Bron: Kompas, 2001. 4 bladsye.

Die Christen Afrikaner en Afrikanernasionalisme... 'n Identiteitskrisis

Afrikanernasionalisme ... waarvan praat ons? Nasionalisme is “vurige Vaderlandsliefde”. Praat ons dus van die Afrikaner wat teen wil en dank nog verbete en domastrant wil vashou aan die Ou Suid-Afrika, van die Afrikaner wat ook van die Nuwe Suid-Afrika ’n Patriot is, of praat ons van dié wat argeloos wil opgaan in die newels van ’n beginsellose Nuwe Suid Afrika? Kan ons daarom werklik vandag praat van iets soos ’n Afrikaner Nasionalisme? Vir baie Christene is die Afrikaner se beantwoording van die vrae wesenlik belangrik. Vir die Christen Afrikaner self, raak die vraag na sy eie identiteit al meer dwingend. Hy bevind hom vandag van buite en van binne in ’n onwelkome noute.

ou Afrikaanse vlag🔗

Sterwende Nasionalisme🔗

Van buite beleef baie Afrikaners ’n kultuur wat van hom vra om, teen sy beterwete, te bely dat byna alles waarvoor hy in die verlede gestaan het, verkeerd was. Dit is moeilik om ten spyte van die onbillike eise steeds lojaal te bly. Benewens hierdie druk is daar ook die werklike ruïnes van sy nasionale verlede. Die onthullings van die geraamtes in die kas deur die Waarheid- en Versoeningskommissie, die grafte van die ou vlag en van Die Stem, is vir baie traumaties. Onder ’n nuwe vlag en volkslied word ’n vlaag van plaasaanvalle, wat veel meer as net “nog geweld” is, getrotseer. Dit gebeur met die wete dat daar ’n skraal hoop is om, veral as manlike, blanke Afrikaanssprekende, van regeringskant gesteun te word om werk te kry. Die leidende broodwinner van gister staan met ander woorde nou agter in die ry! Nog is dit het einde niet. Die ou Christelike grondwet is vervang met een van die mees liberales ter wêreld. Die transformasie van die Afrikaanse skole is aggressief gemik in die rigting van ’n nie-Christelike opvoeding. Dit is baie gevra om in sulke omstandighede vurige vaderlandsliefhebbers te wees, terwyl die Afrikaner weet dat hy, ten spyte van al sy foute in die verlede, substansieel bygedra het tot die welvaart van die Suidpunt van Afrika. Dit sou veel makliker wees wanneer sy bydrae tot die bates van die land meer openlik erken word.

Van binne eie geledere lyk dinge egter nie veel beter nie. Op regeringsvlak is die onderlinge stryd tussen Afrikaners nou nie juis iets wat geborgenheid by sy ondersteuners kweek nie. Op die gebied van die kunste het dinge ook drasties verander. Stokvel, Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis slaan nou die kitaar, terwyl oupa se sakkie-sakkie byna nog net op Radio Pretoria gehoor word. Maar die ergste klippie is seker die een wat in die Christen Afrikaner se kerkskoen bly haper. Ook in die kerk is daar in die “ou” tradisionele kerklike kringe ’n akute verwerping van byna alles wat in die verlede vas geglo is. Vroue het skielik leraars geword, kinders sit ewe kontant aan die Nagmaaltafel en die aanspraak van die aktiewe homoseksuele om aan dieselfde nagmaaltafel te kom sit, word al meer verwelkom. Waar die gangbare gereformeerde lidmate van die “drie Susterkerke” vroeër hulleself duidelik onderskei het van die sogenaamde “Happy Clappies” (Charismatiese kerke) is die “Happy Clappies” nou te “dood” vir baie “gereformeerdes”! Leidende teoloë in tradisionele kerke soos Izak Spangenberg, Christina Landman en Andries van Aarde het die hart van die gereformeerde geloof uitgeruk, deur die Evangelie van Christus openlik in die pers te verskraal.

Hierdie veelvuldige aanslag kan nie anders as om die Afrikaner in sy wese te laat soek na sy nasionale identiteit nie. Dit het noodsaaklik geword dat die Christen Afrikaner ’n gesonde perspektief op homself kry.

Dat daar van die Afrikaner se kant skuld te bely is, is seker, maar dan myns insiens so bietjie anders as die eise van die samelewing. Dinge moet erken word, maar dan van alle kante. Die Afrikaner moet ook bevry word van ’n onmenslike verwyt (2 Korinthiërs 2:5-8). Met veel meer presisie moet sondes uitgewys word. Veralgemenings het nog nooit gehelp in delikate situasies nie.

Afrikaanse leiers🔗

Onbybelse Leierskap, Geheime Agendas en Elitisme🔗

Dit is met ’n skok dat die gemiddelde Afrikaner via die pers en Waarheid-kommissie moes verneem hoe daar in die vorige era deur hulle Christelike voorlopers gekonkel is. Die joernalis en skrywer, Chris Louw se twee woede-boeke teen die korrupsie van die “ooms” van gister, spreek vanself. Dat veral die destydse Broederbond in die naam van Christelikheid onberekenbare skade aangerig het, is by my nie ’n vraag nie. ’n Mens verwys natuurlik na ’n gesiglose entiteit as jy die stelling maak, maar ek het geen twyfel dat die strategiese posisie van die beweging in ’n baie belangrike tyd van die geskiedenis, katastrofaal was vir die lot van die Afrikanervolk nie. Onder die goeie bedoeling (?) van “Christelikheid” en opheffing van die arm blankes, is uiteindelik fanatiese nasionalisme en elitisme gekweek wat die rug van die volk eers fier en regop gemaak het, maar uiteindelik gebreek het. Of daar baie opregte en vroom mense aan die organisasies behoort (het) is moeilik vas te stel. Die realiteit is egter dat daar in die naam van “die Volk”, geheime vir die volk gehou is en negatief gediskrimineer is. Daar is nie alleen gediskrimineer t.o.v. ander volke nie, maar ook teen die meerderheid van die Afrikanervolk. God haat geheime agendas en ede, veral tussen Christene (Matteus 10:26-27; 23:16; Prediker 5:3-5; Openbaring 2:15). As onsigbare “broederskap” het die ranke van die beweging subtiel die kerk en staat gemanipuleer met fyn georganiseerde omsendbriewe, persoonlike gewin en geheime vergaderings. As jy nie een van die uitverkore “Super Afrikaners” (oftewel broeders) was nie, was jou paadjie maar met duwweltjies besaai.

In die proses is goeie talente onderdruk en oneerlike leiers gekweek. Die wrang vrug het ons almal saam gepluk. Die Afrikaner skitter vandag in sy gebrek aan Christenleiers!

Aanvanklik was “Afrikaner Christelikheid” vir die Broederbond ’n handige golf om op te ry. Onder hierdie leuse is die Afrikaner dan ook merkwaardig opgehef uit die bouvalle van die Tweede Vryheidsoorlog. Teenoor die gemeenskaplike vyande, die Britte, die ANC en die Kommuniste was die slagspreuke “Christelik” en “Afrikaans” klipharde identiteitskoördinate. Dit het die platgeslane Boerevolkie se voete weer op vaste grond gesit. Maar saam met die edel motiewe was die kiem van ellende en selfsug ongelukkig reeds aanwesig. Jy kan nie God en Mammon ewe lief hê nie. Nog nooit kon die sentimente “Christelik” en “Volk” as gelykwaardiges in die mensehart oorleef nie.

Die Bybel waarsku ons nie verniet teen geheimhouding, oordrewe liefde vir die eie en liefdeloosheid nie (Matteus 10:36 e.v.). Christenwees is altyd hoër as enige ander saak. Die oomblik toe Christelikheid en blankheid as eweknieë geregverdig is, het eiebelang outomaties bo Christelikheid gaan staan (Lukas 16:13). Apartheid het dus, vir die Afrikaner, lank voor “Apartheid” begin. Predikante (skoolhoofde, direkteure, rektore ens.) is dikwels “beroep” deur die “broeders” en nie deur die broeders ouderlinge nie. Broeders versus broeders… ’n ironiese paradoks! Voorspoed, rykdom en mag het gou gevolg. Die goud en die ideologie moes beskerm word. Strategiese besluite is eerder geneem ter wille van die “Afrikaner” as van die “Christen”. Die maatstaf was nie meer God se Woord nie, maar die eie agenda. Die straf van die Here God sou nie uitbly nie. Tug oor afvallige lidmate het in kerke verslap, die trou aan die Gereformeerde Belydenisse is laat vaar en dwaalleraars is met sagte hand geakkommodeer. Voorbeelde hiervan is legio. Reeds in die dertigerjare is prof Du Plessis toegelaat om met teologiese moord weg te kom. Ek onthou self hoe die “broeders” van die kerkraad waaraan ek eertyds behoort het, hulle lidmaatskap teenoor die res van die kerkraad doelbewus en selfs met leuens verswyg het. Terselfdertyd is al ons pogings om terug te keer na ware kerklike reformasie aktief deur dieselfde “broeders” gekniehalter. In dieselfde tyd sê ’n hooggeleerde en “broeder” aan my dat ek nie “my mooi toekoms in die” spesifieke kerk waaraan ek behoort “moet benadeel nie”. Dié water is egter onder die brug deur, maar die stroom vloei onrusbarend voort! Op politieke gebied is die mag verloor, maar in die kerklike arena kan eenoog blykbaar nog steeds ongehinderd koning kraai.

Die hedendaagse gesamentlike poging tussen leiers van die drie susterkerke om ’n teologiese ommeswaai te bewerk, is opvallend. Daar verskyn in ’n baie kort tydjie ’n reeks “ekumeniese” publikasies wat die Afrikaner-kerkganger wil verenig. In ’n ommesientjie sien ’n nuwe belydenis (Geloofsverklaring 2000), ’n nuwe Bybelverklaring (Die Bybel-lennium) en ’n gesamentlike teologiese opleiding tussen die NG en Hervormde Kerk, die lig. Nie te lank daarna verskyn die “Liedboek vir die Afrikaanse Kerke”. In al die nuwe publikasies is daar samewerking tussen leiersfigure van veral die “Susterkerke”. In hierdie werke is ’n pertinente afwyking van dieselfde kerke se “ou” gereformeerde oortuigings te bespeur. Is dit alles toevallig? Wat ’n wonderlike dag as daar ’n Willie Jonker in die Afrikaanse kerke sal opstaan en dié keer, nie sy politieke skuld nie, maar sy konfessionele skuld teenoor sy mede-Afrikaner sal bely. Dit sal ongetwyfeld baie moed vat van iemand om so in die reine te moet kom. Dit is mos veel makliker om suutjies te bly sit tussen niksvermoedendes.

Mandela en de Klerk

Nugter Volksliefde is nie Sonde nie🔗

Teenoor fanatiese nasionalisme staan die gevaar van goedgelowige naïwiteit. Wanneer Jesus sê ons moet ons eie mense haat as ons sy dissipels wil wees, moet ons dit reg verstaan. Hy bedoel verseker nie ons moet liefdeloos wees teenoor ons dierbares nie, maar dat ons Hom meer moet liefhê as enigiets anders. Dat ons dierbares, d.w.s. ook die volk waaruit die Christen kom, dierbaar bly is nie te betwyfel nie. Nooit mag dit egter belangriker word as die Christenbroeder langs jou nie (Galasiërs 6:10). Om egter te wil voorgee dat iemand wat ’n getemperde kultuurliefde openbaar onbybels optree, is vergesog. Die ander kant is net so waar. Daar is vandag nog kerke wat nie uit die foute van die Broederbond geleer het nie. Hierdie mense beweer hulle stel, net soos in die vorige era, blankheid en lidmaatskap op dieselfde vlak. Hulle eis kerkordelik dat slegs mense van hulle velkleur lidmate van “hulle” kerk mag wees. Hulle toon egter weer die illusie van so ’n ideologie, deurdat daar ’n tweede eis vir lidmaatskap is en dit is dat die lidmaat nie alleen van hulle ras moet wees nie, maar ook moet saamstem met hulle ideologie. So nie kan hy nie lidmaat van “hulle” kerk wees nie. M.a.w. weer dieselfde skeiding tussen Christene in een volk a.g.v. eiebelang. ’n Mens sien die verwronge vrug van die dwaling byvoorbeeld in die prioriteit wat die mense steeds aan aardse dinge gee, soos die opvoeding van hulle kinders in staatskole ten spyte van die “vermenging” wat hulle op kerklike gebied bestry. Ter wille van sport en status kan dubbele standaarde maar gehandhaaf word. Deur volk bo God te stel val hulle laer as ’n groot deel van hulle volk. Tragies beroem die mense hulle dan op die gereformeerde leer!

Eers Terug na die Belydenisse🔗

Dr Willie Marais lewer in sy boekie “So sien ek die toekoms van die Afrikaner” (Pretoria, 2001) ’n moedige pleidooi vir die Christelike behoud van die Afrikaner. Hy wys daarin dat die Afrikaner se enigste behoud is dat hy moet terugkeer na God toe. Dit is voorwaar ’n boekie wat die moeite werd is om gelees te word. Een ding skitter egter in sy afwesigheid in die boekie en dit is die gereformeerde gelofte wat byna elke Afrikaner tydens sy belydenis voor God afgelê het. Vyf Afrikaanse kerke lê vandag nog presies dieselfde gelofte voor die kansel af en dit is volgens die Drie Formuliere van Eenheid, die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Ongelukkig is dit vir die meeste Afrikaners vandag leë woorde. Vra maar die gemiddelde Afrikaner wat hierdie “gereformeerde” belydenis van hulle beteken en jy kry soveel antwoorde as vrae. Prediker 5:4-5 waarsku teen ’n onverantwoordelike belofte voor God.

Die Here sal so ’n onbesonnenheid wreek. Tydens ’n gereformeerde belydenisaflegging beloof elke lidmaat aan God dat hy die gereformeerde leer persoonlik sal handhaaf en verdedig. In die gereformeerde belydenisskrifte word duidelik omskryf wat die kerk nog altyd geglo het oor: kerkwees, regering, tug, die Persoon van die Here Jesus, die Drie-Eenheid, ens. Met ander woorde, die roete hoe die Afrikaner na God terug moet keer is nie ’n vae opdrag nie. Die roete is lankal reeds in die belydenisskrifte uitgemeet en die meerderheid Afrikaners het reeds hulle woord daarvoor gegee. Hierdie roete is ook reeds voorheen met sukses deur ons voorvaders geloop. Die Afrikaner stam uit die Reformasie en hy moet net weer daarheen terugkeer. Die toorn van God sal oor die Afrikaner bly solank hy die eed minag. Ons moet ook nie hierdie skuld voor die huidige leiers gaan lê nie. Ek onthou goed hoe die kerk waarin ek was, lank voor die nuwe bedeling, stelselmatig die lering uit die Drie Formuliere onder die matjie ingevee het, totdat die aanddienste selfs verdwyn het. Ek herinner my hoe godsdiensperiodes op skool vir meneer en die klas die teken was om gou die ander werkies in te haal. Die Afrikaner sal moet bely teenoor God dat ons reeds lank voor die nuwe regering, as volk ons eie gereformeerde belydenis versaak het. Die gevolg was presies dieselfde kleitrappery tussen wie nou volk en wie nou kerk is, as wat ’n mens vandag nog by die Afrikaner sien.

nuwe suid afrikaanse vlag

Waar die regse Afrikaner vandag die kerk wil kaap vir die volk, wil die linkses die volk laat verdwyn in die grys massa van die Nuwe New Age Suid-Afrika. Die belydenisse wys ons die regte pad hieruit. Om Afrikaans te wees en te wil wees, is geen sonde nie. Om nasionale drome te hê vir jou volk en land is nie ongereformeerd nie. Om behep te wees met jou eie kultuur is net so gevaarlik as om dit te ignoreer. Sowel negatiewe en afkerende houding by so baie Afrikaners met betrekking tot landsake, as onrealistiese vermenging of die hebsugtige eiebelang is nie tot eer van God nie. God het die Afrikaner gemaak en ’n nasionale Afrikaner mag en moet hy wees. Die gereformeerde Afrikaner bind hom egter alleen aan God se Woord en saam met gereformeerdes van oral oor vind hulle nasionale, internasionale en tydlose geestelike eenheid en vryheid. Intussen mag hy soos enige ander volk hier op aarde streef na gereformeerde skole in sy eie taal, na wet en orde en selfs na ’n eie Christelike en geografiese landstreek soos dit God mag behaag.

Die oplossing vir die identiteitskrisis is dus TERUG NA JOU GEREFORMEERDE KERK EN BELYDENIS. Daaruit kan die dwaalleraars, die chaos en die onsekerheid effektief en met die seën van Koning Christus, bestry en oorwin word (Art 36 NGB). Die Afrikaner het vandag ’n sleutelrol om te speel in Suid-Afrika. Hy het dit alles. Hy het die kapitaal, die opleiding, die ervaring, die beloftes van God op sy bekering en die leer om Suid-Afrika beduidend positief te beïnvloed, as hy maar net gehoorsaam sal wees.