Bron: Die Kerkblad. 3 bladsye.

Die Brief aan die Kolossense

’n Groep van vier van Paulus se briewe staan algemeen bekend onder die naam: die Gevangenskap­briewe. Hulle is: Efésiërs, Filippense, Kolossense en Filémon. In al vier dié briewe toon Paulus self duidelik dat hy skryf van agter die tronkdeure (Efésiërs 3 : 1;6 : 20 ; Filippense 1 : 12 - 17 ; Kolossense 4 : 3, 10 ; Filémon vers 1).

Hierdie vier briewe moes feitlik gelyktydig en dus ook vanaf dieself­de plek van gevangenskap geskryf gewees het. Die motivering vir hier­die stelling is die volgende:

  1. Daar is ’n besonder noue in­houdelike ooreenkoms tussen Efési­ërs en Kolossense, dikwels selfs ten opsigte van sinswendinge en woor­dkeuse.
  2. Dieselfde man, Tichikus, word deur Paulus gestuur om die briewe aan Efése en Kolosse (slegs omtrent 170 km uitmekaar) af te lewer (Efésiërs 6 : 21; Kolossense 4 : 7).
  3. Die Filémon-brief handel oor die wegloperslaaf, Onésimus, wat by Paulus aangekom het, ’n Christen geword het en ten tye van die skry­we van die brief weer aan sy baas Filémon teruggestuur word deur Paulus. Ook Kolossense 4 : 9 meld dat Paulus saam met die draer van die brief (Tichikus) vir Onésimus terugstuur na sy tuisstad Kolosse.
  4. In Filippense is Paulus duidelik ook in langdurige gevangenskap (Filippense 1 : 12 - 17; 4 : 18).

Ons weet van twee geleenthede waarby Paulus geruime tyd in die gevangenis was: In Caesaria, aan die einde van sy derde sendingreis, ongeveer 57 - 58 n.C.; en in Rome, nadat hy hom op die keiser beroep het, ongeveer 60 - 62 n.C. Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat hierdie briewe hul ont­staan het in die keiserlike gevan­genis van Rome, toe Paulus twee jaar lank (Handelinge 28 : 30) die verhoor voor die keiser afgewag het. Vgl. hierby veral ook Filippense 1 : 13; 4 : 22).

Die Brief aan die Kolossense: Jesus, Hoof van die Kerk

Soos Romeine is Kolossense 'n brief aan 'n gemeente wat Paulus nie ge­stig het nie. Maar anders as Ro­meine is hierdie brief gerig aan 'n gemeente waarmee Paulus tog noue kontak oor verloop van jare gehad het.

Blykens Kolossense 1 : 7, 8 was Epafras blykbaar die stigter van die ge­meente. Hierdie Epafras was een van Paulus se medewerkers in die sendingaksie in Klein-Asië, sodat Paulus deur hom noue kontak met die gemeente van Kolosse gehad het.. Daarby was Kolosse slegs on­geveer 'n 170 kilometer oos van Efe­se, waar Paulus self lank gewerk het.

Doel van die skrywe🔗

Ons moet onthou dat Paulus hier skryf aan ’n gemeente waar hy nooit self gearbei het nie, al het hy wel noue kontak met hulle gehad. Daa­rom stel Paulus dit in 1 : 4 - 9 duidelik dat hy aan hulle skryf na aan­leiding van wat hy van hulle gehoor het, nie by hoor-sê nie, maar per­soonlik van Epafras, hulle leraar.

Uit die getuienis van Epafras het dit vir Paulus duidelik geword dat, terwyl die gemeente wel getrou vas­staan in die ware geloof, hulle tog sterk aangeval word deur die dwaal­leer van ’n sekere sektariese bewe­ging in hulle midde. Dit is dan Paulus se doel: OM DIE GEMEENTE TE BEMOEDIG OM VAS TE STAAN IN DIE WARE GELOOF, DEUR JUIS DIE SUIWER EVANGELIE WEER DUIDELIK TE STEL TEENOOR DIE BETROKKE DWAALLEER.

Die sektariese dwaalleer in Kolos­se kom blykens die brief kortliks op die volgende neer: Christus sou dan wel die Verlosser wees, maar ons kan nie deur Christus se verdienste alleen gered word nie. Die verlos­sing sou dan bewerk word deur Chri­stus PLUS:

  • Aanbidding van die engele (2 : 18);
  • strenge onderhouding van aller­lei Joodse feeste (2 : 16);
  • ’n asketiese (wêreldontvlugtende) lewenswyse, deur streng ver­myding van sekere voedsel en drank (2 : 16a; 2 : 20 - 23).

Dus: Die mens moet deur eie verdienste (met die hulp van Jesus Christus) self bo die sondige wêreld na die hemelse wêreld uitstyg. Dit maak sterk die indruk van ’n vroeë sinkre­tisme (vermenging) van die Christelike geloof met die Gnostisisme. Teen hierdie Christus­onterende dwaalleer wil Paulus in dié brief dan die heerlikheid, majesteit en alvermoënde ver­lossingskrag van Christus duide­lik stel. Dit bepaal grootliks die tema en inhoud van die brief.

Sentrale tema en inhoud🔗

Die besonder noue verband van Kolossense met Efésiërs is on­miskenbaar. Naas die vele kleiner punte van ooreenkoms ten opsigte van taal- en woord­gebruik, vind ons by Kolossense, asook by Efésiërs, die verhou­ding tussen Christus en sy kerk as die sentrale motief, terwyl die verhouding in beide uitgedruk word in die beeld van ‘Hoof en liggaam’.

Tog val die nadruk in Kolossense ietwat anders as in Efésiërs. By laasgenoemde val die klem op DIE KERK, as die liggaam van Christus. In Kolossense egter val die klem op CHRISTUS AS DIE HOOF van die kerk. Dit kom duidelik na vore in die SLEUTELVERSE tot die ingehoue van die brief, te wete Kolossense 1 : 15 - 20. Veral belangrik is verse 15 en 18:

“Hy is die Beeld van die onsien­like God, die Eersgeborene van die hele skepping” (1 : 15).

“En Hy is die Hoof van die lig­gaam naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersge­borene uit die dode, sodat Hy in alles eerste kan wees” (1 : 18).

Die geformuleerde tema is dus: Christus, die Hoof van die Kerk, Koning oor die ganse skepping.

Betekenis van die brief🔗

Saam met Efésiërs bied Kolossense ons ’n onmisbare twee-eenheid as Goddelike openbaring oor die verhouding van Christus en sy kerk.

  1. Teenoor die dwaalleringe van alle eeue en van ons tyd, wat die Godheid en die volmaaktheid van Christus Jesus as Verlosser afbreek, word in Kolossense die Hoofskap van Christus oor die Kerk, sowel as oor die ganse skepping, duidelik gestel (1 : 13 - 23; 2 : 1 - 23). Daarom is en bly Kolossense die locus classicus by uitstek teen alle sektarisme, waarvan die kenmerk altyd weer is dat die verlossing afhanklik is van Christus PLUS ... (hierdie of daardie menslike verdienste of wettisistiese gebruik, bv. sewendedag-sabbat, gebruik van die naam Jehowa, grootdoop, ens.)
  2. Die ware geloof in Jesus laat die mens nie onveranderd nie. As Hoof herskep Hy deur die Heilige Gees die ware gelowige om weer te kan en wil leef as beelddraer van God (vgl. 3 : 9  - 11).
  3. Wie Jesus sy Here noem, erken Hom as Koning en Hoof oor sy hele lewe. Sy hele lewe in alle fasette en op alle gebiede moet staan in diens van sy Koning. “Wat julle ook al doen in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, en dank God die Vader deur Hom” (3 : 17).
  4. Kolossense bied, korter maar ewe duidelik as Efésiërs, belang­rike Skrifeise in verband met gesagsverhoudinge (3 : 18; 4 : 1; vgl. Efésiërs 5 : 22 - 6 : 9).