Bron: Waarheid en Dwaling. 5 bladsye.

Die Anatomie van die Ongebore Kind

In hierdie artikel wil ons kyk na:

  • Hoe die HERE hierdie anatomie skep.

  • Wat die priesterlike, profetiese en koninklike taak ten opsigte van die ongebore kind is.

Hoe die Here die Ongebore Kind Skep🔗

Bevrugting🔗

Die sperm van die man en die ovum van die vrou versmelt om 'n unieke individu te vorm. "Hy het gespreek en dit was." (Psalm 33) In die Bybelse tyd kon die jongste nuwe mens nog nie gesien word nie. Een ding was egter wel seker. Die HERE gee swangerskap. (Rut 4:13)

Vandag kan ons hom/haar sien op die jongste stadium, en nog steeds bely ons dat die HERE swangerskap gee. Ja, hoe meer ons in die wonderlike skepping van God sien en navors, hoe groter word die lofsang op God se werk. (Tot op 2 maande praat ons van 'n embrio, en daarna van 'n fetus, net soos ons praat van 'n kleuter vanaf 3-6 jaar.)

Sigoot, Morula en Blastosist🔗

Hierdie name word gegee aan die embrio soos wat groei plaasvind, dit wil sê hoe God verder aan hierdie embrio weef. Eers 4 dan 8, 16, 32, 64 selle word kunstig geweef. "U oë het my ongevormde klomp gesien." (Psalm 139:16) Vandag kan ons dink aan die blastosist stadium – 'n ongevormde klomp selle.

Inplanting🔗

Teen die eerste week vind inplanting in die baarmoeder plaas. Die baarmoeder is teen hierdie tyd optimaal voorbereid om die embrio te ontvang, en te laat in-nestel. Dit staan onder beheer van hormone en reseptore op die selmembrane van die selle van die en­dometrium. (baarmoeder se binneste laag) 'n Volkome balans is nodig. Ook daarvoor sorg die HERE.

Organogenese🔗

In die baarmoeder genestel begin die embrio vinnig groei. Teen die derde week is drie lae selle gevorm, waaruit al die weefsels en organe sal ontwikkel. Uit die ektoderm ontwikkel die vel en senuweestelsel. Uit die mesoderm die spiere, bindweefsel, been en bloedvate. Uit die endoderm die uitvoering van die verteringstelsel en respiratoriese bane.

Teen vier weke begin die neuraalbuis waaruit die werwelkolom en brein ontwikkel, sluit. Ledemate begin vorm en die kardiovaskulêre stelsel begin vorm. Teen week vyf vind snelle breinontwikkeling plaas en die boonste ledemate vorm. Teen die sesde week begin die vingertjies, elmboog en polsgewrig sigbaar word. Die oortjies begin ook nou ontwikkel. Dit is nou die tyd wat die vrou gewoonlik agterkom dat sy swanger is.

My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie. Psalm 139:15

Teen week agt is die ogies oop en kan die baba die moederlike stem hoor. Die kraakbeenmodelletjies van die verskillende bene vorm. Teen die negende week is daar spontane beweging en teen die tiende week rotasie­bewegings. Die baba begin nou ook sy eie rooibloedselle maak. Urienproduksie begin.

Vanaf week dertien tot sestien vind verbening plaas, die wenkbroue en hare op die koppie begin vorm. Oogbewegings begin en die ledemate is bykans die uiteindelike lengte relatief tot die liggaam.

Teen week sewentien kan die moeder begin om bewegings waar te neem. Ons lees in Lukas van Elisabet wat die bewegings van Johannes haar kind voel.

En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring, en Elisabet is vervul met die Heilige Gees.

Johannes die Doper skop in sy ma se baarmoeder as Maria wat reeds swanger is inkom. Die vrug van die Heilige Gees, reeds in die baarmoeder! (Lukas 1:17) Johannes die Doper was die profeet wat die pad vir Jesus Christus gelyk moes maak. Ja dit is die Heilige Gees se werk dat Johannes die Doper opspring in sy ma se skoot.

Want kyk toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring.

Johannes die Doper en Jesus Christus het ongeveer ses maande verskil. (Lukas 1:36)

Na week twintig vind daar verdere groei plaas van dit wat reeds ontwikkel het. Al die organe en weefsels is reeds gevorm.

Geboorte🔗

Met geboorte is daar 'n verandering in die omgewing van die baba. Dit veroorsaak 'n aantal veranderinge. Die naelstring word afgeknip en die baba word losgemaak van sy voedingsbodem – die baarmoeder en plasenta. Die baba begin asemhaal, die longe word gevul met lug. Die baba se bloedsirkulasie verander om nou suurstofryke bloed vanaf die longe te vervoer na die hart en vanaf die hart na die liggaam. Die bloedvate na die plasenta verdwyn. Die spysverteringstelsel begin melk te verwerk soos die baba aan sy moeder se bors voed. Die baba is egter heeltemal afhanklik van sy/haar moeder se versorging. Ontwikkeling en groei gaan voort, ook na die geboorte.

Tandontwikkeling geskied in die kleuterjare. Geslagsontwikkeling teen puberteit. Die brein verdriedubbel sy gewig tot op sestien jaar. Eers op plus minus vyf en twintig jaar ouderdom wanner die verstandstande daar is en wanneer lengtegroei van die bene ophou, kan ons sê dat groei voltooi is.

As ons hierdie hele groeiproses beskou, kan ons nie anders as om in te val met Psalm 139 nie.

Die HERE Roep die Ongebore Kind🔗

Daar is egter nog 'n belangrike element wat die Skrif noem oor die ontwikkeling van die baba in die moederskoot. Behalwe dat die HERE die Skepper en Onderhouer van die jong kindjie is, roep die HERE hierdie kindjie al reeds in die moederskoot. (Jesaja 49:1) (Jeremia 1:5)

Die HERE skep dus die nuwe lewe en verbind daaraan reeds in die moederskoot 'n roeping. Dit is 'n geweldige iets, met groot implikasies. Ja selfs voor die ontvangenis in die moederskoot het die HERE hom geroep. As ons as mense dus 'n baba op watter stadium van ontwikkeling ook al aborteer, maak ons nie alleen 'n einde aan God se skeppingswerk nie, maar ook aan 'n roeping wat God in sy raadsplan met hierdie unieke nuwe lewe bepaal het. Ons loop dus God voor die voete!

Christus was ook 'n Ongebore Kind🔗

'n Verdere belangrike beginsel wat ons moet vashou is die belydenis van die ontvangenis en geboorte van Jesus Christus. "Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here, wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria…" Ja, Jesus Christus het ook die hele ontwikkeling in die baarmoeder ondergaan, alhoewel ontvang van die Heilige Gees. Maria was nege maande swanger. Jesus Christus was werklik mens. Ook reeds in die baarmoeder. Hy is deur 'n normale kraamproses gebore. Waarom? Want ook hierdie tydperk van die lewe moes onder sy verlossingswerk staan. Christus het ons hele lewe verlos. Ook ons intrauteriene lewe staan onder die verlossingswerk van Jesus Christus.

Die anatomie van die nuwe lewe en God se skeppingswerk staan dus heeltemal in harmonie met die Woord van die HERE. Trouens sonder dit wat die HERE in Sy Woord oor die nuwe lewe in die baarmoeder van die ma openbaar, sal ons nie 'n goeie insig op sy skeppingswerk kan hê nie.

Ons Taak ten opsigte van die Ongebore Kind🔗

As medici en as pasiënte het ons dus 'n groot taak ten opsigte van die ongebore kind.

As profeet bely ons dat die HERE die nuwe lewe (embrio en later fetus) gemaak het en onderhou. Verder bely ons dat die HERE reeds in die baarmoeder en selfs daarvoor, reeds 'n lewensroeping aan hierdie lewe verbind het. As profeet moet ons verder ons tyd ken en die gedagtes wat nie hierdie belydenis aanvaar nie. Ons sal hierdie gedagtes moet ken en vervolgens met die Skrif en God se eie skeppingswerk in die baarmoeder, moet weerlê.

As priester gee ons, ons in diensbaarheid om die nuwe lewe in die baarmoeder te versorg en te verpleeg indien nodig. Ook na geboorte. Die pragtige werk van verskeie neonatale intensiewe sorgeenhede is van hierdie priesterlike taak 'n goeie voorbeeld. Ook sekere chirurgiese prosedures wat tans reeds met sukses in die baarmoeder op die ongebore kind gedoen kan word.

As priester vra die Here ook ons gebed by die onderhouding van die nuwe lewe in die baarmoeder en die feit dat ons ons aan God se wil wat alleen goed is sal onderwerp, ook as die kindjie siek is of 'n gebrek het.

As koning vra die Here ons om die nuwe lewe te beskerm wat Hy gemaak het en weerstand te bied teen gedagtes wat dit nie wil bely nie en nie daaraan deel te neem nie.

Watter Gedagtes en veral Praktyke hou in Ons Tyd nie Rekening met hierdie Belydenis nie?🔗

  1. Aborsie op aanvraag as gevolg van maatskaplik- sosiale en/of psigososiale redes, in geval van verkragting, in geval van fisiese of psigiese gebrek by die baba bv. 'n Downsindroom kindjie.

    Die HERE het ook byvoorbeeld die Downsindroom kindjie gemaak en het 'n spesifieke roeping en doel met hierdie kind. Al is dit om aan die moderne mens te sê dat die lewe onvolmaak is en verlossing nodig het. Ook 'n gestremde kind kan God se lof verkondig. Ook deur so 'n kind kan God se werke openbaar word.

    Lewenskwaliteit is nie 'n selfverwesenliking volgens twintigste eeu se standaarde nie. Maar om God te loof in watter staat van gestremdheid ook al. Ons het die profetiese taak om op te kom vir die beskerming en sorg van gestremdes.

  2. Geboortebeperkende maatreëls wat na bevrugting die vrug afdryf, byvoorbeeld die intrauteriene apparaatjie of "loop" en die "morning after pill."

    'n Spiraaltjie van koper of ander materiaal word in die baarmoeder geplaas. Dit irriteer die baarmoeder sodanig dat die liggaam 'n normale reaksie teen hierdie vreemde voorwerp begin. Verskeie inflammatoriese selle beweeg na die baarmoeder en maak dit onmoontlik vir die bevrugte ovum om in te plant. 'n Nuwe lewe word so geaborteer.

    Die "morning after pill" wat hoofsaaklik progesteroon bevat verander die en­dometrium (binneste laag sodanig, dat dit onmoontlik word vir die nuwe lewe om in te plant.

    Dokters sê maklik dat lewe nog nie vatbaar is as inplanting nog nie plaasgevind het nie. Die nuwe lewe begin egter reeds voor inplanting (geen eerlike medikus kan dit ontken nie) en indien alles reg is in die baarmoeder sal die nuwe lewe daar inplant en verder groei.

    Indien mens egter doelbewus die voedingsbodem van die nuwe lewe sodanig verander dat inplanting nie meer moontlik is nie, is so 'n afdryf van die nuwe lewe natuurlik direk gevolg van 'n menslike handeling. Verder sal die dokter sê dat daar baie bevrugte ovums normaal­weg nie inplant nie, en dus afsterf. Dit is inderdaad so, maar dan sien ons daarin God se hand wat die inplanting nie laat plaasvind het nie, en is daar nie menslike inmenging wat inplanting voorkom nie.

  3. Voorgeboorte diagnostiese ondersoeke (soos amniosentese, sonar e.a.) wat spesifiek gedoen word om voorgeboorte te bepaal of daar 'n gebrek by die baba teenwoordig is, byvoorbeeld Downsindroom, met die oog daarop om indien so 'n afwyking teenwoordig is, die kind te aborteer.

    'n Amniosentese word gedoen deur met behulp van 'n inspuiting vrugwater op te suig. Die vrugwater bevat normaalweg epiteelselle van die vel van die kindjie wat gebruik kan word om te bepaal of daar genetiese afwykings by die baba teenwoordig is. Die ondersoek vind gewoonlik na sestien weke swangerskap plaas en dra 'n risiko van 1% om tot 'n miskraam te lei.

    Teoreties kan die ondersoek wel gedoen word by die vrou met risikofaktore om 'n Downsindroom kind te kan hê, met die oog daarop dat die gesin daarop kan voorberei om hierdie kindjie te ontvang. Die vraag is of dit wel werklik voordelig en medies verantwoordbaar is om dit voor geboorte te weet. Verder is daar ook 'n geringe kans dat die diagnose foutiewelik gemaak kan word.

    Daar is ook ander indikasies waar hierdie ondersoek pragtig gebruik kan word soos om die rypheid van longe te bepaal voordat 'n baba verlos word by gekompliseerde swangerskappe.

    'n Sonar is 'n praktiese hulpmiddel om die grootte en groei van die baba en ligging van die plasenta kan bepaal. Indien 'n defek by die baba so toevallig opgetel word mag 'n Christen nie die nuwe lewe aborteer nie.

    Ondersoeke soos byvoorbeeld 'n sonar en andere kan reeds in die baarmoeder siektetoestande van die baba diagnoseer. As dit belangrik is dat dit reeds in die baarmoeder of na geboorte herstel moet word het hierdie ondersoeke 'n belangrike plek. Dan val dit in by ons priesterlike taak om die nuwe lewe te versorg en te verpleeg.

Hierdie is 'n paar praktyke en gedagtes wat belangrik is. Dit is egter nie volledig nie. Daar is nog ander waarop ons nie nou ingaan nie.

Wat Staan Ons dan te Doen as Ons na die Ginekoloog gaan as Ons Swanger is?🔗

Kies sover moontlik 'n ginekoloog wat die Here wil gehoorsaam, ook oor die ongebore lewe.

Wees baie duidelik dat jy geen voorgeboorte diagnostiese ondersoeke (soos amniosentese, sonar of ander) verlang om daarmee vas te stel of daar 'n gebrek by die kindjie is, wat mens "vroegtydig kan aborteer nie". Maak dus seker waarom die ginekoloog die ondersoek wil doen. Indien 'n gebrek by die kindjie toevallig opgetel word, wees duidelik dat jy nie 'n aborsie verlang nie.

Bloedtoetse wat toets vir die risiko vir byvoorbeeld 'n Downsindroom baba moet omsigtig hanteer word. Vra jou af wat jy en die dokter daarmee wil maak. As Christen bestaan die moontlikheid om jou dan voor te berei op 'n gestremde baba, reeds voor die geboorte. Indien daar geen rede bestaan om 'n probleem te vermoed nie, is dit nie geregverdig om blindelings te toets vir 'n klein moontlikheid van bv. 'n Downsindroom kind nie.

Die HERE sal U daarvoor krag gee, ook as die gestremdheid na geboorte blyk.

Wees baie duidelik dat jy geen geboortebeperkende metode soos die intrauteriene apparaatjie of "morning after pill" verlang nie.

Sake soos IVF (In Vitro Fertilisasie), infertiliteitsbehandeling, genetiese terapie, embrio transplantasie, fetus donasie en nog meer, waarmee mens nie algemeen te doen kry nie, moet ook uit Christelike oogpunt evalueer word.