4 bladsye.

Die Doodstraf in die Wet van God

justitia

Baie mense in Suid-Afrika is ten gunste van die doodstraf. Dit is myns insiens goed dat ons oor hierdie onderwerp nadink sodat ons weer sal besef dat die doodstraf ’n Bybelse gegewe is. Daar bestaan baie vrae. Ek wil in hierdie artikel graag die een en ander sê oor wat die Bybel oor dié onderwerp duidelik maak, en begin met dit wat die Bybel oor regspraak in die algemeen sê.

Regspraak in die Bybel🔗

In Romeine 12:19 sê die apostel Paulus: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” Paulus haal uit Deuteronómium 32:35 aan. In hoofstuk 13 van die brief aan die Romeine lê Paulus uit hoe die Here, by name deur middel van die owerheid, die kwaad vergeld. Paulus sê: “daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel…” (Romeine 13:1), en pas dit dan toe met die waarskuwing dat die owerheid namens God straf. Hy stel dit nog sterker: “die owerheid is  ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (13:4).

Hier is Twee Punte van Belang🔗

  1. Eerstens leer die Bybel dat elke owerheid namens God diens doen. Net soos hier in Suid-Afrika, kon die Romeinse owerheid dít nie vermy nie. Selfs ’n nie-Christelike owerheid staan onbewus in diens van God om misdaad te vergeld. Die belangrikste punt hier is dat God van elke owerheid rekenskap sal vra op die jongste dag. Het u ooreenkomstig My wil opgetree teen misdaad, of het u misdaad selfs bevorder? Dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering met ’n mond vol tande sal staan – dink maar net aan die houding teenoor verdowingsmiddels en prostitusie, die wettiging van moord op ongebore kinders en die bevordering van homoseksualiteit as alternatiewe lewensstyl.
  2. Tweedens is daar ook die diens wat ons regering (deur sy regspleging) vir God verrig, om op te tree as sy wreker teen die kwaad. God het owerhede in die wêreld gestel om sy wraak teen misdaad uit te oefen. Dit is ’n baie belangrike deel van hulle taak.

    Wanneer ons die woord “wraak” hoor, gee ons meer dikwels daaraan ’n negatiewe toon. Dit is omdat ons dink aan persoonlike wraak, wat nie in die Bybel óf in ons samelewing geduld word nie. Persoonlike wraak mag nie. Maar wanneer die owerheid ’n straf aan ’n misdadiger oplê, is dit wel “wraak” in die Bybelse sin.

    Waarom? Strafoplegging hou in die Bybel altyd verband met regstelling. Wanneer ’n misdaad gepleeg word, is iemand benadeel. Hierdie nadeel moet deur middel van straf reggestel word. Die straf moet van gelyke waarde wees as die misdaad. Vandaar dan ook dat Justitia, die eeue oue simbool van geregtigheid, ’n skaal in haar linkerhand hou. ’n Misdaad bring die skaal in wanbalans en die gepaste straf moet die skaal weer in balans bring.

’n Oog vir ’n Oog🔗

’n Gepaste straf is nie altyd om terug te betaal wat jy geneem het nie. Daar was ook nadeel, ontwrigting en ander gevolge van die misdaadshandeling. Daarom het die Here, byvoorbeeld, dubbele vergoeding as straf vir diefstal gestel (Eksodus 22:7). Die terugbetaling van die gesteelde goed plus ’n boete van 100% is die wraak, die vergelding wat die Here vir die slagoffer vra. Die boete word nie aan die owerheid betaal nie, maar aan die slagoffer – dit was immers hy wat deur die misdaad benadeel is! Dit is wat regstelling beteken.

weegskaal oë

Hierdie beginsel is ook die agtergrond van die uitspraak van die Bybel: “Oog vir oog en tand vir tand” (Deuteronómium 19:21). Met ander woorde, elke misdaad moet ’n gepaste straf kry. Dit is ’n uitspraak binne ’n juridiese konteks. Daarom was die Here Jesus in Matthéüs 5:38-39 so fel teenoor die leer van die Fariseërs wat die uitspraak gebruik om persoonlike wraak te regverdig.

Dit is wel so dat die uitspraak (oog vir oog) en die beginsel van regstelling dan beteken dat vir die toedien van ’n liggaamlike letsel, die slagoffer dieselfde letsel as straf mag eis. As jou buurman jou van jou regteroog beroof, mag jy volgens die wet van God by die hof sy regteroog eis. Dit klink gruwelik, maar ons moet besef dat dit byna nooit in die praktyk gebeur het nie. Die rede hiervoor is dat, hoewel dié beginsel die grondslag van die straf is, die Here aan die slagoffer die keuse gee om die vergelding in ’n boete om te reken. Met ander woorde, in plaas daarvan om die regteroog van die dader te eis, kan jy ’n (geld)boete van hom vra. Vir die slagoffer beteken ’n boete (wat hy kry, nie die owerheid nie) natuurlik baie meer as die regteroog van die dader – hy kan immers niks daarmee doen nie! Ons sal weldra iets meer sê oor die moontlikheid van plaasvervangende straf wanneer ons oor die toepassing van die doodstraf praat.

Die opmerking wat ek hier wil maak, is dat ook die evangelie op hierdie beginsels gebaseer is. Wat ek tot dusver gesê het, raak die kern van die boodskap van die Bybel. God is gans regverdig en dit gaan by Hom om die regstel van die kwaad. Die kwaad moet met ’n gepaste straf gestraf word. Dit geld ook vir die evangelie. Op die jongste dag, wanneer die Here God as regter oor hierdie wêreld oordeel, sal hy nie die sonde sommer kwytskeld nie. Hy sal alle sonde teen sy heiligheid vergeld. Die enigste manier om die straf te vermy, is om Jesus Christus te vra om die straf vir ons te betaal; en Hy hét dit gedoen deur sy kruisiging. Deur ons geloof in Hom te stel, word ons skuld vir sy onskuld geruil. Hy betaal ons straf. Hy dra die wraak van God oor ons sonde.

Die beginsels wat God vir maatskaplike misdaad daargestel het, is dieselfde as dié by die boodskap van die evangelie. As ons die een uit die oog verloor, sal ons mettertyd die ander ook nie raaksien nie. Hoe ons na regstelling in ons samelewing kyk, sal direkte invloed hê op ons beskouing van die evangelie.

Vervanging van die Doodstraf in die Wet van God🔗

Al word die moontlikheid vir vervanging van die letterlike opgelegde straf min in die Bybel bespreek, is daar baie indirekte aanduidings daarvan. [Ons moet nie vergeet dat die “boeke van Moses” net ’n seleksie is uit die wette wat God aan Moses geopenbaar het nie. Ons weet byvoorbeeld dat God baie wette aan Abraham gegee het (Génesis 26:5) waarvan nie een vir ons bewaar gebly het nie, hoewel ons kan aanneem dat die wette wat aan Israel gegee is nie wesenlik daarvan afgewyk het nie. Daar word ook in baie gedeeltes in die Ou Testament melding gemaak van “wette van Moses”, wat nêrens in die eerste vyf boeke van die Bybel gevind word nie. Lees in die verband 2 Kronieke 30:16; Esra 6:18; Nehemia 30:32 e.v.].

Die moontlikheid vir vervanging van straf, geld ook by bepaalde misdade waarvoor die doodstraf voorgeskryf was. In Eksodus 21:29 e.v. lees ons dat as die eienaar van ’n bees geweet het dat dit gevaarlik is, en dit nie behoorlik oppas nie, en die bees maak iemand dood, dan moet die bees doodgemaak word en kry die eienaar die doodstraf. Maar dan lees ons in vers 30: “As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee wat hom opgelê word”. Die aanklaer (die naaste familielid van die slagoffer) mag dus in plaas van die doodstraf ’n geldbedrag (boete) eis.

Uit die Spreukeboek leer ons dat dieselfde plaasvervanging moontlik was by owerspel. Die voorgeskrewe straf vir owerspel is die doodstraf (Levitikus 20:10; Deuteronómium 22:22). Spreuke 6:32-35 (lees ook 13:7-8) waarsku dat die gekweste huweliksparty in ’n regsaak vir owerspel so kwaad kan wees dat hy nie losgeld wil aanvaar in plaas van die doodstraf nie. Die reg om die amptelik voorgeskrewe doodstraf te laat voortgaan, berus dan by die aanklaer in die saak.

Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets; slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; want jaloersheid is ʼn toorngloed in ʼn man, en op die dag van wraak (by die regsaak) verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot.

sak geld

Daar is egter misdade waarvan die Here gesê het dat géén losgeld aanvaar mag word nie. Ons lees in Númeri 35:31-33:

Maar julle mag geen losgeld aanneem vir die lewe van ʼn moordenaar wat skuldig is om te sterwe nie, want hy moet sekerlik gedood word. Ook mag julle geen geld aanneem om iemand vry te stel van die vlug na sy vrystad – sodat hy kan teruggaan om in die land te woon – tot op die dood van die hoëpriester nie. En julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land, en vir die land word geen versoening gedoen vir die bloed wat daarin vergiet is nie, as net deur die bloed van hom wat dit vergiet het.

In die konteks gaan dit hier oor moord met voorbedagte rade. Númeri 35:22 e.v. laat blyk dat by nalatige doodslag die dader na ’n vrystad mog gaan waar hy moes bly tot die dood van die hoëpriester.

Verpligte Doodstraf🔗

Die vraag ontstaan waarom die straf vir hierdie misdaad (moord) nie in ’n boete omgesit mag word nie? Het dit te doen met die feit dat die mens die beeld van God is? God self word deur moord in sy eer aangetas. Sy beeld word omgebring. Hierdie oorweging kom nadruklik ter sprake by die instel van die doodstraf vir moord in Génesis 9:6: “Hy wat die bloed van ʼn mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak.”

Was daar ander misdade waarvoor die doodstraf verplig was? In die lig van die feit dat dit aan die aanklaer oorgelaat was om ’n geldboete te kies, kan ons aanvaar dat waar daar nie ’n direkte aanklaer is nie, die opgelegde straf sou moes geld. Dit geld dan verseker vir misdade waar God in werklikheid die aanklaer is, dit wil sê by openlike misdade teen God, soos openbare afgodery (Deuteronómium 13; Levitikus 20:2); om God te vloek (Levitikus 24:10 e.v.; lees ook Heidelbergse Kategismus v&a 100); heksery (Levitikus 20:6, 27; Eksodus 22:18) en werk op die Sabbat (Eksodus 31:15).

Om sondes teen die Here self as misdade te straf, sal teenswoordig natuurlik net in ’n samelewing wat uitsluitlik Christelik is, kan voorkom.

Die vraag kan ook gestel word of dit wys is om ons vir die doodstraf te beywer in ’n maatskappy wat nie Christelik is nie. Bring dit nie gevare mee nie? Sou ’n onchristelike regsisteem nie so ’n straf kan misbruik nie? Die eenvoudige antwoord hierop is dat dié argument nie vir Paulus opgeweeg het teen die beginsel van regstelling wat die Here self gegee het nie – ’n beginsel ingevolge waarvan die doodstraf noodsaaklik is. Nadat Paulus gesê het dat alle owerheidsmagte deur God ingestel is, sê hy in Romeine 13:4: “...as jy kwaad doen, vrees dan; want hy (die owerheid) dra die swaard nie verniet nie, want hy is ʼn dienaar van God, ʼn wreker om die een wat kwaad doen, te straf.”

Die swaard was in die ou tyd (en vandag nog) die simbool van die handhawing van die reg, ook met die swaarste straf, die doodstraf (waarvoor die swaard gebruik is). Vandaar dat Justitia nie net ’n skaal in haar linkerhand nie, maar ook ’n swaard in haar regterhand dra.

Soos met alle dinge kan die doodstraf misbruik word. Die Here sal op die jongste dag ook die regters hiervoor verantwoordelik hou. Maar dit weerhou Paulus nie daarvan om te sê dat selfs heidense owerhede die verantwoordelikheid het om die doodstraf regverdig te gebruik nie. Ons moet nie vergeet dat Paulus self uiteindelik (onregverdig) deur die Romeinse owerheid die doodstraf opgelê is nie!

Doodstraf en Vergewing🔗

Hoe sou jy as Christelike regter handel as die misdadiger nie alleen erken dat hy die misdaad gepleeg het nie, maar ook om vergiffenis vra? Die argument word nogal dikwels geopper, nie alleen teen die doodstraf nie, maar ook teen elke maatskaplike straf waar berou en vergewing ter sprake is. Die probleem lyk meer akuut in gevalle van die doodstraf omdat die lewe van berouvolle misdadigers weggeneem kan word, terwyl, as die berou eg is, hulle nie meer ’n gevaar vir die samelewing inhou nie.

Die kinkel in die redenasie lê in die laaste sin. In die Bybel is straf nie daarop gemik om potensiële gevare uit die samelewing weg te neem nie. Hierdie idee sit wel agter ons moderne sisteem van gevangenisstraf. Ons stop kwaaddoeners in die tronk – dit laat ons veilig voel. Soos ons in die voorafgaande gesien het, gaan dit in die Bybel oor regstelling. Misdaad word gestraf om die kumulatiewe nadeel van die slagoffer te vergoed. Bybels heet dit vergelding.

tronkstraf

Die Here verwag dan ook dat by opregte berou oor ’n gepleegde sonde of misdaad, daar ook die begeerte moet wees om die sonde reg te stel. Regstelling hoort by die pleit om vergiffenis. Die een kan nie sonder die ander nie. Daarom het die Here bepaal dat, wanneer iemand ’n skuldoffer in die tempel wil bring om daar vergiffenis te vra vir ’n sonde teen die eiendom van ’n ander, daar eers regstelling moet plaasvind (Levitikus 6:1-7). Eers ná die betaling van die vergoeding (en in hierdie geval ’n bykomende 20% vir meineed) dán kan die misdadiger na die tempel gaan om daar vergewing te ontvang (v. 5). Die betaling van die deur die wet vereiste regstelling is voorwaarde vir die vergiffenis van die Here.

Dié beginsel geld vir ons vandag nog. Ons moet eers ons sonde teen ons naaste regstel voordat ons na die Here durf gaan om vergiffenis daarvoor te vra. Dit is so dat ons nie meer die bemiddeling van ’n priester, of ’n offerdier nodig het nie. Ons kan direk, deur bemiddeling van ons Hoëpriester Jesus Christus, tot God om vergewing van ons sonde bid. Christus is terselfdertyd ons “offerdier”. Hy het vir ons sonde gesterf as offer aan die kruis. Die beginsel geld ewewel nog steeds: éérs ons sonde regmaak met ons naaste, dán om vergiffenis vra.

Die beginsel geld ook wanneer die regstelling wat teen ons geëis word die doodstraf is. So kon Paulus voor sy regter verklaar: “...as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie” (Handelinge 25:11).

Ingeval die doodstraf tereg van ons geëis word, moet ons, hoe moeilik dit ook is, ons gepaste straf aanvaar as die deur God ingestelde regstelling vir ons misdaad. Daarmee sal ons opregte berou oor die misdaad bewys. Ons kan die doodstraf ook aanvaar omdat ons weet dat daar in Christus vergewing is. Dié vergiffenis beteken dat ons Here ons siel sal ontvang, en ons verseker van ’n ewige lewe met Hom in die heerlikheid.

Hierdie beginsels hou in dat as ons ooit in só ’n sonde val dat ons ’n halsmisdaad (volgens die wet van God) pleeg, ons bereid moet wees om uit geloof, die gevolge daarvan te aanvaar. As ons samelewing ’n ander, miskien mindere straf van ons eis, moet ons steeds besef dat God anders bepaal het. In die geloof moet daar ’n diepe besef wees van die erns van ons misdaad, en ’n bereidheid om God se straf te aanvaar. Inmiddels moet ons Hom dank dat Hy, in ons besondere maatskaplike omstandighede, ons miskien van Sy geëiste straf vrystel omdat ons owerheid ’n ander straf bepaal het. Dit moet lei tot des te meer nederigheid teenoor Hom, en ’n vurige begeerte om Hom in hierdie lewe van harte te dien.