Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Die Broodteken by die Nagmaal

nagmaal

By die instellingberigte van die Nagmaal word daar geen twyfel gelaat nie dat die Here Jesus die Nagmaal by geleentheid van die Pasgaviering ingestel het (Mattheus 26:19; Markus 14:16; Lukas 22:15). Die Pasgaviering het in hooftrekke soos volg verloop:

  • die eerste beker met wyn is rondgestuur en gemeenskaplik gedrink. Bitter kruie, in asyn gedoop, is rondgestuur, as simbool van die bitterheid van die verdrukking van die volk Israel in Egipte.

  • 'n Tweede beker is rondgestuur en weer eens gemeenskaplik gedrink. Na die drink uit die tweede beker het die vader van die gesin ongesuurde brood gebreek en uitgedeel met die woorde: "Dit is die brood van die ellende wat ons vaders in Egipte verslind het". Daarna is die eintlike Paasmaaltyd genuttig – die Paaslam.

  • 'n Derde beker, bekend as "die beker van danksegging", waarby dankbaarheid oor die verlossing van die volk getuig is, is rondgestuur en dankbaar daaruit gedrink. Die woorde wat Paulus in 1 Korinthiërs 10:16 met verwysing na die Nagmaalsbeker gebruik, nl. "die beker van lofprysing" hou duidelik verband met die beker van danksegging van die Pasga. Die uitdrukking "beker van lofprysing" is 'n Semitiese uitdrukking, met die bedoeling: die beker wat tot lofprysing van God gedrink word. Calvyn toon aan dat 'n mens by 1 Korinthiërs 10:16 by lofprysing moet dink aan "toewyding". Ons dra die Nagmaalsbeker aan God op in die sin dat ons met die drink daarvan ons hart en gedagtes in dankbaarheid na God laat opgaan (sursum corda).

  • 'n Vierde beker het rondgegaan ter afsluiting van die Pasga.

Die betekenis van die Pasga kom dus op die volgende neer (Van Rooy, 1990), naamlik dat die volk Israel by die viering van die Pasga herinner is aan die verlossing uit Egipte en God se magtige verbondsdade van die verlede. Die fees moes die volk daarop wys dat hulle kragtens die verbond 'n afgesonderde volk is wat volgens die oorskrifte van God moes leef. Daardeur het daar 'n boodskap van berou en bekering na die volk uitgegaan. Hulle moes God met 'n opregte en berouvolle hart dien. Op hierdie wyse het die Pasga van 'n herstelde verhouding (versoening) tussen God en sy volk gespreek, wat die volk ook onderling as 'n godsdienstige eenheid saamgebind het.

Verband tussen Pasga en Nagmaal🔗

Daar is 'n kultuurhistoriese en openbaringshistoriese verband tussen die Pasga en die Nagmaal. Die Bybel gee nie enige riglyne wat 'n streep trek om te onderskei dat sekere handelinge deel van die Pasga was en ander weer deel van die Nagmaal nie. Tog bied instellingsberigte die instelling van die Nagmaal aan as 'n handleiding op sigself. Daar moet dus gewaak word tussen twee uiterstes: enersyds om te beweer dat die Nagmaal heeltemal los van die Pasga staan; andersyds om te dink dat Pasga sonder meer in die Nagmaal oorgegaan het.

Die Pasga was meer as net die kultuurhistoriese agtergrond waarin die Nagmaal ingestel is. Daar is 'n duidelik openbaringshistoriese verband tussen Pasga en Nagmaal. Die Pasga was 'n voorafskaduwing van die verlossing deur die eenmalige soenoffer wat God in Christus voorsien. As sodanig was die Nagmaal dus die vervulling van die Pasga. Daarom het die Here die Nagmaal juis by geleentheid van die Pasgaviering ingestel. Hy het ook die Nagmaal laat aansluit by bepaalde elemente van die Pasgaviering, nl. die breek van die brood en die beker van danksegging (d.i. die derde beker).

Nie net Voortsetting🔗

Aan die ander kant was die Nagmaal nie 'n blote voortsetting van die Pasga nie. Die Nagmaal sluit immers nie by alle elemente van die Pasga aan nie. Veral opvallend is dat die Here die belangrikste element van die Pasga, nl. die eet van die Paaslam, nie in die Nagmaal opgeneem het nie. Juis omdat die Paaslam van die Pasga eens en vir altyd sy vervulling gehad het in die Lam wat God op Golgota as soen- en skuldoffer voorsien het, het dit in die Nagmaal tot 'n einde gekom. Die Nagmaal wat die Here ingestel het, is dus 'n selfstandige maaltyd met simboliese handeling en betekenis, wat nou heenwys na die vervulde soenoffer van die Lam van God op Golgota.

Dit is opvallend dat die twee Ou-Testamentiese verbondstekens, naamlik die besnydenis en die Pasga, albei met Christus se kruisdood tot 'n einde gekom het. Soos die bloedvloeiing by die besnydenis met Christus se bloedvloeiing aan die kruis in vervulling gegaan het en oorgegaan het in die sakrament van die doop, so het die slag van die Paaslam met Christus se offer aan die kruis in vervulling gegaan en het dit oorgegaan in die sakrament van die Nagmaal.

Derhalwe moet die Nagmaal gesien word as vervulling van die Pasga, maar die simboliese handelinge by die Nagmaal moet nie vanuit die Pasga verklaar word nie. Dit moet op sigself, soos die Here dit ingestel het, verklaar word. Daarom is 'n bestudering van die instelling van die Nagmaal deurslaggewend vir ons studie van die Nagmaal met sy tekens en betekenis.

Brood en Beker🔗

Die instelling van die Nagmaal word op vier plekke in die Skrif beskrywe nl. Mattheus 26:26-29, Markus 14:22-25, Lukas 22:15-20 en 1 Korinthiërs 11:24-26. Die instelling by die broodteken word by al vier weergawes feitlik eenders berig (Coetzee, 1990 in Koers), met uitsondering van die volgende:

  • Volgens Matteus en Markus het Jesus voor die breek van die brood 'n lofprysende gebed gebid, en volgens Lukas en Paulus 'n dankgebed. Daarin is egter geen wesenlike verskil te vinde nie.

  • Volgens Lukas en Paulus se weergawe brei Jesus die verduideliking van die broodteken ("Dit is my liggaam") uit met "wat vir julle (gegee is)", en volg dit ook op met 'n opdrag: "Doen dit tot my gedagtenis".

brood

Die gevolg is dat daar by Lukas en Paulus se weergawe 'n parallellie tussen Jesus se woorde ten opsigte van die broodteken en sy woorde ten opsigte van die bekerteken bestaan: (1) Dit is my liggaam, (2) wat vir julle gegee word. (3) Doen dit tot my gedagtenis. (1) Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed (2) wat vir julle uitgegiet word (Lukas) (3) Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis (Paulus).

Hierdie parallellie dui daarop dat sowel die liggaam as die bloed van Christus "vir ons" gegee is; ook dat beide die brood en die beker onderhou moet word "ter herinnering" aan die kruisoffer van Christus. Dit beteken egter nie dat alle ander aspekte van die brood en beker oor en weer vir mekaar geld nie, met ander woorde die brood en die beker is nie bloot uitruilbare tekens nie.

By die instelling van die Nagmaal het die Here Jesus 'n uitdruklike bevel gegee: "Neem, eet!" (Mattheus 26:26). Dit was nie die gebruik by die Pasga nie. Ook sy verklaring van die betekenis van die brood wat gebreek word, is 'n afwyking van die gebruik by die Pasga. By die Pasga is gesê: "Dit is die brood van die ellende wat ons vaders in Egipte geëet het". Jesus verklaar: "Dit is my liggaam".

Die inhoud van die Pasga het tot vervulling gekom, want die brood verkondig nou dat die Verlosser wat kragtens die verbond aan die volk belowe is, gekom het. Hierin sit alreeds 'n rigtingwyser dat Jesus nie net anders met die brood omgaan nie, maar ook anders met die beker.