3 bladsye. Vertaal deur Awie Buitendag.

Denke vanuit Christus

Ons begin met ʼn nuwe seisoen in die kerklike en gemeentelike lewe. Gedurende die somermaande is die belangrikste werk wel gedoen, maar heelwat ander aktiwiteite het min aandag gekry. Nou gaan ons in die gemeente weer dááraan aandag gee. Wat staan ons nou te doen? Die antwoord kan nie anders lui nie as: ‘Die geestelike opbou van die hele gemeente’. By alles wat ons doen mag hierdie doelstelling nie uit die oog verloor word nie.

Hierna volg enkele prinsipiële en ook praktiese oorweginge.

Denke🔗

In die afgelope somervakansie het dit my intens getref wat Paulus skryf in Rom. 12:2:

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

By die heiliging van die Christelike lewe en by die geestelike volwassenheid, behoort die nuwe denke. Dit is dié denke vanuit God se groot dade. Nog sterker gestel: ‘Dit is die denke vanuit Christus’. Ons totale denke word deur Hom en alles wat Hy ‘gedoen het’ en ‘tans doen’ en ‘sal doen’, bepaal. Vanuit hierdie denke kom ons handelinge voort. Denke bepaal die handeling. Ook ons denke self word weer bepaal, naamlik deur wat daar in ons hart afspeel en deur alles wat daarin leef. Die hele sentrum van ons bestaan het vernuwing nodig. Paulus praat van die “verandering” (hervorming) wat ons moet ondergaan. Ons moet ʼn totale metamorfose, verandering ondergaan. Dít gebeur deur die vernuwing van ons denke. Twee lewens- en denkstyle staan teenoor mekaar: Die ‘gelykvormig word’ aan hierdie wêreld en die ‘gelykvormig word’ aan Christus. Vir die gelykvormig wees aan hierdie wêreld hoef ons niks te doen nie, want ons is dit van nature reeds. Om verander te word deur die vernuwing van ons denke is ʼn gawe en werk van die Evangelie. Daarvoor is God se kragtige en wederbarende werk in ons harte nodig. Tog is dit ʼn voortdurende werk. Dit is opvallend dat Paulus ons ʼn bevel gee in die lydende vorm. Dit doen Hy nog ʼn paar keer weer. Hy sê by voorbeeld ook: “Word vervul met die Heilige Gees”. Gawe en opdrag word in die Skrif altyd bymekaar gehou. God se eensydige genadewerk doen niks af aan ons verantwoordelikheid nie. As ons rasioneel dink, klop dit nie, maar skriftuurlik gedink, klop dit volkome. Dit is ook die ervaring van die gelowige mens.

Wêreldgelykvormig🔗

Die wêreldgelykvormigheid raak nie alleen maar net uiterlike dinge nie. Dit gaan maar nie net oor ʼn aantal sake wat nie sou mag nie. Jy kan dan dink aan die wel of nie dra van ʼn hoed tydens die kerkdienste, die besoek van ʼn film of teater of konsert, mag mens dans, ens. Al die sake het wel deeglik met die nuwe lewe van ʼn Christen te make, maar met alleen die uiterlike sake het jy die begrip wêreldgelykvormigheid nog nie gepeil nie.

Die Bybel steek dieper af. In die wêreldgelykvormigheid gaan dit om ʼn skema, ʼn patroon van die wêreld sonder Christus. Dit is ten diepste die skema van die ek-gerigtheid. Ook in die wêreld dink en lewe die mense. Hulle denke is dikwels uitermate knap. Ons maak almal op die een of ander manier gebruik van die moderne tegnologie. Watter knap denke sit daar nie agter nie. Daardie denke het egter nie ʼn sentrum, ʼn bron nie. Wanneer ons denke vernuwe word deur die krag van die Heilige Gees, wat met die Evangelie van Jesus Christus op ons inwerk, dan raak dit ons hele lewe wat daaruit voortkom. Ons kom in ʼn nuwe skema van lewe tereg. Daar word ʼn nuwe patroon in ons lewe sigbaar. Die middelpunt daarvan is inderdaad Christus. Die nuwe denke is altyd in ons. Dit gaan oral en altyd saam met ons en speel ʼn rol in alles wat ons doen, en by alle ontmoetinge wat ons het.

Alles wat ons in die gemeente doen, het ten doel dat Christus in ons ʼn gestalte sal aanneem. Die eenheid van alle aktiwiteite vind ons in Christus. In die Evangelie van Sý kruis en opstanding. Vanuit alle aktiwiteite moet ʼn lyn na die sentrum getrek kan word.

Plek en funksie van aktiwiteite🔗

Dit maak verder nie eintlik saak oor watter aktiwiteite dit gaan en hoe jy dit noem en hoe jy dit in die skema inbring nie. Mooi skemas en mooi deurdagte onderwerpe alleen gaan nie help nie. Dit kan wel hul waarde hê, want ons wil ordelik te werk gaan met die inskakeling van al die lede van die gemeente. Dit sal ʼn kuns wees om ʼn ewewig te bewaar tussen die aktiwiteite en dit wat ons daarmee wil bereik. Vir die deurwerking van die Evangelie is ook rus nodig. Ons moet weer leer om ʼn sekere innerlike afstand tot die wêreld te hou. Dít kan alleen gebeur wanneer ons binneste gevoed en gevul word met dít wat van God af kom.

Wanneer Christus in ons woon, kan dit nie wees dat daar ʼn leegheid in die hart ontstaan nie. Ons het dan nog deel aan allerhande moeite van die lewe en ook aan vorme van lyding.

Ons bly lewe in die liggaam van die dood! Byvoorbeeld: eensaamheid met Christus is ʼn ander eensaamheid as dié sonder Christus. Nou gebruik Christus die lede van die gemeente as sy oë, ore, stem, hande en voete. Daar moet dus wel deeglik werk gedoen word. Daar moet egter ʼn glans bly skyn op alles wat ons doen. Hierdie glans raak ons maklik kwyt. Veels te veel energie gaan verlore terwyl ons besig is met allerlei middelmatige dinge. As ons middelmatige sake opblaas, word dit vanselfsprekend groot en belangrik in ons belewing. Tog is dit nog nie so nie!

In die geestelike groei van die gemeente het aktiwiteite en werke elkeen ʼn eie plek. Hulle is hulpmiddels. Tog kan die geestelike groei nie gemeet word aan die aantal aktiwiteite, soos klubs, kommissies, vergaderings, ens. nie. Vir dié geestelike groei is ook stilte en afstand nodig. Die vernuwing van ons denke vind veral plaas in die afgesonderdheid waarin ons met die Woord besig is of ons verdiep in die sentrale temas van die Bybelse teologie.

Laat elke gemeente daarteen waak dat die hoeveelheid aktiwiteite nie die noodsaaklike rus en afstand bedreig nie. Daar moet tyd wees vir die onderhouding van die gemeenskap met God. Die Woord moet kan oopgaan in ons konkrete bestaan van elke dag. Prof. dr. W. van ‘t Spijker noem die gemeenskap met Christus die grondbeginsel van die teologie. Dit is ʼn heel diepsinnige uitspraak met verregaande gevolge. Ons kan die gemeenskap met Christus ook die grondbeginsel van alle gemeente-opbou noem. Watse sin maak gemeente-opbou as Christus daardeur nie ʼn gestalte in die gemeente en in elke lid afsonderlik aanneem nie? Daarop sal die bearbeiding van die gemeente gerig wees. Ons moet Christus weer van nuuts af leer ken. Nuut in die komende seisoen. Dit dring te min tot ons deur, dat die vernuwing van ons lewe en denke altyd voortduur. Dit is egte vernuwing wat plaasvind in hierdie fase van ons aardse lewe. Hierdie voortdurende vernuwing vanuit die gemeenskap met Christus kan ook ʼn vooroefening genoem word van die ewig voortdurende vernuwing in die heerlikheid van die Koninkryk van God.

Die breë kerklike lewe🔗

Die denke vanuit Christus wil ook die breë kerklike lewe beheers. Daar sal van die ekumene niks kom as ons die grondbeginsel vergeet nie. Wie ʼn pragtige kerklike organisasie ontwerp wat nie deurtrek is van die denke vanuit Christus nie, sal spoedig merk dat dié organisasie nie werk nie en nie ʼn doel bereik nie. Wie in ʼn organisasie dinge wil akkommodeer wat strydig is met die denke vanuit Christus, doen die teleurstelling op dat nie bereik word wat mens voor oë gehad het nie. Wie verskillende vorme van spiritualiteit wat mekaar uitsluit, in een groot kerklike geheel wil vestig, sal ervaar dat die hele saak ontplof. Ons mag eis dat alles gedoen word vanuit die vernuwende denke vanuit Christus. Dit gaan ons mag te bowe, en dit is goed!

Toe iemand eendag vir Luther gevra het hoe hy so baie vermag het, antwoord hy dat hy niks gedoen het nie. Die Woord het dit gedoen! God self doen dit. Wanneer ons jongmense tot verandering en vernuwing sien kom, is dit altyd ʼn ervaring! God het dit gedoen. Daarby gebruik Hy middele en mense, maar Hy kan dit ewegoed sonder middele en mense doen. Dit bewaar ons vir die “kramp”. Ons hoef die Koninkryk van God nie te organiseer nie. Ons het slegs te doen met dít wat Christus van ons vra, en dít is baie! Dit vra alles van ons, sonder dat die glans daarvan verdwyn. As iemand dít besef het, dat die glans in sy of haar lewe verdwyn het of dat dit dreig om te gebeur, het jy hier tegelykertyd ʼn oorsaak en die oplossing.

As jy nie negatief wil gaan opsien teen alles wat weer in die komende seisoen moet gebeur nie, dan moet jy in gedagte hou dat ons met die saak van Christus besig is. Dit moet nie maar net ʼn woord wees nie; dit moet beleef en gesien word. Daarom moet dit ʼn onderdeel uitmaak van die gesprekke op allerhande vergaderings. Ons doen die dinge nie maar net oor dinge nie. Ons het daarmee ʼn doel, wat honderd persent geestelik is, al kan die organisasie en werksvorme dan nugter en prakties wees. Dit maak dan nie eers so veel saak hoe jy al die werksvorme noem en in mekaar pas en op mekaar afstem nie.

Ek hoop, dat die tyd dat alles in mooi, teoretiese skemas vasgelê moes word, weer agter ons lê. As jy drie boeke daaroor gelees het, dan weet jy uit “ellende” nie meer hoe jy nog verder moes gaan nie.

Bly nugter! Bly eenvoudig en diep geestelik dink. Daaruit kom die werk byna vanself voort. Vanuit die werk keer ons terug tot die Bron. Vroeër moes alles vasgelê word in planne, modelle en skemas, met allerhande dwarsverbindinge en omskrywinge van verskillende soorte werk. Ek wil my ook nie daarteen uitspreek nie, maar ek het wel nugterheid geleer in die loop van jare. Sulke modelle en skemas hou nie so lank nie, omdat die werklikheid van die denke vanuit Christus en die heerlike werklikheid van die gemeenskap met Christus dit alles te bowe gaan. Alles word gedra deur die liefde. Liefde wat ʼn stem, oë en ore, hande en voete het.

Uitwerking🔗

Paulus sê in Romeine 12:2 wat die uitwerking is van die metamorfose van ons lewe, deur die vernuwing van ons denke. Ons sal dan in staat wees om die wil van God te herken. Hy gebruik dan drie woorde, nl. God wil die goeie, die welgevallige en die volkomene. Oftewel: ʼn integrale, vol antwoord van geloof, hoop en liefde op die volle Evangelie. Daarmee is die geheel van die vernuwende en hul steeds vernuwende Christelike lewe geteken. In hierdie lewe is ʼn heerlike eenvoud aanwesig.

Waar ons vanuit Christus dink, verdwyn alle polarisasie! Die werklike skeidslyne kom dan tot openbaring. Dit is: of vir of teen Christus. Die wat van Christus is, vind mekaar en herken mekaar, ondanks bepaalde tradisies en dwarsdeur die tradisies heen.