2 bladsye.

Die Antichris

Lees 2 Thess. 2:1-17

donker wolke🔗

Hervormingsdag 31 Oktober 2009🔗

Die apostel noem die Antichris “die mens van sonde … die seun van die verderf” (:3). Wie is hy? Wanneer sal hy optree? En waaraan sal hy geken word? Kyk ’n mens na al die publikasies hieroor op die rakke van Christelike boekwinkels, dan is dit duidelik dat daar meestal verwarring heers oor die koms van die Antichris. Deur rolprente en fiksie skrywers, toneelopvoerings en die media word allerhande verkeerde verwagtinge geskep. Daarom is dit nodig om te vra: Wat openbaar die Skrif hieroor?

Het ons met vervulde of onvervulde profesie te doen?

Moet ons die merkteken van die dier in ons tyd vrees?

Wat hou hom teë “sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word”?

1. Augustinus🔗

In sy boek “Die Stad van God” wys Augustinus daarop dat Christus die Antichris sal verdelg wanneer Hy kom. Hy spekuleer nie oor die týd wanneer hy na vore sal tree nie. Die Antichris sal optree net voor die finale oordeel wanneer die Satan “’n kort tydjie ontbind word” en “hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is” (Openb 20:3, 8. Sien ook verse 1-10).

In sy preke van 415 n.C. uit die algemene briewe van Johannes wys Augustinus op die karakter en aard van die Antichris en van die baie antichriste wat as sy voorlopers optree. Hy toon aan dat antichriste ketters en skeurmakers is, “hulle het van ons uitgegaan, maar was nie van ons nie;  want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie” (1 Joh. 2:19).

2. Luther🔗

Die Protestante het die Roomse pous oor die algemeen as die Antichris beskou. Veral die Lutherane het die opkoms van die pousdom as die ware en finale Antichris beskou. Gegrond op hierdie siening het Luther die einde van alle dinge binne 300 jaar verwag. Trouens, hy het die Antichris (die Roomse pous) as die vleesgeworde duiwel beskou, die “mens van sonde” (2 Thess. 2:1-12) wat in die tempel van God sal sit en voorgee dat hy God is.

3. Calvyn🔗

Calvyn het wel die pousdom as die vernaamste antichristelike mag van sy tyd beskou, maar hy was nie so uitgesproke soos Luther nie. In sy kommentaar op 2 Thess. 2:4 verwerp hy die gedagte dat die Antichris die persoon van Nero redivivus was en beskou dit as ’n “oudwyfse fabel”.

Ook verwerp hy die siening dat daar na die Romeinse Ryk in hierdie teksgedeelte verwys word. Calvyn wil alle eskatalogiese spekulasie vermy oor wanneer die einde daar sal wees en beklemtoon eerder dat die evangelie verkondig moet word aan die hele wêreld voordat die einde kom.

Hy gee veral aandag aan die apostel se woorde: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word” (2 Thess. 2:6). Wat is dit wat die teëstander, die verborgenheid van wetteloosheid, nog aan bande lê en “terughou”? Calvyn verklaar dit “dat die lig van die evangelie eers na die uithoeke van die wêreld geneem moet word voordat God aan Satan sy heerskappy op hierdie wyse sal gee.”

Rooms

In sy beroemde Regno Christi staan die Strasburgse hervormer, Bucer, hierdie siening ook voor. Ook ander hervormers, soos Bullinger en Ursinus, het soortgelyke verklarings. Dieselfde kan van die Engelse hervormers gesê word, soos Tyndale, Cranmer, Ridley, Latimer en Hooper. En hulle het die Roomse pous gesien as een van die antichriste wat ook “in hulle dag verskyn het”.

4. Moet die Antichris nog kom?🔗

Dit is in die Kerk dat die “mens van sonde” geopenbaar sal word, “die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:3, 4). Hy sal menigtes verlei “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie” (2:9-12). Volgens die Here se onderrig in Matt. 24:10-12 word ons gewaarsku dat daar ook in die kerk verval sal wees – die liefde van die meeste sal verkoel. Vandag, 500 jaar na die Reformasie van die sestiende eeu, kan ons weer van ’n grootskaalse deformasie praat. In dié mate dat die fondamente van die Christelike geloof bevraagteken en betwyfel word, selfs die inspirasie van die Skrif, die dood, opstanding en wederkoms van Christus.

Die apostel Paulus praat van die “mens van sonde” wat openbaar word. Baie antichriste het gekom en gegaan. So was dit in die verlede en so is dit vandag. Maar die Antichris is die kulminering van al die antichristelike magte en die finale Lasteraar, Leuenaar en Vervolger van die Godsvolk. Volgens die apostels Paulus en Johannes is die gees van wetteloosheid reeds aan die werk. Daar is teenwoordig reeds baie antichriste, net soos daar reeds in die tyd van die apostels baie antichriste was (1 Joh. 2:18b), maar daar kom ook nog ’n finale Antichris in onderskeiding van al die voorlopers (1 Joh. 2:18a). En dit is die verkondiging van die evangelie wat hom nog “teëhou”.

Te midde van stryd en die misleiding van valse leringe sal Christus egter steeds sy kerk vergader en bewaar. Hy regeer, en uiteindelik sal al sy vyande, en al die vyande van sy kerk, in die poel van vuur gewerp word. Intussen het ons die roeping om in die krag van sy Gees, met die swaard van Sy Woord, die antichristelike gees en leringe ook in ons eie dag te beveg en teë te staan. Ja, die misleiding sal toeneem en kulmineer in die koms van ’n finale Antichris. Daar wag nog veel stryd en verdrukking vir Gods volk voordat Christus op die wolke sal verskyn. Tog leef ons in ’n blye verwagting, want ons verwag ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde waar geregtigheid woon. Ons Here Jesus Christus sal as Koning heers tot in alle ewigheid (Openb. 11:15).

Laat ons intussen wakker en waaksaam wees, want ons leef reeds in die tyd van misleiding, en die gees van die Antichris is alreeds aan die werk. Maar laat ons mekaar ook bemoedig, want die Here sal die Antichris met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet maak. Laat ons te midde van die stryd mekaar met hierdie woorde opskerp en bemoedig.