3 bladsye.

Die Begin van die Liturgie

Laat ons maar by die begin begin. Ten minste… by die amptelike begin. Nie-amptelik behoort dit vroeër as half-tien of vyf-uur te wees, naamlik by die huis. Saterdagaand of Sondagoggend voor die erediens. Liturgie begin al by u gebed voor die erediens. Ons noem dit persoonlik liturgie. Die persoonlike liturgie, hoewel dit van groot belang is, val egter buite ons bespreking.

Die Handdruk🔗

Die begin dus. Die orrel swyg, die rumoer in die kerk raak weg en die mannebroeders kom binne. Hulle maak ʼn draai na links, behalwe die laaste twee wat regs draai. Die voorste van die twee, die diensdoende ouderling, draai om en gee die voorganger ʼn handdruk. Laasgenoemde beklim die preekstoel en die diensdoende ouderling voeg hom by die res van die kerkraad. As kind het ek my altyd afgevra of die ouderling dalk saggies iets vir die dominee sê, terwyl hy hom ʼn hand gee: “Sterkte, dominee,” of so iets.

Hoekom die handdruk? Amptelik is daar nêrens iets vasgelê dat die dominee ’n handdruk moet kry nie. In die Bybel word daar nie oor gepraat nie en ook die kerkorde en die belydenis gee geen voorskrif hieroor nie. Dit het ʼn gewoonte geword, waarvan die betekenis later ingevul is. Die oorsprong blyk te wees in die tyd van die hagepreke, aldus ds. Joh. Francke in ’n artikel in die tydskrif Dienst. In hierdie tyd het die mense êrens in die geheim bymekaar gekom. Die organiseerders van so ʼn diens het ’n voorganger uitgenooi. Nie elke "gemeentelid" het hierdie voorganger geken nie. Daarom het een van die organiseerders hom ’n handdruk gegee, waarmee hy wil sê: "Dit is hierdie man, alles is reg."

Vandag het die handdruk ’n wyer betekenis wat egter nêrens kerklik vasgestel is nie: die kerkraad, as "regerende orgaan" gee die voorganger die mandaat om die tug uit te oefen, om die gemeente te vertroos, te vermaan, te leer en op te skerp. Al hierdie take kry hy op daardie oomblik om dit uit te voer by die voorgaan in die diens van die Woord en die gebed. Hierdie handdruk is dus nie net ’n soort van "sterkte" of die simboliese begin van die erediens nie. Hier word ʼn verantwoordelike taak op die skouers van die predikant gelê.

Ons het by die begin begin, maar ek moet tegelykertyd ook iets sê oor die einde. Aan die einde van die diens kry die predikant weer ʼn handdruk. Of eintlik is dit andersom. Die diensdoende ouderling kry ʼn handdruk van die predikant. Daarmee gee hy die taak weer terug aan die hele kerkraad. ʼn Mooi begin en ʼn pragtige einde van die erediens. Die handdruk beteken meer as net ʼn gebaar. Daarin kan u die sorg van die Here vir sy Kerk ontdek. Sorg vir sy gemeente op aarde. Dit het Hy toevertrou aan mense soos u en ek. Mense wat beloof het dat hulle na die gemeente sal omsien, wat daarop sal let dat die kudde geen gevaar loop nie.

Hulle het baie take: bewaak, beskerm, meelewe, vermaan, opskerp, leer. En al die take word deur die handdruk aan die begin van die diens, vir die een-en-‘n-halfuur, op die skouers van een man geplaas. Ons mag dit gerus ʼn swaar taak noem. U moet baie bid vir die man. Hy het dit regtig nodig.

Mededelings🔗

Die dominee beklim die preekstoel en lees – so gaan dit in baie kerke – ʼn paar mededelings van die kerkraad voor. Daarna kom die votum en seëngroet. Daar word verskillend gedink oor die feitlike begin van die erediens.

Daar is mense wat meen dat die diens begin by die handdruk. Ander dink eerder dat dit begin wanneer die votum uitgespreek word. Dit lyk vir my logies en ook liturgies meer korrek om die begin van die erediens te lê by die votum. Dit is die vasstelling dat ons in ons hele lewe en in die besonder in die erediens, afhanklik is van ons hemelse Vader. Daarna groet die Here sy gemeente, en daarmee is die ontmoeting ʼn feit. Om dit duidelik te maak, sou dit miskien aanbeveel kon word om die mededelings van die kerkraad eers te lees en om die predikant daarna met ʼn handdruk die preekstoel op te laat gaan, waarna die votum en seëngroet volg.

Dit sou, aan die ander kant, dalk interessant wees om daaroor te dink of die mededelings ʼn plek in die erediens moet hê. Dit lyk dalk na ʼn vraag van puur organisatoriese aard, maar daar is meer agter. Word die karakter van die erediens ook bepaal deur die ontmoeting van mekaar as gemeentelede? Of dra die erediens net die karakter van die ontmoeting van God met sy volk en dus nie van die volk onderling nie? As ek dink aan die begrip "gemeenskap van die heiliges" wat in die erediens duidelik word in die konkrete samekoms, dink ek dat ons gerus mag sê dat ook die onderlinge ontmoeting goeie aandag mag kry. Een ding is wel duidelik en dit is dat mededelings oor gebeurtenisse in die gemeente soos siekte of geboorte nie in die gebed tuis hoort nie. Dit is beter om voor die voorbede, die gemeente te vertel waarvoor daar aandag gevra sal word in die gebed.

Votum en Seëngroet🔗

Elke orde van diens begin met die votum en seëngroet. Die voorganger sê dikwels: "Verhef u harte tot God." Hy bedoel natuurlik nie daarmee dat ons moet gaan staan nie, dan sou die "verhef" nie meer as 40 tot 50 cm inhou nie. Dit sal daarom beter wees as ’n predikant dit eers sê wanneer die gemeente alreeds staan. Dit is goed om in die erediens te besef wat dit beteken om ons "harte tot God te verhef": ons mag voor die troon van God gaan staan, ons mag as klein mensies sonder krag en invloed, in gedagtes na die Almagtige gaan. As ons dit besef, dan soek ons nie solank die volgende psalm in ons psalmboek op nie. Voor die troon van die Almagtige gaan jy nie staan en rondblaai nie.

Votum is ʼn Latynse woord. Dit beteken 'gelofte' en is afkomstig van die eerste deel van die gebed wat die priester uitgespreek het. Die gebed het begin met die trinitariese formule: "In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees." In die kerklike gebruik het dit later meer ’n belydenis geword. In navolging van Calvyn het die kerke na die Reformasie die duidelike belydenis uit Psalm 124 gebruik:

 Ons hulp is in die Naam van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.

In sommige ou ordes van diens is die votum soms bede genoem: ʼn belydende gebed, waarin die gemeente haar vertroue op die guns van die Here uitspreek. Dit is op sigself baie mooi, maar oorspronklik was dit nie die bedoeling nie.

Na die votum volg die seëngroet. God, die Almagtige, groet sy gemeente. Weereens: dit is goed om te besef wat hier eintlik plaasvind! Nie soos wat ons dit soms deurgee: "O ja, die en die stuur groete" nie. Nee, hier word jy gegroet deur Iemand wat jou volmaak liefhet, wat jou gemaak het. Daar word soms gevra hoekom die predikant by die seëngroet een hand en by die seën aan die einde twee hande ophef. Die woordkeuse dui dit al aan. Aan die begin is dit ʼn groet en aan die einde van die diens is dit ʼn seën.

As afsluiting nog een ding: ons sien dat daar tydens die seën verskillende houdings in ag geneem word. Sommige gemeentelede sluit hul oë sowel by die votum as by die groet en die seën. Dit is volgens my nie die bedoeling nie. Ons maak ons oë toe by ʼn gebed, maar daarvan is hier, ook by die votum in die betekenis van gelofte/ belydenis, van oorsprong nie sprake nie. Veral by die seën aan die einde van die diens, is dit belangrik om met al jou sintuie "daarby" te wees. Want met hierdie seën gaan ons weer huis toe, om daar met die inset van "ons hele verstand en al ons kragte" die Here lief te hê en Hom te dien.