7 bladsye.

Die Bevestiging van die Huwelik

Wat is 'n huwelik en hoe moet dit gesluit word? Ons kom daagliks in aanraking met mense wat getroud is en seker almal was al een of ander tyd op 'n troue. Daarby kan 'n mens self by 'n huwelik betrokke wees — van jou eie of van een van jou familielede.

Dit gaan ook nie maar of iemand getroud is en of 'n wettige huwe­lik gesluit word nie, maar of dit 'n regte huwelik is in die oë van God. Die feit dat 'n mens glo en as Christen lewe, het ook gevolge vir die huwelik en vir die sluiting daarvan. Die Christen vra in die eerste plek wat God met die huwelik bedoel en hoe dit volgens die Bybel gesluit moet word. 'n "Mooi" huwelik vir 'n Christen is nie dieselfde as 'n "mooi" huwelik vir die ongelowige nie. Ook hier is dit 'n geleentheid om te bely watter verskil die geloof in Christus werklik meebring. Hoe moet die huwelik dan gesien en in die kerk gesluit word vanuit die gesigspunt van die Bybel?

Verkeerde Opvattings van die Huweliksdiens🔗

Eers moet ons let op wat die huweliksdiens nie is nie.

Dit is nie maar slegs 'n mooi gebruik nie. Vele hou nou eenmaal van die huwelik in die kerk omdat dit so 'n "mooi" gebruik is. Dit pas nou so mooi, want my ouers en grootouers het ook in die kerk getrou! So 'n opvatting is egter 'n uitholling van 'n belangrike gebeurtenis, want die huwelik in die kerk is veel meer as net 'n mooi gebruik.

Dit gee status aan persone. Bewus of onbewus leef dit in die harte van vele wat graag in die kerk wil trou dat dit 'n geleentheid is waar duidelik moet uitkom wat so iemand se status is. 'n Groot en swierige troue in die kerk, met baie gaste, opvallende klere en allerlei bykomstighede moet aan die persone wat trou en hulle familie status gee. Hoe indrukwekkender die huwelik, hoe groter status. Dit is egter iets waarteen die Christen ernstig moet waak, want nie wat die mense dink en sê, is bepalend nie, maar wat God dink en sê.

Dit is 'n geleentheid om te pronk. Hierdie verkeerde opvatting is nou verwant met die vorige en dit kom ook so algemeen voor. Die huweliksbevestiging is die geleentheid vir vertoon en om te pronk. Die bruid en haar kleredrag en ook haar gevolg moet sodanig wees dat mense daardeur beïndruk word, dat ander daardeur oortref word. Dikwels leef dit ook in die harte van die ouers. Met so 'n vertoon word getrag om die familie en bure en vriende te oortref. Die grootte van die onthaal, die aantal gaste, die blomme en versiering in die kerk en dikwels ook die predikant wat gevra word vir die bevestiging, staan in diens van hierdie sug tot vertoon. Dit word nog verhoog deur die ongewone musiek en kleredrag by die geleentheid. So iets mag nooit by Christene gevind word nie.

Dit is 'n soort godsdienstigheid. By vele leef die bygelowigheid dat 'n huwelik wat nie in die kerk voltrek word nie, nie "gelukkig" sal wees nie. Nou word dit wel gedoen, nie uit oortuiging of in de eerlike soeke om die seën van God te verkry nie, maar dat die uiterlike seremonie voldoende is. Daarmee moet God as't ware tevrede gestel word en moet die gewete gerusgestel word: aan die uiterlike vereistes is voldoen. So 'n kerklike huweliksbevestiging word dan 'n soort gelukbringertjie en moet die indruk van godsdienstigheid gee. Dit is egter so ver verwyderd van die ware en gelowige soek na die wil en seën van God.

Die Wese van die Huwelik🔗

Wat is nou die kern, die wese van die huwelik? Is dit dat twee mense verlief is op mekaar, of dat hulle dit so goed met mekaar bedoel?

Die huwelik begin op 'n ander punt. Dit begin by God. Hy is die Skepper en het die mens as twee geslagte geskape. Hulle is totaal verskillend, nie slegs wat die liggaamsbou en die geslagtelike betref nie, maar ook en veral wat die innerlike, die gemoed, die geaardheid, die aanleg en die wyse van reaksie betref. Tog is dit ook weer so dat God die twee verskillende geslagte geskape het dat hulle op mekaar betrokke is en mekaar aanvul en die ware aard van elkeen tot vervulling bring. Dit raak ook weer nie slegs die uiterlike en geslagtelike nie, maar die totale mens met al die baie fasette van die persoonlikheid. God voeg die twee geslagte byeen.

Dit geskied nie los van die mens se wil en begeerte nie, maar juis ten nouste daarmee verbonde. Twee mense wat deur Hom gemaak is, wat aan Hom verbind is, lei Hy nou dat hulle by mekaar uitkom en mekaar liefkry. Hierdie wedersydse liefde moet slegs die uitvloeisel wees van die afsonderlike liefde van elkeen teenoor God.

Die sonde het egter gekom en alles in die wortel bederf. Die verhouding tot God is verbreek en daarmee ook die verhouding tot die medemens en met name tot die huweliksmaat. Daar het 'n verwording en verwoesting ingetree op al die terreine van die liefdes- en geslagtelike lewe. Dit het die leed en ellende, die sonde en ongelukkigheid tot gevolg gehad.

Christus het op God se tyd na die aarde gekom, die leed en ellende en sonde op Hom geneem en daarvoor aan die kruis gesterf. Deur in Hom te glo word die gebroke verhouding tot God herstel en ook die gebroke verhouding tot die medemens. Hy werp sy lig op die gebroke terrein van die huwelikslewe. Dit het groot betekenis vir die huwelik. Egter, die Christen is wel 'n verloste, is 'n nuwe mens, maar hy bly swak en bly 'n sondaar. Die verwoestende werking van die sonde bly 'n wesentlike bedreiging. Daarom is dit so onmis­baar om juis in die huwelik onvoorwaardelik vas te hou aan Christus.

Volgens die Bybel is die huwelik 'n lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou. Dit is die vervulling en voltooiing van die liefde van die een teenoor die ander. Die huwelik is bedoel as 'n liefdesverhouding waarin die twee persone ten diepste een word en daarin vir mekaar in die volle sin van die woord 'n "hulp" is. Hier­die omvattende eenwording is die ware vervulling van die man- en vrou-wees. Dit is ook die Godgegewe weg waarlangs die geslags­lewe sy vervulling vind. Die liefdesverhouding is ook bestem tot die ontplooiing in die gesin, waar kinders uit hierdie blywende liefdesver­houding voortkom. Die huwelik het ook ten doel die omvattende dien van God en van die naaste. Steeds bly God die middelpunt van hierdie verhouding. In so verre as dit waar is, is dit 'n gelukkige verhouding.

Voorbereiding vir die Huwelik🔗

Die huwelik begin nie eers die dag as die bruidspaar die kerk binne stap nie. Ook nie wanneer die voorbereidings vir die dag begin tref word nie. Dit begin veel eerder.

Eintlik begin die huwelik in ons hele verhouding tot God en tot die teenoorgestelde geslag. Dit begin daar waar ons leer om in alles na God te vra en in die liefdes- en vriendskapsverhoudings in alles die reinheid en kuisheid te bewaar, om die verhoudings rein en suiwer te hou. Dit begin waar God se bedoeling met die huwelik en met ons liefdes- en geslagtelike-lewe verstaan en gehoorsaam word; waar geleer word om selfbeheersing te beoefen en God se grense te eerbiedig. 'n Onreine lewe en allerlei ongebondenhede ondergrawe die fonda­ment van 'n toekomstige huwelik.

Die engere voorbereiding vir die huwelik vind plaas in die tyd gedurende welke daar 'n verhouding bestaan en veral waar dit uitgroei tot 'n verlowing. Hierdie tyd is bedoel om seker te maak van die ander se liefde en van die eie liefde; om mekaar en mekaar se besondere geaardhede en omstandighede deeglik te leer ken. 'n Gebrek aan deeglike kennis van die ander persoon lei gewoonlik tot spanning en ongelukkigheid. Die bedoeling van die tyd van kennismaking in omvattende sin, is om seker te maak of die twee persone inderdaad bymekaar pas. Soveel ongelukkige verhoudings en huwe­like is die gevolg daarvan dat twee mense wat nie bymekaar pas nie, tog saamgegooi word. Dit is nie genoeg om te sê dat hulle mekaar lief het nie. Ernstige gebrek aan aanpassing laat ook die liefde verskrompel en oorgaan in haat.

In hierdie tyd van kennismaking is daar egter 'n grens waaroorheen nie gegaan mag word nie. Dit is naamlik die geslagtelike intimiteit. Dit is bedoel vir die huwelik self. Daarom stel die tyd van voorbereiding vir die huwelik sulke hoë eise aan selfbeheersing en aan respektering van die ander. Dit is 'n oortreding en sonde voor God om voor die huwelik die vrugte van die huwelik te wil geniet. Dit is egter ook 'n groot onverstandigheid, want dit bevredig nooit werklik nie omdat dit met vrees en skuld­gevoelens gepaard gaan; dit bring mee dat die respek vir die self en vir die ander verloor word; dat sulke persone sodanig gekompromit­teer word dat hulle na so 'n oortreding nie meer objektief teenoor so 'n verhouding kan staan nie; dit rig groot geestelike skade aan. Dit alles nog afgesien van die gevaar wat 'n moontlike swangerskap uit so 'n verhouding tot gevolg kan hê. In so 'n geval is die ellende veel erger.

Alles moet in werking gestel word om so verstandig en volwasse as moontlik die belangrike keuse te doen. Daar moet seker gemaak word van die wedersydse liefde, van die aanpasbaarheid by mekaar, van die goeie gesindheid van die ouers en familie wedersyds. Die hulp en raad van 'n kundige buitestaander kan soveel beteken. Geen ding wat die keuse belemmer, mag toegelaat word nie. Daar moet veral gevra word na die wil van God in so 'n verhouding. 'n Huwelik tussen 'n gelowige en 'n ongelowige is verkeerd. Seker net so belang­rik as die huwelik self is die regte huwelikskeuse. Dit is iets wat oor ons hart en siel gaan, wat alles van ons aan eerlikheid en offerbereid­heid vereis, wat in geduldige wag van God afgebid moet word, wat met die grootste verantwoordelikheid gedoen moet word.

Dus waar twee persone in die kerk hulle huwelik wil laat be­vestig, daar is reeds die grootste deel van die fondament van die huwelik gelê. Om dit eers op die dag van die bevestiging te wil regmaak as die fondament daarvan swak is, is dikwels al te laat. Die kerklike bevestiging van die huwelik is die kroon van die hele lang pad wat daaraan voorafgaan. Waar die voorafgaande swak of verkeerd is, sal die kerklike huweliksbevestiging ook in die gedrang kom. Waar dit egter sterk en gesond is, daar is die kerklike beves­tiging sinvol en gaan daarvan 'n groot seën uit.

Die Sluiting van die Huwelik🔗

In die Skrif word duidelik aangegee wat die huwelik is en hoe dit volgens Gods wil moet verloop. Daar word egter geen voorskrif gegee van hoe die huwelik aangegaan of voltrek moet word nie. Die Christene in die Nuwe Testament het blykbaar die huwelik gesluit volgens die gebruik van die Jode, Grieke of Romeine. Dit was aller­eers ʼn aangeleentheid van 'n aantal families en is deurgaans gesluit in die kring van hierdie families.

By die Jode het die priester nie meegewerk by die huweliksluiting nie en daar is ook nie offers gebring nie.

By die Romeine, onder wie se heerskappy die kerk vir lank moes leef, was die basis vir die sluiting van 'n regsgeldige huwelik die mutuus consensus, die wedersydse toestemming van die twee persone. Daarby was die huwelik omring deur allerlei godsdienstige handelinge, soos die raadpleging van die gode, die bring van offers, die hou van die maaltyd. Daaraan het meegewerk die priesters, die getuies en die familie. Die kerk van die eerste eeue het die Romeinse reg aanvaar dat die sluiting van die huwelik die wedersydse toestemming is. Daaromheen was allerlei huweliksgebruike, wat egter nie as nood­saaklik vir 'n egte huwelik beskou is nie.

Heel vroeg in die Christelike Kerk lees ons egter van die element van die kerklike goedkeuring van die huwelik. Ignatius sê naamlik dat dit passend is dat diegene wat trou, hulle vereniging aangaan met die toestem­ming van die biskop sodat hulle huwelik die Here waardig en nie volgens begeerte sal wees nie. 'n Huwelik met Jode, heidene of ketters word oor die algemeen afgekeur. Deurgaans ook die van geskeidenes. Later vind ons aanduidings dat dit die gewoonte van die Christene was om toestemming vir hulle huwelik te vra van die gemeente en ampsdraers. Daarna vind daar 'n verbinding plaas deur die gemeente.

'n Inseëning van die huwelik as kerklike akte staan vas in die kerk van die Ooste en sedert die vierde eeu ook vir die Weste. In die Roomse kerk het die kerklike inseëning van die huwelik ontwikkel tot die bruidsmis ('n soort diens as goddelike bevestiging). Die eintlike sluiting van die huwelik was die wedersydse toestemming, wat beskou is as 'n aangeleentheid van die wêreldlike reg.

By die Germane het by die bevestiging of sluiting van die huwelik ook hierdie belangrike element gekom: die huwelik is beskou as meer as die verbond tussen twee mense, dit is die ineenvlegting van gesinne en families en waarby die stamverband ook ter sprake kom. Hier kom die medeseggenskap van die staat ter sprake. Die huwelik het gebly 'n wêreldlike saak, waarby die priester opgetree het as die getuie wat die twee "saamgevoeg" het. Dikwels het die huwelik voor die deure van die kerk plaasgevind. Daarna het die kerkdiens gevolg wat gegeld het as 'n inseëning daarvan. Die huwelik het dus twee aspekte gehad: die sluiting van die huwelik as 'n aangeleentheid van die staat en die inseëning as 'n kerklike aangeleentheid.

In die Reformasie het hierdie twee aspekte al meer aan mekaar verbonde geraak, sodat in die klassieke gereformeerde huweliksformulier, wat ons ook nog gebruik, en wat uit die Frans kom, die huweliksluiting en die huweliksinseëning in een akte in die kerkdiens in die kerkgebou plaasvind.

In Nederland kom daar onder die Franse oorheersing die voor­skrif dat alle huwelike burgerlik gesluit moet word. Vandaar kom dan feitlik die "dubbele" huwelik. Eers word die huwelik gesluit voor die amptenare van die staat, waarna die persone na die kerk kom vir die kerklike inseëning van die huwelik – vir diegene wat dit so begeer.

Ons het by ons nog die gebruik dat albei aspekte van die huwe­lik, naamlik die sluiting en die inseëning saamval en deur die predi­kant in die kerkdiens in die kerk verrig word.

Watter elemente het die huweliksdiens?

  1. Die wedersydse toestemming. Vanaf die tyd van die Romeine geld dit nog steeds as die basis van die huwelik, as die absolute minimum. Bybels gesien is die mutuus consensus maar die weer­spieëling van die verkiesende handeling van God wat hierdie man en hierdie vrou na mekaar toe bring en verenig en aan mekaar werklik eers man en vrou laat word. Die keuse van God word weer­spieël en deurgeset in die keuse van die mens.

  2. 'n Familie-aangeleentheid. Die huweliksluiting is sedert Bybelse tye 'n aangeleentheid van die betrokke families. Dit is 'n verarming as dit al meer die saak van twee persone word. Hulle is immers met soveel bande vervleg met die families en moet in hierdie verbande leef. Die betrokke families moet ten volle erken word in die huweliksluiting.

  3. 'n Openbare aangeleentheid. Die huweliksluiting is 'n daad wat in die openbaar plaasvind. Dit het die karakter van openbaar­heid. Alle eeue deur het die kerk nog steeds die geheime huwelik bestry. Ook deur die staat is dit bestry. Twee persone kan wel aan mekaar oor en oor hulle wedersydse toestemming gee, maar as dit nie in die openbaar, in teenwoordigheid van getuies geskied nie, is dit nie 'n regsgeldige huwelik nie, en kan die kerk dit nie inseën nie. In die kerklike huweliksluiting kom die openbare karakter van die huwe­lik juis duidelik uit.

  4. 'n Aangeleentheid van die staat. Die huwelik het implikasies vir die samelewing, vir die veiligheid en sorg van die kinders, vir die voortbestaan van die staat, vir die sosiale en ekonomiese posisie van die gehudes. 'n Huwelik het 'n menigte regsimplikasies. Daarom is dit gebiedend noodsaaklik dat die staat alle maatreëls sal tref vir die behoorlike sluiting van die huwelik en vir die beskerming daarvan. Die staat beskik oor die mag om huwelike binne die verbode grade van bloedverwantskap asook huwelike van persone wat reeds getroud is, te verhinder.

  5. 'n Kerklike aangeleentheid. Hoewel die Bybel nie spesifiek die wyse van die sluiting van die huwelik voorskryf nie, lê dit in die aard van die huwelik as 'n instelling van God en waaraan Hy soveel seëninge verbind asook voorskrifte daarvoor gee, dat die kerk daarmee te make sal hê. Die geloof het implikasies ook vir die persoon wat gekies word om mee saam te leef. Die huwelik raak die kuisheid van die lidmate; raak die voortbestaan van die kerk, dit raak die heiligheid van die liggaam van Christus. Dit het te make met die vrede en harmonie in die saamleef van die twee geslagte op die Godgewilde wyse. Die kerk het die Woord van God wat sy lig moet werp ook op hierdie terrein van die lewe. Dit is die draer van die seën van die Here. Die huwelik word nie geheilig deur die kerklike inseëning daarvan nie, maar deur die kerklike inseëning word die heiligheid van die huwelik erken en word die gemeente daaraan herinner. Die huwelik kan wel, maar mag nie buite die kerk bestaan nie. Die kerk gee aan die huwe­lik sy plek nie in die eerste instansie in die staat of in die familie of in die persoonlike verhoudings nie, maar voor die aangesig van God. Die diepste grond van die huwelik is nie die liefde van die trouendes vir mekaar nie, maar die liefde van God tot die man en die vrou. Geen ordening van die lewe word soseer in verhouding gestel tot die Heer as juis die huwelik nie. Daaroor word gespreek op 'n besondere wyse as die huwelik as afbeelding van die verhouding van Christus tot sy kerk (Efesiërs 5).

Waar die staat moet sorg dat elke huwelik behoorlik gesluit word, daar erken die kerk elke huwelik wat so gesluit is. Hy beoordeel egter selfstandig of so 'n huwelik ook kerklik bevestig of ingeseën mag word. Of die bevestiging en inseëning van die huwelik, soos by ons, tegelykertyd in die kerk plaasvind, en of die bevestiging en inseëning deur die staat en kerk respektieflik gedoen word, soos in sommige lande die geval is, daar moet getrag word om al die genoemde ele­mente tot hulle reg te laat kom.

Betekenis van die Huweliksdiens🔗

Die geskiedenis leer dat die kerk deur die lang eeue van sy bestaan deurgaans op een of ander manier meegewerk het aan die totstandkoming van die huwelik van sy lidmate.

  1. 'n Kerkdiens. Die bevestiging en inseëning van die huwelik in die kerk moet die karakter dra van 'n diens, 'n kerkdiens. Nie die mens of sy belange of sy verheerliking staan in die middelpunt nie, maar wel die Woord van God en God self en die eer en verheerliking van Hom. Dit verander die hele opset en inkleding van die diens. Dit gaan om die ontmoeting van die mens, en hierdie twee persone in die besonder, met God en die gesprek met Hom. Hierin deel Hy sy gawes uit en lê Hy seën op hulle. Hulle verbind hulle aan Hom en voor sy aangesig aanmekaar.

  2. Verkondiging van die Woord van God. Die huweliksdiens beteken voor alles dat die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus aan die gemeente en aan hierdie twee persone wat in die huwelik bevestig word, sentraal staan. Die beloftes en genade van God, maar ook sy vermaninge en bestraffinge moet aan die gemeente en heel konkreet aan die trouendes voorgehou word. Die verkondiging laat veral sien die bedoeling van God met die huwelik, die houding wat Hy eis van die een teenoor die ander, die beloftes wat Hy aan 'n gehoorsame lewe verbind en sy seën wat Hy op die huwelik lê. Die hele huweliksdiens dra die karakter van verkondiging van die evangelie en die kerklike handeling bring 'n besluit van twee van sy lidmate voor die aangesig van God en maak dit openbaar. Gods Woord betuig dat God beslag lê op die ganse lewe van twee mense wat onder sy leiding so 'n vêrreikende besluit geneem het.

  3. Die troubelofte. Belangrik ook in die huweliksdiens is die openlike belydenis van die aanvaarding van die ander as die lewens­lange huweliksmaat en die duidelike betuiging van die huwelikstrou teenoor die ander.

    In die huweliksdiens word die wedersydse ja-woord, die wedersydse toestemming, in die teenwoordigheid van die gemeente herhaal en "bevestig". Hier word bely en bekendgemaak voor die gemeente, wat hulle reeds lank vantevore voor God gedoen het.

    Hiervan is die gemeente die getuie en die klankbodem. Hulle verkry so ook 'n roeping om te help dat hierdie belofte van trou nagekom word en het 'n taak om op te tree waar hulle bemerk dat dit nie nagekom word nie.

  4. Die gebed. Waar twee swak mense so 'n geweldige besluit geneem het en dit in die openbaar voor die aangesig van God bevestig, daar het hulle die besondere behoefte aan die bystand en genade van God. Deur die prediking word betuig dat God so 'n eerlike besluit wat voor sy aangesig biddend geneem is, wil bevestig. Die trouendes kry die versekering van Gods welbehae en sy genadige gemeenskap. Dit bring mee die vrymoedigheid om die voorreg van die gebed tot sy volle reg te laat kom. Deur die gebed word alles in die hand van God gegee en van Hom die sorg en bewaring vir elke dag en vir die toekoms afgesmeek. Die gebed van die gemeente weef die trouendes met die beloftes van God saam, sodat hulle altyd daar­van bewus kan en moet wees dat God met hulle saamgaan. Dit bring die sware eise van die huwelik in ons moderne en gejaagde lewe voor die genadetroon van God. Van Hom word alles verwag. Die gebed waarmee die gemeente hierdie twee mense omring, verlewendig die hoop op God en gee die troos van Sy bystand.

  5. Die seën. Die huweliksdiens bring ook mee die geleentheid om Gods seën op die gemeente en op die trouendes in die besonder te lê. Dit gaan om die toesegging van die genadige nabyheid van God. Dit is die toesegging en betuiging van sy kant dat Hy hierdie gevraagde genade en bystand inderdaad wil verleen, dat hulle daarop met alle sekerheid kan reken. Hy verleen ook nie slegs sy genade en hulp nie, maar gaan werklik met die getroudes wat op Hom ver­trou, mee. Die seën van die Here beteken dat God onder alles meegaan en dit bring die groot verskil. So gaan twee mense wie se huwelik in die kerk bevestig is, voor die aangesig van God, in die lewe terug, maar Hy gaan in alles mee. Wie die seën van die Here ontvang, moet ook bedoel om onder hierdie seën te lewe. Deur 'n verkeerde gesindheid of verkeerde lewe kan dit verloor word.

  6. Die gees van die huweliksdiens. Waar God in die huweliks­diens sentraal staan en waar sy Woord verkondig word en sy seën toegesê word, waar eerlik gevra word om sy bemoeienis met hierdie huwelik, daar spreek dit vanself dat daar nie allerlei vreemde elemente in die huweliksdiens ingedra kan word nie. Sommige mense meen om van die huweliksdiens iets spesiaals te maak en dit is ook korrek. Die fout kom egter waar hulle die "spesiale" soek in een of ander wêreldse musiek- of sangstuk. Hierdeur word nie iets gewen nie, maar juis die hele gees en gesindheid van die huweliksdiens belemmer. Alles wat pas by die Woord van God en by die aard van die diens, het 'n plek in die huweliksdiens; egter alles wat 'n ander gees adem, wat die gedagte en die bedoeling aflei van God en sy beloftes, het nie daar 'n plek nie. Waarom nie liewer van ons mooiste Psalms en Gesange of ander kerklike liedere speel en sing by die huwelik nie? Dit is inderdaad 'n feestelike geleentheid. Die feeste­likheid kom egter nie uit die vlees of uit die wêreld voort nie, maar uit die ware blydskap soos dit ontstaan voor die aangesig van God, en die vrymaking deur Jesus Christus.

    Ook die kleredrag van die bruid en van die persone in die kerk wat die huweliksdiens bywoon, mag nie 'n ander gees vertolk nie. Dikwels is dit onnodig spandabelrig, swierig en spreek van 'n kompe­tisiesug. Daarby is dit dikwels so onbetaamlik, so ontblotend en spreek dit meer van die wêreldlike vermaaklikheidslewe as van die gees van Christus.

    Die versiering van die kerk tydens die huweliksdiens moet op die­selfde wyse beoordeel word. Daar kan geen beswaar wees teen die versiering van die kerk met blomme nie, mits dit ondergeskik bly aan die Woord en dienend van aard is. Die versiering mag nooit die karakter aanneem van pronksug en van alles te wil domineer nie. Wat ons goed en geskik ag vir die erediens, dit alleen is geskik vir die huweliksdiens. Alles wat oordoen word, is verkeerd. Alles wat die sentrale aandag van die Woord aflei, is ontoelaatbaar. Alles wat bedoel word om 'n vreemde effek en 'n grootse vertoon te bewerk, of wat blikkerig en "goedkoop" is, is af te keur.

    Laat ons dit tog ter harte neem dat die beste kleredrag 'n rein hart voor God is en die beste feeskleed die kleed van geregtigheid van Christus is; dat die grootste skoonheid nie wêreldse weelde en swier is nie, maar die weelde van die guns en genade van God is; dat nie die verganklike versiering tel nie, maar die versiering van die hart en van die karakter wat blywend is; dat die allerbeste versiering van die huweliksdiens en van die kerk die egte ontmoeting met God en die toedekking met sy seën is.

Die beste viering van die huwelik en die grootste vreugde kom nie in die wêreldse "resepsie" waar alles van God en sy seën weer afgelê word nie, maar waar die blydskap van die ontmoeting met God en van sy seën voortgesit word; waar die blydskap en vreugde pas by die gebeurtenis wat in die kerk plaasgevind het. Ons kan nie met God verkeer en tegelyk die wêreld en die vlees dien nie. Ons kan nie aan die tafel van God sit en daarna aan die tafel van die Duiwel plek neem nie.