4 bladsye.

Die Begin van die Erediens

'n Bepaalde Begin is Nodig🔗

Omdat die erediens die gesprek tussen die Here en sy volk is en dat deur die gesprek die wonderlike ontmoeting tussen die Here en sy gemeente plaasvind, is dit nodig dat dit op 'n verantwoorde wyse begin. Immers, dit raak nie enkelinge nie, maar die gemeente wat as geheel, korporatief, hierdie gesprek voer – daarom moet daar 'n duidelike en bekende begin wees. Dit is verder die gesprek met die Here wat in alles die inisiatief in die erediens neem en waar alles rus op sy genadewerk – daarom moet al reeds by die begin die aksent val op God-drieënig en op wat Hý gedoen het en in die erediens kan en wil doen. Soos wat die erediens teologies, van God uit, verstaan moet word, so moet ook die erediens teologies begin en verloop.

Die Begin van die Erediens Histories Besien🔗

Histories het die erediens op vier moontlike maniere begin:

  • Die erediens begin met die groet. Dit was die gebruik in die Vroeë Kerk. Die biskop groet die gemeente en hulle beantwoord die groet.

  • Die diens begin met die Skriflesing. Augustinus en andere vermeld dat die diens direk met die lees van die Bybel begin, waarop die preek gevolg het.

  • Die diens begin met die introïtus. Dit was en is nog die gebruiklike wyse waarop die erediens in die Roomse Kerk begin word. Dit geld ook van die Lutherse Kerke in 'n mate.

  • Die diens begin met die votum. Hierdie gebruik gaan terug op die liturgie van Basel, op Calvyn en in Nederland het die Sinode van Dordrecht van 1574 bepaal dat die erediens moet begin met die votum.

Die Keuse van die Votum🔗

Vir die moontlikheid om die diens te laat begin met die groet is daar veel voor te sê. Wanneer ons as mense byeenkom, dan groet ons eers mekaar. Dit sou baie gepas wees om dit in die erediens te doen. Hierdie groet kan egter geskied teenoor mekaar onderling voor die diens. En dit gaan ook nie om die groet van die predikant as sodanig waarop die gemeente as sodanig antwoord nie. Hierdie groet is die groet van die Here wat die liturg in sy Naam aan die gemeente mag oorbring. As die diens met hierdie laaste betekenis van die groet sou begin, is daar veel voor te sê. Immers vandag begin die Switsers-Duitse orde nog met die groet. Dit kan egter maklik afgelei en 'n gewone groet word tussen die liturg en die gemeente – 'n soort: "Goeie môre" wedersyds. Hier word dan verder nog die element van konstituering en die erkenning dat alles met God begin, gemis.

Die tweede moontlikheid waar die diens begin met die Skriflesing, is baie stomp. Die hele gesprek begin met een van sy hoogtepunte en die regte ingesteldheid en begin word gemis. So ontbreek ook belangrike elemente soos die skuldbelydenis en genadeverkondiging.

Oor die introïtus as begin van die erediens is reeds gehandel en dit is om genoemde redes afgewys.

Om die diens te laat begin met die votum, word gesteun deur die sterkste argumente. Dit laat naamlik direk by die begin van die diens uitkom dat alles begin by en met God en dat alles van Hom afhang en op Hom gerig is. Hierin kom ook uit dat die samekoms van die gemeente offisieel is en daarom gekonstitueer word. Hierop word nader ingegaan wanneer die betekenis van die votum bespreek word. Op voetspoor van die Calvinistiese erfenis het die Nederduitse Gereformeerde Kerk sedert die eerste Algemene Sinode in 1962 dit vir homself uitgemaak dat die diens begin met die votum. Dit beteken dat die diens inderdaad hiermee begin en dat daar nie getrag moet word om allerlei aanhangsels voor die votum aan die diens te brei nie. Alles voor die votum hoort nie tot die erediens nie. Dit mag daarom ook nie die indruk skep dat dit tog tot die erediens behoort nie.

Die Votum🔗

Herkoms van die Votum🔗

Die votum in die vorm van die sogenaamde adjutórium – Psalm 124:8: "Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het" – kom voor in die Roomse mis by die voorbereiding waar die volk geseën word met wywater. Dit kom ook voor as inleiding tot die persoonlike skuldbelydenis van die priester – die confiteor. In albei gevalle spreek die voorganger: "Adjutórium nostrum in nómine Dómini" ("Ons hulp is in die Naam van die Here"), waarop die gemeente antwoord met: "Qui fecit caelum et terram" ("wat hemel en aarde gemaak het'').

Die votum in trinitariese formule: "In nómine Patris, et Filii, et Spíritus Sancti. Amen" ("In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Amen"), staan aan die begin van die eerste vaste deel van die mis, die gebedsdeel.

Soos aangetoon, het die pronaus, wat sy plek het net na die lees van die evangelie in die mis, begin met die trinitariese formule, in Latyn en daarna herhaal in Duits.

Die liturgie van Basel van 1526, wat toegeskryf word aan Johannes Oecolampadius, begin die diens met die votum.

Die Duitssprekende gemeente van Straatsburg het in die orde van 1525 die diens laat begin met die trinitariese votum. Calvyn het die diens laat begin met die adjutorium. Hierin is hy deur die meeste Gereformeerde Kerke nagevolg. Vir Nederland is die adjutorium as begin van die diens vasgestel op die Sinode van Dordrecht, 1574. Vir die Nederduitse Gereformeerde Kerk is die votum vasgestel as begin van die diens deur die eerste Algemene Sinode, 1962.

'n Begin vir die Erediens🔗

Vir die begin van die erediens as die diepgrypende gesprek tussen die Here en sy gemeente en wat beteken die ontmoeting met Hom, moet op 'n paar vereistes gelet word:

  • Die belydenis van die diepe afhanklikheid en aanhanklikheid van die gemeente van die Here God. Om so 'n diens sinvol te kan hou, moet die gemeente hom vergewis en dit tot uitdrukking bring dat in alles en vir alles die gemeente afhanklik is van die Here. Daar word erken dat Hy alles begin en alles skenk en Hy alleen hierdie gesprek en hierdie ontmoeting moontlik maak.

  • Inroeping van die hulp en heil van God die – invokasie – hang ten nouste saam met bogenoemde en moet ook duidelik aan die begin van die diens uitkom. Die gemeente gee daarmee duidelik te kenne: alles wat ons doen, geskied alleen omdat die Here dit skenk en altyd weer moet skenk. Dit word bewustelik ingeroep vir die diens wat nou moet begin.

  • Toewyding – die gemeente bely nie alleen dat die Here die gesprek begin en moontlik maak nie, maar gee ook te kenne dat hy tot God se beskikking staan, sy wil wil doen en soek om aan Hom die eer te bring.

  • Konstituering – die verskillende gelowiges kom byeen om die Here te dien in die openbaar en daarom moet dit op een of ander manier uitgedruk word dat die gemeente tot "gemeente "saamgestel" of "gekonstitueer" word, soos 'n vergadering. A. Kuyper het hierdie aspek tot hoofsaak verhef by die votum. Die votum is vir hom die hamerslag van die voorsitter van 'n vergadering, wat daarmee aandui dat die vergadering nou wettiglik saamgestel is en kan begin.

  • Die sfeer van die gebed – die genoemde aspekte bring die gemeente in die sfeer van die gebed, waarin die grootheid en genade van God erken word, sy ontferminge en seën afgesmeek word en gewag word op sy spreke en handelinge.

  • 'n Woord van God self of 'n belofte van Hom gaan dus voorop by die begin van die diens. Hierdie woord van God moet soveel moontlik van genoemde aspekte uitdruk. Soos die gemeente leef van God se Naam, dus van sy selfopenbaring as die aktief aanwesige God, so leef ook die hele erediens van begin tot einde van hierdie Naam. Daarvan is God se volk afhanklik. Daardeur bely die gemeente dat God Aktief teenwoordig is onder sy vergaderde gemeente om te help, te verlos, en te sorg dat hulle die volle rykdom van sy koninkryk mag beleef. "We stellen ons voor het aangezicht Gods, naar Wie we willen gaan luisteren, Dien we willen bidden ook ons te helpen met Zijn actieve aanwezigheid" (G. van Rongen). Voorop gaan God se Naam. Alles wat gaan volg, geskied in hierdie Naam. Daarin lê die opdrag en die volmag van die diens (G. van der Leeuw).

Om teologiese redes moet die diens dus begin met 'n Woord van God, met die noem van Sy Naam, deur die gedagtes op Hom te rig en dat die gemeente hulle voor Sý aangesig kom stel. In alles moet sy teenwoordigheid en werksaamheid blyk. Vanaf die begin moet duidelik blyk dat dit die magtige Naam van die Here is wat die gemeente byeenroep en hierdie byeenkoms sy ware karakter en sin gee. So 'n begin staan teenoor 'n vrysinnige of humanistiese begin waar die mens en sy woord in die middelpunt staan. Dit staan ook teenoor allerlei pogings om die diens te laat begin by die mens se antwoord op die spreke van God.

Die Votum as Begin vir die Erediens🔗

Gemeet aan die aspekte vir die begin van die erediens hierbo genoem, blyk dat die votum uiters geskik is om die erediens mee te begin.

Waar die votum 'n plek diep in die Roomse mis verkry het, staan dit by die Gereformeerde erediens aan die begin. Dit gaan aan alles wat in die erediens gedoen en gesê word, vooraf. Die woord votum beteken: "gelofte", "wens", "verlange".

As begin van die diens moet die votum dus die volgende momente hê:

  • Die belydenis van die afhanklikheid en aanhanklikheid van die gemeente in die erediens, vir alles van die Here.

  • Die invokasie of inroeping van die hulp en heil van God.

  • Die toewyding van die gemeente aan die Here.

  • Die konstituering van die vergadering van die gemeente en daarmee saam die verkondiging of proklamasie dat alles geskied in die Naam van die Drie-enige God. Dit is die proklamasie dat die hele erediens van die begin af staan "in die ligglans van die Naam van die Drie-enige God" (H. Jonker).

  • Die sfeer van die gebed.

As belangrikste votum kom in aanmerking die adjutorium: "Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het" (Psalm 124:8), wat goedskiks aangevul kan word met "wat trou bly tot in ewigheid" (Psalm 146:6) en met "wat nie laat vaar die werke van sy hande" (Psalm 138:8). Hier kom die belydenis, die toewyding en die sfeer, van die gebed sterker na vore. "Ze zijn een belijdenis in de sfeer van het gebed" (A. F. N. Lekkerkerker).

Hiernaas is die ander ou votum, naamlik die trinitariese formule: "In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees". Hierin kom veral tot uitdrukking die belydenis en die proklamasie, die konstituering.

'n Votum moet sover moontlik uit die Skrif self kom of die sentrale woord van die Skrif op 'n pakkende wyse tot uitdrukking bring soos die trinitariese votum (vgl. Kolossense 3:17). Verder moet daarmee gehou word aan die vasgestelde vorm en mag daar dus nie allerlei uitbreidinge en versieringe kom nie. Die groot beginsel moet steeds wees 'n vaste orde met die maksimum afwisseling, maar dat die afwisseling nie willekeurig gekies moet word nie. Al die verskillende moontlikhede wat reg laat geskied aan die votum, moet sorgvuldig gekies en vasgestel en net dit moet gebruik word.

Vota wat woordeliks uit die Skrif geneem is:

  • "Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat naderkom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis" (Psalm 65:5).

  • "Kom laat ons aanbid en neerbuk; laat ons kniel voor die Here wat ons gemaak het. Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand" (Psalm 95:6, 7a).

  • "Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat die hemel en aarde gemaak het" (Psalm 121:1, 2).

Vota met 'n skrifteks as basis:

  • "Ons begin, ons voortsetting en ons voleinding is in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees".

  • "Uit U, deur U en tot U is alle dinge. Aan U kom toe die heerlikheid tot in ewigheid" (Romeine 11:36).

  • "Here U is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige" (Openbaring 1:8).

Omdat die votum in die sfeer van die gebed geskied, is dit gepas om die oë te sluit. Dit behoort met 'n amen afgesluit te word.