Bron: Kerk en Woord, 2000. 2 bladsye.

Die Eenheid van die Kerke

toue een sirkel

Wie vandag oor die eenheid van die kerk praat, dink in die meeste gevalle aan die eenheid binne een kerkverband en ook aan die moeilik verkrygbare eenheid van verskillende kerkverbande of denominasies wat mekaar volgens dieselfde belydenis kan aanspreek. Ons mag egter nooit uit ons gedagtes dié werklikheid, dat vir God alle opregte christen-gelowiges waarlik een is, ban nie. Hulle maak feitlik die kerk uit. Die omskrywing van die kerk, haar definisie, word aan hierdie werklikheid ontleen.

Die gelowiges vorm die kerk, ook al sê ons onmiddellik daarna, dat rekening gehou moet word met die hipokriete of geveinsdes wat wel in die kerk is, maar nie van die kerk nie. Dié hipokriete is oral te vinde. Maar hulle is ook in die kerk aanwesig. Calvyn sou sê dit is per ongeluk. Hulle moet eintlik daaruit gepreek word, of hulle moet tot bekering kom. Maar in beide gevalle is dit God se saak. Ons preek prinsipieel gesien niemand na binne en niemand regtig na buite nie. God ken diegene wat syne is. Maar hierdie geloofsuitsprake (ons kan nie verder kom nie) vra om deursigtigheid.

Eenheid Bestry🔗

Dan begin die probleme. Die eenheid van die gemeente is ’n belangrike saak. Dit word egter bestry. Die voorbeelde uit die geskiedenis is talryk. En hulle verbaas ons. In die vlugtelinggemeentes van die sestiende eeu het groot en onblusbare geskille uitgebreek. Dit is vir ons ’n raaisel, waarvoor ons nouliks ’n verklaring kan kry. Daar is by die lig van die brandstapel oor liturgiese en prosedurele kwessies gestry, ongelooflik.

’n Mens sou kon sê dat hulle mekaar nog moes vind. Die basis was daar wel, naamlik die een ‘gemeenskaplike ooreenkoms’ oor die belydenis. Maar eenheid van die gemeente was soms ver te soek. Toe die vlugtelinge weer huis toe kon gaan, het die gevaar bestaan dat die klein groepies uiteen sou val.

In die sestiende eeu het hulle met alle mag gewerk om van al die klein en grotere kerke ’n eenheid te vorm volgens een kerkverband. Dit het tot stand gekom en het ook op ’n manier gewerk, volgens die voorbeeld van Frankryk, waar die kerke in 1559 onder die juk van Christus saamgestaan het. So het daar in hierdie lande ’n gereformeerde nasionale kerk tot stand gekom, en dit het bestaan tot ±1618, toe dit as gevolg van die houding van die owerhede, in ’n aantal provinsiale kerke moes uiteengaan. Die owerheid was nie gediend met die een gereformeerde kerk nie. Streng genome sou mens kon sê dat daar slegs vir ’n halwe eeu, in die Lae Lande, ’n nasionale gereformeerde kerk bestaan het: van 1571 tot 1618. Ons kennis van die geskiedenis sou ons vandag kon help om hier en daar dinge te relativeer.

Na die Afskeiding het daar vir die eerste keer ’n gereformeerde nasionale kerk gekom. ’n Mens durf groot woorde nouliks te gebruik. Maar hulle was dit onmiskenbaar, op grond van die belydenis. Nie in groot geboue of administratiewe sentra nie, maar in gemeentes, wat genoeg moeite gehad het om die probleme van die jeug te bowe te kom.

Geruislose Omskakeling🔗

Die geskiedenis is leersaam, soms is dit weinig verheffend. Maar is dit beter in ons tyd? Het daar nie nog groter verdeeldheid gekom nie? En is daar nie ’n geruislose omskakeling besig nie, van die kerk na die groep, na die denominasies, waarvan die wyses en verstandiges sê dat ons dit uiteindelik sou moet aanvaar? Ons ontwyk die vraag van eenheid deur ’n stille aanvaarding van die pluriformi­teitsleer (necessitate coacti, deur die nood gedwing, soos kerklike deputate al gesê het), óf deur ’n warm en gemoedelike ekumene van die hart, soos dit nog steeds bekend staan.

verskillende rigtings

Net die Here oordeel oor die harte, Hy hou ons aan die belydenis van ons lippe en die reinheid van ons lewe voor Hom. En ook die kerke moet hul daaraan hou, as hulle nie afgerem wil word in ’n moeras waar gemoedelike, soms warm impressioniste wat, volgens hulle eie indrukke, hier en daar ’n steen gelê het nie.

Hierdie reël geld ook vir kerkverbande. En juis vir dié wat uitgesproke is dat hulle hul aan die Skrif en die belydenis wil hou. ’n Onbekrompe aanvaarding van die belydenis, soos van Velzen dit in 1848 geformuleer het: wie opregte en volledige ooreenkoms met die belydenisgeskrifte betuig, en hulle nie daarteen openbaar nie, mag nie verdag gemaak word nie. Geen loslating nie maar ook nie bekrompenheid nie.

Gehoorsaamheid en Geloof🔗

Op hierdie fondament, niks daarby, daarbo of daaronder nie, sal na eenheid gesoek moet word, afgebid, bewerk moet word. Met wysheid, ja seker, maar veral gehoorsaam en met moed en dapperheid. Hoe geheel anders sou die geestelike en morele situasie van ons land, waarvoor ons immers mede verantwoordelik is, daar vandag uitsien, as almal wat gereformeerd wil wees mekaar die hand gee en verder kragtig handevat.

Geloof ontstaan uit gehoorsaamheid, sê Calvyn êrens. Ons kan dit ook omkeer en sê dat gehoorsaamheid uit die geloof gebore word. As albei waar is, en hulle is beide tesame waar, dan sou mens tot die gevolgtrekking mag kom, dat daar geen geloof is en geen gehoorsaamheid in die kringe, wat sê dat hulle volgens die Skrif en volgens die belydenis wil lewe nie. Dit wil ons nie sommer aanneem nie. Waaraan skort dit dan wel?