van die evangelie daarop te gee. Ek moet my tot enkele hoofsake beperk. Daarby vra ek dat goed verstaan word dat hier nie die wêreldbeeld van Afrika teen dié van Europa afgeweeg word nie. Die wêreldbeeld van Europa, hetsy in sy voor- of na-Christelike vorm, is geensins meer Bybels as dié van Afrika nie. Dit gaan nie om die ontmoeting van Europa en Afrika nie, maar van die evangelie van Jesus Christus en Afrika. Wanneer ek van Afrika praat, bedoel ek hoofsaaklik die suidelike helfte van die kontinent, vanaf die Kongo en Kenia suidwaarts. Alles wat hier gesê word, geld nie noodwendig net so van Nigerië of die Soedan nie.

Die Idee van die Beperkte Kosmiese Goed🔗

Hierdie is een van die basiese beginsels van die wêreldbeeld van die meeste volke in Afrika en trouens ook van elders in die derde wêreld. Mense merk dat sommige mense voorspoedig, gesond en gelukkig is en ander nie. Hulle soek ʼn verklaring daarvoor en vind dit in die beginsel dat daar net ʼn beperkte hoeveelheid “goed” (invloed, gesondheid, geluk, welstand, lewenskrag) in die wêreld is, en dat party mense meer daarvan het as ander. Hulle skryf die verskil daaraan toe dat sommige mense met meer lewenskrag gebore is, omdat hulle van die koninklike stand is, of anders omdat hulle oor geheimsinnige magiese kragte beskik waardeur hulle vir hulle meer van die “goed” kan toe-eien deur dit van ander mense weg te neem. Die mense van Afrika ontleed nie hierdie idee nie, net so min as wat ons die lug wat ons inasem ontleed. As jy hulle daarna vra, sal hulle waarskynlik die bestaan daarvan ontken, of glad nie verstaan waarvan jy praat nie. Hulle leef egter daarvolgens en dit bepaal in vele opsigte hulle gedrag.

Christus die Hoogste “Goed”, ons Lewe🔗

Die evangelie bring Christus as God se duidelike antwoord hierop. Eerstens is Hy die openbaring van God se onbeperkte liefde. Hy is die hoogste “goed”, God se onbeperkte gawe aan mense. Hy gee sy Heilige Gees aan sy volk, en daardie Gees is self die samevatting van alle goeie dinge wat God aan ons gee.

As ʼn mens Lukas 11:13 “hoeveel te meer sal julle hemelse Vader die Heilige Gees gee aan dié wat Hom vra” vergelyk met Matthéüs 7:11 “hoeveel te meer sal julle hemelse Vader goeie gawes gee aan dié wat Hom vra?”, dan verstaan jy wat ek daarmee bedoel,

want die twee uitsprake beteken eintlik maar dieselfde, naamlik dat die Heilige Gees die samevatting is van alle goeie dinge wat God deur Christus aan ons gee. In Romeine 8:28 lees ons dat God alles “ten goede” laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, en in die daaropvolgende verse lees ons wat hierdie “goede” is, naamlik om gelykvormig te word aan die beeld van Christus. So is Christus en sy Heilige Gees die “goeie” wat die Vader aan ons gee. En hierdie “goeie” is nie beperk nie.

Daarom kan die Here Jesus self ook sê (dít in die tweede plek): “Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Johannes 10:10). Die lewe wat Hy aan ons gee, is nie beperk nie.

Derdens is dit duidelik dat in gemeenskap met Christus ek nie my lewenskrag vermeerder deur dit van iemand anders weg te toor nie, maar wel deur my lewe aan Christus oor te gee. En in Hom geld die beginsel: Gee om te ontvang! (2 Korinthiërs 9:6-8). Sterf om te lewe en vrug te dra (Johannes 12:24).

Lewenskrag🔗

Die belangrikste aspek van die hierbo genoemde kosmiese goed is vir die mense van Afrika lewenskrag. Jou hoofdoel in die lewe is om jou lewenskrag teen bose invloede te beskerm, en dit te vermeerder of te herstel as dit bedreig word. Magie is die weg waarlangs jy óf jou eie lewenskrag kan herstel (wat as wettig beskou word), óf ten onregte deur swart magie die lewenskrag van ander mense vir jouself kan toe-eien.

Volgens die Skrif is Christus self ons lewe. Niks minder nie. Dit lees ons onder andere in Filippense 1:21 en Kolossense 3:4. Die enigste manier om die lewe te verwerf, is deur op Hom te vertrou en my aan Hom oor te gee (1 Johannes 3:14; 5:12). Volgens die tradisionele lewensbeskouing van Afrika is die dood die einde van ʼn proses waarin jou lewenskrag afgetakel word en uiteindelik ingee. Hierdie proses sit hom na die dood voort, want solank jy as voorouergees nog onthou word en daar nog offers vir jou gebring word, bly iets van daardie lewenskrag behoue. Wanneer jy in die vergetelheid verdwyn, verdwyn jou lewenskrag ook in die niet. Paradoksaal genoeg is die geloof dat belangrike en hooggeplaaste persone na hulle dood nog die oorwig behou en vir ʼn lang tyd krag op die lewendes kan uitoefen.

Teenoor hierdie troostelose geloof leer die Skrif ons dat wie sy vertroue op Christus vestig, vanaf daardie oomblik die ewige lewe het, wat onvernietigbaar is (Johannes 5:24; 6:47). Aan die een kant beteken geloof dat jy in die dood van Christus deel, sodat ten regte van jou gesê kan word:

Julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.Kolossense 3:3

Aan die ander kant is dit ook waar dat jy dan saam met Christus opgewek is (Kolossense 3:1) en nooit weer sal sterwe nie.

Die Enigste Middelaar🔗

In Afrika sonder Christus is die afgestorwe voorouers die middelaars deur wie ons versoeke tot God kom. Daar is feitlik geen kommunikasie met God self nie; Hy staan te ver en hoog bo ons. Alleen die geeste van die afgestorwe konings het kragtens hulle hoë status tot Hom toegang. “Water vloei nie by ʼn gat verby nie,” lui die Vendaspreekwoord. Dit impliseer dat slegs ʼn persoon wat naby die koning (of God) staan, tot hom toegang het. My versoeke gaan nie direk tot God nie, maar langs ʼn hele trapleer van tussengangers. In die praktyk beteken dit dat gebede feitlik uitsluitlik aan die voorouergeeste gerig word. Die middelaars verdring nie alleen die een Middelaar nie, maar selfs God word deur hulle verdring.

Die evangelie leer ons dat Jesus Christus die enigste Middelaar is. Hy is self God, van gelyke status as die Vader, maar Hy het die oneindige kloof wat Skepper en skepsel skei, oorbrug toe Hy in Jesus as mens gebore is. Deur Hom het ons nou direk toegang tot die Vader.

Die Enigste Verlosser en Oorwinnaar🔗

Die mense van Afrika lewe in vrees vir baie geeste en duister magte. Iemand het op ʼn keer aan een van ons swart predikante die vraag gestel: “Wat is die mees opmerklike verskil tussen jou lewe voor en na jou bekering?” Sy antwoord was: “Voor my bekering het ek in gedurige vrees gelewe; nou is ek deur Christus van alle vrees bevry.” Hy is van vrees bevry, want hy het Christus as die Oorwinnaar oor die bose magte leer ken (Kolossense 2:9,15). Christus het alle gesag in die hemel en op aarde ontvang. Dit was sy afskeidswoorde aan sy dissipels.

God is ʼn Persoonlike Wese🔗

Feitlik al die volke van Suider-Afrika het ʼn idee van God as ʼn passiewe, onbetrokke Wese. Vir sommige omdat Hy so ver bo die mense verhewe is dat Hy Hom nooit sal verwerdig om Hom aan hulle te steur nie. Sommige volke weer, beskou God as ʼn onpersoonlike mag, soos ʼn magtige stroom elektrisiteit. Jy moet eerder praat van Dit as van Hy. Dit is oral en in alles, maar het geen bewussyn of wil nie. Soos elektrisiteit, is Dit gevaarlik, en jy moet versigtig wees hoe om Dit te hanteer, maar jy kan nie Daarmee kommunikeer nie. Die Bybel openbaar God aan ons, nie as Iets nie, maar as Iemand. Iemand wat alles weet, wat sy heilige wil op aarde deurvoer, en wat ook gevoelens van liefde en toorn het. Sy hoogste openbaring aan die mense is sy menswording in Jesus Christus, wat ʼn Persoon is. Daar word sy genade, sy liefde, sy geregtigheid, sy heiligheid duidelik en tasbaar aan ons openbaar.

Sonde en Vergifnis🔗

Omdat God ʼn persoonlike Wese is, het Hy sy persoonlike wil as wet aan ons openbaar. Om daardie wil te oortree, is sonde en bring skuld met sig mee. Dis nie maar net oortreding van ʼn onpersoonlike natuurwet nie, dis opstand teen ʼn almagtige Koning. Sonde bring verwydering tussen ons en God, en dit beteken die dood, tydelik en ewig.

Dít is waarom ons ʼn Middelaar nodig het wat nie net ons versoeke aan God oordra nie, maar wat metterdaad die straf vir ons sonde dra en ons skuld met sy verdienste delg. Hierdie Offerlam is Jesus Christus. In die handboek van Inkatha oor die wonderlike lewensbeskouing van Afrika (“Ubuntu-Botho”), word dit duidelik gestel dat Afrika van die Bybel verskil. Die Bybel leer die ewige straf ná hierdie lewe; Afrika leer dat jy in hierdie lewe gestraf word en daarmee is dit verby. In die verkondiging aan Afrika is dit baie belangrik dat die erns van ons sonde en die swaarte van ons skuld voorop in die verkondiging staan, anders sien die mense van Afrika nie die nut van ʼn Christus wat vir ons gesterf het om ons van die ewige straf van die lewende God te verlos nie.

Die Oorwinnaar oor die Dood🔗

Die mense van Afrika glo dat die siel in een of ander vorm na die dood bly voortbestaan, altans vir ʼn tyd. Maar van die opstanding in ʼn verheerlikte liggaam is daar geen sprake nie. Selfs baie Christene het geen besef van die opstanding uit die dood nie; dit het nie tot hulle deurgedring nie, want dit pas nie in hulle Afrika-lewensbeskouing in nie; dis vir hulle totaal vreemd. Die evangelie leer ons: Christus het liggaamlik uit die dood opgestaan en die dood volkome oorwin. Dit beteken dat ons wat in Hom glo, ook liggaamlik sal opstaan en met Hom op die nuwe, verloste, verheerlikte aarde sal lewe.

Hierdie enkele flitse behoort ʼn aanduiding te wees van hoe relevant die verkondig van die Christus van die evangelie vir Afrika in sy nood is.