1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die Eenheid van die Skrif

Omdat die Skrif God se Woord is en een outeur het, is die Skrif een. God praat nie met ses-en-sestig stemme nie. Dit kan nie, want Hy is self een in mag, een in voorneme en een in wese. Omdat Hy enig is, is ook sy Woord en openbaring een.

Die feit dat die Skrif één is, is van die allergrootste belang, want dit is waarom die Skrif homself nie kan weerspreek of in homself verdeeld kan wees nie. Een Bybelboek kan nie van  ʼn ander, en die Ou Testament nie van die Nuwe Testament verskil nie. Die Skrif kan nie in die Ou Testament een ding leer en die teendeel in die Nuwe Testament nie. Ook kan een menslike skrywer van  ʼn Bybelboek nie iets anders leer as  ʼn ander nie.

Dit is dus verkeerd om, soos sommiges wel doen, te praat van “die teologie van Paulus” as sou dit verskil van die teologie van Jesus of die teologie van Petrus. Daar mag ook nie te kenne gegee word dat Jesus oor bepaalde sake, soos egskeiding of die plek van die vrou in die kerk,  ʼn ander siening gehad het as Moses of Paulus of Johannes nie.

Die leer van die eenheid van die Skrif is van besondere belang teenoor die dispensasionalisme, wat nie die eenheid tussen die Ou en Nuwe Testament en tussen Israel en die kerk sien nie. Selfs die Baptiste se leer dat die verbond met Israel fundamenteel  ʼn ander verbond is as die verbond van God met sy kerk, is ontkenning van die eenheid van die Skrif. Die Skrif is één boek en kan nie twee of meer teenstrydige verbonde leer nie.

As die Skrif één is, kan daar nie verskillende openbarings, verskillende verbonde, verskillende volke van God of verskillende weë tot saligheid wees nie. Ons besware teen dispensasionalisme en geloofsdoop is dus nie net gegrond op Skrifgedeeltes wat spesifieke leerstellings van hierdie groepe weerlê nie, maar op die Skrifte wat leer dat die Skrif één is en nie gebreek kan word nie (Joh. 10:35).

Die opvatting dat die Ou Testament nie vir Nuwe Testamentiese Christene gesaghebbend is nie, behalwe vir sover die leer daarvan in die Nuwe Testament herhaal word, is eweneens  ʼn ontkenning van die eenheid van die Skrif. Wat in die Ou Testament geskryf is, is ook geskryf vir ons as Nuwe Testamentiese Christene (1 Kor. 10:11).

Ons word in Johannes 10:35 deur Jesus daaraan herinner dat die eenheid van die Skrif in Homself is. Dit is alles, van begin tot einde, die openbaring van Christus die Saligmaker en van die genade van God wat in Hom geopenbaar is. Charles Spurgeon het eens gesê, dat waar ons ook al aan die Skrif sny, die bloed van die Lam vloei. Ons oogmerk moet wees om Christus in elke Skrifgedeelte te soek. Sodoende sal ons gewis vind dat die Skrif met een stem spreek.

Die leer van die eenheid van die Skrif is nie alleen belangrik as verweer teen ander leerstellings nie, maar ook vir ons studie van die Skrif. Omdat die Skrif één is, kan geen Skrifgedeelte in isolasie van die res van die Woord bestudeer, geglo of selfs aangehaal word nie. Niks wat ons uit die Woord sê of dink, mag iets anders daarin weerspreek nie. Dit beteken noodwendig dat ons met die Skrifte besig moet wees, sodat ons hulle van begin tot einde ken en deeglik met die leer daarvan vertroud is.

Die leer van die eenheid van die Skrif beteken dus dat al die Skrifte noodsaaklik en belangrik is, en dat geen deel daarvan verwaarloos mag word nie. Ons moet die geheel ken, lees, bestudeer, leer en op alles daarin ag gee. Doen u dit?