3 bladsye.

Dankgebed, Aanbidding en Voorbidding

Gebed as Antwoord op die Woord🔗

Soos wat die gemeente op verskillende maniere deur God in die diens aangespreek word, maar op 'n heel besondere wyse in die Skriflesing en prediking – so ook antwoord die gemeente op verskillende maniere in die diens, maar dit geskied op heel besondere wyse deur die gebed. Die gebed is die barometer of ons God se Woord reg verkondig en reg gehoor het. Daarom, om te bid, beteken so veel as om op persoonlike en omvattende wyse op sy aanspreke te antwoord. Soos wat die aanspreke nie slegs een maal geskied nie, maar altyd weer en steeds op dringender wyse – so geskied ook die antwoord altyd weer en ook dit word intiemer en meer omvattend.

Eers Prediking en Dan Gebed🔗

Histories is dit die plek van danksegging, aanbidding en voorbidding. In die Vroeë kerk het die gebed waarin uitvoerig voorbidding gedoen is, gevolg na die preek. Daar is ook gebid vir die persone wat die diens op hierdie punt moes verlaat. Daarna het die tweede belangrike gebed gevolg, die eucharistiegebed. Dit was die gebed van die gelowiges en het saamgehang met die nagmaal, waarop dit voorberei het. Later in die Roomse Kerk het hierdie eerste groot gebed, die voorbedegebed, verskrompel en is momente daarvan opgeneem in die eucharistiegebed. Die Reformasie het die dank- en voorbedegebed, en dit wel na die prediking, herstel. Ons vind dit by Calvyn, Micron, á Lasco en Pollanus. So het dit sy neerslag ook gevind in die klassieke nagmaalsformulier en in die klassieke formuliergebede.

In Nederland in die tyd van insinking van die verstaan en inrigting van die erediens, het die prediking al meer geword 'n leerrede en het as hoogtepunt van die diens gegeld. Al die ander elemente moes afgehandel word vóór die preek, sodat die hoofsaak, die leerrede aan die orde kon kom en daarmee was die diens feitlik afgeloop. So het die dankgebed en die voorbidding verskuif van na die preek tot voor die preek in 'n groot omnibusgebed. Na die preek is net kortliks na die preek verwys en daarmee was dit verby. Die gedagte was dat na die hoogtepunt, die leerrede, die diens so gou as moontlik moes afsluit. Hierdie praktyk is ook na Suid-Afrika oorgeplant.

Dit was egter 'n groot misverstand en 'n miskenning van die prinsipiële plek van die gebed in die erediens as antwoord op die aanspreke deur God. Eers wanneer die Woord van God werklik in ons harte en lewens gegaan het en ons sy bedoeling met en sy wil vir ons verstaan het, kan ons as mense kom om te antwoord, kan die ware gebed tot sy reg kom. Eers wanneer die gemeente besef alles waarmee die Here hulle toespreek en beskenk, kan hulle antwoord deur danksegging. Eers wanneer hulle uit die Skrif en sy uitleg verstaan het hoe God die wêreld sien en wat die ware nood van die mense is, kan die gemeente met vrymoedigheid toetree om ware voorbidding te doen.

Danksegging🔗

Die eerste groot aspek of inhoud van hierdie gebed na die preek is die betuiging van die dank teenoor die Here. Deur die bediening van die Woord in al sy wydheid word die gemeente bewus van alles wat die Here skenk en altyd weer skenk. Hierdie gebed het histories nooit bedoel 'n herhaling of verwysing na die preek nie, maar is die konkrete reaksie op die prediking, dit is die trek van die konsekwensies uit die prediking. In die tyd van die Piëtisme en Aufklärung het die danksegging en voorbidding verskrompel en het die gebed geword 'n tot God-gerigte herhaling van die preekgedagtes. Die danksegging het in verskillende liturgieë 'n plek verkry in die eucharistiegebed, wat ook na die preek was, maar dan veral voor die nagmaal. Danksegging het veral uitdrukking gevind in die prefatio, die gesonge prys- en dankgebed. Aanvanklik was dit ingangsdeel van die eucharistiegebed, maar kry later 'n selfstandige plek.

Dit is gepas en nodig dat die gemeente die Here se hand in die versorging en voorsiening van alles sal sien en Hom as sodanig sal erken en Hom daarvoor dank. Die dank gaan oor al die tydelike gawes. Dit gaan verder ook oor al die geestelike gawes, waarvan die kern is die verlossing en vernuwing deur Jesus Christus.

Aanbidding🔗

Die egter danksegging lei tot die aanbidding. Dit word 'n danksegging met die mond wat spreek waarvan die hart vol is. Hierdie danksegging verdiep tot aanbidding, waarin die aangeraakte mens deur God, God as Lewegewer erken en alles wat Hy geskenk het in oorgawe aan Hom teruggee. Daarom kom ware aanbidding ten diepste eers nadat die gemeente deur die Woordbediening aangespreek is. Aanbidding dra altyd die sleutelaksent van oorgawe en van die bereidheid om die wil van God te doen: "Kyk, ek kom om U wil te doen, o God! " (vgl. Hebreërs 10:9).

Voorbidding of Petisie🔗

Eers wanneer die gemeente homself opnuut gesien het in die spieël van die Woord en uit dieselfde Woord die wêreld met sy node werklik leer ken het, kan die voorbidding op die beste wyse gedoen word.

Prinsipieel het die Vroeë kerk dit goed gesien toe die groot voorbedegebed geplaas is net na die prediking. In die Roomse Kerk het dit in verval geraak. Die reformatore het die voorbidding weer herstel op sy plek na die preek.

Tradisioneel het hierdie gebed veral drie groot sake of terreine van voorbidding onderskei en dit kan prinsipieel so regverdig word:

Daar is gebid vir die kerk en sy dienaars;

Daar is gebid vir die wêreld en die owerhede;

Daar is gebid vir die nood en lyding op konkrete wyse.

  • Voorbidding vir die kerk. Hier word die plaaslike gemeente en die ander gemeentes, sowel as die kerk in sy geheel – die eie "kerk'', sowel as al die ander "kerke" – in voorbidding voor die Here gestel. Waar vir die kerk gebid word, word gebid vir die organisasie en werk van die kerk, asook vir die ampsdraers en vir elke gelowige. Die gebed gaan oor die leer en lewe van die kerk, oor die organisasie en arbeid, oor die bewaring en groei van die kerk, oor die diens en getuienis van die kerk.

  • Voorbidding vir die wêreld. Daaronder word verstaan die groot wêreld wat deur God geskape is, wat in sonde geval het, wat God nie ken en nie dien nie, wat in die sonde staan onder die oordeel van God. Vir die redding en verandering van die wêreld word gebid. Die begrip wêreld omvat ook die verskillende volkere van die wêreld en die eie volk van die aanbiddende gemeente. God se heerskappy oor die volke en sy bemoeiing met hulle, word erken en opnuut in die gebed gestel. Ook word hier gedink aan die verskillende owerhede in die wêreld in wie se hande God sy mag gegee het, veral aan die eie owerheid(e) van die gemeente. Hier het die gemeente 'n geweldige verantwoordelikheid vir die heil van die wêreld, vir die sorg van die wêreld, sy mense, sy volkere, die owerhede, vir die verbetering van die lotgevalle van die mense – om dit alles in liefde en toewyding in gebed aan die Here op te dra.

  • Voorbidding vir die nood en lyding. Hier word gedink aan die nood, leed en lyding binne die kerk, maar ook daarbuite; in die kleine, maar ook in die grote; van die liggaam, maar ook van die gees; van die enkeling, maar ook van die gemeenskap.

  • Om vir mense te bid, beteken om aan hulle te dink, om hulle persoon en omstandighede ernstig te neem. Wie die broeder in sy nood en lyding raaksien, tree met hom voor die Here en tree van die Here weer na die broeder toe.

  • So is die voorbidding dat die ganse nood, leed en lyding van die kerk en die wêreld voor die Here in die gebed gedra word, en dat weer van die aangesig van die Here sy seën aan en in die kerk en wêreld oorgedra word. Dit kom tot openbaring in die getuienis en diens. Soos nêrens anders nie, kom hier die priesterlike taak van die kerk en die algemene priesterskap van die gelowiges tot openbaring. Die kerk en die gelowiges mag voor God tree en by Hom voorbidding doen vir die mense, en omgekeerd God se seën na die mense toe uitdra. In die voorbidding kom 'n heel belangrike karaktertrek van die kerk tot uitdrukking:

Nowhere is the Church so literally the Body of Christ as when she offers Intercession. No act more closely unites her with her Lord than when ... she pours her soul in entreating God's blessing for mankind. She is there indeed the representative of the seeking Saviour.O. B. Milligen

Daarom mag hierdie uiters belangrike taak van die gemeente nooit verwaarloos word nie, maar moet met groot nougesetheid verrig word.

  • Die deur en die skool. Soos elke ander aspek van die gebed, moet ook die voorbidding aangeleer word. Die gemeente moet leer om die nood raak te sien, maar ook om te vra, om dit te vertolk voor die Here. Ware voorbidding kan geleer word uit die wyse waarop die kerk in die geskiedenis gebid het. Op die beste wyse word dit egter geleer uit die Bybel, veral uit die wyse waarop Jesus gebid het.

  • Die belangrikste is egter dat alle voorbidding geskied in die Naam van Jesus Christus, in gemeenskap met die Heilige Gees. Jesus tree voor God en neem ons met Hom saam. Hy is egter ook die deur, die poort, deur Wie ons met vrymoedigheid tot die Vader mag tree.

  • Om die voorbidding tot sy reg te laat kom, moet die beloftes van God in die Skrif geken word en daarop kan by God gepleit word. Hy word aan sy beloftes herinner, dat hy dit in vervulling moet laat gaan.

  • Die blywende taak. Ecclesia perpetua mansura orat – die immerblywende kerk bid. Onafskeidbaar hang die regte geloof (die ortopistie) saam met die regte lewe (die ortopraksie) en die regte gebed (die orto-epiklesie).