Bron: Kerk en Woord, 2003. 4 bladsye.

Die Drywende Kerk op Loch Sunart 'n Dramatiese Episode uit die Skotse Afskeiding, 1843

kerk op see

My verhaal begin op 'n oggend in Augustus 1958. Ek stap die hoë trappe van die drie verdiepings van die Free Church College in die Skotse hoofstad Edinburg op om vir die volgende jaar aldaar my navorsing oor die Skotse her­vormer John Knox te doen. Dit het dan ook op die doktorstesis John Knox and the Institutes of Calvin uitgeloop.

Met die opstap met die trappe, sien ek 'n groot raam aan die muur en agter die glas 'n paar houtplankies. Ek is 'n totale vreemdeling en ek lees die onderskrif: Relics of the Floating Church on Loch Sunart 1844. Nuuskierigheid was dade­lik geprikkel en baie gou het ek navraag by my professor, dr A M Renwick, gedoen. Dis 'n hoogs uitsonderlike verhaal:

Skotse Afskeiding van 1843🔗

Na die Afskeiding van die Free Church van die groot staatskerk, die Church of Scotland in 1843, kon die gemeente in die omgewing van die meer ("loch") Sunart in die Hooglande geen perseel vir 'n kerkgebou kry nie. Die owerhede en die baie ryk landheer wat die meeste gronde rondom die meer besit het, sir James Rid­dell, het alle aansoeke summier geweier. Noodgedwonge moes die groot gemeente van bykans 2 000 lidmate in die oop veld vergader. Soms was dit in uiters onplesierige weersomstandighede. Enkele kere het die dominee vanuit 'n boot gepreek ­soos Jesus langs die see van Galilea. Ds McRae van die dorpie Knockbain, vertel dat hy selfs in die sneeu teen die skuin­ste van 'n heuwel nagmaal moes bedien — 'n byna onmoontlike taak in 'n "nat" gemeente.

Die Skotse Afskeiding van 1843 (ook "Disruption" genoem), het oor 'n nuwe modernisme gegaan. 'n Vrysinnige gesang­boek is ingevoer, die Skrifgesag is aange­tas, die Bybelse liturgie is omvergewerp en in die kerkregering het die staatskerk 'n hiërargiese mag deur die General Assem­bly (die sinode), uitgeoefen. Uit daardie stryd kom (tot vandag toe) die gebruik, om die Psalms presies te sing, soos wat dit in die Bybel staan — "psalms in metre".

En wat nou gemaak. As 'n gerefor­meerde kerk, in hul eie land en eie omge­wing (die gronde langs Loch Sunart), geen holte vir hulle voete kan kry nie? Hier was inderdaad geloofsvervolging van die Free Church of Loch Sunart. Daardie tyd (1843) was vervoermiddele so beperk dat die meeste mense met hul kinders te voet kerk toe moes gaan — baie van hulle so ver as 12 kilometers.

'n Kerk uit Skeepswerwe🔗

Iemand het met 'n ongelooflike plan voor die dag gekom: Kom ons bou vir ons 'n kerk op 'n boot op die water van die meer. "God had provided a miracle", is gesê. Die hele gemeente (om en by 2 000) is met buitengewone geesdrif besiel. Baie gou is £2 000 (vandag ten minste R200 000) vir die "Floating Church" gekollekteer en nog rentevrye lenings is bekom.

'n Kommissie, bestaande uit 'n argitek, Robert Brown van die dorpie Fairlie en ook 'n bouer, en 'n skrynwerker het in die skeepswerwe van die Clyde 'n kontrak gesluit: 'n groot romp (soos vir 'n boot) is gebou met 'n "dek" en daarop is 'n kerk van dennehout opgerig, kompleet met al die geriewe, konsistorie en toilette. 'n Netjiese preekstoel aan die kant van die "boeg" en banke met 600 sitplekke is gemaak. Die gemeente kon dus die gevoel hê dat hulle vorentoe vaar. Rondom die kerk was 'n smal loopplek met tralies aan die waterkant. Genoeg deure het toegang verleen en die vensters was groot.

Vaart deur die See🔗

Eindelik het die blye nuus gekom: Die gemeente se kerkgebou is klaar en lê in die hawe van Glasgow. 'n Sterk stoomsleep­boot ("tug"), moes dit langs die Clyderi­vier tou en dan die Atlantiese oseaan in die weste binnevaar om dit eindelik in Loch Sunart (wat aan die see verbind is) sowat 300km ver, te besorg. Maar o wee, die tog was byna rampspoedig. Rondom die weskus van Kintyre het die kerk met sy sleepboot in 'n storm beland. Die hele struktuur was so groot en lomp dat die wind dit byna op die rotse gedryf het.

Rotse

Hoe mooi het 'n ou Skot die uitkoms beskryf: "By the kindness of an over­ruling Providence, the risks were sur­mounted." So was die geloof van hierdie Calvinistiese Skotte: Die Here het ons in sy voorsienigheid laat slaag en beskik dat ons 'n eie kerkgebou kon hê. "Regular worship was established". Die Here kon in die erediens geloof word — al is dit op die diep waters!

Dienste🔗

Baie noukeurig is eers 'n ankerplek vir die drywende kerk gesoek. Die beste plek was regoor die groot herehuis van die welgestelde landheer, sir James Riddell. Maar — wat 'n nou gesindheid van die kerkraad! — dit sou nie goeie smaak teen oor die "lord" van Loch Sunart wees nie. 'n Eensame plek, vier kilometers van sir James Riddell af, is gekies om anker te gooi, ongeveer 100 meter van die kus af.

En toe breek daardie eerste, wonderlike Sondag in die lente van 1844 aan. Wat 'n gesig moes dit nie gewees het nie? Vanuit alle rigtings kom die honderde lidmate oor die bulte en berghange rondom die meer na hulle kerk op die water. Daar staan die groot struktuur in 'n soort glorie op die water. Dit het iets van die majesteit van 'n katedraal. Soos die "leviatan" van die Ou Testament lyk dit of hy homself uit die water opgehef het.

'n Klein kaai is aan die waterkant met hout aanmekaar geslaan. Tientalle bootjies roei heen en weer na die kerk. Die bejaardes word eerste gehelp. Groot, sterk "Highlanders" tel selfs van hulle op en plaas hulle veilig op hul sitplekke. Van ver af lyk dit soos die bedrywigheid van 'n miernes.

Ongeveer 12 uur weergalm die klok se laaste gelui. Daar gaan drie dienste na mekaar wees tot ongeveer vier uur die middag sodat daar geen rede is dat iemand 'n diens sal mis nie.

O, hoe pragtig, aangrypend. Die eerste psalm dreun uit die drywende kerk:

I was glad when they said unto me,
Let us go into the house of the LORD.
Our feet shall stand within thy gates,
o Jerusalem... Psalm 122

Wieg op die Water🔗

Die drywende kerk op die water van Loch Sunart was sowat 100 meter van die kant af geanker. In hulle honderde het die gemeente in roeibootjies heen en weer gevaar om hul eredienste op Sondae by te woon. Daar was selfs 'n staalkabel en 'n sterk tou tussen die kerk en die kus gespan.

Waar die grondeienaars rondom die meer geen kerkperseel aan hulle wou beskikbaar stel nie, was hulle binne die landswet om 'n groot boot in die vorm van 'n kerkgebou op die water aan te hou. Dit was uniek in die kerkgeskiedenis. Een van die predikante wat in hierdie kerk gepreek het, dr Beith van Stirling, gee aan ons 'n hoogs interessante vertelling:

Daar het ek op die Sondag drie dienste gehou, twee keer in Kelties (die taal van die Skotse Hooglanders) en een keer in Engels.

Die eerste diens het om 12 uur begin. Dit was 'n sonnige dag en die kerk het met sy "boeg" presies in 'n oostelike rigting gelê sodat ek in 'n westelike rigting na die gemeente gekyk het. Die pragtige groen heuwels langs die meer kon ek deur die groot vensters raaksien.

Maar algaande in my preek het ek 'n snaakse ding agter gekom. "I feIt some slight motion, as of heaving and rolling." Die son het toe van die teenoorgestelde kant begin in skyn namate die kerk gedraai het, en toe begin dit donkerder word. Aan die kante van ons "boot" het ek toe die bekende geluid van golfies wat vasslaan begin hoor.

Die weer het verander en die gemeente het gewieg, kompleet of ons oor lae golwe gaan. Maar hoe wonderlik, almal het aandagtig na die preek geluister asof daar niks in die natuur gebeur het nie.

Loch Sunart

Kerkbesoek-Maatstok🔗

Dr Beith vertel verder:

In een van die dienste was die kerkgebou baie vol, 750 mense, het die koster vir my gesê. 'Het jy hulle getel?' vra ek, 'Nee, sê hy, ek meet die kerkbesoek met die maatstok in die water wat die diepte van die kerk aandui. Een duim wat hy sak, tel vir 100 kerkgangers!' Toe die ouderling aan diens my na een van hierdie "vol" kerke in die konsistorie bedank, sê hy: 'Our church had never been so deep in the water before!'

Wat 'n stuk kerklike ironie, sê ek vir myself: Hoe dieper 'n kerk in die waters sink, hoe beter gaan dit met haar. Dit laat 'n mens dink.

'n Verskriklike Storm🔗

Die maande het gekom en gegaan. Met die nuwe winter het die gemeente 'n wonderlike skuiling gehad. Die koue winde het gewaai en die sneeu het geval, maar die kerkdienste kon rustig voortgaan. Gereelde prediking het die gemeente in hul geloofslewe opgebou. Vanuit Loch Sunart het 'n heerlike getuienis van die Evangelie uitgegaan. Hoe lank sou die gemeente met hul drywende kerk op die water volhard?

Een nag het die Here self ingegryp. Hy het een van die grootste storms in die geskiedenis beskik. 'n Orkaansterkte wind het die meer in ruwe golwe soos die see omskep. Die kerk is van sy anker losgeruk en met geweld in die rigting van sir James Riddell se groot herehuis gedryf. Met geweld het 'n hoë golf dit reg voor die huis op die grond neergegooi — in flenters!

O, onbeskryflike ramp vir die gemeente! Wie kan ooit die skielike leed van die broeders en susters in woorde uitdruk. Daar lê voor hulle oë al hulle swoeg en sweet, al hulle arbeid vir die kerk in een bondel ellende neergewerp. Dit is asof die gemeente se lewensbestaan in één nag letterlik 'n wrak, 'n aaklige ruïne geword het.

Die groot kanselbybel word gehawend onder die modder uitgehaal. Verstrooide Psalmboeke se blaaie waai in die wind.

Het die Here ons dan vir altyd verstoot? Daardie volgende aand word John Knox, die Skotse hervormer, se geliefde Psalm 6 in sommige huise gesing: "Have mercy upon me, o LORD, for I am weak…" Ja, hoe moet die gemeente ooit so 'n skokkende terugslag verwerk?

Maar die HERE, die Verbondsgod, die Skotte se LORD wat hulle ook altyd met hoofletters skryf, het 'n nuwe wonder bewerk. Sir James Riddell het na daardie stormnag tot bekering gekom. Die hele gebeurtenis, dat die drywende kerk in die groot storm voor sy huis "neergegooi" is, het sy gesindheid totaal verander.

Dadelik het hy iemand met 'n brief na een van die ouderlinge gestuur: "Luister, julle gemeente mag op enige plek langs die meer vir julle 'n gerieflike perseel van twee akker in oorleg met my uitsoek. Julle hoef niks te betaal nie, ek skenk dit en sal ook met die bou van die nuwe kerk help."

Riddell was toe nog verder so goed dat hy een van sy groot skure beskikbaar gestel het waar die gemeente tydelik kon vergader.

houtskuur

Die nuus het vinnig versprei. Reeds die eerste Sondag na die kerkramp vergader die gemeente in Riddell se groot skuur. Die toekoms gaan oop, want die gemeente gaan 'n nuwe kerk op 'n uitgesoekte perseel bou. Die "old 100th" word gesing: "Make a joyful noise unto the LORD, all ye lands…"

Die paar plankies, "relics", van die drywende kerk van Loch Sunart hang vandag nog teen die muur langs die trappe van die Free Church College in Edinburgh, Skotland — 44 jaar nadat ek dit vir die eerste keer gesien het. En ek weet, die drywende kerk het lankal vergaan, maar op die oewers van daardie meer is vandag nog gelowiges wat die Here in 'n klipkerk dien.