Bron: New Horizons. 3 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Die Bybelse Beginsel vir Gasvryheid

Ek weet nie waarom ek gevra is om oor hierdie onderwerp te skryf nie, behalwe vir die feit dat ek geseën is met ‘n vrou wat werklik die gawe van gasvryheid het. Dit is ‘n gebied waarop Christenvroue wonderlik geskik kan wees tot verheerliking van God en vooruitgang van sy koninkryk.

Die woord wat met gasvryheid vertaal word, kom ses keer voor in die Nuwe Testament – minder dikwels as woorde soos geloof, liefde en heiligheid. Ons moet nie hieruit aflei dat gasvryheid minder belangrik is nie. Christelike gasvryheid is onontbeerlik vir die liggaam van Christus. Dit is een van die mees basiese genadegawes vir die Christelike lewe. Ook moet ons nie dink dat die betoning van gasvryheid ‘n uitsluitlik Nuwe Testamentiese gebruik is nie. Dit is gewortel in die Ou Testament, soos ons sal sien.

Die woord gasvryheid is ‘n samestelling van twee Griekse woorde, naamlik philo wat liefde beteken en xenia wat vreemdelinge beteken. Gasvryheid is ‘n liefde vir vreemdelinge. Dit is ‘n liefde wat ‘n sterk emosie uitdruk. Dit is om ‘n gevoel van goedgesindheid te hê en dit met woord en daad oor te dra.

Ou Testamentiese Lering🔗

Abraham, die vader van die gelowiges, was by uitnemendheid gasvry. Hy het op ‘n warm dag uit die koelte van sy tent opgestaan, drie vreemdelinge gaan verwelkom en hulle laat rus, eet en drink. Eers later het hy besef dat hy die Here self onthaal het (Genesis 18)! Met verwysing na hierdie insident sê die skrywer van Hebreërs: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense, sonder dat hulle geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Deur voorskrif sowel as voorbeeld het God sy volk geleer om gasvry te wees. Hy het Israel beveel om die vreemdeling wat by hulle woon “soos ‘n medeburger (te) behandel en hom lief te hê soos julle self. Julle was self ook vreemdelinge in Egipte, Ek is die Here julle God”. Jesaja, die profeet van God, het uitgeroep teen die betekenislose vorme van vas, en in opdrag van God gevra:

Is die vas wat ek wil hê nie dit ... dat jy vir dié wat honger is van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en dakloses ‘n blyplek gee nie...?Jesaja 58:6-7

‘n Teken van die ware geloof téénoor die vormgodsdiens, was die beoefening van gasvryheid. Die grondslag van gasvryheid is gebaseer op God se bevel:  “jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.

Nuwe Testamentiese Lering🔗

Christus is die volmaakte voorbeeld van en leermeester oor gasvryheid. Hoewel Hy “geen plek het om sy kop neer te lê nie”, het Hy gasvryheid voorgeleef. Niemand was meer ruimhartig of goedwillig as hy nie. Hy was so vol deernis teenoor die menigte wat na Hom kom luister het, dat hy eers vyfduisend en daarna vierduisend honger manne, met hulle vroue en kinders, gevoed het.

Let op hoe ons Here voorbereidings getref het vir die viering van die Pasga en die instelling van die Nagmaal. Hy reël vir ‘n groot bovertrek waar hy as gasheer vir sy dissipels optree (Lukas 22:10-12). As nederige dienskneg wás hy die voete van die dissipels en droog hulle af met ‘n handdoek. Dan nooi hy hulle uit om aan die Pasga deel te hê.

Meer nog, hy bied vir hulle ‘n geestelike feesmaal – die tekens van sy offer tot hul redding – aan. Hy neem brood en sê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word”. Hy neem die beker en sê: “Dit is my bloed ... die beker van die nuwe verbond ... wat vir baie mense vergiet word tot vergifnis van sondes”. Daarna berei hy hulle met liefdevolle en bedagsame sorg voor vir die tyd wanneer Hy nie meer liggaamlik by hulle sal wees nie. “Ek gaan om vir julle plek gereed te maak. Ek sal weer terugkom. Bly in my en ek in julle”. Daarna stort hy sy siel uit in gebed vir hulle. Wat ‘n voortreflike gasheer, wat Hom self tot die uiterste toe gee. Dit is gasvryheid by uitnemendheid.

Ons Here het geleer dat gasvryheid nie net baie goed is nie, maar noodsaaklik. Dit is nie so dat ons in die betoning daarvan meer as ons plig doen nie. Dit is ‘n bevel; om nie gasvry te wees nie, is sonde. Ons leer dit uit die pragtige en sprekende gelykenis van die Barmhartige Samaritaan. Hierdie gelykenis was Christus se antwoord op die vraag van die wetsgeleerde: “Wie is my naaste?” Dit was die Samaritaan wat medelye gehad het met die reisiger, sy wonde met olie en wyn behandel het, en hom op sy rydier na ‘n herberg toe geneem het waar hy vir al die versorgingskostes van die gewonde betaal het. Toe Hy klaar die gelykenis vertel het, het hy hom na die wetsgeleerde gedraai en beveel: “Gaan maak jy ook so”. 

Christus het geleer dat gasvryheid die teken is van ‘n ware Christelike belydenis. Op die oordeelsdag sal Christus sê: “Kom julle wat deur my Vader geseën is ... want ...  Ek was ‘n vreemdeling, en julle het my gehuisves” of “Gaan weg van my af, julle vervloektes ... want ... Ek was ‘n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie”. So het Hy hom vereenselwig met dié wat in Hom glo:

Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen.Matteus 25: 31-45

Wie moet Gasvry wees – en teenoor wie?🔗

Ouderlinge, sowel dié in die amp van regering as dié in die amp van lering, het die verantwoordelikheid om gasvry te wees. Ouderlinge moet die kudde gasvryheid leer en die voorbeeld stel daarin.

Maar gasvryheid is die voorreg en verantwoordelikheid van elke Christen. In sy brief aan die gelowiges in Rome, beveel Paulus aan dat die hele gemeente “die medegelowiges in hulle nood”  help, en om hulle toe te lê op gasvryheid (Romeine 12:13). Petrus skryf aan die Christene wat verspreid woon: “Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla” (1 Petrus 4:9). Paulus onderrig Timoteus oor die dienende weduwee wat “vreemdelinge gehuisves het” (1 Timoteus 5:10). Christenvroue munt uit in die gawe van gasvryheid, en moet getrou bly daarin.

Aan wie moet gasvryheid bewys word? Ten eerste aan medegelowige. “As julle mekaar liefhet,” leer Christus, “sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:35). Toe die tronkbewaarder van Philippi tot geloof gekom het, het hy in sy huis Paulus en Silas se wonde gewas en vir hulle ‘n ete voorgesit (Handelinge 16:33-34). Paulus skryf aan die gelowiges in Galasië: “ons (moet) aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges” (Galasiërs 6:10). Ons moet mekaar nie as vanselfsprekend beskou nie. Ons het mekaar se liefdevolle besorgdheid nodig te midde van ‘n wêreld wat onverskillig en vyandig is.

Vreemdelinge – diegene wat nie huisgenote van die geloof is nie – moet ook gasvryheid geniet. Dink aan die basiese betekenis van gasvryheid: liefde teenoor vreemdelinge. Abraham het vreemdelinge ontvang. Christus was ‘n “vriend van tollenaars en sondaars” – belasting oorskryders en sedelose mense. Hy het aan hulle vriendskap betoon deur saam met hulle te eet. In die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan leer Christus dat elkeen in nood – ongeag ras, geloof, kleur of stand – ons naaste is. Wat van die arm, bekommerde, eensame en met sonde belaaide mense rondom jou? Het jy al ooit jou Christenhuis vir hulle oopgemaak? Wat van die alkoholis of dwelmverslaafde? Onttrek jy jou eenvoudig – of reik jy hom ‘n helpende hand van gasvryheid?

Motivering tot Gasvryheid🔗

Christelike gasvryheid kos moeite; dit verg sterk motivering. Wat is die gepaste beweegrede vir die betoning van gasvryheid? God sê vir ons in sy Woord:

Julle moet (‘n vreemdeling) soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God.Levitikus 19:34

Die volk Israel se gasvryheid teenoor vreemdelinge was gewortel in God se gasvryheid teenoor sy volk. Hulle moes terugdink aan sy liefde vir hulle toe hulle vreemdelinge in slawerny in ‘n vreemde land was. 

O Christen, dink aan God se genadige gasvryheid teenoor ons “juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:8). Sy genade vir ons dring ons om genadig te wees teenoor andere. Die apostel Paulus skryf aan die gelowiges in Efese dat hulle “ver van God af (was) sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld. Maar nou (het) julle naby gekom deur die bloed van Christus”. Dit is noodsaaklik dat ons meer nadink aan God se genadige gasvryheid teenoor ons wanneer ons toegee aan die versoeking om ons te verskoon wanneer ons gasvry moet wees teenoor andere.

Betekenislose Gasvryheid🔗

Gasvryheid kan net vir andere tot ‘n seën wees, as dit betekenisvol is. Dit het ‘n tweeledige doel. Die doel van gasvryheid teenoor Christene is om hulle te laat deel in die gemeenskap met Christus. Johannes skryf dat ook “julle aan die gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus” (1 Johannes 1:3). Ons moet ons kennis van, geloof in en liefde vir Christus – en vir mekaar in Christus - deel. Ons moet daarna streef om die geestelike en maatskaplike nood van ons mede-Christene raak te sien. 

Die doel van gasvryheid teenoor nie-Christene moet wees om te evangeliseer. Nadat Christus die vyf duisend gevoed het, het Hy aan hulle gesê dat Hy self die Brood van die lewe is.

Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit meer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Die uiteindelike doel met gasvryheid teenoor ongelowiges is meer as net om hulle goedgesind te wees, hoewel dit die aanvanklike die doel is. Ons moet die mens se diepste, naamlik die geestelike, behoefte in gedagte hou. Dit is só maklik om in ons gesprekke see en land te deurkruis sonder om ooit te praat oor die Verlosser! Eers wanneer ons ons gaste voorgestel aan ons Vriend en Verlosser, Jesus Christus, slaag ons in ons gasvryheid. Dít is gasvryheid in die ware en volle sin van die woord.