3 bladsye.

Die Bybelse Fundering van die Sending

Sending in die Ou Testament🔗

Reeds in die Ou Testament kry ons die sendinggedagte. Die Ou Testament is by uitstek ’n sendingboek. Die eerste Bybelboek, Génesis verkondig dat God die Skepper van die ganse aarde is. Besondere nadruk word in hierdie boek ook gelê op die eenheid van die menslike geslag. Wel lees ons in Génesis 11 van God se oordeel oor die aardbewoners, maar in hoofstuk 12 wat handel oor die roeping van Abram, verneem ons dat alle volke in Abraham geseën sal word.

Die seën vir die volke in die saad van Abraham loop soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament.

In die boek Psalms verneem ons ook telkens dat God se heil vir alle volke bedoel is. Die volke sal op drie maniere tot die lofprysing van Jahwe gebring word:

  • In die eerste plek deur die magsuitbreiding van Israel (Psalm 47 en 68).
  • Ten tweede sal die volke God prys vanweë die groot dade van die Here (Psalm 65, 77 en 98).
  • In die derde plek sal Jahwe geprys word deurdat gelowiges uit die volke by Israel ingelyf gaan word (Psalm 87).

Dieselfde klanke wat ons verneem in die Psalms hoor ons ook by die profete. Hulle verkondig onophoudelik dat die Regter van die ganse aarde ook die Verlosser van die volke is. Nadat die profeet Jesaja in hoofstuk 13 tot 23 die oordeel van God oor die volke geprofeteer het, kondig hy in hoofstuk 25 een van die grootste heilsprofesieë aan (25:6).

Wanneer ons egter let op die wyse waarop die sending in die Ou Testament na vore kom, dan blyk dit ’n spontane sendingaktiwiteit te wees. Die volke sal spontaan na Israel as die goddelike heilsmiddelpunt kom. In hierdie verband is wel gespreek van die sentripetale sendinggedagte in die Ou Testament. Die dade van God in die geskiedenis het so ’n groot aantrekkingskrag op die volke dat heidene spontaan tot die God van Israel kom om Hom te aanbid. Slegs sporadies lees ons in die Ou Testament van ’n opdrag om die evangelie te verkondig.

Die heil vir die volke is in die Ou Testament ’n eskatologiese gebeurtenis en so die verkondiging ook. Die boek Jona is daarom eintlik ’n uitsondering in die Ou Testament.

Daar kom die sentrifugale sendinggedagte sterk na vore. Dit is opvallend dat die werkwoord ‘gaan’ wat in Jona 1:2 gebruik word in die Septuaginta vertaal is met presies dieselfde woord wat ook in die bekende sendingbevel van Matthéüs 28:19 aangewend word. En vir die woord ‘predik’ in die boek Jona word in die LXX ’n werkwoord gebruik wat in die Nuwe Testament die spesifieke woord vir die missionêre verkondiging is: “kerussein”.

Sending in die Nuwe Testament🔗

Wanneer ons vervolgens let op die sendinggedagte in die Nuwe Testament dan vind ons in vergelyking met die Ou Testament presies die omgekeerde. Die Nuwe Testament is ook by uitstek ’n sendingboek. In die eerste boek van die Nuwe Testament, Matthéüs, word verkondig dat Christus alle mag in hemel en op aarde ontvang het (Matthéüs 28:18). Hy het van die Vader die wêreldheerskappy ontvang. Daarop volg dan die opdrag om hierdie heerskappy te proklameer, te verkondig in die bekende sendingbevel (Matthéüs 28:19).

In die verkondiging van die ontvange wêreldheerskappy van Christus sal die beloofde seën van Abraham vir die volke verwerklik word.

Ons sien in die Nuwe Testament hoedat die apostels uitgaan om die koninklike heerskappy van Christus aan die volke te verkondig. In Handelinge 1:8 word deur Jesus aan sy dissipels opgedra om die sendingprediking steeds verder te laat uitkring. Die boek Handelinge beskryf dan die wyse waarop hierdie heerlike opdrag uitgevoer is. Die sending is in die Nuwe Testament voluit ’n sentrifugale aksie. Dit begin by Jerusalem en dit bereik via Judea en Samaria die uiterstes van die aarde.

In die Ou Testament val by die sending dus die klem op die ‘kom’, terwyl in die Nuwe Testament die volle aksent val op die ‘gaan’. Daar is in die Nuwe Testament af en toe ook wel sprake van ’n spontane, sentripetale aksie soos byvoorbeeld die koms tot Gods heil in Christus van die Kananése vrou in Matthéüs 15 en die hofdienaar van Ethiopië in Handelinge 8, maar die nadruk val tog op die uitwaartse beweging van die sending.

Troonsbestyging en sending🔗

Waar lê presies die oorgang van die sentripetale na die sentrifugale sendingaktiwiteit? Waar gaan ons in die Bybel oor die wissel van die ‘kom’ na die ‘gaan’? Die Bybel laat ons hieroor nie onseker nie.

In die Ou Testament is reeds verkondig dat die heil vir die volke ’n eskatologiese gebeurtenis is en so die verkondiging ook. In Daniël 7:13,14 word gespreek van die oordrag van die wêreldheerskappy aan die Seun van die mens.

Na analogie van die Oud-Oosterse troonsbestyging word drie dinge van die Seun van die mens gesê:

  • Hy word verhoog tot die koningswaardigheid
  • Sy verhoging word geproklameer
  • Die regeermag word aan die nuwe Koning oorgedra

Teen hierdie agtergrond moet ons die sendingbevel in Matthéüs 28:18-20 lees. Wat in Daniël 7:14 gesê word oor al die volke en nasies en tale vind sy parallel in Matthéüs 28:19. En Daniël se spreke oor die ewige heerskappy van die Seun van die mens vind sy parallel in Matthéüs 28:20.

Sowel by Daniël as by Matthéüs is daar ’n onverbreeklike band tussen die wêreldheerskappy en die oproep tot alle volke om onder hierdie heerskappy te buig.

Die evangelieverkondiging onder die volke is derhalwe die proklamasie van die koms van die koninkryk van God. Omdat Christus alle mag ontvang het, moet hierdie heerlike feit nou oral verkondig word. Wat is die aard van die mag wat Christus ontvang het? Die Sinoptiese evangelies laat ons hieroor nie onseker nie. Al drie evangeliste dra kennis van ’n mag wat Christus besit en wat veral na Sy opstanding aan die lig gekom het.

Matthéüs lê die volle klem op die koninklike van Jesus se mag (28:18-20).

Markus sien Jesus se mag veral as ’n bevrydende mag (16:14-20).

Lukas op sy beurt omskrywe Jesus se mag as vergewende mag (24:44-53).

Die groot wending deur kruis en opstanding🔗

Hierdie koninklike, bevrydende en vergewende mag wat Christus ontvang het, is ’n mag wat die Vader Hom gegee het op grond van sy sterwe en opstanding. Daarom lê die fundering van sending ten diepste in die feit van die kruisiging en die opstanding van Christus.

Negatief beteken die kruis van Christus die einde van die ou aeon, die ou bedeling van die sonde en van die dood. En positief het met die opstanding van Christus die nuwe aeon, die nuwe bedeling van verlossing en heil aangebreek.

Dit behoef ons dan ook nie te verbaas dat al drie die Sinoptici ’n direkte verbinding lê tussen die opstanding van Christus en die opdrag tot sending nie. Die opstandingsboodskap en die sendingsboodskap is onlosmaaklik aan mekaar verbind.

Die evangelieverkondiging onder die volke word in die Ou Testament verkondig as ’n gebeurtenis wat in die laaste dae sou plaasvind.

Deur die sterwe en opstanding van Christus is daar weer gemeenskap met God moontlik. Volgens die Skrif kan daar geen sprake van verkondiging sonder Christus wees nie.

Alleen in en deur Christus, deur Sy lyding, sterwe en opstanding is daar met die Drie-enige God weer gemeenskap moontlik.

Die Bybelse fundering van die sending lê derhalwe in die kruis en opstanding van Christus. Op grond van Sy verlossingswerk ontvang Christus alle mag en dit moet aan die volke verkondig word.

Deur die kruis en die opstanding van Christus geskied die groot wending in die heilsgeskiedenis. Dit verander die ‘kom’ in die ‘gaan’, dit maak van die sentripetale sending ’n sentrifugale sending.