3 bladsye.

Die Erediens as Belewing van die Gemeenskap met God in Christus

1. Die Herstelde Gemeenskap tussen God en die Mens🔗

Die toeseg­ging van Christus van sy omvattende heil aan die versamelde ge­meente, bring die gemeente tot 'n konfrontasie met die Here, in 'n krisis en hierop moet 'n beslissing volg. Die gemeente en die gelowi­ges moet iets met hierdie gawes wat met aandrang aangebied word, maak.

Die hele erediens verloop so, en wat daar gesê en gedoen word in die loop van die gesprek bedoel om die gemeente as geheel en die gelowiges afsonderlik, te bring om ja te sê op die aanbod van die gawes van God en op die ontmoeting en gesprek. Die ja word liturgies ingebou. Hierdie aanvaarding, die ja sê moet steeds weer geskied, want steeds weer moet die geloof geskenk en versterk word, dit moet opgebou en verdiep word en die verskillende aanslae daarteen afgeslaan word. In die erediens sê die gemeente veral ja deur gebed en deur geloofsbelydenis.

Die ja sê, die aanvaarding van Christus sê geskenkte heilsgoedere deur die gemeente, beteken die omvattende oorgawe van die gemeente aan die Here wat hy bely. Hy erken: ek behoort nie meer aan myself nie, maar aan my liewe Saligmaker; ek is oorweldig deur sy liefde en genade en aanvaar dit, en wy my aan Hom. Die antwoord op God se roepstem het ons van nature geweier. Dit is egter ten volle deur Christus gegee. Waar die gemeente nou in sy Naam hierdie belofte hoor en glo, daar kan hulle hierdie antwoord gee. "But the radical change for the Christian is that now he is able to make the response of faith, to say Yes to God in and through the response of Christ, whose Yes we endorse with Amen" (J.D. Crichton, A theology of worship, in: The study of liturgy, Ed. C. Jones, 1978, 9). Dit word 'n oorgawe van die hele mens aan God: "Man … when he acts, he acts in the wholeness of his per­sonality … When in worship he responds to God in faith … he does so with his whole being and feels the need to express his worship, his out-going from self to God, in words and song and gesture … Christ, then, makes effective among men the self-giving of God, who calls and urges them to respond to him in self-giving of faith and love through the word and sacrament of the liturgy. In the dialogue that is set up, in the exchange that takes place, we meet God and are able to enter into union with him; which is the end-purpose of all worship" (Crichton, A.w., 10, 11). Die offers wat ons in die erediens bring, simboliseer die oorgawe van ons per­soon en ons lewens.

Die oorgawe van die gemeente en die lidmate aan die Here, beteken die groot herstel. Die sonde word uitgewis, die skuld word versoen, die kindskap en die dissipelskap word her­stel, Christus word weer op die troon geplaas. Daar kom herstel van die gebroke verhouding.

Wat hierdie herstel van gemeen­skap so besonderlik maak, is dat dit geskied tussen die heilige God en die sondige mens, "dat hier die lewende, skeppendwerksame, sprekende, roepende, Homself genadiglik skenkende God, gemeen­skap herstel met opstandige en van Hom afvallige mense" (G. Voigt).

2. Die Belewing van die Herstelde Gemeenskap🔗

In die erediens gaan dit om die diepste waarhede, om die laaste dinge, om die om­vattende versoening tussen God en sy gemeente en sy skepsels. Dit is 'n ontmoeting wat afspeel in sy teenwoordigheid en waarby Hy Homself in al sy krag en lewe bekendstel. Hy tree in gesprek met die mens en sy gemeente, en hierdie gesprek is lewe-wekkend en lewe­-skenkend. Hy open sy hart en al die heerlike dinge wat tot die lewe en redding van die mens deur Christus verwerf is, word in die ere­diens met aandrang bemiddel. Inderdaad kom die herstelde gemeen­skap tot stand en dit word steeds weer in die erediens beoog en daarop word afgestuur. Dit is in die sekerheid dat die Here self dit wil bewerk. Ook beleef en bely die gemeente die oorgawe aan God en ervaar die versoening wat alles omvat en wat steeds weer in elke diens nuutgemaak word. In die erediens kom die gemeente in aan­raking met God se genade, kom in die dampkring van sy liefde, ervaar sy liefde en lewe.

Al hierdie dinge wat saamgevat kan word in die herstelde gemeenskap met God met alles wat dit impliseer, kan die gemeente en die hart nie koud laat nie. Daar kom die belewing, die ervaring, die warmte, die besieling. Daar is baie valse emosie en mensgemaakte emosie en belewing van allerlei deur mense en rondom mense, en dit het meegebring dat daar 'n groot gereserveerdheid is ten opsigte van ware belewing. Dit is egter verkeerd om die hele erediens te stroop van die gevoel en belewing wat kom uit die werklike aanra­king met God en met sy genade. Omdat dit uit God en uit die omgang en ontmoeting en versoening met Hom kom, daarom is dit gesond en mag dit nie gemis word nie. Dit mag nooit kunsmatig gewek word nie, maar moet uit hierdie gemeenskap vloei. Die hele erediens moet hieraan 'n sinvolle uitdrukking gee. Dit gaan immers nie slegs om woorde en 'n verstandelike gemeenskap nie, maar om die hele mens en die hele gemeente en die hele heil, en daarom mag dit nie die aspek van die belewing mis nie. Veral Protestantse kerke vrees alle emosie omdat daar soveel valse emosie in die erediens opgewerk word in sekere kringe. Dit is egter verkeerd en ver­sterk juis die hande van diegene wat die belewing dan buite die Gereformeerde erediens wil gaan vind.

Die egte belewing van die gemeenskap in die erediens kom uit die nabyheid van die Here God, uit die aangryping van sy reddende en bevrydende woord, uit sy groot versoening, uit die nuwe verhouding wat Hy herstel, dit kom uit 'n hart wat vry geword het van die skuld en laste en vrese van die sonde. Tereg wys A.E. Garvie daarop: "There is in religion impression, affect, and expression, as in every complete mental process… What should distinguish worship of God from all personal relations to men is the all­pervading recognition of the absolute worth of God" (The philosophy of worship, in: Christian worship, studies in its history and meaning, 1959, 6,9). Dit word as oortuiging gestel "dat evangelisch geloofsleven voortkomt uit een luisteren, een aandacht hebben voor een Stem, een innerlijk gericht zijn op een Woord, een gehóór geven aan het Woord van God, een gehóórzamen aan de Boodschap van de Heer, Jezus Christus… Uit dat luisteren komt een leven voort dat innerlijk en uiterlijk, emotioneel en actief, als enkeling en als groep, in vrede en in strijd, gericht op God en de naasten antwoord geeft" (C. Aalders, P.A. Elderenbosch, e.a., Luisterend Leven, 1971, 8). J. Zink wys daarop dat aanvanklik die stemming by die nagmaal was dat "die skuldige mens uitgenooi word om aan die tafel van die Here plek te neem, dus om teen alle aanklagte in God se gas te wees" (A.w., 86, 87). W.G. Scheeres toon tereg aan dat die belewing in die erediens nie alleen kom uit die regverdiging nie, maar ewe-eens uit die heiliging: "Dat betrokken worden is niet alleen een kwestie van rechtvaardiging, maar evenzeer van heiliging. Wij beleven niet alleen de praesentia Dei in het ontvangen van de genademiddelen, maar wij beleven de telkens weerkerende en steeds voortgaande oproepende, bekerende, straffende en genezende actie Gods. Dat is meer dan een weten dat ik zalig ben: dat is een zalig zijn, een vol van God zijn. Daarom is het overrompelend. Ik ben gevangen genomen in de liefde Gods — en die liefde Gods is altijd actie, actie van de Geest. Zo is de mens volledig opgenomen in het werk Gods" (A.w., 99). K. Dijk vra wat die beheersende element van die erediens is en gee as antwoord "Dat God met Zijn kerk gemeenschap oefent per medias gratiae". Verder toon E. Gordon aan dat in die boek Handelinge die gedagte van gemeenskap tussen God en die gelowiges sterk beklemtoon word. Dit was nie alleen 'n menslike gemeenskap nie, maar veel eerder "het deel hebben aan een gemeenschappelijk leven, waarvan de bron in God ligt".

3. Belewing as Vrede🔗

Die geweldige emosionele belewing van die gemeenskap tussen die heilige God en die sondige gemeente kom veral daardeur tot uitdrukking dat dit 'n geestelike verkwikking, 'n diepgrypende geestelike versadiging bring. In die Bybel word dit uitgedruk deur begrippe soos vrede, ja vrede wat die verstand te bowe gaan (Filippense 4:7), deur blydskap, deur vreugde, deur innerlike verkwikking. Ons sou kon sê die belewing van die gemeenskap tus­sen die Here en sy gemeente is 'n stilstand voor God, 'n bly wees voor sy aangesig, 'n oopstel van die hele lewe en gemoed voor Hom, die ervaring van een met Hom te word, al is dit nog so voorlopig, nog so gebroke en nog so kortstondig.

Die belewing van die gemeenskap met God geskied deur die ge­loof, maar dit versterk en verlewendig tegelyk die geloof. Hierdie vernuwing deur Christus en wat altyd weer opnuut geskied, kan nie anders nie as om die hele mens in beweging te bring. Hierdie ver­nuwing en nuwe gemeenskap is vrug van die geloof, maar dit ont­sluit ook die bronne van belewing.

4. Belewing as Vreugde🔗

Telkens word in die Nuwe Testament gespreek van die vreugde in die hemel oor elke sondaar wat tot bekering kom; oor die vreugde van tot geloof te kom. Verskeie gelykenisse spreek daarvan as 'n skat wat met vreugde ontdek word en alles verander. Die vreugde kom veral tot uitdrukking waar die gemeente as skare verlostes by­eenkom om aan hierdie verlossing uitdrukking te gee. Heel beson­derlik druk die viering van die nagmaal hierdie diepe vreugde, en wat wag op die eindvervulling, uit.