4 bladsye.

Die Erediens as 'n Gesprek / Dialoog

1. Die Tipering en die Wese van die Gesprek in die Erediens🔗

Daar is gestel dat ons in die Christelike erediens soos dit in die praktyk en oor die eeue sy gestalte gekry het, vyf besondere tipes kan on­derskei. Die Protestantse erediens is wesentlik getipeer as 'n gesprek, in onderskeiding van ander dinge wat ook daarin figureer. Waar ons nou hier besig is om die Protestantse erediens na sy wese te ontleed, kom ons nou weer by die gesprek. Nou gaan dit daarom om onder die groot noemer van gesprek, die gesprekskarakter van die erediens, saam met ander aspekte, uit te lig.

Hierdie wesenskenmerke van die erediens kan wel onderskei word, maar dit vloei so ineen en sluit so by mekaar aan, dat daar telkens terug- en vooruitgegryp moet word om die eenheid vas te hou. Ons onderskei slegs, maar kan nie skei nie.

2. Die Erediens as ’n Gesprek🔗

Die teenwoordigheid van Christus in die erediens en die ontmoeting met Hom lei tot 'n lewende en diepgrypende gesprek. Hy is nie slegs woordeloos teenwoordig nie, soos so dikwels op muurtekste aangegee word: "Hy is die stille gas in die huis, die stille luisteraar by elke gesprek…" Dit is ook nie slegs 'n koue teenwoordigheid en koue gesprek nie, maar 'n gespreksteenwoordigheid wat die omvattende ontmoeting meebring.

Die erediens is 'n gesprek, is 'n dialoog, sê ons so maklik, maar besef en beleef so min wat dit behels.

Die erediens is 'n dinamiese gesprek waar die lewende God in en deur Christus deur die krag van die Heilige Gees tot die mense spreek en hierdie mense is die gemeente, die volk van God, die volk van die verbond wat weer met God spreek. Die hele Woord en liefde en ge­nade en toekoms van God met die mens is hier ter sprake, maar ook die mens in sy hele bestaan. Tereg wys H. Jonker daarop: "Het we­zenlijke en het eigenlijke van de kerkdienst wordt niet bepaald door de beweegredenen, de gevoelens, de beschouwingen van de gelovige samengekomen gemeente. Het eigenlijke en het wezenlijke ligt ver­borgen in de dynamiek van het Woord, waaraan dienaar en ge­meente zich hebben te onderwerpen" (Een theologische benadering, in: Wat vindt u van de kerkdienst? 1971, 31). Hierdie gesprek om­vat die hele erediens en dit moet beklemtoon word dat dit 'n ge­sprek is tussen die God van die verbond en die volk van die verbond en dat dit geskied voor sy genadige aangesig, op grond van die versoening deur Jesus Christus. "De gemeenschap, die we met de Heere hebben, is Woordverkeer. Een heilig spel van spreken en antwoorden. Het is hier; 'spreek, Heere, Uw gemeente hoort!' Maar ook: 'Hoor, Heere, Uw gemeente spreekte!'" (G. van Rongen).

Die hele erediens word gestempel deur die feit dat God spreek en dat Hy tot sy volk spreek. 'n Swak mens mag die Bybel as die skrifgeworde Woord oopvou en uitlê sodat die gemeente die stem van die Here kan hoor. Hy is dan die mond van God, maar agter die prediker staan die sprekende God en deur hierdie spreke ge­skied die skeppende en verlossende Woord. Die woord van die sprekende God gaan aan die sprekende mens vooraf. Sy woord roep juis die mens tot antwoord. Maar G. Stiller wys tereg daarop dat hierdie dialogiese gebeure in die erediens nie as horisontale sin verstaan moet word nie: "as 'n gebeure onder ons twyfelagtige, liefdelose en ongehoorsame mense, wat ook in die erediens dik­wels net onsself sien en soek nie, maar in die vertikale dimensie, as 'n gebeure tussen die Ewige en Onveranderlike, wat as die Hom­self skenkende en offerende in elke opsig die Liefde en Getroue in absolute sin is."

3. Verbale en Sakramentele Spreke🔗

Dwarsdeur die hele erediens weerklink die gesprek tussen God en die mens, dit is die sprekende woord wat in baie vorms geskied. Dit is verbaal, dit is hoorbaar, en dit is sigbaar — sakramenteel. Dit is woord van God en woord van die mens, maar dit het nie dieselfde waarde nie. In God se mond is woord: Hebreeus "dabar" en Grieks "logos", tegelyk woord en daad; in die mond van die mens word dit ook so bedoel maar dit is meer in afgeleide sin en afhanklik van God se woord. Woord is die Bybel is woord in aksie, woord in beweging.

Logos is gees, is heiligheid en lewendigheid van die gees, is mate en helder­heid. Logos is leweskeppende, leweuitdrukkende, leweveranderende krag. Logos is dit wat die wêreld verstaanbaar maak, verduidelik en deursigtig maak ten opsigte van die waarheid. Logos is open­baring wat in die woord geskied, maar logos is ook 'n openbaring deur 'n beeld en in 'n mens. Logos is die sprekende, sigselfopen­barende God … Dabar is gebeure in die sin van drama, van spel. Dabar is skep, arbei, stry, werk, vormgee, verwerklik. Dit is feitlik soos die werklikheid self. Dit is die voortbrengende, vormende, dit is skeppende krag.J. Zink

Die dinamiese van die woordgebeure in die erediens gee daaraan 'n besondere dimensie. Dit gaan nie soseer om wat ons maak nie, "maar om jouself in te laat op die viva vox evangelii, op die saak dus wat die mens in die diepste gemeenskap betrek wat moontlik is, in die gemeenskap met God en sy medemens" (G. Kiefel). Die hele diens is dus woordbediening in die prediking en in die sakramente. "Beide is slegs twee verskil­lende gestaltes by wie sowel die Gewer as ook die gawe identies is Die woord openbaar die werke van God" (W. Hahn).

Waar vandag van verskillende kante die prediking onder ver­denking gebring word en gesoek word om dit deur allerlei nuwe vorme te vervang, moet die onvervangbaarheid van die prediking met klem gehandhaaf word. Seer tereg sê G. Stiller dat die liefde tot die erediens staan of val met die profetiese funksie van die pre­diking:

Dit is my vaste oortuiging dat nog steeds die preek, naas die nagmaal die beslissendste deel van die erediens is en dat ook die toekoms vir die erediens alles daarvan afhang wat en hoe ge­preek word. Wat ons aan volmag van die prediking verlore ge­gaan het en ontbreek, kan alle "eredienste in nuwe gestalte" nie in die verste verte goedmaak nie. Volmag kan 'n mens egter nie "maak" nie; dit groei wel slegs uit die konstante en geduldige luis­ter na en gehoorsaming aan daardie woord waardeur God self ons wil ontmoet.

Waar hoor die mens vandag God se stem? Sekerlik waar die Woord gelees en uitgelê word. Hierdie Woordbediening het sy spits in Jesus Christus. Daarom sou mens iemand wat God se stem wil hoor kan sê: "Hy sal daarheen moet gaan waar God gespreek het: na Jesus Christus, en daar luister. Hy sal in 'n tyd waarin God vir miljoene 'n swygende God geword het, altyd en altyd weer in sy Naam spreek … Hy sal hom op Christus beroep wat gespreek het in 'n tyd waarin sy volk oortuig was God swyg, die Gees van God vir homself opeis in 'n tyd waarin na algemene opvatting die Gees uitgeblus is" (J. Zink). Ook in die veel veroordeelde monologiese preek, kan en moet daar 'n hele dialoog begrepe word. "'n Goeie preek, uiterlik wel 'n monoloog, maar na sy opbou egter 'n dialoog met die teks en hoorders, sal ook in die toekoms sy moontlikhede behou" (H. D. Wolfinger).

Nie slegs in die prediking en sakramente vind die gesprek plaas nie, maar deur die hele liturgie. Immers ook dit is 'n gesprek en nie maar iets wat outomaties verloop nie. Tereg wys G. van der Leeuw in die verband daarop: "Liturgie is een gesprek, niet de repetisie van een toneelstuk".

4. Die Spreke en die Antwoord, die Inisiatief en Respons🔗

Die ge­sprek in die erediens verkry steeds sy karakter en momentum van die spreke van God. Hy begin steeds en hy maak die gesprek moontlik. Hy roep tot die gesprek, lê die basis vir die ongelyke ge­sprek tussen die heilige God en die sondige mens, maar Hy bring die mens ook om te antwoord. Ook in die antwoord van die mens kom die voorafgaande en inisiatiefnemende van God se spreke tot uitdrukking Die hele erediens is daad, respons van die gemeente, maar dit is grondliggende genadegawe van God. God gee en die mens neem en gee (G. Rietschel — P. Graff). Waar God spreek deur sy Woord en Gees, "daar begin die mens te lewe, daar begin hy te glo, te hoop en te bemin, daar begin 'op die akker van sy hart' iets te groei ... daar vind hy die weg tot homself, en daar verneem hy die woord wat hom sekerheid en uitsig gee" (J. Zink). God spreek, maar Hy maak tegelyk dit moontlik om te hoor, Hy skenk die oor, die vermoeë om te hoor, om Sy stem te hoor.

Hierdie gesprek tussen God en sy gemeente stuur af op en bewerk 'n ontmoeting en 'n konfrontasie. Die woord roep om 'n antwoord, om 'n reaksie. Die antwoord van die mens is nie slegs woorde waarmee teenoor God terug gepraat word nie, maar is die woorde wat kom uit die hart wat God aangeraak en aange­spreek het. Hierdie antwoord is daarom woorde van erkenning, van instemming, van aanvaarding, van gehoorsaamheid. "In this dia­logue of revelation and response something happens in the expe­rience of man. Worship is more than conversation; it is also en­counter. In this encounter, God confronts man and makes demands upon him … Meaningful worship leads to decisive experiences. The moral judgement of God comes to bring man salvation" … (F. M. Segler). Verder,

Indien God op een of ander wyse met my praat en my bedoel, dan is ek aangesproke, dan moet ek antwoord. Spreek God met my, dan moet ek iemand word wat met hom wil laat spreek.J. Zink

Om te kan luister en hoor wat God spreek, moet ons stil word, stil word voor sy woord en voor sy Persoon. Die omgang met die Woord en gebed en meditasie bring die ruimte waarin ons stil word sodat ons hierdie woord kan hoor en kan antwoord. Dit is nie vanselfsprekend dat die gemeente sal luister nie. Daar is soveel ander stemme wat ons oor vang en wat die spreke van God by ons laat verbygaan. Ons kan ook in opset ons hart vir die woord van die Here toesluit. Dan hoor ons wel woorde, maar ons word nie aangespreek nie, word nie bewus dat Hy met ons praat nie. Juis in die erediens waar die groot gesprek tussen die Here en sy ge­meente plaasvind op so baie maniere, bevind die gelowige en die gemeente hom in die krag van die Woord en Gees, maar tegelyk in die kragveld van die bose en die ongeloof en dat gestry word om die aandag en die oor van die mens. Seker op min ander plekke is die duiwel so aktief as in die erediens om hierdie gesprek te verhinder. Waar hy slaag om die gesprek te verhinder, het hy die gemeente en die gelowige in sy hart verlam. Waar so dikwels die klagte weerklink dat die mens nie kan antwoord in die gebed nie, hang dit seker saam daarmee dat hy nie daartoe gekom het om te hoor nie.

Indien gebed nie allereers 'n spreke is nie, maar 'n luister en daardeur eers 'n antwoord word, dan sal hy wat luister kan bid. Luister kan slegs hy wat swyg en die swye is tegelyk 'n bede om daardie stilte waarin die woord van God kan uitgaan. J. Zink

5. Die Gang en Klimaks van die Gesprek in die Erediens🔗

Die ge­sprek is woord van God en antwoord van die mens.

  • Dit beteken egter nie dat die deel van God eers volg en dan die deel van die mense nie; nie dat God eers klaar praat en die mens in een alles antwoord nie. Dit is 'n spel en dinamiek van woord en weerwoord, van die begin tot die einde van die diens. Dit is egter sinvol dat die diens begin en eindig met die spreke van God se kant, want dit laat die aksente op die regte wyse val op die grondliggende van God se spreke.

  • Die gang van woord en weerwoord is egter ook nie maar 'n heen en weer beweeg soos van 'n pendulum nie, maar daar sit 'n styging en voortgang in en wat lei na 'n groot klimaks. "With the principle of alteration there is combined the princi­ple of ascension. The rhythm of call and answer, vision and response is not the movement of a pendulum but the progres­sive convolution of a spiral stair … Beginning with fear which then becomes awe, it changes to joy and finally to love." (R. Abba). Die gesprek loop so dat God sy diepste woord van ge­nade en bevryding spreek en die mens spreek en ten diepste antwoord in die oorgawe met alles aan die Here. Waar die diepste en laaste woorde tussen God en mens gespreek is, vind die gesprek sy voleinding in die stilte. Dit is egter nie 'n leë of onrustige stilte nie, maar 'n gevulde stilte, die diepe eenheid van die sprekendes.

  • Die diepe eenheid in hierdie gesprek. Dit is God wat spreek en die mens wat antwoord en anders om, maar hierdie twee rigtings van die gesprek kan nie geskei word nie. Daar is 'n diepe eenheid tussen die spreke van God en die spreke van die gemeente.

Erediens in die volle sin van die woord is 'n onskeidbare met mekaar en inmekaar van woord en antwoord, van verkondiging en lofprysing, van gawe en opgawe. Ook die lied kan en moet verkondiging wees. Ook die preek is lof-offer en dank aan God. In die met mekaar en in mekaar van woordverkondiging en dankoffer is die wese van die evange­liese erediens gefundeer.C. Mahrenholz

6. Dele Waar die Here en Waar die Mens Spreek🔗

Soos gesien, is die hele diens opgebou as 'n groot gesprek, as woord en weerwoord tussen God en die mens, en dat die gesprek begin en eindig by God; ook dat daar 'n diepe eenheid is tussen die spreke van God en van die mens. Tog is daar elemente en momente waar God meer aan die woord is en ander waar die mens meer aan die woord is.

Momente waar die Here veral aan die woord is:

Die votum, die seëngroet, die lees van die wet, die genade­verkondiging, die Skriflesing, die prediking en die seën waar­mee die diens sluit.

Dele waar die mens besonderlik aan die woord is:

Lofsang, skuldbelydenis, geloofsbelydenis, ander liedere, ge­bede en die gee van die offergawes.

Kom ons by die sakramentele spreke, vind ons ook by die­selfde handelinge 'n aspek waar die Here handel en 'n aspek waar die mens betrokke is. Waar God veral betrokke is: Hy kom, Hy handel, Hy skenk en Hy ontmoet in die doop en nagmaal. Hy is tegelyk Gasheer en spyse, Subjek en in­houd, al doen Hy dit deur 'n ampsdraer. "…at the font he himself is the Baptist, at the altar he imparts the remission of sins through the hands of the minister. There is no delegation of authority here. The minister is simply an instrument of the Holy Spirit, and his office a kind of stewardship" (V. Vajta). Wat die mens betref, ook hy handel: hy kom, hy ontvang, hy ontmoet, hy ondergaan, hy eet en drink.