Bron: Kompas, 2010. 3 bladsye.

Die Aard en die Belang van die Tweede Diens as Leerdiens

Skrifbeginsels en Historiese Ontwikkeling🔗

In die Vrye Gereformeerde Kerke word die tweede diens in die algemeen goed bygewoon. Beskou ons egter die ongewildheid van die bywoning van die tweede erediens in ons land, kan die gevolgtrekking gemaak word dat dit nie byval vind nie, dat dit selfs vir baie lidmate uit kerke van gereformeerde belydenis ʼn las geword het.

Om die belangrikheid van die leerdiens in die gereformeerde kerklike lewe te verreken, is dit egter belangrik om dit enersyds vanuit Skrifbeginsels oor die inkleding van die Sondag as die Dag van die Here, en andersyds vanuit Skrifbeginsels oor die onderrig van die leer van die Evangelie te beskou. Dit is verder belangrik om dit teen die agtergrond van die gereformeerde kerklike lewe in die sestiende eeu, veral in Nederland, te beoordeel.

Om te verstaan waarom dit so swak ingang gevind het in Suid-Afrika, moet ewe-eens die konteks van die kerk in ons land nagegaan word. Uit die enkele bronne wat hieroor geraadpleeg is, kan afgelei word dat daar in die kerk aan die Kaap wel Kategismusprediking plaasgevind het, maar meesal ongereeld, en is dit verdring deur ʼn supranaturalistiese gees wat alles wou toets aan die menslike rede. Die fokus het op spoggerige “leerredes” van verstandelike vermoëns en welsprekendheid geval.

Vir jare moes daar in die NGK se meerdere vergaderings gerapporteer word of daar twaalf Kategismuspreke in ʼn gegewe jaar gelewer is. Die plattelandse gemeentes het ʼn sukkelgang gehad om die gemeente vir ʼn tweede keer op ʼn Sondag bymekaar te bring, en afstande en boerdery-faktore is aangevoer. Die Gereformeerde Kerke het uit die staanspoor erns gemaak met die Kategismus en het vroeg teruggekeer na Kategismusprediking.

Ou en Nuwe Testament🔗

Die beginsels wat die leerdiens begrond, het ou papiere. Die verbondskinders moes in die vrees van die Here onderrig word, byvoorbeeld Deuteronomium 6:4-7 en Psalm 78:5 en verder. Die sinagoge was ʼn “leerhuis”.

Die Nuwe Testament fokus op die leer van die Apostels waarin die gemeente onderrig is – dit beteken die gemeente is in die evangelie onderrig, byvoorbeeld Handelinge 2:42 en 1 Timoteus 1:10,11. Daar word gefokus op die kennis van God en van Jesus Christus want sodoende word vrug gedra en die Here behaag, Kolossense 1:9,10. Die liefde vir God en mekaar neem toe waar die gemeente oorvloedig word in kennis en ervaring, Filippense 1:9. Dit loop uit op dade van liefde en diensbaarheid, 2 Korintiërs 8:7. So word die hele gemeente in liefde opgebou, Efesiërs 4:11-16. Die begrip “kennis” staan in Ou en Nuwe Testament in verband met ons verhouding met God, met glo en liefhê, bv 1 Johannes 4:7.

Die onderrig in die leer sluit aan by die geestelike bevattingsvermoë van die gemeente, 1 Korintiërs 3:1-2. Herhalende onderwys van die evangelie is noodsaaklik, Hebreërs 5:11, 12. Onderrig het ten doel dat die gelowiges in die waarheid bly en die valse leer verwerp, byvoorbeeld 1 Timoteus 6:20-21 en 2 Timoteus 1:13-14.

Geskiedenis van die Leerdiens🔗

Reeds in die vroeë kerk is die bekeerlinge uit die heidendom voorberei met die oog op hulle doop. Die onderrig in die geloof, die wet, die gebed en die sakramente het reg deur die Middel-eeue plaasgevind. In die opsig is die Reformatoriese leerdiens geen nuwigheid nie.

In Duitsland het Maarten Luther sy preke oor die Wet, die Apostoliese Geloofbelydenis, die Onse Vader gebed en die sakramente in sy Groot Kategismus in 1529 gepubliseer. Dit was preekmodelle vir predikante om oor die hoofpunte van die leer te preek. Die kinders is uit die Kleiner Kategismus onderrig.

Die Tweede Kategismus van Calvyn het in 1542 in Genève verskyn en het 55 Sondagafdelings gehad om te preek. In Genève was daar drie dienste per Sondag. By die tweede diens op die middaguur is die Kategismus aan die kleiner kinders onderrig. Die preek het gehandel oor die leerstof van die Kategismus. Kinders moes die afdeling uit die Kategismus opsê. Hulle moes vrae beantwoord om aan te toon dat hulle die preek verstaan. Die skoolmeesters en die vaders het die kinders vergesel en ook die ander lidmate was verplig om die diens by te woon.

Dit was in Nederland waar die leerdiens goeie inslag gevind het. Reeds by die konvent van gereformeerdes in 1568 te Wesel is besluit dat die leerpreek noodsaaklik was om die verbondskinders te onderrig, en deur die Sinode van Dordt in 1618/19 is dit verplig gestel.

In die Formuliergebede van die Nederlandse gereformeerde kerk vir voor en na die prediking van die Kategismus word pragtig sin gegee aan die onderwysing van die leer: In die belydenis gaan dit om die genoegsaamheid van die Woord. Die gemeente bid om die werk van die Heilige Gees om die Woord te verstaan en daardeur regeer te word. Dit sal lei tot eendragtige diens aan die Here in heiligheid en geregtigheid.

Uit die gebed na die onderwys uit die Kategismus staan dit vas dat die onderrig aan die verbondskinders in die midde van die gemeente plaasvind. Die band tussen leerdiens, die kinders en hulle doop is onlosmaaklik. Die ouers en die gemeente word betrek by die onderrig van die leer in terme van hulle antwoord op die doopvraag en hulle verantwoordelikheid om hulle kinders te leer bid. Enersyds word gebid dat die hele gemeente deur die onderrig na Christus toe groei, andersyds dat die ryk van Christus in die gemeentes mag kom (let op die meervoud – daar word aan die opbou van die kerke gesamentlik gedink).

Samevatting: Kenmerke van die Leerprediking🔗

  1. Dit behoort Woordbediening te wees – verskillende Skrifgedeeltes sowel as die Kategismus behoort gelees te word. In elke “leerstuk” spreek die hele Skrif mee.
     
  2. Die betroubaarheid en eenheid van die Skrif behoort die eenheid van die skriftuurlike leer te onderbou. Die Skrif bestaan nie uit ʼn samevoegsel van ʼn aantal waarhede nie, maar is die een openbaring van God.
     
  3. Dit behoort prediking van die hele Bybel ten opsigte van ʼn bepaalde leerstuk te wees, soos dit deur die kerk bely word. So word die belydenis as persoonlike belydenis van die geloof ingeskerp by die gemeente.
     
  4. Die Kategismus en die ander belydenisskrifte bevat nie ʼn mensgemaakte leer nie, maar stem in alle opsigte ooreen met die leer wat in die Skrif aan ons geopenbaar is. Die Evangelie van genade wat die saligheid verkondig kom in elke “leerstuk” na vore.
     
  5. Die Bybel is die samehang van God se openbaring in Christus en is dus een teks wat gepreek word.
     
  6. Die volheid van God se open-baring is nie in die Kategismus nie, maar in die Bybel. Weer gesê: Kategismusprediking word gekenmerk daardeur dat dit verkondiging van God se Woord is.
     
  7. Die hele raad van God behoort verkondig te word, Handelinge 20:27. Deur die Kategismus of een van die ander belydenisskrifte op die voet te volg van voor tot agter, word hierdie doel nagestreef.

Samevatting: Belangrikheid van die Leerdiens🔗

  1. Die katkisasieklas kan die leerpreek nie vervang nie, in die preek kom die leer van die evangelie na ons toe as verkondiging, in die katkisasieklas kan in besonderhede in ʼn gespreksituasie, leermeester en leerling, ingegaan word op aspekte van die leer.
     
  2. Die leerdiens met die hele gemeente rondom die verbonds-kind, vorm die konteks waarbinne die kategese plaasvind. Die onderwys van die leer aan die verbondskinders is nie ʼn privaataangeleentheid van die predikant en die katkisante nie, ook nie van ouers, predikant en katkisante nie, maar van die hele gemeente wat mekaar ondersteun, bemoedig en leer.
     
  3. Die leerdiens kyk terug na die doop en vorentoe na die belydenis van geloof en begelei die gelowiges om in die leer te volhard. Met die belydenis arriveer die gelowige nie in volledige kennis van Christus nie, maar bly vir die lewe saam met die broers en susters aan die voete van die Meester.
     
  4. Die kader van die leerdiens en die liturgie daarvan is onderwys: dit gaan oor die geloof wat onderrig en die geloof wat geleer word. Die gemeente kom saam om geleer te word, want hulle wil hulle laat leer.
     
  5. Die gemeente gaan kerk toe om te glo, te verstaan, versterk en opgebou word in gelowig dink en wandel.
     
  6. Die gemeente leer die Bybel lees op ʼn konfessionele wyse, dit is op ʼn heilshistoriese wyse. Daardeur word die identiteit van die gemeente bevorder, om gereformeerde kerk te wees, kerk van die Woord, reformerend.
     
  7. Die gemeente leer om te bely en te verantwoord, om die Skrif uit te lê en te verdedig, deur vanuit die teks die geloof te formuleer. Vanuit Christus en sy werk word die gelowige toegerus vir sy lewe in diens van Christus.
     
  8. Die leerdiens behoort ʼn sterk evangelisasie- en sendinggerigtheid te hê. Die Kategismus leen hom uitstekend daartoe. Dink maar aan die verklaring van die wet.
     
  9. Ware ekumene word bevorder deur die leerdiens. Wanneer die leer gepreek word in die kerke, sowel in die sendende as sending-kerke, word ware eenheid in Christus gesoek. Dit stig kerkverband. Die leerdiens behoort so vroeg as wat moontlik is op die sendingterrein ingevoer te word.
     
  10. Die eenheid van leer sowel as lewe word benadruk, die kunsmatige skeiding wat dikwels gemaak word tussen leer en lewe, kan juis deur aktuele leerprediking wat die hart raak, oorkom word.
     
  11. Die leerdiens vul die Dag van die Here op die regte wyse met die aspekte van toewyding en diens aan die Here, Skrifstudie en die opbou in die geloof. Wat is mooier as om by aanroeping van die Naam van die Here en by verkondiging van God se Woord versterk te word in die gemeenskap met die Heer en met mekaar, deur onderwys te word in die leer? So berei die leerdiens die gemeente voor vir die erediens van volgende Sondagoggend.