3 bladsye.

Die Christen as Verpleegkundige

Onlangs het ’n boek uit die pen van Bart Cusveller verskyn met die titel: ‘Volwaardige Verpleging’. Hy is verpleegkundige en filosoof en werk aan die Prof GA Lindeboom Instituut - ’n christelike studiesentrum vir mediese etiek in Ede, Nederland. Die skrywer het onlangs sy doktorsgraad verwerf oor die vraag wat die christelike geloof met verpleegkundige beroepsuitoefening te doen het. Hierdie artikel vertel iets daaroor.

Wat het die christelike geloof met die uitoefening van die verpleegkunde beroep te doen? Hou dit in dat die christen-verpleegkundige ’n christelike mensbeeld en ’n ander antwoord op ’n paar medies-etiese kwessies het, maar andersins in die saal tot die orde van die dag oorgaan?

Is ons nie ’n bietjie skaam oor ons christelike geloof nie? Is professionaliteit, los van geloof, nie in elk geval die hoogste prioriteit nie?

Daar was ’n tyd toe alle mediese handelinge as suiwer empiries beskou is, los van enige wêreldbeskouing. Intussen is dit baie duidelik dat enige wetenskapsbeoefening nie volledig kan berus op feite waarvan die waarheid onmiddellik met alle sekerheid vasgestel kan word nie. Enige persoon wat in die gesondheidsorg werk sal dit ruiterlik erken. ’n Bekende Amerikaanse filosoof, Wolterstorff, het onder andere gesê dat die wetenskap nooit so in die praktyk kan werk nie. Geloofsoortuiging het ’n duidelike plek in alle mediese handelinge. As dit so is, waarom sou christene nie ook in hul wetenskapsbeoefening gewoon gebruik kon maak van alles wat hulle weet, inklusief wat hulle as christen weet nie?

Skaam vir Christen-Verpleegkundige wees?🔗

In die gesondheidsorg is dit dikwels die geval dat ons as christelike verpleegkundiges ons laat intimideer deur ons geloofsoortuigings aan die kant te skuif ter wille van die professionaliteitsideaal. Maar, kan mens tereg vra, sou christen-verpleegkundiges nie ook professioneel kon wees as hulle op ’n sekere manier vir die pasiënt sorg, omdat hulle dit as christen tot hul professie reken nie? Moet ’n mens vandag onomkeerbaar van roeping na beroep skuif? Daar is iets soos christelike professionaliteit in die verpleegkunde. Immers, waar het die “hospice” byvoorbeeld vandaan gekom? Of die sorg vir die geestelike aspekte van die pasiënt? Of die kritiek op die kommersialisering van die gesondheidsorg? Het dit nie uit ’n christelike hoek gekom nie?

Daar is meer nodig as om net ’n antwoord op kwessies soos aborsie en eutanasie te hê. ’n Antwoord daarop het nie noodwendig iets te doen met die praktyk nie. ’n Antwoord op die problematiek van die kwessies het ’n uitwerking van jou geloofsoortuiging in die praktyk nodig. Beide die verpleegkunde en die lewensbeskouing het verbande met mekaar wat nie uitmekaar getrek kan word nie – beide het te doen met die menswees self. Verpleegkundiges kry met allerhande fasette van die lewe te doen – geboorte, grootword, siekte, gebreke, lyding en dood. Hul handelinge het direk met menswees te doen. Wie kan beweer dat lewensbeskouing nie direk met hierdie dinge te doen het en uitdrukking gee aan die praktyk, dikwels harde praktyk van elke dag in ’n hospitaal nie?

Die Bril van die Christen-Verpleegkundige🔗

Daarom is dit niks minder as normaal dat ’n christelike verpleegkundige deur ’n christelike bril na die pasiënt se versorging kyk. Die christen-verpleegkundige sien die meeste dinge dan net soos die nie -christen kollega. Dit is mooi, want so kan hulle saam die vak beoefen. Christen-wees is daarom nie altyd anders-wees in die praktyk nie. Dit gee egter wel ’n ander uitkyk. Dan tree jy dikwels ook anders op en bespreek dit met jou kollega’s. Dit is professioneel as verpleegkundiges hierdie fundamentele sake kan verwoord. Christenwees voeg nie altyd iets eksklusiefs aan jou praktyk toe nie, maar die lewensbeskouing word wel definitief in die praktyk uitgedruk. Onlangs is ’n studie in Nursing (’n bekende joernaal in verpleegkunde) gepubliseer waarin ’n verpleegkundige vertel van haar gewetensnood om die bed van ’n pasiënt skoon te maak wat sopas ’n aborsie gehad het. Die doel van die studie was om die verhouding van geloof en werk as verpleegkundige te bestudeer. Stilswyende begrip vir mekaar se geloof was een van die konklusies; ’n ander dat die geloof wel deeglik die omgang met pasiënte beïnvloed – veral die wetenskap dat jy krag en steun kan put uit die Woord van God.

’n Voorbeeld uit die Hospitaal🔗

’n Verpleegkundige vertel onlangs oor haar werk in die Neurologie-afdeling. In hierdie saal is baie pasiënte wat aan MS (multiple sclerose) of CVI (cerebrovaskulêre insident of beroerte) ly. Hierdie siektes bring ’n geweldige ommekeer in iemand se lewe en roep gevolglik vrae op. Waarom het dit met my gebeur? Wat is die rede hiervoor? Hoe moet ek nou verder dinge hanteer? Sy wil hierdie vrae graag met die pasiënt bespreek. Sy skep ruimte tydens die versorging van die pasiënt om aan te sluit by die nood van die pasiënt. ’n Christen-verpleegster maak hierdie vrae bespreekbaar en praat met die pasiënt daaroor. Elke pasiënt is natuurlik weer anders, maar juis dit is ’n geweldige uitdaging om in fyngevoeligheid en opregte belangstelling by die pasiënt se vrae uit te kom. Mense in erge nood en aan die einde van hul lewe, val dikwels terug op die geloof. Gewoonlik is daar nie ’n predikant nie, maar daar is sekerlik verpleegsters. Hierop kan die verpleegster bedag wees. Die uitdaging vir verpleegkundiges is om ’n gevoelige antenna te ontwikkel om te besef wanneer en hoe die geloof vir die pasiënt leef.

Gewetensnood?🔗

Wanneer kom verpleegkundiges in gewetensnood? Wanneer hulle gevra word om iets te doen of aan mee te werk waarteen hulle prinsipieel gekant is. Kom ons neem ’n voorbeeld. Verpleegkundiges het geen beroepsverantwoordelikheid om samewerking te gee aan handelinge wat gerig is om die lewe van ’n pasiënt te beëindig nie. Hulle hoef dus nie hieraan mee te werk nie, maar het wel deeglik die verantwoordelikheid om die betrokke pasiënt te verpleeg, ook as die pasiënt uitdruklik vir eutanasie vra. Observasie, verslaggewing, begeleiding en toediening van nodige medikasie en algehele versorging is steeds deel van die taak.

Nog ’n voorbeeld is abortus. Die christen-verpleegkundige het met reg gewenstensnood waar dit abortus betref. Waaroor kan die verpleegkundige gewetensbeswaar hê? Teen die uitvoer van ’n abortus? Wel, dit val in elk geval nie in die beroepsverantwoordelikheid van verpleeg-kundiges nie, tensy hulle in die teater werk. Kan ’n verpleegkundige weier om te help met die voorbereiding van ’n aborsie? Ja, dit behoort by hul beroepsverantwoordelikheid en vir sover die voorbereidings gedoen word vir die slaag van die aborsie, kan hulle dit weier.

Gewetensnood oor die versorging van ’n pasiënt, los van die voorbereiding en uitvoer van ’n aborsie? Nee, omdat dit los staan van die ingreep kan hulle dit nie weier nie. As christen-verpleegkundige met gewetensbeswaar oor aborsie, is jy steeds daarvan oortuig dat die pasiënt, al ondergaan sy ’n aborsie, steeds sorg nodig het. Juis in hierdie versorging is die christen-verpleegster nodig. Sy moet egter duidelik wees: met die voorbereiding en uitvoer van aborsie wil sy niks te make hê nie. Dit gee die uitgangspunt van liefdevolle bewoë versorging, maar dit is duidelik prinsipieel bepaal.