Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

As die Fondamente Omgegooi Word...

Wat kan die regverdige doen?🔗

Verbondstrou teenoor verbondsbreuk🔗

Die soekvraag van die Psalmdigter by Psalm 11:3 is: As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?

Die regverdige is iemand wie se lewe op betroubare fondamente rus. Volgens die gebruik van hierdie term in die Psalmbundel is die persoon wat sy heil in God se genade gevind het en ook daarbinne lewe ’n begenadigde sondaar. Dit is die persoon “wat behae het in die wet van die HERE, en hy oordink sy Wet dag en nag”.

Die Wet is dan die verbondsboek waarin die HERE aan sy kinders uitlê hoedat sy salige verhouding met hulle werk. Dit is die fondament van hul bestaan.

Hulle mag die heilsfeit hoor dat Hy hulle verlos en tot sy kinders en erfgename aangeneem het.

Hulle moet ook hoor dat hulle Hom in totale oorgawe moet dien. Hulle mag getroos wees dat hulle sy seëninge op alle denkbare terreine van die lewe sal geniet as hulle gehoorsaam is.

Hulle moet ook die bedreiging hoor dat Hy hulle as ’n ywerige God sal besoek en tugtig op alle denkbare terreine van die lewe as hulle ontrou raak.

Hierdie verhouding is die fondament van hulle bestaan. “Hulle enigste troos in lewe en in sterwe”.

In die tussentyd word ook die goddelose bespreek. Goddeloses is egter nie die heidene nie, maar afvallige verbondskinders, losbandige kerklidmate, mense wat nie op die fondamente van hul bestaan wil lewe nie. Mense wat onder die vaandel van die kerkvolk deurgaan, maar wat daartoe bydra dat die kerk die tekens van die valse kerk vertoon, want hulle vervolg die lidmate wat die bouwerk van hul lewe inrig volgens die fondamente wat God deur sy verbond vasgelê het.

Erger: Hulle gooi die fondamente self om. En as iemand kla dat die fondamente omgegooi word, spot hulle en sê: Julle verkrompe fondamentverslaafdes, fundamentaliste! Ons gooi nie die fondamente om nie, ons breek net deur die vorms waarin die fondamente gegiet is.

Pluralisme en pluriformiteit🔗

Onontkombaar is ons blootgestel aan ’n situasie waar ’n veelheid van standpunte, die pluraliteit van idees en modelle soos modeverskynsels opskiet en verdwyn. Die stabiliteit word juis gesoek in die waaghalsigheid van die onstabiele. Die vrae is nie meer of iets fundamenteel waar en reg is nie, maar of dit nog geldig, gewild, relevant is.

Fondasies waarop stewige bouwerke moet staan, is vir die postmodernis ’n grenslose irritasie: Dit moet afgebreek word tot ’n bouval en dan moet die dakplate, die vensters en deure gebruik word om ’n plakkershut aanmekaar te timmer. Sommer bo-op die grond, fondamentloos. Vinnig verwyderbaar. Vinnig vervangbaar. Op sand.

Vandag is die waarheid nog nuut, maar môre is dit ook weer oud, dan moet weer kreatiwiteit in hoogste versnelling kom om ’n nuwe waarheid te skep. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Dis beeldsprakig pakkend. Dis byna asof die Psalmis die oggendnuus oor die radio lees. “Kyk, die goddeloses span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.”

Alles wat vas is, word onvas gemaak. Lewenswaardes volgens die Woord word met twyfelvrae belaster: Die tyd het verander, die samelewing het beter metodes ontwerp. Ons moenie by die ontwikkeling agter bly nie. Moet ons dan wel deelneem? Wat is die grense?

Dis ’n baie moeilike opset waarin ons moet leef, net soos die Psalmdigter van ouds. Toe was dit pyle en boë, vangnette en verbreking. Die gelowiges was geterroriseer deur aanslae van geweld, juis omdat hulle vas vertrou het op God en hulle lewe op die fondament van sy Woord gebou het.

Die kerkgeskiedenis het gewys dat hierdie verskynsel soos ’n verskynsel van hierdie wêreld sal bly tot op die jongste dag wanneer die Here Jesus kom.

Die aanslag is sy felste aan huis. Ons eie mense. Want hoe maak mens wanneer die Sondagkoerantverkoper sy grootste geld maak wanneer hy by die uitgang staan juis as die mense na erediens wegjaag huis toe?

En hoe maak mens as Gereformeerde lidmate ewe ywerig lotto-kaartjies koop - met goeie bedoelings?

Hoe maak ons as Gereformeerde jongmense net soos die jeug van die wêreld nagvermaak najaag, op die polsende maat van suggestiewe musiek, tussen gekleurde flitsende ligte en rookdampe deurnag en by bedenklike plekke uithang?

Wat maak oningeligte ouers as hulle ontdek dat hulle kinders ook sluipende wandelaars in die donker gangetjies van nagklubs is?

Wat maak ons as skoolgaande kinders en studente uit Gereformeerde ouerhuise nie meer van die woord kuisheid wil weet nie? Dit as verbygaande denke uit die Westerse kultuur-imperialisme van die vorige eeu afmaak?

Sê ons steeds dat die ouer garde onderontwikkelde fundamentaliste is wat moet bykom in ons nuwe grensverskuiwende wêreld?

Ons kerklike roeping🔗

Wat bly van die profetiese boodskap van die Kerk oor as daar nie meer gehoor wil word van ’n vaste kennis en ’n onwrikbare vertroue op die ewig-geldende Woord van die HERE en in die onveranderlike HERE van sy Woord nie?

Die huidige waardes moet as fundamentalisties en formalisties geëtiketteer word en met ’n gees van dekonstruksie uitgewerp word, verklaar hierdie postmodernes.

Elke teks word dan benader as dat dit op ’n gegewe tyd onder beheersing van ’n netwerk van verhoudings ontstaan het en wat as sulks die betekenis van die teks beïnvloed. Daarom kan nie gesê word dat ’n Skrifgegewe enige ‘eens-en-vir-altyd-betekenis’ het nie. Die Dekonstruksie dring aan op die absolute onmoontlikheid dat enige teks één onveranderlike betekenis het. Objektiewe waarheid moet dus vervang word met hermeneutiese waarheid.

Die gevaar kom in dreigende felheid aan wanneer valse profete vrede-vrede skree, liefde-liefde, terwyl “die HERE die regverdige toets; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”

Daar is groot gevaar wanneer profete van die Here op horisontale vlak afgekraak word met postmodernistiese gespot dat hulle nie kan aanspraak maak op “die volkome leer van die saligheid” nie.

Groot gevaar ook wanneer Bybelse waarhede tot verbygaande veranderlikhede verklaar word en in die plek daarvan menslike eie goeddunke bedryfskundig, piëtisties aanskoulik en vermaaklik ingevoer word. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?

Skrifgesag🔗

Fondamente word omgegooi wanneer die gesag van die woorde wat die profete tevore asook die apostels van die Here Jesus later verkondig het, en wat vir ons op skrif oorgelewer is, betwyfel, bekritiseer, weggewerp word.

Die gesag van God se Woord is immers nie in die dooie lettertjies, of in die woorde in swart en wit op papier geleë nie, maar juis wanneer dit in die kommunikasieproses van kennis-versameling, organisering, uitleg en toepassing suiwer verkondig word, want dan dring dit in menseharte in en bring geloof, bekering, heiligmaking, volharding tot stand (1 Petr 1: 23 - 25; Hand 2:37).

Daar is wel die beswaar dat die eens geïnspireerde Skrif nie meer sy Goddelike en volkome gesag het sodra dit deur die denkprosesse van ’n sondige mens gegaan het nie. Dit is gedeeltelik waar. Dit is waar dat die Skrif onsuiwer en vals uitgelê kan word, en dan van sy gesag beroof word. Dan het ons met valse profesie te doen.

Dit is egter ’n nog heerliker waarheid dat die gesag van die Skrif juis in die lewendmakende uitwerking lê wat dit het by die suiwere, lewende verkondiging en uitleef daarvan. “Die ware geloof word gewerk deur die verkondiging van die evangelie.”

Fondamente word omgegooi wanneer mense telkens die fondamente weer van voor af wil lê (Hebr 6). Wanneer die geloofswaarhede van ons belydenis verander word tot ’n algemene betwyfelde geloof (Kuitert).

Fondamente word omgegooi wanneer lidmate deur indrukwekkende argumentasie beweeg word om nie meer “alles wat in die Skrif staan te glo sonder om te twyfel nie.”

Wat sal die regverdige doen?

Lidmate, ampsdraers, gelowiges word geroep om as bruid van die Here Jesus voortdurend in reinheid, skoonheid, en behaaglikheid vir haar Bruidegom behaagliker, skouer, reiner te word om sonder vlek of rimpeling te wees. Dis dus semper reformanda, en ook semper puranda.

Dit is ons roeping om die bruid eenmaal so geheiligd aan haar Bruidegom voor te stel. Nie om die bruid tot losbandigheid te verlei nie, tot wêreldgelykvormigheid nie.

Ons is ook die kudde van die Here. Die kudde moet op tyd goeie weiding en beskerming en verkwikking kry. Brandsiekskape wat ons in onsself is, moet tot ’n behaaglike kudde vir die Opperherder van die skape opgebou word.

Die kerk is ook die militia Christi (die weermag van Christus, die strydende kerk) wat geroepe is om die goeie stryd van die oorwinning te stry. Daarom moet die regverdiges sorg dat hulle met die volle wapenrusting toegerus is.

  • Daar moet kennis wees om die vyand te identifiseer.
  • Daar moet onderskeidingsvermoë wees om die geeste te toets.
  • Daar moet dapperheid wees om te opponeer.
  • Betrokkenheid by, belangstelling vir die saak van die Here in die vakmanskap, in die administrasie, in die politiek, in die skool, in die huis, by die werk.

Danksy die HERE se onveranderlike genadeverbond bly sy trou ewig vas. Wat ’n fondament! Hy is in sy heilige paleis. Sy koningskap kan nie vernietig word nie, en sy kerk is op 'n onomgooibare fondament gebou, die fondament wat die profete tevore en die apostels van die Here Jesus gelê het, en die Here Jesus is tegelyk die hoeksteen en ook die ewige rots waarop ons gebou is. Die poorte van die hel sal nie in staat wees om dit te oorweldig nie. En die kerk sal hieraan kan vashou:

Die Here is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.