1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Die eerste paradys

Een van die tekens dat Adam die kroon van die skepping, die beste van al God se aardse werke, was, is die feit dat God vir hom in ʼn tuin met die naam “paradys” in die land Eden ʼn besondere woonplek geskep het. Daar het hy met God gewandel totdat hy in sonde geval het.

Dit is moeilik om te dink hoe dit in daardie eerste paradys gelyk het. Ons weet nie eers waar dit was of hoe die wêreld waarin dit geplant is, gelyk het nie. Daar was nie dood, pyn of lyding nie. Alles was volmaak en so anders as die wêreld waarin ons nou lewe. Adam self was volmaak in daardie volmaakte tuiste.

Toe hy in sonde val, het Adam dit alles weggegooi. Hy het ʼn pragtige tuin wat ʼn spesiale geskenk van God was, verloor. Hy het die plek, wat meer as alle ander plekke dié plek was waarin hy God kon dien, en in geseënde gemeenskap met Hom kon lewe, verloor. Dit is deel van die tragiek van Adam se val in ongehoorsaamheid. Deur hom uit die tuin weg te stuur, het God Adam vir sy ongehoorsaamheid gestraf en vir hom gewys dat hy as ʼn sondaar nie meer reg het op gemeenskap met God nie.

Toe hulle gesondig het, is Adam en Eva uit die eerste paradys weggestuur (Gen. 2:23, 24). Alhoewel dit ʼn aardse paradys was, het hulle verbanning tog die feit dat daar nie vir sonde en sondaars in die hemelse paradys plek is nie, versinnebeeld. Deur die sonde is hulle en hulle hele nageslag van alle lewe, van alle gemeenskap met God en van alle diens aan God, uitgesluit. Alleen die genade van God open die pad wat na die hemelse paradys lei.

Die komende paradys word vir hulle wat genade ontvang in die eerste paradys afgeteken. Die twee het selfs dieselfde naam (Openb. 2:7). Dieselfde boom staan daar (Openb. 2:7; Openb. 22:2). Daar is ook geen moeite, geen pyn, geen trane en geen dood in die tweede paradys nie (Openb. 21:4). Die eerste paradys gee aan ons ʼn klein kykie na wat die hemel sal wees, en verseker ons dat ons deur die werk van Christus, ons Here en Saligmaker, alles wat Adam deur sonde verloor het, weer sal verkry.

 Die bestaan van die eerste paradys herinner ons daaraan dat God, toe hy daardie tuin in Eden geplant het, reeds iets beter in gedagte gehad het. In daardie eerste paradys het die deur God verordende geskiedenis van alle dinge, wat eers in die tweede, hemelse paradys sal afloop, begin. Daardie paradys was deel van die voorneme van God om Homself deur die skepping, sonde, genade en verlossing te verheerlik, want niks gebeur buiten sy wil nie. Die eerste paradys was ʼn belofte en afskaduwing van die tweede.

Deur Christus, en as ʼn getuienis van sy mag, is die tweede paradys beter as die eerste. In die hemelse paradys sal daar nie eers die moontlikheid van sonde wees nie. Die beste is dat God ewig by sy volk sal woon en by hulle sal wees as hulle God. Daar sal hulle ook Christus, hulle geliefde, sien. Dit is ondenkbare vreugde en geluksaligheid.