3 bladsye.

Die Erediens as Deelname

1. Deelname as die Lewensreg van die Gemeente🔗

Die wesentlike siening van die erediens volgens die Bybel is dat dit 'n onvervreem­bare voorreg van die gemeente is om deel te neem. Immers, die hele erediens is die samekoms en optrede en deelname van die gemeente. Teen hierdie groot voorreg is daar op verskillende maniere in die geskiedenis gesondig. Dan is op baie maniere die deelname van die gemeente beperk en is die indruk soms selfs geskep asof die erediens kan voortgaan sonder die deelname van die gemeente. Dit is teen die bedoeling van die Skrif met die erediens. Dit is inderdaad die diens van en vir die volk van God in die openbaar. Nie met die liturg nie, maar met die deelname van die gemeente staan of val die erediens. W. Stählin beklemtoon in dié verband 'n belangrike saak:

In die liturgie spreek, bid en handel die kerk. Dit staan nie tot beskikking van die enkele mens wat dit as 'liturg' voltrek nie… Want die erediens is 'n lewensvorm van die kerk… Dit beteken ten eerste dat in die voltrekking van die liturgie hierdie met mekaar 'n duide­lik sigbare en hoorbare uitdrukking vind… Want die liturgie is die stem van die biddende kerk.

2. Deelname deur Elkeen🔗

Dit moet besonderlik beklemtoon word dat die deelname in die erediens deur elkeen moet en kan geskied. Dit geld nie slegs van die liturg en ander ampsdraers nie, maar van elke gemeentelid. Die doodsheid van die erediens word deur D. Mason gesien as die gevolg van die poging van slegs een persoon:

The worship is so dull and flat and insipid. And this is because one person is supposed to provide all the inspiration, creativity, and stimulus. This is not worship but entertainment, and an embarrassingly old-fashioned form of entertainment at that! The liturgy is the work of the whole people of God...

Die klagte is dikwels dat van mense wat in hulle gewone lewe en werk aktief en betrokke is en werklik deelneem, in die erediens in 'n posisie geplaas word waar hulle slegs passief moet sit en toekyk.

The 'feeling for life' the Church customarily expects from him in worship does not match up with the feeling for life he brings to other realms of his existence, and he can only react with disinterestP.W. Hoon

3. Deelname as Ontvangende doen🔗

Die deelname deur elkeen in die erediens word gekwalifiseer deur die feit dat die doen van die gelowiges altyd uitgaan van en berus op wat God in Christus ge­doen het en nog steeds doen. Dit is nie allerlei menslike deelname ter wille van die deelname nie, maar 'n bepaalde deelname wat altyd die reaksie en antwoord is op wat God self eerste gedoen het. Dit is ook nie gelyke deelname nie. Die Here skenk en die gelowiges ontvang en handel op grond van dit wat hulle uit die handelinge van God ontvang het. O. Weber het gelyk as hy skryf:

Sekerlik, die kerk handel … Maar hierdie handel is geen eie werksaamheid ('Eigentätigkeit') nie, maar ontvangende doen ('empfangendes Tun').

4. Korporatiewe Aard van Deelname🔗

Die deelname van elkeen in die erediens het 'n tweede kwalifikasie, naamlik dat dit nie die deelname van die enkeling as sodanig is nie, maar die deelname deur elkeen as 'n korporatiewe handeling. Met ander woorde, dit is die gemeente wat as 'n grootheid, as 'n liggaam, handel. In hierdie han­delinge moet elke gelowige sy sinvolle betrokkenheid en deelname ervaar en voltrek.

Corporateness, further, is to be understood as the mutual priesthood of all believers, ... its assigns the action of worship to all the congregation ... 'congregational participation'.P.W. Hoon

Verder: Christian worship is the corporate approach to God of the people of God. It is a family activity.R. Abba

Die erediens is deelname soos in 'n spel. Dit is nie iets wat die gelowige alleen kan doen nie. Daar is wel verskillende rolle, maar in die samespel deur elkeen se rol en die gesamentlike rol, verkry die erediens sy besondere betekenis.

Die korporatiewe deelname kom dwarsdeur die hele diens voor, maar besonderlik in die samesang, die gebed, die skuldbelydenis en die luister na die Woord van God. As ons eers die gebed neem dan is dit die gebed van die gemeente.

In corporate worship it is the congregation that prays. Public prayer, rightly understood, is not the sum-total of individual prayers; nor is it the passive attention to the minister's private prayer; it is common prayer, the prayer of the People of God. It is the minister's duty and privilege, not just to pray, but to lead a corporate act of prayer ... he offers, on behalf of his people, the prayers of the whole congregation.R. Abba

Sang is eerstens gesonge gebed, maar dit het alleen sin in die erediens wanneer dit die gesamentlike optrede van die gemeente is. Ook in die skuldbelydenis kom hierdie korporatiewe optrede na vore:

In de schuldbelijdenis valt tenslotte alle individuele onder­scheiding weg … Allen staan solidair tegenover God als zondaren … Juist de kennis van eigen schuld doet het tekort van den ander verstaan.J.L. Koole

Die korporatiewe deelname kom ook uit in die geloofsbelydenis, die gee van die offergawe en veral in die deelname as gemeente aan die nagmaal. Tereg sê Koole:

Wie zingt, verlangt dat anderen meezingen; wie looft, vraagt anderen met zijn lof in te stemmen. De werkelijke toon van de christelijke aanbidding is: Komt, maakt God met mij groot!

​5. Deelname met Liggaam en Siel🔗

Die mens is 'n wonderlike een­heid van liggaam en siel en hierdie eenheid kan nie geskei word in die erediens nie. In die deelname is dit die hele mens wat optree. Daarom is dit verkeerd om te praat dat slegs die siel deelneem en die liggaam passief is of erger nog, afwesig is. Dit kan nie. Vandag is daar 'n ander uiterste wat roep om aandag in die erediens, naam­lik dat die liggaam besonderlik die klem verkry. Die vraag word dan gestel: waarom net my hart en mond en nie ook my hande nie. Indien die hande gebruik word, kan die verdere vraag gestel word: waarom nie die bene en voete nie. Wanneer dit gebruik word, kom die vraag: waarom nie die hele liggaam nie. Dan is ons al vanself by die dans en nie ver van die Baäldiens waar ook die geslagtelike aan die bod kom nie. Ook dit kan nie.

Ons moet bly by die Skrif wat die mens sien as 'n eenheid, ook 'n aanbidding. Wanneer ons aanbid, val die klem op die geestelike werklikheid van die ontmoeting met God en hier kan ons dit nie op grof-sinlike wyse uitdruk nie. Dit is 'n geestelike belewing en 'n geloofservaring. Dit raak die mens in die diepste van sy bestaan, sy verhouding tot God. Omdat dit egter 'n eenheid is, sal die hele liggaam en die sintuie en die gesigsuitdrukking deel in hierdie won­derlike impuls en belewing. Daarom is die liggaam betrokke, maar altyd ondergeskik. Dit is immers moontlik dat die klem op die lig­gaamlike 'n vreemde element in die ontmoeting wil inbring en wat dan in plaas van die ontmoeting met God bevorder en daaruit voort­ vloei, hierdie ontmoeting versteur, en dat dit 'n ontmoeting van die mens self met sy vleeslike begeertes word.

6. Sinvolle en Geforseerde Deelname🔗

Die geheim van die ere­diens is dat die deelname van die gemeente as geheel so sal plaas­vind dat dit sinvol is en dat dit so ervaar word en dat dit die groot doel van die erediens duidelik tot uitdrukking sal bring. By elke vorm van deelname moet dit sodanig gestalte kry dat dit die sin van die erediens vertolk. Daar kan aangedring word dat elkeen sal deel­neem en die handeling moet sodanig wees dat elkeen dit verstaan en kan doen. Ook sal die gemeente opgevoed moet word om deel te neem en ook gewys word op die feit dat nie alles wat gedoen word as sinvolle deelname aan die erediens gesien kan word nie. Tog is dit verkeerd om lidmate te forseer om sekere en dikwels individualistiese handelinge te verrig, soos om ten alle koste te praat, te beweeg en mee te gaan, te doen. Dit kan die verkeerde effek hê, soos P.W. Hoon duidelik aanwys:

Just to hustle him into overt action, rudely bombarding him with multi-media,
jazzing him up here and elec­trifying him there, may only reinforce his apathy.