Die Ampte in die Kerk
Die Ampte in die Kerk
Nadat ons Here na die hemel opgevaar het, het Hy verskillende ampte in die kerk gegee (Ef. 4:11). Hy het hierdie ampte ingestel sodat hulle wat daarin dien, Hom in die ampte sal verteenwoordig en sy kerk sal dien. Al bly Hy die enigste Hoof en Koning van die kerk, is hierdie ampte vir die welsyn van die kerk nodig.
Daar is baie stryd oor die aantal en aard van hierdie ampte. Ons glo, sonder om in die stryd betrokke te raak, dat daar drie ampte in die kerk oorgebly het: dié van ouderling, van diaken en van herder en leraar.
Ons sê dat hierdie ampte “oorgebly het”, omdat daar ander, tydelike, ampte soos dié van apostel, profeet en evangelis was. Omdat ons nou die voltooide Skrif besit (2 Pet. 1:19-21), is hierdie ampte, wat toé bedoel was om die geïnspireerde en onfeilbare Woord van God aan hulle hoorders oor te dra (Hand. 21:10, 11; Heb. 2:3, 4; 2 Pet. 3:15, 16), nie meer nodig nie.
Dit is duidelik dat dit net die ampte van ouderling, diaken en leraar is wat oorgebly het, omdat dit die enigste ampte is wat in die latere briewe van Paulus — in besonder 1 Timótheüs en Titus — genoem word wanneer die opvolgers van die apostels deur hom geleer word. Dit word des te meer bevestig deur die feit dat hierdie briewe oor betaamlike gedrag in die kerk (1 Tim. 3:15) en die ordening van die sake van die kerk (Tit. 1:5), handel.
Dit is nie nou vir ons van belang om te argumenteer oor die punt dat leraars én regeerouderlinge in die Nuwe Testament ouderlinge genoem word nie. Die waarheid is dat hierdie ampte afsonderlike pligte het en in die Nuwe Testament as afsonderlike ampte beskou word (1 Tim. 3 en 4).
Wat wél van belang is, is die feit dat die drie ampte vandag in die kerk verwaarloos en vergete raak. Weinig kerke het nog al drie die ampte en waar die ampte wel bestaan, vind mens dikwels diakens wat die werk van ouderlinge doen, of omgekeerd, of leraars wat die werk van altwee doen. In baie gevalle is die ampte ook nie veel meer as eretitels nie en word diegene wat verkies word, verkies op grond van aansien of vermoë en nie op grond van geestelike eienskappe nie.
Dit gebeur tot skade van die kerk. Omdat die ampte verteenwoordigend van Christus is, beteken hulle afwesigheid in die kerk dat Christus tot daardie mate nie onder die volk van God teenwoordig is, soos Hy moet wees nie.
Ons glo dat hierdie ampte die drievoudige amp van Christus as Profeet, Priester en Koning weerspieël. In die ampte van regeerouderling en leraar is dit klaarblyklik. Dit is nie moeilik om te sien dat dié twee die koninklike en profetiese amp van Christus verteenwoordig nie. In die diakenamp, na behore verstaan, word aspekte van die priesterlike amp van Christus weerspieël.
Indien die kerklike ampte die ampte van Christus weerspieël, is hulle vir die kerk onontbeerlik en durf hulle nie, soos dikwels die geval is, verwaarloos word nie. Dit is ons hoop en bede dat hulle in hulle regte plek en plig herstel sal word.