Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Die Dood: Oorwin deur Christus

Dié wat glo, is vir ewig veilig by God. Dit word duideliker en konkreter in die Nuwe Testament gestel. Die mees konkreet op Goeie Vrydag, toe Christus aan die moordenaar aan ʼn kruis langs hom gesê het: “Ek verseker jou; vandag sal jy saam met my in die paradys wees” (Lukas 23:43). ʼn Paar uur later hoor ons Hom sê: “Dit is volbring!” ʼn Paar dae later word dit egter duidelik wat die gevolge van die volbragte werk was: Jesus Christus, die gekruisigde, staan op uit die dood en word voortaan ‘die opgestane’. Hy het die dood heeltemal en totaal oorwin! Die boodskap word verder in die Nuwe Testament uitgewerk en gekonkretiseer.

Paasfees🔗

Paasfees is, na die sondeval, die groot keerpunt in die geskiedenis van die wêreld. Dit is ‘dié dag van die lewe’. Johannes gee aan die eerste dag van die week die benaming ‘die dag van die Here’ (Openbaring 1:10). Daardie moment is van só ʼn groot betekenis in God se bevryding van sy skepping en van sy mense, dat God se kinders dié dag opsy gesit het en dit gevier het as ‘die dag van die Here’. Paasfees word eintlik weekliks ‘gevier’.

Dit is van belang, nie net vir die Here Jesus nie, maar ook vir almal wat aan Hom behoort.

Hy is nie die enigste wat opgestaan het nie, maar die eerste. Hy word genoem die ‘Eersgeborene uit die dode’ (Kolossense1:18). Toe Hy uit die dood opgestaan het, en dus as’t ware deur die dood gegaan het, beteken dit vir die gelowige, dat ook vir hulle die dood nie meer mag het nie. ‘Wie... glo, het die ewige lewe; oor hom word geen oordeel uitgespreek nie, want hy het vanuit die dood oorgegaan na die lewe’ (Johannes 5:24).

Dood en opstanding🔗

Verder word die opstanding in die Nuwe Testament meer konkreet. Wie met Christus leef (dit is dié wat glo), is met Hom gekruisig, gestorwe en begrawe, maar het ook met Hom opgestaan.

Dit beteken, soos Paulus in Romeine 6:1-13 skryf, dat ook die gelowige hom net soos Christus op God sal rig en hom dus nie langer meer in diens sal stel van die sonde nie. Met ander woorde: die krag van Christus se opstanding word nou al sigbaar in ʼn heilige lewe, wat in diens van God staan. Wie met Christus leef, mag ook glo dat hy na sy sterwe sal bly lewe; by sy Heiland. Eenmaal sal sy liggaam ook uit die graf opgewek word. Maar nie alle mense sal eendag sterwe nie. Dié wat nog op die aarde lewe wanneer die Here Christus terugkom op die wolke, sal nie sterwe nie, maar in ʼn onverdeelde oomblik, in ʼn oogwink, ‘verander word’ (1 Korintiërs 15:51-52). Ons sal ons liggame terugkry, maar dan wel in ʼn verheerlikte, onverganklike en onsterflike vorm.

Hierdie boodskap het ná Pinkster in die Christelike kerk deurgewerk. Hierbo het ek genoem dat die eerste dag van die week ‘die dag van die Here’ genoem is. In die begin was daar seker so hier en daar ʼn sterk verwagting van die wederkoms. Sommige het gemeen dat die wederkoms heel gou sal plaasvind. Heel gou was daar ook diegene (vanuit die toekomsverwagting?) wat die lewe hier op aarde van minder waarde geag het as die toekoms in die hemel. Die aardse lewe was wel nodig, maar die geestelike lewe was beter. In die latere Middeleeue ontstaan daar ʼn enorme opgang van die ‘kuns van te sterwe’ (die sogenaamde ‘ars moriendi’). Die uitbreek van die groot pes, wat Europa in die 14de eeu geteister het, sou ook daartoe bygedra het. Van hierdie stede is by tye, deur hierdie siekte, met meer as die helfte ontvolk. Die lewe was onseker, en daar was die voortdurende bedreiging van die dood. Die opkoms van die bedelorde en boetepredikers het nog daarbygekom, wat die angs oor wat ná die dood kan kom nie minder gemaak het nie. Die Middeleeuer het in ʼn bogemiddelde angs vir die dood, hel en vagevuur geleef.

Angste wat deur die genoemde onsekerhede versterk is.

In die sterwenskuns was daar ʼn aantal grondvorme, nl. die aansporing (om die lewe te laat los en die lyding geduldig te dra, want in die vagevuur is die pyn veel erger). Die ondervraging, (bv. ‘Is daar by jou nie blydskap omdat jy in die Christelike geloof mag sterwe nie’?); die gebede; die pligte (die gebruik van die sakramente: bieg, Nagmaal en laaste oliesel); en die versoekinge. Later het daar ook veel rituele bygekom: die gebruik van wierook, ʼn brandende kers wat in die hande van die sterwende gedruk word, en om kruisbeelde voor die sterwende te swaai.

Die Hervorming het met al hierdie bygelowe gebreek. Maar dit het die angs vir die hel en die vagevuur as dryfveer gebruik vir die geloof! Juis die rykdom van die evangelie van die vryspraak, het ook ʼn ander aksent geplaas op die voorbereiding vir die dood. Dit word meer op Christus en die toekoms by Hom gerig, maar ook op die geloof dat Hy vir al die sonde betaal het.

Omgang met dood en rou: wins uit die verlies🔗

Wanneer ons die Bybelse lyne probeer deurtrek na ons lewens toe, op die punt van die omgang met die dood en rou, wil ek die volgende dinge noem:

  1. Die lewe is deur God geskep, met die bedoeling dat dit saam met Hom geleef sal word. Dit beteken dat ons lewe hier, in watter vorm ook al, nooit ‘minderwaardig’ is nie. Dit is deur God geskep en deur Hom bevry.
  2. Soos die sterwe naderkom, breek die oomblik aan, om soos Jesaja vir Hiskia gesê het, sy laaste beskikkingsreëlings te tref. Die lewe hier op aarde nader sy afronding. Die woord ‘afronding’ dui aan wat daar gebeur. Dié wat gaan sterwe,       moet hulle lewe afrond. Dit beteken om sake te reël wat gereël moet word, en om afstand te doen van baie, en uiteindelik almal en alles om jou heen. Maar afronding beteken ook: terugkyk en oorsig. Dan kan soms heel ou sonde met nuwe krag te bowe gekom word en vir vele aanvegtinge sorg. Maar gelyktydig mag dit dan ook blyk dat ons hele lewe nie meer onder die heerskappy van die sonde is nie, maar onder God se genade! En so kom ook die genade tot ‘afronding’ in die lewe; en wel in die oorgawe aan God se beloftes. Wie van alles afstand doen, mag opmerk dat Christus nie wegval nie, maar bly!
    By die afronding hoor ek dat mense met mekaar praat oor wense rondom die begrafnis, en met betrekking tot die lewe van hulle wat daarna agterbly. Maar dit is nie goed om daarmee te wag tot by die sterfbed nie, want nie almal kry die geleentheid daartoe nie. Dikwels word gesprekke oor die moontlike sterwe vermy. Maar hoe goed is dit vir dié wat agterbly, om te weet watse mens die oorledene was, en hoe goed dit was om saam te kon praat oor die lewe hierna.
  3. By die begrafnis sal die oorwinning van Christus oor die dood sentraal staan. Ons praat van ʼn Christelike begrafnis. Heeltemal tereg ook, want die boodskap van die Bybel oor die lewe sal bepalend wees. Maar gelyktydig mag (en moet) daar wel deeglik aandag gegee word aan die persoon wat begrawe word. Ons begrawe nie by willekeur maar net ‘iemand’ nie, maar wel ʼn bepaalde mens. Dié wat agterblyoorskou ʼn hele lewe, met positiewe en minder positiewe kante. Maar juis met ʼn Christelike begrafnis sal dit dan ook duidelik word dat God se genade die deurslag gee. Dan staan die mens nie in die sentrum nie, maar aan hom of haar moet wel laat reg geskied word. Te veel aandag aan die oorledene word nie goed gekorrigeer as daar later heeltemal niks oor die gestorwene gepraat word nie. So is daar in die geskiedenis van die kerk wel meer dikwels sprake van ʼn reaksie. As blomme bedoel is om die dood te ‘verbloem’, en om dit dus min of meer te onderdruk of te ontken, kan ʼn verbod op blomme ook deurslaan. Maar ook hierin geld, net soos vir die aandag vir die persoon van die oorledene, dat soberheid die boodskap van die begrafnis kan onderstreep, waar uitbundigheid soms afgelei word.
  4. Rou: ‘Om te rou is harde werk’, het iemand eendag gesê. Dit is egter goed om ook daarvoor tyd in te ruim. God verbied dit nie om te rou nie, en elkeen beleef dit op sy en haar eie manier, en vul dit ook op hul eie manier in. Daar bestaan geen algemene gedragslyn daarvoor nie. Dis in elk geval waar dat menslike emosies hul nie sommer laat onderdruk nie. En verdriet is geen teken van ongeloof nie. In teendeel: waar die (saam) lewe goed was , word baie gemis, en dié pyn moet nie onderdruk word nie, maar beleef word. Ook dít is iets waarin die Here wil deel, want dit was sy doel, toe Hy die wêreld geskep het en met die mens sy verbond gesluit het: Hy wil in gemeenskap lewe. Eendag sal dit volmaak wees, maar dit moet nou al begin. Ook in verdriet en rou.

Om ten slotte terug te kom by die begin van die Bybelstudie:

Die dood ís ʼn harde neut. Maar dié neut is op alle fronte deur ons Here Christus gekraak. En, al lyk dit nie so nie; dit sál eendag so blyk.

Vir die wat glo, is die toekoms vol lewe. Daarom kan jy nou al sing:

Nu jaagt de dood geen angst meer aan,
want alles, alles is voldaan !
Wie in ‘t geloof op Jezus ziet,
Die vreest voor dood en helle niet.

Want nu de Heer is opgestaan,
Nu vangt het nieuwe leven aan:
een leven door zijn dood bereid,
een leven tot in ewigheid.Gez. 95:3-4, nieuw kerkboek.

Begrawe of veras?🔗

Die vraag of verassing geoorloof is, kom dikwels voor. Van ouds af was dit die aanvaarbare vorm vir die begrafnisondernemer om mense te begrawe. Toe die verassing in die begin van die 20ste eeu na vore gekom het, was dit vanuit die siening dat met die dood alles afgehandel is. Daarom moet jy nie begrawe word nie, aangesien dit suggereer dat daar nog iets is. Daar word soms ook die argument van die higiëne gebruik. Die opvatting was dat verassing baie ‘skoner’ was as om te begrawe, en dat dit minder ruimte in beslag neem. Christene was altyd teen verassing gewees. En tereg ook, gesien in die lig van die argumente waarmee verassing ingevoer is. Tog is ʼn ‘nee’ daarteen nie ʼn absolute verbod nie. Om te begrawe was die voorkeurkeuse op grond van die Bybelse voorbeeld van die graankorrel wat in die aarde val en sterwe en so vrugte voortbring. Dit is goed om daaraan vas te hou. Maar as daar ʼn land is, soos Japan, waar skaars grond so duur word dat ʼn graf onbetaalbaar kan word, lyk die saak anders, ook vir Christene.

Om te begrawe is die simboliek duideliker. Bowendien is dit ook ʼn konkrete punt, om te weet waar die liggaam van die gestorwe geliefde is. Elkeen gaan daarmee om op sy/haar eie manier. Wat egter vasstaan is dat al die dooies sal opstaan, ook dié wat verbrand is.

Maar juis vanuit die opstanding in heerlikheid, is ʼn begrip soos ‘kerkhof’ baie mooi. Dit wil sê ‘die tuin van die kerk’, waarin eendag deur Christus self, by sy wederkoms, die blomme te voorskyn sal kom: al sy gelowiges sal opstaan en straal, tot eer van hul skepper en Verlosser.