Bron: De Wekker. 2 bladsye. Vertaal deur ​ Nic Grobler.

Is daar nie Iets Anders as Brood nie?

ʼn Paar jaar gelede stap ʼn vrou ons buurt se bakkery binne. Die bakker vra waarmee hy haar kan help. Sy sê: ‘Ek is so sat van brood eet elke dag. Het jy nie iets anders nie?’ Die verbaasde bakker begin opnoem: ‘Rosyntjiebolletjies, koek...’. Een van die ander klante vra haar toe: ‘Hoe lank sal jy dáármee tevrede kan wees?’

Toe ek gevra is om iets te skryf oor die bespreking rondom die tweede erediens op Sondae, het ek onwillekeurig aan hierdie (ware) verhaal gedink. Is dit moontlik om aan die diens ʼn ander inhoud te gee as dié wat by ons gebruiklik is; moet ons dit vervang met ʼn andersoortige samekoms, of is daar in die klassieke leerdiens iets wat nie vervang kan word nie?

Van koers verander?🔗

Dit is nie my bedoeling om aan die problematiek rondom hierdie saak af te doen nie. Dit bestaan wel deeglik! Daar word reeds ʼn reeks algemene besware gehoor, selfs teen ‘preek’ as sodanig. ‘Die klassieke preek waarin die dominee alleen aan die woord is, is werklik ʼn verouderde kommunikasiemiddel’; ‘Mense is nie meer gewoond om lank te luister nie, en die grootste deel van die preek is gou vergete’; ‘Vir heelwat kerkgangers is baie preke wêreldvreemd en dit beteken vir hulle niks nie’. Hierdie geluide word toenemend in verband met die tweede erediens, waarin die Woord volgens ons Kerkorde aan die hand van die Heidelbergse Kategismus verkondig word, gehoor. Dat hierdie leerdienste in baie gemeentes nie groot populariteit geniet nie, blyk uit verskillende dinge. Die bywoning van die tweede diens is dikwels beduidend swakker as van die oggenddiens. Soms is ook ampsdraers se plekke leeg. Jonger lidmate voel dat die vrae wat in dié dienste aan die orde kom, vrae is wat niemand (meer) vra nie en dat hulle eie vrae verswyg en onbeantwoord bly. In die lig hiervan het sommige kerke begin om aan die tweede diens ʼn ander karakter te gee. Leerdienste word afgewissel met (meesal vlak) tema-dienste, waarin die preek minder sentraal staan en ook ʼn ander karakter het. In sommige kerke volg daar na ʼn (kort) preek ʼn onderlinge gesprek of bespreking onder leiding van, byvoorbeeld, ʼn ouderling. Soms is dit ook moontlik om via ʼn rondgaande handmikrofoon op die preek te reageer. In die nuwe preekkunde word trouens gepleit vir ʼn sogenaamde ‘rondetafelkerk’, ʼn soort groepsgesprek oor die Bybel om die tafel. In so ʼn bespreking maak elkeen sy eie inset; niemand staan bo die ander om, byvoorbeeld met amptelike gesag, die laaste, definitiewe woord te spreek nie.

Voorafgaande vrae🔗

Ek aanvaar dat kerkrade wat hierdie benadering gekies het, deeglik besin het oor hoe hulle aan hierdie dienste inhoud moet gee. Die vrae wat daarby ter sprake sou wees, is uiteraard van groot belang: ‘Hoe behou ons ons mense?’ ‘Hoe kan ons dit regkry dat jongmense (en oueres) weer in groot getalle die (tweede) diens bywoon?’ ‘Hoe kan ons onnodige struikelblokke uit die weg ruim, sodat diegene op die rand van die kerk en hulle wat geheel van die evangelie vervreemd is, weer kerk toe kom?’ Wil die kerk steeds kerk wees én bly, moet sy inderdaad hierdie vrae vra. Daar is egter nog ʼn paar vrae wat aan hierdie vrae voorafgaan. Ek noem enkeles. ‘Wat is, Bybels gesproke, die karakter, die eienskappe van ʼn erediens?’ ‘Is die prediking, as die verkondiging van die Woord, wesenlik vir die welsyn van die gemeente?’ ‘Wat is karakteristiek aan die leerdiens?’ Ek kan hierdie vrae nie in die bestek van hierdie artikel breedvoerig behandel nie en ek bepaal my by enkele opmerkings oor die prediking en veral die prediking in die tweede diens.

Die Woord word verkondig🔗

Die Bybel leer onomwonde dat die heil van God is, deur Hom verwerklik word en deur Hom aan sondige mense uitgedeel word. Dit kom dus nie uit die mens op nie (1 Korintiërs 2:9) en ontstaan ook nie uit die ontmoeting tussen mense nie. Dit kom van God: van bo en van buite ons. Dit word in die Skrif onderstreep deur die feit dat God verkondigers stuur om sy heil te bekend te maak en toe te sê. Hierin speel die oproep tot bekering en die belofte van vergewing van sondes in sy Naam, ʼn fundamentele rol (lees Lukas 24:46 e.v.).

In die lig hiervan verbaas dit ook nie dat die Heilige Gees in besonder die prediking gebruik om sondige mense tot geloof en bekering te bring en hulle verder op die pad van die lewe te lei nie. In hierdie verband skryf die apostels:

Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die (gepredikte) woord van God.

lees Romeine 10:14-17 en ook 1 Petrus 1:23 e.v.

Die prediking, as bekendmaking en toesegging van Godsweë, is dus van wesenlike betekenis vir die geestelike welsyn van die gemeente. Dit was dan ook van die ou tyd af die kloppende hart van die erediens.

Woordbediening en leer🔗

Die leerdiens, soos ons dit ken, kan nie as sodanig na die Nuwe Testament teruggevoer word nie. Tog is die bron van wat die reformasie met die leerdiens bedoel, wel daarin. Luther en Calvyn was naamlik onder die indruk van die (geestelike) onkunde van die volk wat aan hulle sorg toevertrou is. Hulle het kategismusse geskryf en ook daaroor gepreek in dienste wat vir kinders(!) èn hulle ouers bedoel was. So wou hulle reg laat geskied aan die Bybelse gedagte dat die leer van die heil van jongs af ingeskerp moet word. Hulle het goed geweet dat nie net enkele tekste in die preek aan die orde moet kom nie, maar ook die groter verband van God se heilsopenbaring. So word “die hele raad van God” verkondig (Handelinge 20, 27) tot heil en seën van die gemeente. Op die manier word ook daarteen gewaak dat die “volk ... te gronde (gaan) weens gebrek aan kennis” (Hosea 4:6).

Bespreking?🔗

Hierdie was in breë trekke die redes waarom die prediking van die Woord in die erediens onmisbaar is. In elke geval beteken dit dat die prediking, ook in die tweede diens, nie met forumgesprekke of groepsbesprekings oor Bybelse temas vervang kan word nie. Mag daar dan nie na, of na aanleiding van, die preek vrae gestel word nie? Hierop wil ek effens teruggehoue antwoord. As die doel is om gesprek oor die preek te bevorder, dan is dit natuurlik uitstekend! Ons ken al jare preekbesprekings. Dit kan sinvolle en ook leersame ontmoetings wees. Ek is ewewel nie ten gunste van bespreking tydens die erediens nie. Die verkondiging van die Woord van God kan so maklik weens die (tyds)druk van die bespreking op die agtergrond gedwing word!

Ons (Son)dag se brood🔗

Die vrae rondom die tweede diens word ook nie net van vandag of gister af gevra nie. Reeds aan die begin van die 17e eeu (die Goue Eeu!) is gekla dat die middagdienste so swak bygewoon word. Die kerklike vergadering wat hiermee gehandel het, het onderstreep dat die predikant maar getrou moet voortgaan met die kategismusprediking, al was net sy eie gesin teenwoordig. Uiteindelik sou die res van die gemeente ‘wel vanself’ kom! ‘Baie naïef!’ sou u miskien sê. Miskien is dit. Tog was daar na my mening meer. Die mense het destyds vas geglo dat die God van die Woord deur die dwaasheid van die prediking wil en sal werk! (1 Korintiërs 1:21). Deesdae vra ek myself dikwels af: ‘Glo òns dit nog? Durf ons onagsaam met die Woord en die God van die Woord in die prediking omgaan?’ Want die vorm van die preek kan verskil, maar die preek as sodanig is na my oortuiging onvervangbaar – ook in die tweede diens. Daarin gee God ons ons (Son)dag se brood, die Brood van die lewe!