2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee.

Die Bloudruk vir Verlossing

ʼn Ou tradisie beweer dat toe St. Augustinus bespot is deur ʼn skeptikus oor sy leerstelling oor die skepping, en sinies gevra is: “Wat het God gedoen voor Hy die wêreld geskep het”, sy beweerde antwoord was: “Besig om die hel vir nuuskierige siele te skep”.

Die antwoord was natuurlik skertsend, Die Bybel praat nie van so ʼn skepping voor die skepping self nie. Maar Augustinus se skerpsinnige antwoord het ook ʼn ernstige aspek deurdat dit waarsku teen ydele spekulasie oor God se aktiwiteite in die ewigheid.

Maar, behalwe vir spekulasie het die Bybel baie te sê oor God se aktiwiteite “voor” die wêreld gemaak is. Die Bybel praat dikwels van God se ewige raad, van Sy plan vir verlossing, ensovoorts. Dis ʼn saak van teologiese dringendheid dat Christene nie oor God moet dink as iemand wat die heerskappy van die heelal op die ingewing van die oomblik hanteer nie. God “maak dit nie op soos Hy aangaan nie”. Ook moet Hy nie beskou word as ʼn peuterende amptenaar wat so dwaas is by die beplanning van Sy bloudruk vir verlossing dat Hy gereeld en eindeloos die bloudruk aan hersiening moet onderwerp, om aan te pas by die mens se aksies, nie. Die God van die Skrif het nie ʼn “plan b” of ʼn “plan c” nie. Sy “plan a” is van ewigheid tot ewigheid. Dit is beide perfek en onveranderbaar want dit steun op God se ewige karakter, wat onder andere heilig, alwetend en onveranderlik is. God se ewige plan word nie hersien of gewysig as gevolg van morele onvolmaakthede daarin wat reggestel moet word nie. Sy plan word nie reggestel of gewysig omdat Hy nuwe kennis wat Hy nie aan die begin gehad het nie, verwerf het nie. God se plan verander nooit omdat Hy nooit verander nie, en omdat ʼn perfekte plan nie gewysig of verbeter kan word nie. Die verbond van verlossing is nou verbonde aan God se ewige plan. Dit word ʼn “verbond” genoem insoverre die plan twee of meer partye insluit. Dit is nie ʼn gelofte tussen God en die mensdom nie. Dit is ʼn gelofte tussen die persone van die Goddelikheid, en in besonder tussen die Vader en die seun. God het nie drie-enig geword by die skepping of by die vleeswording nie. Sy drie-enigheid is net so ewig soos Sy wese. Hy is enig in wese en drie in persone van alle ewigheid af.

Die verbond van verlossing is ʼn uitvloeisel van die leerstelling van die Drie-enigheid. Net soos die woord drie-enig self noem die Bybel dit nêrens eksplisiet nie. Die woord drie-enig kom nie in die Bybel voor nie, maar die konsep van die Drie-enigheid word dwarsdeur die Skrif bevestig. Net so kom die frase “verbond van verlossing” nie eksplisiet in die Bybel voor nie maar die konsep word deurgaans aangeraak.

Die kern van die boodskap van Jesus is die verklaring dat hy deur die Vader na die wêreld gestuur is. Sy sending is nie aan Hom opgedra tydens Sy doop of in die krip nie. Hy het dit reeds voor sy vleeswording gehad.

In die “Kenotiese gesang” van Filippus 2 kry ons ʼn blik hierop: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader” (Fil.2: 5-12).

Hierdie gedeelte ontbloot baie dinge. Dit praat van die gewilligheid van die Seun om ʼn sending van verlossing aan te pak in opdrag van die Vader. Sy hele lewe op aarde getuig daarvan dat Jesus die wil van Sy Vader gedoen het. As ʼn jong seun in die tempel het Hy Sy aardse ouers daaraan herinner dat Hy in die huis van sy Vader moet wees. Sy voedsel en drank op aarde was om die wil van Sy Vader te doen. Die ywer vir die huis van Sy Vader het Hom verteer. Hy het herhaaldelik verklaar dat Hy nie met Sy eie gesag praat nie maar met die gesag van die Een wat Hom gestuur het.

Jesus is die oorspronklike sendeling. Soos die woord aandui, is ʼn sendeling iemand wat “gestuur” is. Die ewige Woord het nie op Sy eie besluit om na hierdie aarde te kom vir die verlossing daarvan nie. Hy is hierheen gestuur, As deel van die verlossingsplan het die Seun gekom om die Vader se bevel uit te voer.

Die kern van die verbond van verlossing is dat die Seun gewilliglik gekom het. Hy is nie deur die Vader oorreed om sy heerlikheid af te lê en vernedering te ondergaan nie. Nee, Hy het gewilliglik “Homself verneder”. Die Vader het nie die Seun gestroop van sy ewige heerlikheid nie, maar die Seun het ingestem om dit tydelik af te lê ter wille van ons verlossing.

Luister na Jesus as Hy tot Sy Vader bid aan die einde van Sy bediening: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik U Seun sodat die Seun U kan verheerlik ...  Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het” (Joh. 17:1,5). Die verbond van verlossing was ʼn transaksie wat beide verpligting en beloning ingesluit het. Die Seun het ʼn heilige ooreenkoms met die Vader aangegaan. Hy het Homself onderwerp aan die verpligtinge van die verbonds-ooreenkoms. Die Vader het soortgelyk ʼn verpligting aanvaar – om Sy Seun ʼn beloning te gee vir die verlossingswerk wat Hy doen.

In sy sistematiese teologie lys Charles Hodge agt beloftes wat die Vader aan Sy Seun gegee het in die ewige verbond wat gemaak is. Kortliks is dit: dat God ʼn gesuiwerde Kerk vir Sy Seun sal vorm; dat die Seun die Gees in volle omvang sou ontvang; dat Hy altyd teenwoordig sal wees om Hom te ondersteun; dat Hy Hom uit die dood sal verlos en sal verhoog om aan Sy regterhand te sit; dat Hy die Heilige Gees sal hê en kan stuur na enigiemand wat Hy wil; dat almal wat die Vader aan Hom gegee het na Hom toe sal kom en nooit verlore sal gaan nie; dat ʼn menigte sal deel in Sy verlossing en sy Messiaanse koninkryk; dat Hy die beproewing van Sy siel sal aansien en tevrede sal wees.

Omdat God die ewige gelofte van verlossing nagekom het, het Christus die erfgenaam van Sy Vader se beloftes geword. Omdat hierdie gelofte nooit gebreek is nie ontvang ons die voordele as erfgename van God en mede-erfgename met Christus.