3 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Daar is Geen Groter Bevrediging Nie God-gesentreerde Motivering vir Wêreldsending

Plig is goed, maar plesier is beter. Stel jou voor ek bring ‘n dosyn rose huis toe vir my vrou op ons troudagherdenking. Ek hou hulle na haar toe uit by die deur. Sy glimlag en sê: “Ai Johnny, hulle is pragtig. Hoekom het jy?”. Sê nou ek lig my hand met ‘n ongeërgde gebaar en sê: “Dis my plig”. 

Wat is dan verkeerd? Is plig ‘n slegte ding? Nee, dit is nie ‘n slegte ding nie. Maar dit gaan my nie veel help nie. As ek romantiek in gedagte het, gaan ek dit nie met plig bereik nie. Die regte antwoord aan my vrou sou gewees het: “Ek kon dit nie help nie, my geluk het oorgeloop. Om die waarheid te sê, ek sal dit so geniet om jou vanaand uit te neem”.

Die verbasende effek van hierdie antwoord is dat dit twee dinge tot gevolg het wat, na baie mense se mening, nie bymekaar hoort nie. Dit gee uitdrukking aan my geluk en dit laat haar geëerd voel. Baie mense meen dat, as ek iets doen omdat dit my gelukkig maak, dit nie tot iemand anders se eer kan wees nie. Maar dit kan! Hoekom? Omdat dit ‘n baie groot kompliment vir daardie persoon is. Wanneer jy jou in iemand verbly, gebeur twee verstommende dinge: Jy het die vreugde en daardie persoon kry die eer. Die mate van jou vreugde stem ooreen met die waarde wat jy aan jou skat heg.

‘n Ontdekking wat My Lewe Verander het🔗

Hierdie insig het ‘n totale omwenteling in my verhouding met God teweeg gebring. Dit beteken: God word die meeste in jou verheerlik wanneer jy die meeste vreugde in Hom het. Dit is ‘n radikaal lewensveranderende ontdekking. Dit beteken dat die nastrewing van God se heerlikheid en die nastrewing van jou vreugde nie in konflik met mekaar is nie. Die twee gaan in werklikheid hand aan hand.

Die hoofdoel van die mens se lewe is om God te verheerlik DEUR tot in ewigheid vreugde in Hom te vind. Nie deur voldoening te vind in geld en gerief en prestasie en mag en sukses nie maar om vervulling te vind in HOM, in God! En in elke ander goeie ding om sy ontwil. Soos Augustinus gebid het: “Hy wat U liefhet en daarby nog enigiets anders, maar nie om U ontwil nie, hy het U te min lief”. Die Bybelse bevel: “Vind jou vreugde in die Here,” (Psalm 37:4) is ‘n ander manier om te sê: “doen alles tot eer van God” (1 Korintiërs 10:31). God word die meeste in jou verheerlik wanneer jy jou grootste vervulling in Hom vind.

En die sterkste passie van God se hart is dat Hy verheerlik sal word. Hy het ons gemaak om Hom te verheerlik (Jesaja 43:7); Hy het Israel geroep om sy volk te wees tot sy heerlikheid (Jesaja 49:3 Ou Vertaling, 1953); Jesus het gelewe (Johannes 17:4) en gesterwe (Johannes 12:27-28; Romeine 3:25-26) en opgestaan (Romeine 6:4) en Hy regeer (Filippense 2:11) tot verheerliking van God; Hy het ons uitverkies reeds voor die grondlegging van die wêreld om Hom te verheerlik  (Efesiërs 1:4-6); Hy vergewe ons tot sy eer (Psalm 25:11; Jesaja 43:25); Hy werk déúr ons tot sy  verheerliking (1 Petrus 4:11); Hy roep ons om alles tot sy eer te doen (1 Korintiërs 10:31); en sy doel is dat die aarde so oortrek sal wees met die kennis van sy heerlikheid soos wat die waters die seebodem bedek (Habakuk 2:14), en dat in die toekomstige eeu net die ontsagwekkende lig van God se heerlikheid sal skyn tot in ewigheid (Openbaring 21:23).

As God se heerlikheid die vernaamste passie van sy eie hart is, dan behoort dit ook die vernaamste passie van ons harte te wees. En as God die meeste in ons verheerlik word wanneer ons die meeste vervulling in Hom vind, dan behoort ons niks te ontsien om ons vreugde in Hom tot die maksimum te verhoog nie. Maar waar vind ons hierdie hoogste vreugde? Wel, soos ons reeds gesê het: in God! Ja, maar hier kan ons ‘n baie fyn onderskeibare en baie skadelike fout begaan. Wees versigtig.

Hoe Werk Vreugde?🔗

Daar is iets eie aan die aard van vreugde wat dit rusteloos maak. Dit wil uiting vind. Stel jou voor ek woon my seun se sokker kampioenskaps-byeenkoms by en iemand sê vir my: “Jy mag jou seun se spel baie geniet, maar jy mag niks sê nie en geen gebare maak nie”. Sou jy dit ten volle geniet? Nee. Daar is iets omtrent vreugde wat sy toppunt bereik wanneer daaraan uiting gegee word. Vreugde neem toe deur na ander toe oor te borrel. My blydskap word groter wanneer dit ook jou blydskap word. 

Dit beteken dat die mens se soektog na vreugde hom reguit lei na die sendinghart van God. Jy kan dit alreeds begryp. Maar laat ek vir jou die geheelbeeld gee: God is die fontein van vreugde, want Hy is (vir die menslike oog) verblindend glansryk en oneindig waardig, en asemrowend pragtig, en ontsagwekkend magtig, (Hy) besit ondeurgrondelike wysheid, en onbeperkte kennis, Hy is teerhartig in ontferming, en skrikwekkend in toorn, en die bron en vaste fondament van alle waarheid en goedheid en skoonheid. Wanneer ons Hom sien vir wie Hy werklik is, en wegdraai van al hierdie wêreld se stukkende waterbakke wat nie ons dors kan les nie (Jeremia 2:13), vind ons “onuitspreeklike en heerlike blydskap” (1 Petrus 1:8).

Maar hierdie blydskap, soos alle blydskap, moet uit. Dit moet as’t ware uitswel. As dit nie voller word en oorvloei nie, begin dit stagneer. Daar is iets omtrent God wat nie opgegaar kan word nie. En om blydskap in God op te gaar, beteken om dit te verloor. Maar om vreugde in God te verloor, beteken om Hom van sy eer te beroof om Sy onthalwe én om ons eie onthalwe – net soos wat ek my vrou van haar eer sou beroof as ek sou sê: “Dit is my plig” in plaas van: “Dit verskaf my plesier”. God word die meeste in ons verheerlik wanneer ons ons die meeste in Hom verbly.

Daarom moet ons ons blydskap uitdra die wêreld in – om God se onthalwe, maar ook om ons eie onthalwe. God wil hê dat sy heerlikheid weerkaats moet word deur die vreugde van sy vrygekoopte volk uit elke stam en taal en nasie (Openbaring 7:9). Hy wil wêreldwyd geprys word. Daarom is wêreld evangelisasie die pad na maksimum vreugde en maksimum aanbidding.

Sendingwerk en die Heerlikheid van God🔗

Sendingwerk is nie die einddoel van die kerk nie. Die verheerliking van God is die einddoel van die kerk – want dit is die einddoel van God. Die finale doel van alle dinge is dat God aanbid sal word met witwarm liefde deur ‘n verloste deelgenootskap van ontelbare mense uit elke stem en taal en nasie (Openbaring 5:9; 7:9).

Sendingwerk bestaan omdat aanbidding nie bestaan nie. Wanneer die Koninkryk finaal in heerlikheid kom, sal sendingwerk ophou. Sendingwerk is die voorlaaste doel; aanbidding is die laaste. As ons dit vergeet en die rolle omruil, neem die passie sowel as die krag af.

‘n Paar Getuienisse om mee af te Sluit🔗

J. Campbell White, sekretaris van die Laymen’s Missionary Movement, het in 1909 die volgende geskryf:

Die meeste mense is nie tevrede met die permanente opbrengs van hul lewens nie. Niks kan só ten volle Christus se lewe in sy volgelinge bevredig nie soos die vereenselwiging met Christus se bedoeling met die wêreld wat Hy kom vrykoop het. Roem, plesier en rykdom is net leë doppe en die as van uitgebrande vure in vergelyking met die grenslose en blywende vreugde van samewerking met God ter vervulling van sy ewigheidsplan. Die mense wat alles inwerp in Christus se onderneming, put die soetste en kosbaarste belonings uit die lewe.

Dit is die getuienis van feitlik al die groot sendelinge in die kerkgeskiedenis. Deurdat hulle hul lewens uitgestort het, het hulle hul lewens terugontvang. Hulle het oor en oor die volgende woorde van die Here bewaarheid: “...wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou” (Markus 8:35). Anders gestel, vreugde in God groei deur dit na andere te laat uitbrei. Jesus het vir Petrus gesê: “Daar is niemand wat ter wille van My en ter wille van die evangelie afgesien het van sy huis of broers of susters of ma of pa of kinders of eiendom nie, of hy kry in hierdie tyd honderd keer soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en eiendom, saam met baie vervolging, en in die bedeling wat kom, die ewige lewe” (Markus 10:29). Jy kan nie soveel van God uitgee dat jyself nie jou deel behou nie.

Op 4 Desember 1857 het David Livingstone, die pioniersendeling in Afrika, ‘n aangrypende beroep gedoen op die studente aan die Cambridge University, waarin hy aangetoon het wat hy deur die jare uit bogenoemde woorde van Jesus geleer het.  Livingstone het gesê:

Sover dit my betref, het ek nooit opgehou om bly te wees dat God my aangestel het in so ‘n amp nie. Mense praat oor die opoffering wat ek gemaak het deur so ‘n groot deel van my lewe in Afrika deur te bring ... Is dit ‘n opoffering as dit sy eie grootste beloning bied in gesonde aktiwiteit, die bewustheid dat jy goeddoen, gemoedsrus en ‘n blink verwagting op ‘n heerlike bestemming in die hiernamaals? Ek wil beklemtoon dat dit geen opoffering is nie.  Sê liewer dit is ‘n voorreg. Angs, siekte, lyding of gevaar so nou en dan, tesame met die ontbering van die alledaagse geriewe en meelewendheid van hierdie lewe, kan ons tot stilstand bring en geestelik laat weifel en die moed laat begewe; maar laat dit net van korte duur wees. Al hierdie dinge is nieitig in vergelyking met die heerlikheid wat in en vir ons geopenbaar sal word. Ek het nooit ‘n opoffering gemaak nie.

En deur dit te sê, het Livingstone aan sy God die hoogste moontlike eer betoon. Dit was nie net plig nie. Dit was ‘n diepe vreugde – ver bo wat enigiets in hierdie wêreld kan bied. God is verheerlik in Livingstone omdat laasgenoemde geestelike versadiging gevind het in God. En hierdie tevredenheid het sy toppunt bereik, nie met die geriewe van ‘n knus lewe in Engeland nie, maar met die alomvattende visie om sy lewe en sy vreugde uit te deel op die voorposte.

Dit is waaroor dit gaan. Dit is die mees diepsinnige, Godgesentreerde motivering. Dit laat my hart sommer vinniger klop as ek weer daaraan dink. O, mag God ons die geloofsvisie gee om te sien waarin ware bevrediging gevind kan word – tot sy eer!