Bron: Kompas, 2012. 3 bladsye.

Die ‘Onse Vader’

Die kortheid van die ‘Onse Vader’ is gebaseer op uitgebreide en vrugbare gedagtegoed (…). Hoe beknopter die bewoording, des te wyer die betekenis. Want die ‘Onse Vader’ vervul nie net die eerste funksie van die gebed nie (verering van God en menslike bedes), maar omvat amper die hele Woord van die Here en gee ʼn volledige oorsig van die leer. Ja, in die ‘Onse Vader’ het jy werklik die evangelie in ʼn neutedop.

Tertullianus, 2de eeu na Christus

Die ‘Onse Vader’ is die belangrikste gebed van die Christendom. Volgens die Evangelies gaan die bewoording daarvan terug op Jesus Christus Self. In hierdie gebed kom ʼn paar sentrale gedagtes van die Christelike geloofs- en lewensopvatting tot uitdrukking.

Die Teks van die ‘Onse Vader’🔗

In hierdie artikel gaan ons nie al die afsonderlike bedes behandel nie. Dit word in die kategismus uitgebreid gedoen. Ons kyk net na die ‘Onse Vader’ in sy totaliteit. Ons loop hierdie gebed twee keer in die Bybel raak.

Matteus 6:9-13

Lukas 11:2-4

Onse Vader wat in die hemele is

[Onse] Vader [wat in die hemele is]

Laat u Naam geheilig word

Laat u Naam geheilig word

Laat u koninkryk kom

Laat u koninkryk kom

Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde

[Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde]

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Gee ons elke dag ons daaglikse brood

En vergeef ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe

En vergeef ons ons skulde want ons vergewe ook elkeen wat aan ons skuldig is

En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose

En lei ons nie in versoeking nie, [maar verlos ons van die Bose]

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.

----

Amen.

----

skuinsgedruk: verskille in al die handskrifte                                          

vetgedruk: verskille in sommige handskrifte (vergelyk die ou en nuwe Bybelvertaling)

Wat verder opval, is die konteks wat by Matteus en Lukas verskil. Ons moet aanneem dat Jesus hierdie gebed twee of miskien meer kere herhaal het. Dit sou beteken dat ons in Lukas 11 ’n herhaling van die gebedsonderwys van Jesus vind. Die dissipel wat vir Jesus vra: “leer ons om te bid”, was dalk by die bergrede (Matteus 5) nog nie daar nie.   

Dan nog ’n interessante feit: ons weet tot vandag toe nog nie hoe ons die een woord moet vertaal nie. Dit is die woord ‘epiousios’ wat in ons vertaling met ‘daagliks’ vertaal is. Hierdie woord kom in die Bybel en selfs buite die Bybel net op hierdie plek voor. Daar is al baie etimologiese studies gedoen om agter die betekenis van hierdie woord te kom, maar daar is nog steeds nie ’n bevredigende oplossing nie. Daar is eintlik twee voorstelle: daaglikse of ware brood. Miskien sal nuwe vondste ons help, maar daar is nie baie rede vir optimisme nie, want selfs die kerkvader Origines (begin 3de eeu na Christus) het nie geweet wat hierdie woord beteken nie.

Aktiewe en Passiewe Verklaring🔗

Kan ons dit vandag nog bid? Wat ons altyd aangeneem het en deur die eeue in die kerk gedoen is, word vandag deur sommige betwyfel. Daar is mense wat beweer: dit was ’n gebed vir die leerlinge, vir die periode vóór die kruisdood van Jesus Christus. Want dit wat gebid word, is alles vervul in die lyding en sterwe van Christus. God se Naam is geheilig, want danksy Jesus het God sy Naam vir ewig aan ons verbind. Die koninkryk van God het gekom, danksy Jesus se heerskappy in ons lewens. God se wil is ook deur Jesus vervul. Hy het ons daaglikse brood geword, want sy Woord is ons lewe. Ons skulde is vergewe toe Jesus aan die kruis gesterf het. Hulle beweer eintlik dat die gebed net bestem was vir Jesus se dissipels en nie vir ons nie.

Ons kom hier by ’n belangrike verskil in interpretasie van die ‘Onse Vader’. Moet jy die ‘Onse Vader’ aktief of passief verklaar? Gaan dit oor wat God sal doen (passiewe interpretasie, want die mens bly passief) of gaan dit oor wat ons moet doen (aktiewe interpretasie)?

Ek kan dit die beste verduidelik aan die hand van die derde bede: ‘laat u wil geskied’. Hierdie bede kan jy verstaan as: Voltrek u wil aan ons. Laat u plan met ons lewe altyd verder gaan. Dan is dit ’n gebed tot God dat Hy sy wil, sy raad sal uitvoer. ’n Wil wat ons moet ondergaan en aanvaar. Sy raad wat miskien dwars ingaan teen dit wat ons wil (dink aan siekte, rampe, teëspoed), maar tog bid jy om die volvoering van die wil van die Here en bid jy vir jouself om aanvaarding en berusting. Byvoorbeeld, jy bid om genesing van ʼn siekte, maar sluit af met: ‘maar laat nie ons wil nie, maar u wil geskied’.

’n Ander vertaling van die derde bede kan wees: ‘Laat u wil gedoen word’ (Engels: Thy will be done!). Dan gaan dit nie oor Gods verborge wil nie, maar oor sy geopenbaarde wil, sy wette, gebooie en voorskrifte wat deur mense gedoen moet word.

Ook by twee ander bedes kan jy dieselfde vraag stel. ‘Laat u Naam geheilig word’: is dit ’n bede dat God sy Naam op aarde sal verheerlik? Is dit ’n bede om afrekening met almal wat sy Naam bespot? Of is dit ’n bede van verlange – ’n gebed dat God se Naam in ons lewe geheilig sal word?

‘Laat u koninkryk kom.’ Die passiewe interpretasie beteken dat ons bid om die koms van Jesus Christus, wanneer die koninkryk van die hemele definitief op aarde gevestig sal word. ’n Gebed om Goddelike ingryping – om die einde van die wêreld. Maar die aktiewe interpretasie beteken dat ons bid: laat u koninkryk vandag steeds meer en meer in my lewe en in die kerk deurbreek, dat mense die heerskappy van Christus oor hul lewe sal erken.

As ons kyk na die konteks waarin Christus die ‘Onse Vader’ gegee het, moet ons erken dat die aksent lê op die opdrag wat ons mense gekry het. Die gebed staan in die bergrede. Die bergrede begin met die saligsprekings – dit is die wette van die koninkryk van die hemele. In die saligsprekings vind ons die wil van die Vader van Jesus Christus en ons Vader in die hemel. Die bergrede eindig met die woorde: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader in die Hemele.” En dan volg die gelykenis van die dwase en die wyse man: jy het jou lewe op die rots gebou as jy nie net luister na die woorde van Jesus nie, maar hulle ook doen. Die hele konteks van die ‘Onse Vader’ gaan dus oor die volbrenging van die wil van ons Hemelse Vader – daarom moet ons voorkeur gee aan die aktiewe interpretasie.

Daar is nog ’n rede: Jesus gebruik in die hof van Getsemané presies dieselfde woorde as in die ‘Onse Vader’: “As dit moontlik is, laat hierdie beker by my verbygaan, nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Jy kan hierdie woorde so verklaar dat Jesus hier bid om die volbrenging van God se raad, wat Hy passief moet ondergaan. Maar dit is nie wat Jesus in die eerste plek bedoel nie: sy gebed is ’n verlange om gehoorsaam te wees aan die wil van sy Vader – ’n gebed om gehoorsaamheid tot die einde toe. Jesus bly Self nie passief nie. Hy bid juis om Self aktief te wees en die wil van God te volbring. So het Paulus dit later ook verstaan: “Hy was gehoorsaam tot die dood aan die kruis” (Filippense 2:8).

Ook vir die volgende drie bedes is hierdie aktiewe interpretasie van groot belang. ‘Gee ons vandag ons daaglikse brood’ is ʼn gebed om voedsel, maar dit kan jy nie vra as jy nie self bereid is om te deel nie. ‘Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars moet vergewe’. Jesus herhaal dit eksplisiet in die bergrede: “Jou sondes sal nie vergewe word nie as jy nie bereid is om ander te vergewe nie”. ‘En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose’. Dit kan jy net bid as jy self ook bereid is om die stryd teen versoeking en verleiding aan te gaan en versoekings en verleidings nie op te soek nie. Die ‘Onse Vader’ is ’n gevaarlike gebed. Wanneer jy dit bid, gaan dit dus in die eerste plek oor jouself. Jy word opgeroep om onvoorwaardelik in te tree vir dit wat jy bid. Jy kan dit nie net onskuldig bid nie – jy kan dit nie passief bid nie; wanneer jy dit bid, vra dit van jou om self in aksie te kom, om self te doen waar jy om bid. Help my om u Naam in my lewe te verheerlik. Laat Jesus Christus Koning wees oor my lewe. Help my om u wil te verstaan en te gehoorsaam. Jy vra God om jou daarby te help, want alleen in sy krag kan ons dit doen.

Daarom moet ons die passiewe interpretasie ook nie heeltemal weggooi nie. Want ook al lê die nadruk op die aktiewe interpretasie, die Bybel leer ons ook dat ons dit nooit in eie krag kan doen nie. God moet dit doen. Ons faal elke keer weer om sy Naam te heilig, ons sal nooit ʼn koninkryk van reg en vrede op aarde kan vestig nie, ons kan nie sy wil volbring nie. Uiteindelik moet God dit Self doen. En Hy het dit deur sy Seun Jesus Christus gedoen. Alleen in sy Naam kan ons hierdie gebed uitspreek en in sy krag kan ons die bedes in ons eie lewe volbring.

Voorbeeldgebed🔗

Tertullianus sien die ‘Onse Vader’ as ʼn voorbeeld­gebed. Hy is reg, want die aanleiding in Lukas 11 was die vraag van een van sy dissipels: “Heer, leer ons bid.” Daarom kan jy sê dat dit ’n voorbeeld­gebed is. Dis nie noodwendig ’n gebed wat jy gereeld letterlik so moet bid nie (vergelyk die gebedspraktyk in die Rooms-Katolieke kerk – asof dit ’n heilige formule sou wees), maar in hierdie gebed staan die dinge wat gereeld in jou gebed moet terugkom.

  • Dit gaan nie om ‘ek’ nie, maar om ons. Jy bid saam met miljoene ander mense en jy bid ook vir ander mense.

  • Bid met ontsag en vertroue. Dit is wat Jesus ons leer met die aanspraak ‘Onse Vader wat in die hemele is’.

  • Bid eers of God sy doel in jou lewe waar wil maak.

  • Bid vrymoedig vir jou eie behoeftes – waarby die bede om vergewing nooit mag ontbreek nie.

  • Laat lofprysing altyd ʼn onderdeel van jou gebed wees.

Wanneer ons die ‘Onse Vader’ bid, stap ons in ʼn groot ruimte met ʼn geweldige akoestiek. Daar staan ’n koor met bekende mense, broers en susters, maar ook onbekende mense, Chinese, Siriërs, en ook mense wat lankal al nie meer met ons is nie, Abraham, koning Dawid, Paulus. Saam met hulle prys ons die grootheid en majesteit van God.