5 bladsye.

Die Christelike Regstaat ’n Onmoontlike Teenstrydigheid, Radikale Randverskynsel of Gesonde Ideaal?

1. Inleiding🔗

Die term “Christelike regstaat” is ’n term wat nie volop te vinde is nie. Ek het die term gaan Google. Daar was slegs 15 trefslae op die hele internet vir die Afrikaanse term “Christelike regstaat”. Van daardie 15 inskrywings is 4 kennisgewings van vanaand se byeenkoms.

Een aanhaling wat my aandag getrek het, is ’n inskrywing op die webwerf www.kletskerk.co.za  deur ene Elimelek (waarskynlik ’n skuilnaam).

Elimelek skryf soos volg:

Die konsep van 'n Christelike regstaat laat my wonder. Word daar bedoel 'n teokrasie gebou op die beginsels van die Wet van Moses, wat amper soos die Sjariáh in die Islam funksioneer? Word met 'n Christelike regstaat bedoel, 'n staat waar die howe telkens moet vra "Wat sou Jesus doen?" Is dit dalk 'n staat waar die reg die oppergesag het, maar 'n Christelike sousie oor kry? Miskien is dit iets soos die ANC se vergewe kamerade en vergeet, maar sorg dat die ander aan die pen ry!

Die begrip klink vir my baie interessant, maar uiters gevaarlik.

Ek soek toe na die Engelse term “Christian Law State” en kry  net 2 inskrywings – die een is te vind op ’n webartikel wat oor die AWB gaan en die ander op een of ander blogger se webwerf.

Dit wil dus met die eerste oogopslag voorkom of die term “Christelike regstaat”  ’n onbekende is en deur sommige as ’n randverskynsel bestempel word.

Om dus ’n begrip te vorm van waaroor ons praat, moet ons die term probeer verstaan. Eerstens moet ons verstaan wat word bedoel met die term “staat”. Tweedens is dit belangrik om te kyk na “wie of wat het die laaste sê in die staat”. 

2. Wat is ’n Staat?🔗

In die loop van die jare is verskillende betekenisse aan die term “staat” gegee. Nasionale state soos ons hulle vandag ken, is betreklik nuwe verskynsels wat eers sedert die middel 19de eeu werklik vorm aangeneem het. Die denke daaromtrent het ook oor jare gestalte gekry.

In die Griekse kultuur is die aard van die staat ten nouste verbind met die “goeie lewe”. Aristoteles het gemeen die doel van die polis (stadstaat) is geleë in die bestendiging van sedelike deugsaamheid. Geregtigheid in ruimte is beskou as die hoogste geestelike deug.

In daardie vroeë tye was state egter nog nie regsubjekte nie. In die klassieke tyd is die woord staat (status in Latyn) eerder gebruik om te verwys na maatskaplike stand of posisie.

In die Middeleeue word die woord vir die eerste maal gebruik aan die hand van ’n spesifieke grondgebied – kantons van Switserland ens. Maar nog nie as regsubjekte nie.

In die tyd van die Franse koning Lodewyk XIV word state vir die eerste maal as regsubjekte beskou. In sy geval meen Lodewyk XIV dat hy (as koning) die staat is. Die staat kry dus ’n gesig – ’n persoonlikheid en as sodanig ’n regspersoonlikheid.

Om op te som kan ’n staat gedefinieer word as –

  • ’n regspersoon,

  • bestaande uit ’n gemeenskap van mense,

  • wat op ’n bepaalde grondgebied,

  • onder ’n bepaalde gesag, en

  • volgens gemeenskaplike regsreëls lewe.

3. Wie het die Laaste sê?🔗

Nou dat ons weet wat ’n staat is, sê dit nie ons weet wie dra die spreekwoordelike broek in die huis nie.  Sedert die vroegste tye is daar ’n drang by mense om die laaste sê te hê.

In Genesis 3 lees ons hoe die slang hierdie swakheid by die mens uitbuit toe hy vir Eva vra “het God werklik gesê dat julle nie van die boom mag eet nie” en so gaan dit aan totdat daar staan “en toe besef die vrou dat die vrugte goed is om te eet en mooi is om na te kyk en begeerlik was omdat dit kennis kan gee…” .

Hierdie tweestryd oor wie die laaste sê het, word ook bevestig deur die oordeel wat op die sondeval volg as die Here vir die vrou sê dat sy sal “hunker na haar man”, maar “dat hy oor haar sal heers”.

In ’n sekere sin tree die mens dus in staatsverband op aan die hand van hierdie spanning aangaande wie die laaste sê het.

In die vyftiende, maar veral in die sestiende eeu het daar ’n oplewing ontstaan in die soeke na die oorsprong van staatsgesag. Verskeie teorieë is in hierdie tyd verder verfyn tot: Volksoewereiniteit; die Sosiale Kontrak idee; Regsoewereiniteit; en die Soewereiniteitsleer.

a. Volksoewereiniteit🔗

Hierdie begrip het interessant genoeg ewe veel inslag (uiteraard onderhewig aan die Goddelike reg) by beide Christen  Boer en Brit gevind.

Ook die spreuk “in die stem van die volk hoor ek die stem van God”, wat dikwels aan Calvyn toegedig word, hoort tuis by hierdie leerstuk. Bybelse begronding vir die benadering word gewoonlik gevind in 2 Samuel 5:3, waar die leiers van die volk Israel bymekaargekom het en Dawid as koning gesalf het.

Uiteraard is daar ook Bybelse voorbeelde waar die volk weens sonde die verkeerde keuses gemaak het. Voorbeelde hiervan is:

  • Die volk Israel se besluit om die goue kalf te maak om God daardeur te verheerlik; en

  • Die volk se keuse om Jesus te kruisig

(alhoewel dit natuurlik wel binne die raadsplan van God was);

Nietemin is daar ook sekere vertolkings deur Romeinsregtelike bronne van Justinianus en andere, wat daarop dui dat hierdie leer die botoon in die Romeinse Reg gevoer het.

Die Britte het ook hierdie leer hulle eie gemaak en beskou die Britse parlement as “ that great body which comprehends the whole nation” .

Eweneens het die leer van die soewereiniteit van die volk in die Boererepublieke die botoon gevoer.

b. Die Sosiale Kontrak🔗

Hierdie idee word hoofsaaklik toegeskryf aan Jean Jacques Rousseau, weens sy rol om filosofiese inhoud aan die idees van die Franse Rewolusie te gee. Hy het egter nie die idee geskep nie. Die teorie dateer reeds uit geskrifte van die Romeinse Reg en die Middeleeue.

Alhoewel verskeie state deur ooreenkomste tot stand gekom het, en algemeen aanvaar word dat ons parlementêre stelsel ontstaan het toe vrye Germane hulle vrywillig onder ’n leier gestel het vir beskerming, of saam ’n genootskap of vereniging tot stand gebring het, het ander state weer op ander maniere tot stand gekom, soos deur verowering, gebiedsuitbreiding ens.  

c. Regsoewereiniteit🔗

Hierdie leer kom van  Germaanse tradisies en  behels die natuurreg-teorie dat alle gesag ondergeskik staan aan die reg. Hierdie leerstuk het die grondslag gevorm van die sogenaamde Rule of Law-beginsel.

d. Soewereiniteitsleer🔗

Hierdie leerstuk is ontwikkel deur Jean Bodin, ’n Franse filosoof wat soewereiniteit as die wesenlike kenmerk van elke staat uitgesonder het. Hy het wel geglo dat elke owerheid steeds onderhewig staan aan die natuurreg en die Goddelike reg, maar die angel van sy argument lê daarin dat die absolute en oorspronklike kompetensie om reg te skep in die staat setel.

Bodin se denke het dus die sogenaamde swaardmag vir die staat alleen toegeëien.

Hierdie idee van staatsoewereiniteit het uiteraard vinnig neerslag gevind in Europa. Thomas Hobbes se denke hieroor is vervat in sy werk Leviathan. Alhoewel daar verskille tussen Bodin en Hobbes se denke is, is die ooreenkoms die oorheersende beginsel van die soewereiniteit van die heerser.

Die mees onlangse en mees paslike kritiek op hierdie denke is die boek “Politokrasie” deur Prof. Koos Malan. Malan tipeer hierdie idee van ’n soewereine staat as ’n “sterflike god” wat deur Hobbes geskep is en sedertdien die gang van die wêreldgeskiedenis bepaal het. Binne die konteks van die oppergesag van die grondwet verwys hy na die grondwet as die “heilige geskrif” van hierdie “sterflike god” en die konstitusionele regsorde as die “hoëpriesterdom van die sterflike god”.

’n Soewereine parlement en die Britse parlementêre stelsel is die belangrikste uitvloeisel van die soewereiniteitsleer van Bodin.

Suid-Afrika, maar ook Zimbabwe en al die voormalige Britse kolonies, se staatsreg is bepalend beïnvloed deur die soewereiniteitsleer en die gesag van die parlement of dan die volksraad.

In Suid-Afrika het die soewereiniteitsleer reeds in die tyd van die Boererepublieke ’n groot rol gespeel.

In die veelbewoë saak van Brown v Leyds 1897 (4) OR17 het ’n Transvaalse regter, regter Ameshof,  besluit dat sekere volksraadsbesluite ongeldig was omdat dit met die grondwet van die ZAR gebots het. Die hoofregter van destyds, regter Kotze, het die verhoorregter gelyk gegee en dit het ’n konstitusionele krisis in die ZAR veroorsaak. Hoofregter Kotze het beslis dat die volksraad nie soewerein was nie, maar wel die volk. Die volk se wil was vervat in die grondwet en die grondwet sou daarom bepaal of ’n besluit van die volksraad geldig was of nie.

Uiteraard het die besluite ter sprake belangrike ekonomiese implikasies vir die destydse ZAR gehad. Die grondwet van die ZAR het nie – soos die huidige SA grondwet — voorsiening gemaak vir die verlening van tyd om ongrondwetlikhede reg te stel nie en Kotze het geweier om aan President  Paul Kruger se versoeke tot die effek toe te gee.

Hoofregter Kotze is in die pad gesteek en die gebeure het ongelukkig ’n klad op die administrasie van die ou ZAR gelaat, waarvan vandag nog nie ontsnap is nie.

’n Tweede belangrike saak waarin die soewereiniteit van die parlement in Suid-Afrika bevestig is, was ewe omstrede saak van Harris v Minister of Interior 1952 2 SA 428 A. Die Nasionale Party bewind van destyds wou die kleurlinge van die kieserslys laat verwyder. Die Nasionaliste kon egter nie die vereiste twee derde meerderheid in die volksraad en senaat daarvoor monster nie en het toe die senaat vergroot met genoeg ondersteuners om die vereiste twee derde meerderheid te verkry. Op grond van die soewereiniteitsleer het die appèlhof die optrede van die Nasionale Party regering destyds bekragtig.

Onlangse gebeure in Zimbabwe en die regering van Zimbabwe se reaksie op bv. die SAOG tribunaal se bevindinge dat Robert Mugabe se grondvergrype rassisties en onwettig is, word ironies genoeg eweneens in Zimbabwe en deur Zimbabwiese regslui geregverdig aan die hand van die soewereiniteitsleer.

Die soewereiniteitsleer kan dus maklik as kapstok dien vir die totstandbrenging van ’n magstaat.

Vergelyk die spreuk van Lodewyk XIV “ek is die staat” met die uitspraak van Robert Mugabe 400 jaar later “I am Zimbabwe, Zimbabwe belongs to me. It will never be a colony again”.

In ’n magstaat beskik die burgers nie oor private of publieke regte en vryhede nie.  Die soewereiniteitsleer is dikwels ’n instrument waarmee ’n magstaat in standgehou word. Ons sien dit in Zimbabwe.

4. Wie het die Eerste sê?🔗

Ons bely dat ons God vanweë die sondige menslike natuur owerhede aangestel het (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 36). Die owerheid se taak is om die kwaad te straf en die goeie te beloon.

Maar terwyl ons belydenis die indruk wek dat owerhede slegs as ’n gevolg van die sonde ingestel is, is daar ’n tweede belangrike saak wat uit die Bybel blyk: God het selfs voor die sondeval die taak om oor die skepping te heers aan die mens opgedra.

En God het gesê: Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee op die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.  En God het hulle geseën, en vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. (Genesis 1:26-28)

Terwyl die sondeval dus ’n era van stryd ingelui het oor wie “die laaste sê” het, kan ons as gelowiges bely dat sowel voor as na die sondeval, God die “eerste” sê gehad het en daarmee het hy aan sy kinders ook die opdrag gegee om die aarde te bewoon en te bewerk.

Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en dit te bewaak.(Genesis 2:15)

God is dus soewerein. Hy het die eerste, sowel as die laaste sê. Hy beklee die mens met die opdrag om te heers oor die skepping, maar begrens daardie opdrag met die perke van waarheid en geregtigheid. In die geval van die tuin van Eden was die beperking wat God geplaas het die beperking dat die mens nie kon eet van die boom van kennis van goed en kwaad nie.

Die beperking van regeermag is dus ’n Bybelse beginsel wat reeds sedert die skepping bestaan het. Die regeringamp van mense bly dus altyd onderhewig aan grense en perke. Daardie perke is regsbeginsels wat enersyds herlei kan word na die wet van die Here, maar andersyds oor eeue heen vorm aangeneem het in die vorm van regsreëls, wette en grondwette. 

Met bogenoemde as uitgangspunt kan ʼn Christelike Regstaat dus (aan die hand van ’n definisie van Prof. JDM Strauss) gedefinieer word as ʼn staat waarin, op die basis van die monopolie van die swaardmag, op ʼn geografies begrensde kultuurgebied, burgerlike privaatregtelike en publiekregtelike vryhede bestaan wat beskerming geniet.

In ’n Christelike Regstaat is nie die grondwet, of menseregte, of die parlement in ʼn soewereine posisie nie. 

Die owerheid beklee wel die hoogste regeer-amp in die staat, maar die owerheid word begelei en beperk deur publiekregtelike reëls (soos wette, internasionale verdrae en die grondwet).

5. Hoe Onderskei ons ’n Christelike Regstaat-Idee van die Menseregte-Ideologie en Humanisme?🔗

Dit is steeds belangrik dat die Christelike regstaat-idee nie verwar word met die menseregte-ideologie wat ontstaan het uit humanistiese tradisie nie.

Die regstaat-idee ontstaan juis in die protestantse Christelike tradisie. Daarom was dit baie maal protestantse gelowiges wat in die geskiedenis in verset gekom het teen roekelose konings wat deur die eeue heen onbeperkte regeerstatus vir hulleself toegeëien het.

Beginsels soos soewereiniteit in eie kring en subsidiariteit (besluitneming op die laagste moontlike vlak) is tegelyk bekende gereformeerde kerkregeringsbeginsels en beginsels vir federale grondwetlike bedelings.

In ’n menseregte bedeling is menseregte soewerein. In die Christelike tradisie is God die soewerein, terwyl owerhede deur God ingestel is en daarom hulle gesag uitoefen in ondergeskiktheid aan die Een wat hulle ingestel het.

Ten slotte kan opgemerk word dat God die mens op aarde geplaas het, elkeen op ’n plek wat bewerk, bewaak en bewoon moet word.  Laat ons dus nie ophou om die aarde juis te bewoon, te bewaak en te bewerk nie, want dit bly ons opdrag, want Hy het die aarde vir sy kinders as woning gegee.