2 bladsye.

Die Basiese Sieninge van die Erediens

verskillende kerke

In die byna twintig eeue se beoefening van die erediens en ver­staan daarvan, kan ons hoofsaaklik vyf basiese beskouinge van die erediens sien. In mindere of meerdere mate word 'n beroep op die Skrif gedoen vir die verskillende standpunte. Elke standpunt rus weer op 'n bepaalde teologie wat ook weer uit die Skrif afgelei word. Ons sien dus dat die verstaan en uitleg van die Skrif 'n belangrike rol speel. Verder dat dit beïnvloed word deur sekere sieninge wat in die praktyk gegroei het en waarop verskillende invloede ingewerk het. Hierin kom ook duidelik uit hoe die betrokke belyde­nis die siening van die erediens beïnvloed. Onmiskenbaar het die geskiedenis ook 'n groot invloed uitgeoefen.

1. Die Erediens Gesien as 'n Drama🔗

In die sowat sewe-en-twintig Oosters-Ortodokse Kerke is dit die kenmerkende siening van die erediens naamlik dat dit 'n drama is. Die hele erediens verloop in die vorm van 'n groot en indrukwekkende drama, waarin die hele verlossingsgeskiedenis, van die koms van Christus tot die weder­koms, afgespeel word. Dit word met veel seremonie en uitvoering en met veel piëteit opgevoer en elke keer op dieselfde wyse herhaal. Die gemeente se grootste taak is om dit by te woon en hier­die gebeure met die regte piëteit te aanskou waar dit vir hulle op­gedra word.

By hierdie dienste is daar seker ook ander kenmerke, maar tipe­rend en oorheersend is dit 'n indrukwekkende drama. Daar kom baie gegewens uit die Skrif, maar by hierdie siening het die geskie­denis uit 'n bepaalde tyd 'n geweldige stempel afgedruk.

2. Die Erediens Gesien as 'n Wet🔗

Hierdie siening van die erediens vind ons by die Roomse Katolieke Kerk. Hiervolgens verloop die hele erediens sodanig dat deur die voorbereidende handelinge en veral deur die instellingswoorde van die priesters die "wonder" gebeur dat die brood verander in die liggaam van Christus en die wyn in sy bloed. Dit alles word 'n offer waarin die offer van Chris­tus op onbloedige wyse herhaal word en word 'n offer wat die mens die Here aanbied. Hierdie verandering van die elemente, die trans­substansiasie, asook die offer wat gebring word, geskied wetmatig. Wanneer die liturgie op die regte wyse geskied, dan geskied dit wet­matig dat hierdie dinge gebeur.

Ons kan ook sê dat hier ander elemente na vore kom, maar hier­die wetmatigheid van die transsubstansiasie en die offer wat her­haal word, is die kenmerkende en oorheersende van die erediens. Vir sy siening van die erediens beroep die Roomse Kerk hom eweneens op die Skrif, maar ook op die tradisie, op dit wat in die loop van die eeue ontstaan en gegroei het. Vanuit die basiese siening word alles verder in en om die erediens uitgelê en ingerig.

3. Die Erediens as Ervaring en Belewing🔗

Hierdie siening van die erediens kry ons in verskillende toonaarde by die Pentakostalistiese‑ Piëtistiese- en Revivalgroepe. Die basiese siening van die erediens is dat dit die emosionele ervaring, die gevoelvolle belewing is waar­om alles draai. Hierdie ervaring en belewing word gesien as die kern van alles en elke handeling en elke woord word hierop afge­stem. Die ervaring en belewing word verwag van die Gees, maar daar het allerlei tegnieke ontwikkel om die ervaring en belewing te verkry. Dikwels is daar 'n sterk stroom van die gees van die mens. Alles word ondergeskik gemaak aan die geestelike klimaat, die at­mosfeer van "warmte" en "lewe".

Hier word voluit 'n beroep gedoen op die Skrif en dan met name op die werking van die Heilige Gees. Die vraag is altyd of die Persoon en werk van die Gees reg gesien word.

Pentakostalisties

4. Die Erediens as Denke en Handeling🔗

By verskillende sekularis­tiese en aktivistiese groepe kom 'n erediens voor wat ons kan tipeer as rede en handeling van die mens. Dit gaan veral daarom dat die mens alles beoordeel deur sy rede en dat sy rede die maatstaf is wat bepaal wat toegelaat word en wat nie. Dit is dienste wat die bestaan van God as 'n Persoon, en dit teenoor die mens en die skepping, misken en alles laat draai om die mens en hierdie aardse lewe. Ver­der moet die mens steeds in alles handel. Sy handelinge bepaal die sinvolheid van die dienste.

By hierdie rigting word soms na die Skrif verwys en sekere dele van die Skrif gebruik, maar die eintlike norm en bron van insig is die mens en sy kennis, die mens en sy werke, die mens en sy node. By hierdie rigting is daar ook van die ander elemente wat hierbo genoem is, maar wesentlik draai alles om die rede of denke en die handeling van die mens. Dit is uiters gevaarlik want dit is ten koste van die woorde en handelinge van God wat bepalend moet wees vir die rede en handelinge van die mens.

5. Die Erediens as 'n Gesprek🔗

In verskillende variasies vind ons hierdie basiese siening van die erediens by die verskillende vertak­kinge van die kerk van die Reformasie. Die gereformeerde siening van die erediens gaan basies hiervan uit dat alles wat in die erediens gebeur die vorm het as gesprek. Dit is 'n gesprek tussen God en sy volk. God spreek en sy volk antwoord en sy volk spreek en Hy antwoord. Dit is woord en weerwoord, maar tog so dat dit tegelyk uitloop op 'n ontmoeting tussen God en sy volk waarin Hy sy gawes aan hulle bemiddel; verder beteken die gesprek dat die hele be­staan van die gemeente daarby betrokke is en dat dit in die lewe voortgaan.

Daar is die sterkste skrifbewys vir hierdie siening van die ere­diens, soos later aangetoon sal word. Dit het ook 'n praktyk waarin dit uitgespel en uitgetoets is, maar die Skrif bly steeds die be­palende. Ook is daar van die bogenoemde elemente wat eweneens hierin inspeel en aan die gesprek sy veelsydige en omvattende be­tekenis gee.