Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Daar is 'n Interpretasie van die Skrif wat Onaanvegbaar is!

Alles verander gedurig. Dit bring soveel onsekerheid, ook oor die evangelie. Ís daar ooit iets soos absolute waarheid? Is daar ʼn enig-onveranderbare geloofsinhoud wat deur die eeue aanvaar is en vandag nog net so waar is? En, indien wel, hoe moet ons vandag weet wat daardie enige geloof is?

Heel gou in die kerk se geskiedenis is die enige ware geloof (soos die apostels dit verkondig het – dus outentiek) reeds saamgevat en bely in die bekende woorde van die 12 Artikels. Natuurlik was die inhoud daarvan van die begin af aangeveg. Daarom was dit noodsaaklik om die inhoud uitvoeriger te beskryf. Dit moes nie anders gesê word nie, maar wel meer uitvoerig. So het die Geloofsbelydenisse van Nicea en Athanasius ontstaan.

Ná die diepe verval en deformasie van die kerk in die Middeleeue, het die Groot Reformasie in die 16e eeu plaasgevind. Nou is die noodsaak gevoel om die reeds gesegde belydenis nog meer uitvoerig te verwoord. Nuwe dwalinge moes bv. aangespreek word. So het die Nederlandse Geloofsbelydenis en Heidelbergse Kategismus (onder andere) ontstaan. Niks nuuts is gesê nie. Dit is steeds dieselfde 12 Artikels (outentieke Apostoliese verkondiging) wat bely word! In die 17de eeu was daar ʼn hernude aanslag teen die enige geloof en het die Dordtse Leerreëls ontstaan. Sodoende is die eenheid van die enige ware geloof deurentyd gehandhaaf. Die een lyn wat van die Apostels kom, word dus steeds suiwer bewaar. Niemand hoef te twyfel wat die waarheid is nie. Dit is ʼn verhoring van Jesus se gebed waar Hy gebid het dat Sy kinders een mag wees in die waarheid! (Joh 17: 14, 17, 20, 21).

Dwarsdeur die eeue is die inhoud van hierdie enige ware geloof aangeveg. Daar was allerlei rigtings wat die binding aan ʼn belydenis teengestaan het.

  1. WEDERDOPERS: Volgens hulle is die belydenis slegs ʼn dooie letter. Ons het die inspraak van die Gees nodig om die Woord lewend te maak!

  2. SKRIFKRITIEK: Die Skrif self is maar ʼn menseboek. Watter gesag kan menslike belydenisskrifte dan ooit hê! Dinge moet tog altyd weer anders gesê word!

  3. REMONSTRANTE: Die mens moet vry bly in sy eie opvattinge oor die Skrif. Belydenisskrifte mag nie subjektiewe vryheid belemmer nie.

  4. DIALEKTIESE TEOLOGIE: Ons kan nooit sê dat ons die absolute waarheid gevind het nie. Die waarheid het ʼn oop einde. Ons bly steeds soekers na die waarheid. Ons respekteer dus die belydenisskrifte, want dit was heel moedige pogings van die vaders om die waarheid te soek. In hulle tyd het hulle moediglik gesoek. Die belydenisskrifte is dus slegs die neerslag van ʼn moedige histories-gebonde poging om die waarheid te vind. Ons moet vandag, net soos die vaders, ons bes doen om die waarheid te vind. Ons lewe in ʼn ander tyd as hulle. Ons weet ook meer. Ons mag dus nie in ooreenstemming met die vaders praat nie!

  5. BIBLISISME: Ons het aan die Bybel alleen genoeg. Dit sou in stryd wees met die genoegsaamheid van die Skrif om nog belydenisskrifte te hê. Dit sou te kort doen aan die majesteit van die Woord. Die “sola scriptura” van die Reformasie beteken, volgens die Biblisiste, “geen belydenisskrifte” nie.

Van alle kante word die belydenis dus aangeveg: vanaf die kant van die vrysinnige Skrifkritiek tot by die evangeliese Biblisisme. Dit lyk asof die gereformeerde posisie ʼn eensame en verlate pad is. Die weerstand van punte A-D, hierbo genoem, kan maklik weerlê word. Almal sentreer immers in die subjektiewe vryheid wat die outonome mens homself toeëien. Maar, wat van die Biblisisme? Het hulle nie gelyk nie? Is dit nie juis Reformatories om te sê “Skrif alleen” nie? Dit wil elke gereformeerde tog van harte! Geen gereformeerde wil tog gebonde wees aan menslike geskrifte teenoor die Woord nie. Is die Biblisiste nie korrek as hulle die gereformeerdes op dieselfde vlak as die Rooms-Katolieke plaas nie? By Rome vind ʼn mens mos die “papierpous.” By Rome tel die tradisie mos net soveel punte as die Skrif. Is die belydenisskrifte nie ook maar net ʼn stuk tradisie nie?

Dit is egter baie interessant hoe die belydenisskrifte hulleself sien! Volgens Art. 7 (NGB) staan slegs die Woord alleen sentraal en mag met geen menslike geskrif op een vlak geplaas word nie. Die belydenis kom, volgens die belydenis self (!), juis op vir binding aan die Skrif alleen! Waarom is die binding aan die belydenis dan wel nodig? Omdat dit juis die Woord alleen is wat daarin suiwer bely word! En, sodat daar van die Woord in geen opsig afgewyk sal word nie!

Tewens, die Bybel self verleen aan ons die reg en die plig om ʼn belydenis te hê. In Efes. 3: 17-19 vind ons die oproep om “saam met al die heiliges” die diepte van die evangelie te deurgrond. Voeg daarby Judas 1:3 en 1 Tim. 3:15. Hier sien ʼn mens watter roeping die kerk het om die waarheid skerp te formuleer en om dit te doen in die beoefening van gemeenskap met die gelowiges van alle tye. Die gemeente is immers die draer en beskermer van die waarheid. Die gemeente het die plig om die waarheid te bewaar. Indien die kerk die enige geloof nie suiwer bewaar nie, is hy die naam van kerk nie meer werd nie!

In die hedendaagse wêreld van onsekerheid, moet die kerk ʼn veilige rots van sekerheid bly. Binne hierdie kerk moet ʼn eenheid heers. ʼn Eenheid in die oorgelewerde ware geloof! Dit het ook implikasies vir die opvoeding van die jeug van die kerk. Indien opvoeding in die oorgelewerde geloof die geslagte aan mekaar verbind, sal daar geen generasiegaping wees nie! Die Skrif leer duidelik dat die een geslag aan die volgende die oorgelewerde verhaal van Gods verlossende dade moet verkondig (Deut. 6: 1-9). Op watter ander manier kan die kerk ʼn kandelaar wees wat die Lig laat skyn (Open 1)? Op watter ander manier kan die kerk gereed wees om verantwoording te doen van die hoop wat in hom is? ( 1 Petr. 3:15).

Maar steeds knel die vraag: is die belydenisskrifte nie tog maar verouderd nie? Is dit nog aktueel? Vra die tye waarin ons leef nie om iets anders nie? Moet ons jeug nog hiermee besig bly? Wat het ons vandag te make met die dwalinge van Rome, die wederdopers, die Remonstrante, die Ariane ens?

Die interessante is egter dat hierdie vervalsings van die waarheid telkens weer na vore kom, elke keer net in ʼn ander gedaante. Byna alle hedendaagse vraagstukke vind hulself op die een of ander manier aangespreek in die belydenisskrifte! Die bedoeling van die belydenis was nooit om elke denkbare vraagstuk aan te spreek nie, maar om die kernwaarhede van die Skrif na te sê. En, dit bly altyd aktueel en het die toets van die tyd deur en deur geslaag.

Daar mag persone wees wat hierdie dinge insien, maar reken dat die belydenisskrifte te veel kerklike verdeeldheid meebring. Kan ons nie dan maar slegs die 12 Artikels aanvaar nie? Die gereformeerde belydenisskrifte is mos wesenlik niks anders as ʼn uitbreiding op die 12 Artikels nie. Ons moet sekerlik iets vind wat verskillende kerke kan verenig en nie verder verdeel nie! Die 12 Artikels word darem redelik algemeen aanvaar deur Roomse, gereformeerdes, charismate, Baptiste ens.

Dit is egter opvallend dat diegene wat die 12 Artikels sogenaamd onderskryf, ook tog verdeeld is. Een voorbeeld: Hoewel almal bely dat God die Skepper is, meen sommige dat Hy in 6 dae alles gemaak het, terwyl ander dit sien as ʼn proses van evolusie. Hoewel almal bely dat Christus uit die dood opgestaan het, meen sommige dat dit werklik fisies so plaasgevind het, terwyl ander reken dat dit nie Sy liggaam was wat verrys het nie. Hy leef net voort in terme van Sy kragtige nagelate invloed soos Karl Marx byvoorbeeld nog voortleef. Dit is dus nie die oorgelewerde geloof wat kerke verdeel nie! Dit is die eiesinnige outonome mens wat in geen eenheid van geloof wil leef nie en wat homself die reg wil voorbehou om die Skrif volgens eie keuse uit te lê. Dit is die outonome mens wat die belydenis na eie insig wil interpreteer, wat die verdeeldheid veroorsaak, nie die belydenis self nie.

Belydenisgeskrifte het dus groot nut. Vir die gelowige wat bereid is om sy outonome eiesinnigheid te laat vaar en te buig voor die enige geloof en ook die eenheid in daardie geloof van harte soek, is die belydenis van groot waarde. Die belydenis dui immers aan wat die outentieke, onveranderbare geloofsinhoud van die evangelie is, wat vanaf die apostels aan ons oorgelewer is. Natuurlik beteken dit nie dat die vorm waarin die belydenis gegiet is ook onaanvegbaar is nie. Die manier waarop die formulerings gedoen is, is uiteraard mensewerk. Volgens Wiskerke “stotter en hakkel” die belydenis op sommige plekke (met verwysing na die vorm), maar die inhoud van die belydenis stotter nie omdat dit met die Skrif ooreenstem. Dit is ʼn getroue weergawe van die apostoliese prediking.

Die blye nuus is dus dat dit vir geen gelowige nodig is om enigsins in verwarring en vertwyfeling te verkeer in die deurmekaar tye waarin ons leef nie. Daar is ʼn enig-onveranderbare Evangelieboodskap. Daar is ʼn interpretasie van die Heilige Skrif wat onaanvegbaar is! Dit is die Evangelie wat reeds deur die Apostels verkondig is en deur die eeue deur die ware kerk geglo is en wat vir ons vandag nog bewaar is in die gereformeerde belydenis. Sonder vrees vir teëspraak kan ons dit opneem en weer opnuut lees en van harte aanneem en moed skep vir die toekoms.