2 bladsye.

Die Drievoudige Gerigtheid van die Erediens

Terwyl ons die verskillende kontoere van die erediens nagaan om so­doende die wese daarvan beter te bepaal, moet ons nou aandag gee aan die drievoudige gerigtheid van die erediens. Die drievoudige ge­rigtheid geld in dubbele sin, naamlik die drievoudige gerigtheid ten opsigte van die tyd en die drievoudige gerigtheid ten opsigte van die groot dimensies van die lewe.

1. Die Drievoudige Gerigtheid van die Erediens t.o.v. die Tyd🔗

  • Die erediens moet altyd gerig wees op die verlede. Dit sien op die lang weg wat God gegaan het tot by ons om die verlossing waar te maak. Die hele verlossing het dan ook 'n werklikheid ge­word. Dit lê egter agter ons, in die verlede, en dit reeds vir baie eeue. Die ontstaan en die fondament van die erediens lê in die verlede, in die koms en werk van Jesus Christus. Dit kom dan ook in die boodskap geklee in die gewaad van die verlede. Die erediens self het ook 'n hele lang "verlede", die lang pad wat hy reeds afgelê. het. Wie daarom die wese van die erediens wil ver­staan, moet steeds hierdie gerigtheid op die verlede vashou. Vandag is die groot neiging om die verlede te verwerp en die erediens los te maak daarvan. Dit kan nie gedoen word nie. Onherroeplik staan die fondament daarvan in die verlede soos ons hierbo aangetoon het.

  • Die erediens gerig op die hede. Ten nouste verbonde aan die verlede is die gerigtheid op die hede. Die erediens geskied van­dag, onder die mense van vandag en deur die mense vasgevang in al die invloede van die moderne lewe. Dit is 'n groot gesprek wat vandag plaasvind tussen Christus en sy volk en dit geld van­dag.

  • Die erediens gerig op die toekoms. Dit wat in die verlede gebeur het bly steeds geld en wat voortdurend in die hede geskied moet voortduur terwyl die volk van God op weg is, op weg is na die eindbestemming. Hierdie eindbestemming van die mens is ver­heerliking saam met Christus, is tegelyk ook die eindbestemming van die erediens. Ons moet dus die erediens ook mede ver­staan in sy gerigtheid op die toekoms van Christus en dan gee dit aan die hede die regte perspektief.

Nie een van hierdie fasette kan gemis word nie, anders trek dit die sie­ning van die erediens skeef. Juis in die regte balans en die voortdu­rende korrektief van mekaar kan ons hoop om die bedoeling met die erediens reg te verstaan.

2. Die Drievoudige Gerigtheid van die Erediens t.o.v. die Groot Dimensies🔗

Dit is vir die erediens die primêre di­mensies dat hy altyd en in alles gerig bly op die Here God soos ons Hom in Christus leer ken het. Die erediens kan alleen lewe en steeds weer vernuwe word vanuit die gerigtheid op God. Hy is die Sleutelfiguur, die Oorsprong, die Inisiatiefnemer, die Lewegewer, die Here en Hoof, en ook die Middelpunt en Inhoud van die erediens. Die werk van God wat in Christus sy konkrete gestalte kry, is die uitgangspunt, die basis, die voor­waarde vir die erediens, die bron en voeding van die erediens. In dié mate waarin God sy regmatige plek inneem, sal die erediens lewend en kragtig wees.

Hierdie sentrale gerigtheid van die erediens op God is tegelyk die basis vir die ander twee blikrigtings van die erediens, naamlik na die mens en na die wêreld.

Uit hierdie allesbepalende gerigtheid van die erediens vloei nou voort die gerigtheid daarvan op die lede onderling. Die erediens moet steeds die blikpunt vashou dat dit gaan om die vergaderde gemeente wat spreek en handel. Dit gaan om die belewing van die gemeenskaplike ge­loof in Christus en die gesamentlike verkeer met Hom. Ook gaan dit steeds om die geestelike groei en opbou van die gemeente. Dit sien ook op die suiwerheid van die kerk na binne waar hy in aanbidding voor die Here saamkom. Waar die blik steeds moet val op die gemeentelede onderling, daar sal die gelowige in sy ware aard en in sy karakter as verloste sondaar en in al die strominge wat op hom inwerk, raakgesien word. Die blikpunt moet steeds op God gerig wees, maar in noue samehang daar­mee, ook op die mens wat aanbid, op die mens wat saamkom en wat in hierdie gesprek tree.

Die suiwere verhouding tot die wêreld, die gerigtheid dus na buite, kan alleen reg wees waar dit vloei uit die regte siening op God en op die gemeente na binne. Die kerk mag nooit soos in 'n ghetto leef waar hy slegs met homself besig is nie. Hy mag ook nie slegs homself sien soos in 'n spieël nie, maar moet soos deur 'n venster steeds die wêreld in sy ware aard en die mens soos hy werklik is, sien en ken. Die konfrontasie met die wêreld kan nie vermy word nie, want dit is die wêreld waarin God sy heil verwerklik en dit doen Hy deur die kerk wat in die erediens saamkom. Dit gaan om die konkrete wêreld waarin die moderne mens lewe en werk.

Die drievoudige gerigtheid van die erediens in dubbele sin moet steeds vasgehou word waar die wesenskenmerke van die erediens aangedui word.